Tim du Plessis: Net Afrikaanse dominees maak só

Kyk ook:

Kyk ook Nee, Tim, dis nie net Afrikaanse dominees nie (3 Julie 2022) waarin Jean Oosthuizen hierop reageer.

*******

Tim du Plessis: Net Afrikaanse dominees maak só | Netwerk24

Tim du Plessis

Sondag, 26 Junie 2022

Op ’n rustige Sondagoggend besluit ’n motorfietsryer om die oop pad te vat. Hy ry te lekker. Totdat hy onverwags op los gruis op die pad beland en beheer oor die fiets verloor.

Gelukkig val hy op lang gras langs die pad. Hy staan vervaard op en probeer vasstel of hy beseer is. Maar alles voel piekfyn. Terwyl hy tot verhaal kom en die gras en stof van hom afstof, ry ’n motor vol passasiers by die ongelukstoneel verby.

Dertig meter verder hou die motor stil, maak ’n U-draai en stop by die motorfietsryer. Een van die passasiers steek sy kop by die venster uit. Maar die ou langs die pad spring die passasier voor en sê: Baie dankie dat julle aanbied om te help. Maar als is oukei.

Ons wil jou nie help nie, sê die passasier. Ons wil vir jou sê ons is ateïste.

Telkens wanneer die soveelste nuwe boek verskyn deur ’n gewese NG dominee of kerklike figuur wat sy of haar geloof verloor, dink ek aan dié storietjie. Waar sou die groot behoefte by sekere Afrikaanse dominees vandaan kom om hul reisverhaal na ongeloof so in die fynste detail te boekstaaf?

Ek ken nie die kerkgeskiedenis so goed nie, maar dit voel of ontboesemings soos dié ’n eg Afrikaanse ding is. Ek lees graag oor kwessies rakende geloof en kerke. En in 46 jaar van intensief koerante lees, kan ek nie een artikel of berig onthou nie oor ’n geestelike in een van die Engelssprekende kerkgenootskappe in Suid-Afrika wat met groot gebaar aankondig hy of sy het bekeer tot die ateïsme, soos Joan Hambidge die verskynsel so skerpsinnig raakgevat het.

As hy so ’n boek sou skryf soos Johan Retief se pasverskene belydenis van ongeloof, dink hy nie 100 mense sal dit koop nie, sê ’n priester in die Anglikaanse kerk dié week by navraag. In die Angel-Saksiese geloofswêreld gaan ’n geestelike leier wat sy of haar geloof verloor in vrede, sê die priester-vriend.

Op stuk van sake is dit nie vreemd nie dat mense soms ontnugter raak met hul aanvanklike loopbaankeuse en ’n nuwe koers inslaan. Ek weet van ’n jong dokter wat haar spesialis-opleiding gestaak het en in die teologie begin studeer het. Dit gebeur in alle beroepe en werkrigtings. Selde glo uitgewers dis ’n boek wat sal verkoop.

Verstaan mooi, ek verwyt nie die uitgewers wat die ontnugterde Afrikaanse dominees se manuskripte so gulsig opraap nie. Ook nie hul reg om te skryf en te publiseer nie. Dit skeel my min dat die Afrikaanse koerante feesmaaltye maak van die daaropvolgende polemieke en debatte in die briewekolomme.

Eintlik moet ’n mens die dominees en die uitgewers bewonder. Die meeste van dié boeke behoort nie langer as vier sinne te wees nie: Ek was ’n Afrikaanse dominee. Toe verloor ek my geloof. Nou voel ek bevry, maar ek is kwaad vir die kerk. En nou dink ek niks van gelowiges nie.

Retief het dit een stappie verder gevoer. Hy het sy voormalige gemeentelede om vergifnis en verskoning gevra omdat hy hulle volgens hom mislei het toe hy hul leraar en herder was.

Dis ’n vreemde apologie. Hulle het dit immers nie gevra nie. En hulle sou met reg kon sê die apologie maak nie hul lewe beter nie, inteendeel.

Van die Afrikaanse dominees wat dié omgekeerde Damaskus-ervarings gehad het, stel hulself graag voor as progressief en in pas met die jongste denke oor sekulêre wetenskap. Maar eintlik is hulle erg outyds en berus veel van hul nuutgevonde insigte op uitgediende oortuigings wat nie meer aangetref word nie. Soos dat die dominee ’n soort goddelike figuur is vir wie dit totaal buite die kwessie is om die geloof te verloor. Dominees wat geskei het, is uit die kerk verdryf. ’n Predikant wat “wêrelds” geleef en gepreek het, is befrons en beskinder.

Sommige ateïste – pasbekeerdes én oudstryders – het ’n manier om gelowige mense te laat voel nie net is hul geloof onsinnig nie, daar is boonop iets met hulle verkeerd omdat hulle glo. In wese verskil dit niks van die veroordelende ingesteldheid van die kerk wat hulle nou so verfoei. Fanatici word soms nes die mense en instellings téén wie hulle is.

En die gelowiges kan ook maar ’n bietjie afkoel. In 2022 is dit eintlik niksseggend as ’n Afrikaanse dominee sy of haar geloof verloor en die kerk verdoem – dikwels aan die einde van ’n loopbaan wanneer die pensioen opbetaal is.

Geloof en ongeloof berus albei op ’n persoonlike keuse. ’n Keuse-verandering hoef nie altyd met ’n hele opvoering gepaard te gaan nie.

1 thought on “Tim du Plessis: Net Afrikaanse dominees maak só”

  1. Ontnugterde SA dominees volg in Hollanders se spoor

    Rapport Weekliks 17 Julie 2022 Bladsy 4 en 5

    ‘Nederland is geen gelovig land meer,’ hoor Francois Mulder in gesprekke met predikante in die Lae Lande.

    Met die lees van Tim du Plessis se rubriek op 26 Junie, “Hoor hier: Ek glo nie meer!”, het ek teruggedink aan my ontmoeting met die Nederlandse sanger Stef Bos in 2011. Twee jaar vantevore het Stef die album In een ander licht opgeneem. Elkeen van die 12 liedere daarin neem ’n Bybelse karakter en kyk op ’n nuwe en eietydse manier na hul lewe.
    Ons gesprek daaroor het oorgeloop in ’n korrespondensie waarin hy toe vermeld dat dit wat toe reeds in Suid-Afrika met die dominees gebeur – om hul geloof te verloor – reeds 20 jaar gelede afgespeel het in Nederland en ander Europese lande.
    In ’n onlangse gesprek met ’n predikant van die Protestantse Kerk van Nederland in Gouda, Kees van den Berg, oor die toestand van die kerk vandag in Nederland, oor geloof en ongeloof sê hy: “De secularisatie . . . het hard toegeslagen. En nog steeds verlaten mensen de kerk.” Hy deel ook met my die ondersoek getiteld “Buiten kerk en moskee” van die Sociaal en Cultureel Planbureau van 24 Maart 2022. Hul gevolgtrekking: “Nederland is geen gelovig land meer. Atheïsten en agnosten vormen inmiddels een meerderheid onder de bevolking. Religieuze groepen zijn nu minderheden in Nederland.”
    Chris Steyn, president van Healthcare Christian Fellowship International in Amsterdam, sê onlangs aan my die volgende oor die toestand van die kerk: “Die vrysinnige en liberale kerke hier word al hoe kleiner. Soos iemand gesê het: Die skape weet waar goeie kos is . . .”

    Suid-Afrika – van volkskerk na sekulêre samelewing?

    Terug in Suid-Afrika bly die vraag: Hoekom haal dominees nog die koerante? Hoekom verkoop ontnugterde-dominees-manuskripte soos Tim dit noem? Hoekom gee enigiemand nog om? Dalk omdat die Afrikaanse kerke en die woelinge in haar binneste steeds vir baie saakmaak. Dalk omdat die Christendom so diep gewortel is in Afrikaners se psige. Ook dalk omdat dit ’n toeskouersport is om met genoegdoening te sien hoe ’n eens magtige organisasie verbrokkel.
    Die koms van die nuwe Suid-Afrika het ’n stadige maar konstante uittog uit Afrikaanse kerke gebring en ’n soortgelyke proses van sekularisasie as in Nederland ingelei. Verskeie gemeentes floreer wel steeds en maak ’n merkbare positiewe verskil in hul omliggende gemeenskappe. Die uittog was beslis nie nét negatief vir kerke nie, want, diegene wat alleenlik uit tradisie, kultuur en ander bymotiewe deel was van die “volkskerk” as klub, het die gebou ontruim met die besef dat hul CV’s nie meer ’n kerklike geur benodig nie. Diegene wat steeds deel gebly het van die kerk, glo ek, is daar uit oortuiging en nié uit tradisie of bygeloof nie.
    Die verwagting is dan ten minste dat hul geestelike leiers sal voorloop met geloof, sonder pretensie of slegs ter wille van ’n salaris. Die beroep kan immers nie sonder die geloof eerlik beoefen word nie. Anders is goeie akteurskap al wat benodig word om die rol van geestelike begeleier vir ’n gemeente te vertolk. Dan sing die ongelowige dominee saam met Freddie Mercury “I’m the Great Pretender” en “The Show Must On.”

    Hoekom skryf dominees?

    Dominees is storievertellers – God s’n via die Bybel, ons s’n en die wêreld om ons s’n via ons preke en perspektiewe. Die neerskryf is dikwels terapeuties. Wanneer ’n reis na ongeloof dan in detail geboekstaaf word, glo ek dat daar dus tog ’n sekere verligting en bevryding ervaar kan word in die openbaarmaking van ’n diep hartsgeheim.
    Ons almal wil soos die antieke grotbewoners tekeninge maak teen die mure in die hoop dat iemand dit sal raaksien. Daarom maak dit vir my sin dat dominees ook hul (on)gelooflike stories skryf en wil deel met die leserspubliek wat belangstel, soos wat die ander van ons daarteenoor ons geloof boekstaaf.
    Tim verwys na sommige dominees wat eers ná die pensioen ingeskop het hul ongeloof in boekvorm ontboesem. Maar ek het waardering vir die eerlikheid van verskeie gewese dominees wat lank voor aftrede met die moed van hul oortuiging bedank het omdat hulle hul geloof verloor het.

    Geken vir dít waarvoor jy staan

    Tydens my en Stef Bos se 2011-gesprek het hy my gelaat met besondere advies uit sy eie Nederduits Gereformeerde opvoeding: “Word eerder geken aan dit waarvóór jy is as waarteen.”
    Petrus herinner my opnuut: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet 3:15) My hoop is Jesus Christus, vir hierdie lewe én die volgende. Ek vertrou die getuienis van al die ooggetuies van Jesus se lewe, dood en opstanding. Hulle was bereid om hul lewe op te offer vir die onwettige belydenis: “Jesus is die Here.”
    Saam met Paulus sê ek: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins!” (Fil. 1:21)
    Maar ek druk nie my ore toe vir hulle wat hul geloof verloor het nie. Ek glo dat ons moet luister met empatie na die hartseer verhale, terwyl ons ons eie roeping nederig uitleef om soos die goeie Herder verdwaalde, stukkende mense (soos ons) terug te lei na Hom wat die weg, die waarheid en die lewe is!
    Mag ons met respek luister na mekaar se eerlike reisverhale.

    ■ Francois Mulder is sedert 1995 predikant en is vanaf 2007 le- raar in die Blanco-gemeente, George.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui