Tim du Plessis: Klein kerk waarop ek eens trots was

Kyk die volgende reaksies op hierdie skrywe:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Tim du Plessis: Klein kerk waarop ek eens trots was | Rapport

Tim du Plessis

Rapport, 26 Februarie 2023 (Sondag)

‘So is jy nog steeds ’n Dopper?” vra FW de Klerk my drie jaar gelede toe ons gesels ná ’n nuusonderhoud in sy kantoor in Bellville. Ons was albei in die 1980’s in dieselfde Gereformeerde gemeente in Kaapstad.

Ek kom nie meer in die kerk nie, maar ek sal altyd ’n Dopper bly, antwoord ek. Hy het lekker gelag.

Soos altyd wanneer die Gereformeerde Kerk (GK) in die nuus is, het ek die berigte oor die kerk se afgelope nasionale sinode noukeurig gelees. Een hele kerklike kommissie om die vraag te ondersoek of ’n aanlyn erediens ’n kerklike byeenkoms is of nie. Sjoe!

En vir die soveelste keer, die sirkulêre debat oor die vraag of vroue in die GK ook predikante, ouderlinge en diakens mag wees. Die NG Kerk (NGK) en die Hervormde Kerk, die ander twee sogenaamde susterkerke, het dié kwessie 30 jaar gelede al in die bed gesit. Die Doppers rol nog die drom in die pad af.

Die GK het by tye bewondering by my gewek. Anders as die NGK, het die GK nooit ’n Bybelse regverdiging vir apartheid uitgereik nie. Maar ook nooit ’n Bybelse (sinodale) veroordeling aangebied nie.

In die middel 1960’s is “die Stem van Potchefstroom” gehoor. Uitgedra deur ’n garde van Gereformeerde akademici en teoloë wat ernstige vrae had oor die morele en Bybelse begronding van apartheid.

Hulle was ’n minderheid, maar hul standpunte het wyd geresoneer. Hul mondstuk was die Christelike tydskrif Woord en daad. Die blad se missie was om aktuele kwessies vanuit ’n Christelik-Calvinistiese hoek te bekyk. Teen die middel 60’s, nadat die antropologie-hoogleraar by Potch prof. Hennie Coetzee die redakteur geword het, het Woord en daad toenemend krities oor apartheid geraak. Coetzee het die oppermagtige H.F. Verwoerd gekritiseer. Tot vandag toe glo sekere Dopper­figure dis hoekom hy nooit die rektor van die PUK geword het nie.

Prof. Lourens du Plessis, die gesiene regsfilosoof wat Coetzee opgevolg het, het die blad se kritiek op apartheid ’n paar oktawe opgeskuif. Dit het hom ongewild gemaak by die behoudendes. Kort nadat hy saam met ’n groep merendeels Afrikaanses die toe nog verbode ANC in Dakar, Senegal, ontmoet het, is hy vort Stellenbosch toe.

In die vroeë 80’s het ’n groep gelowiges in die “Gereformeerde Ekumeniese Sinode” die Koinonia-deklarasie uitgereik. Dié versigtig bewoorde dokument het die toenemende apartheidskrisis vanuit ’n streng Bybelse oogpunt bekyk. Die staat is daarop gewys dat die woord van God vereis dat hy die vryheid en menswaardigheid van álle landsburgers, ongeag velkleur, respekteer. “God is ’n god van regverdigheid.” En “ons sal altyd eerder aan God gehoorsaam wees as aan die owerhede”. Die iesegrimmige NP-magshebbers het dié inisiatief probeer vasknoop aan die omstrede bevrydingsteologie van Desmond Tutu en Beyers Naudé. Dit het my trots gemaak dat Theuns Eloff, toe ’n teologie-student op Potch, een van die opstellers was van die deklarasie.

Nog meer so nadat ek verneem het my geliefde oom Alwyn du Plessis, destyds ’n Dopper-dominee op Potch, steun die Koinonia-deklarasie. Oom Alwyn was lank lid van ’n gideonsbende van Gereformeerdes wat by sinodes en ander forums wal gegooi het teen die oordrewe engheid en konserwatisme van die GK.

’n Dekade of wat ná die Koinonia-debakel is Eloff, toe ’n jong Gereformeerde predikant in Pretoria, uit sy gemeente verdryf omdat hy ook Dakar toe was. Die koerante waarvoor ek gewerk het was ewe bitsig oor Dakar. Ek was trots op Theuns, maar verleë oor my kerk en my werk.

Drie jaar later het De Klerk die land se politiek op sy kop omgekeer. Kerklike debatte oor die Bybelse regverdiging vir apartheid het verflou. Ander kwessies het op die sinode-agendas beland: Vroue in die ampte, die posisie van gay lidmate en kerke wat leegloop, onder meer weens ’n liturgie en skrifbediening wat nie meer aanklank kon vind in hedendaagse tye nie. Anders as die NGK, wat ernstig begin worstel het met van dié vraagstukke, selfs te midde van pynlike beroering, het die GK voortgegaan asof niks verander het nie. En in die proses het die kerk gekrimp in statuur.

Wonder die GK ooit watter beeld hy die wêreld instuur as hy in die 21ste eeu, waar daar kwalik nog ’n debat kan wees oor gelyke regte vir vroue en mans, kom sê ’n vrou mag nie ’n predikant, ouderling of diaken wees nie? En hou maar die tekste. Die kerke wat wel vroue in die ampte het, staaf ook húl besluit met tekste.

Daar was ’n tyd toe die GK, altyd die kleinste van die drie susters, ’n sterker profetiese stem gehad het as die somtotaal van die lidmate op die boeke.

Kwalik deesdae.

Kommentaar

Dit is interessant dat Tim twee dinge pertinent noem hoekom hy kritiek teen die Gereformeerde Kerk het:

  1. Hulle debat oor aanlyn dienste (Is ‘n video-opname van ‘n erediens steeds kerk, vra Doppers)
  2. Die debat oor die vrou in die amp (‘Dís hoe Dopperkerke ’n verskil maak en wil maak’)

Hy het wel waardering vir hulle omdat hulle nie, soos die NG Kerk, apartheid Bybels regverdig het nie, maar dit is vir hom wel jammer dat hulle nie apartheid Bybels verwerp het nie.

Oor selfdegeslagverhoudings (“posisie van gay lidmate”) kritiseer hy ook (baie versigtig) deur te verwys na die NG Kerk wat wel ruimte daarvoor gemaak het. ‘n Mens wonder hoeveel hierdie punt by Tim tel…

‘n Mens is wel dankbaar dat Tim wel vir Johan Retief gekritiseer het wat sy geloof verloor het en ‘n boek daaroor geskryf het:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui