Tokkie se teregwysing oor ‘onbybelse’ optrede stáán

*******

Tokkie se teregwysing oor ‘onbybelse’ optrede stáán | Netwerk24

Johan Eybers

19 Desember 2021

’n Bekende NG Kerk-leier, wat vroeër deur sy medebroers oor die vingers getik is weens sy onvergewensgesindheid en onbybelse optrede, se besware teen die teregwysing is deur kerkleiers as “irrelevant” tot die oorspronklike saak afgemaak.

Dit is die jongste verwikkeling in ’n lang en onverkwiklike stryd tussen dr. Johann (Tokkie) Ernst is en sy kollega dr. André Bartlett, albei gesiene predikante in die NG Kerk. Ernst, ’n voormalige aktuarius van die kerk, het Bartlett meer as ’n jaar gelede in vyf klagte daarvan beskuldig dat hy die negende gebod (“Jy mag nie vals ge­tuienis teen ’n ander gee nie”) oortree het.

Ernst het die klagte onder meer ingedien na aanleiding van ’n berig wat op 23 September 2018 in Rapport verskyn het. Daarin het Bartlett kommentaar gelewer oor dr. Chris van Wyk, voorsitter van die Oos-Kaapse sinode, se uitlatings oor homoseksualiteit en pedofilie. Van Wyk, predikant van die NG gemeente Somerstrand in Gqeberha (Port Elizabeth), het destyds ’n storm ontketen toe hy op Kerkbode se Facebook-blad geskryf het diegene wat glo seksuele oriëntasie is ’n gawe van God, sal pedofilie – seksuele aangetrokkenheid
tot kinders – op ’n soortgelyke manier moet aanvaar.

Bartlett se reaksie was onder meer dat Van Wyk “besig is met guerrilla-oorlogvoering op Facebook” en sy beskouing kom neer op haatspraak.

Ernst het toe vyf klagte teen Bartlett by kerkowerhede ingedien; drie wat daarop neerkom dat Bartlett op verskeie geleenthede “vals getuienis” teen Van Wyk gelewer het.

Nog twee klagte, waarop Bartlett ook vrygespreek is, spruit uit gedeeltes van sy boek Weerlose weerstand, wat reeds in 2017 gepubliseer is. Hy is onskuldig bevind op vier van die vyf klagte.

Ernst het toe appèl teen Bartlett se onskuldigbevinding aangeteken en ook teen dié deel van die uitspraak wat hom (Ernst) maan om eers die Bybel te gaan lees voordat hy oor ander kla.

In dié deel van die uitspraak word Ernst aangeraai om selfondersoek te doen en Romeine 12:17 (“Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, wees goedgesind teenoor alle mense”) en Efesiërs 4:32 (“Vergewe mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het”) te gaan lees.

In sy appèl het Ernst aangevoer die tugliggaam het nie die reg of bevoegdheid gehad om bevindinge en uitsprake oor hom te maak nie.

Volgens die appèlliggaam is dié besware nie gronde vir ’n appèl teen die tugliggaam se bevindings ten opsigte van die geformuleerde klagte nie.

“Die appellant se besware teen persoonlike opmerkings teen hom deur die tugliggaam, is onnodig, onvanpas, onbewese en irrelevant tot die bevindings.”

“Die appellant se besware kan net genotuleer word met die kommentaar dat die besware nie ongegrond is nie.”

Die appèlliggaam het ook Ernst se versoek van die hand gewys dat Bartlett in sy amp gestuit word.

“Die appèlliggaam vereenselwig hom met die besluit van die tugliggaam. Die tugliggaam het die versoek van die klaer om stuiting, oorweeg en daarteen besluit. Geen ge­tuienis is voorgelê dat die aangeklaagde onregmatig met die verhoor of die getuies sou inmeng nie.”

Twee lede van die appèlliggaam het in ’n minderheidsbevinding gesê hulle sou Bartlett wel skuldig bevind het op twee van die klagte waarop hy onskuldig bevind is. Dié lede het gesê dié skuldigbevindings sou egter geen verskil gemaak het aan die teregwysing wat aan Bartlett opgelê is nie.

Ernst sê by navraag hy sal nou na ander remedies kyk om te handel met sy besware dat die tugliggaam nie bevindinge en uitsprake oor hom persoonlik kon maak nie “aangesien die lede van die tugliggaam hiermee self die negende gebod oortree het”. Hy sê hy kan nou die saak verder voer deur ’n klag teen lede van die tugliggaam of ’n lasteraksie.

Hy sê “dit is met genoegdoening” dat hy kennis neem van die minderheidsuitspraak dat hulle Bartlett skuldig sou bevind op twee klagte. “Die meerderheidsuitspraak is vol feite- en regsfoute en kan tersyde gestel word.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui