Kyk ook: |
Die volgende artikel van Mary-Anne Plaatjies van Huffel het in Rapport verskyn. Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].
*************
Twee kerke by kruispad oor Belhar
Deur Mary-Anne Plaatjies van Huffel, Sondag 26 April 2015 05:00
Vra eerder waarom is dit nodig om te bely, skryf die VGKSA se Mary-Anne Plaatjies van Huffel.
Ek reageer graag op Jean Oosthuizen se artikel in Weekliks verlede week waarin hy argumenteer dat die NG Kerk (NGK) “vinnig besig is om irrelevant te word”.
Die NGK is na my mening by ’n kairos- oomblik in haar geskiedenis. Wat die kerkeenheidsgesprek tussen die NGK en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA) betref, het ons by ʼn kruispad gekom waar ons indringend oor die pad vorentoe sal moet besin.
Die VGKSA is van mening dat die Bybelse eis van die eenheid van die kerk van Jesus Christus ’n gawe én ’n opdrag is, en dat dit ’n werklikheid is wat nagejaag en gesoek behoort te word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou behoort te word.
[Nêrens praat die Bybel van strukturele eenheid nie. Die Bybel praat van eenheid in Christus. As die Bybel strukturele eenheid bedoel het, is dit ’n reuse probleem, want ek sien nie hoe die wye reeks verskillende denominasies in die wêreld ooit een kerk sal word nie. Ek glo dat kerke een in Christus kan wees ten spyte van mekaar se verskille. Efesiërs 4:3 sê: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.” As hierdie kwessie van Belhar heeltyd opgehaal gaan word, sal daar nooit vrede wees tussen die NGK en VGK nie. “…wie ’n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende.” (Spreuke 17:9b)]
Die ope vraag is of ons ad infinitum rakende kerkhereniging met mekaar op reis behoort te wees. Ek vertrou egter dat die Heilige Gees die NGK sal oortuig van die weg om in te slaan.
Soos Oosthuizen my ook in sy artikel aangehaal het, is dit duidelik dat die huidige formulering van die NGK se kerkorde enige belydeniswysiging (en die gevolglike aanvaarding van die Belydenis van Belhar) bykans onmoontlik maak.
Dit is omdat die wysiging van die belydenis net kan geskied as elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid asook twee derdes van alle kerkrade elk met ʼn tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.
Daarenteen maak die kerkordes van kerke wat wêreldwyd oor die opneem van Belhar in hul belydenisgrondslag besin het, voorsiening dat slegs ’n tweederdemeerderheid (’n “super”-meerderheid) van alle ringe en/of streeksinodes “ja” moes stem om Belhar aanvaar te kry. Die NGK het dus die uiters moeilike kerkregtelike proses gekies, wel wetende dat slegs een sinode die hele proses kan kelder.
[Eerstens volg die NGK bloot die kerkordelike proses. Na my mening is dit ’n goeie proses wanneer groot besluite geneem word. ’n Mens soek vir moeilikheid as ’n mens groot besluite probeer deurdruk as ’n wesenlike aantal lidmate nie saamstem nie. Tweedens sou hierdie korter proses nie ’n verskil gemaak het nie – daar het reeds drie sinodes “nee” gestem (of met minder as ’n tweederdemeerderheid “ja” gestem) terwyl slegs een sinode “ja” gestem het. Daar is 10 sinodes in totaal, dus moet nog ses sinodes stem.]
Die VGKSA het sedert 1986 dit konsekwent duidelik gestel dat die Belharbelydenis in ’n herenigde kerk se belydenisgrondslag opgeneem behoort te word.
Die VGKSA het ook herhaaldelik gesê sy sou anders as die NGK met belydenisformasie omgaan.
Die VGKSA erken egter die NGK as outonome kerk wat tans besig is met belydenisformasie volgens haar eie kerkordelike reëlings.
Dit is egter van belang om in die proses voor oë te hou dat die Belharbelydenis ontvangs gekry het in ’n spesifieke historiese konteks: die teologiese regverdiging van apartheid, onder meer deur die NGK.
[Hierdie lyk vir my soos ’n erkenning dat die Belydenis van Belhar ’n anti-apartheidsbelydenis is. As die NGK reeds sedert 1984 apartheid verwerp het dan is die Belydenis van Belhar mos uitgedien.]
In Augustus 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Ottawa ’n status confessionis afgekondig en verklaar dat apartheid en die teologiese en morele regverdiging daarvan sonde is. Gevolglik is sowel die NGK as die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) se lidmaatskap van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke opgehef.
Sedertdien is albei dié kerke weer opgeneem in die ekumeniese strukture wêreldwyd. [Omdat hulle apartheid verwerp het. LW dat die Belydenis van Belhar nie ’n rol gespeel het in hierdie besluit nie, omdat Belhar eers in 1986 die lig gesien het.]
Die VGKSA beskou die Belharbelydenis as die toetssteen vir die NGK om vir haarself en die wêreld aan te toon dat sy met integriteit met haar verlede gebreek het.
[Lees ook: die NGK moet Belhar aanvaar om vir eens en vir altyd te bewys dat sy teen apartheid is.]
Verder beskou die VGKSA die huidige formulering van die voorgestelde wysigings aan die NGK se kerkorde as onaanneemlik vir ’n herenigde kerk omdat dit die Belharbelydenis degradeer tot opsionele status.
Ons wil herbevestig wat ons reeds 20 jaar lank sê: Belhar moet dieselfde gesag as die ander belydenisskrifte in die belydenisgrondslag van die herenigde kerk hê.
[Dus, selfs al was die wysiging van artikel 1 aanvaar, sou dit steeds nie gehelp het vir kerkeenheid nie.]
Die Belydenis van Belhar eis ’n keuse en ’n aksie van elke NGK-lidmaat, -predikant en -kerkraadslid.
Niemand kan egter gedwing word om dit of dat te bely nie. Veel eerder word die dwang om te bely deur God self opgelê. Die VGKSA kan dus niemand dwing om te bely nie.
Die VGKSA is egter van mening dat dit nie kerkregtelik houdbaar is dat sommige bedienaars van die Woord sommige belydenisdokumente onderskryf, terwyl ander toegelaat word om dit nie te onderskryf nie. [Daarmee stem baie mense saam.]
Vir Gereformeerdes lê die eenheid van die kerk immers in hul gemeenskaplike belydenis.
Die plaaslike gemeentes word immers volgens gereformeerde kerkreg, hoewel selfstandig, deur gemeenskaplike belydenis in onderlinge verband met mekaar verbind.
Dit is dus nie moontlik om van kerkhereniging te praat sonder om deeglik met die Belharbelydenis rekening te hou nie.
Die Belydenis van Belhar is besig om die NGK uit te daag insake die teologiese voorveronderstellings in die NGK met betrekking tot eenheid, geregtigheid en versoening, kerkbegrip, asook die belydenisgrondslag van die kerk.
Met die pragmatiese weg wat die NGK ingeslaan het om die Belydenis van Belhar deel van sy belydenisgrondslag te maak, het hy ’n keuse gemaak vir opsionaliteit om sodoende twee strominge in die kerk te akkommodeer.
Eintlik moes die vraag nie op die kerkregtelike wysiging van die belydenisgrondslag van die NGK gesentreer het nie. Dis ’n tweede-orde-vraag.
Veel eerder moes die klem geval het op die vraag: Waarom is dit nodig om te bely? Die klem behoort dus nie te val of die Belharbelydenis as ’n belydenisskrif met opsionele of volledige status by die NGK se kerkorde gevoeg behoort te word nie. Veel eerder behoort gevra te word: Behoort ons (die NGK) die Belharbelydenis te bely?
Meer nog: Waarom behoort die Belydenis van Belhar op gelyke voet met die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls bely te word?
Om instemmend of afwysend op dié soort vrae te antwoord is in sigself ’n respons.
Watter keuse die NGK ook al uitoefen met betrekking tot die Belharbelydenis, beteken noodwendig dat sy ná die voltrekking van die proses nie meer dieselfde kan wees nie.
Selfs al sou die NGK uiteindelik Belhar afwys, sal die kerk se toekoms bepaal word deur wat sy gedurende die proses van belydenis (processus confessionis ) aanvaar, onderskryf, stilswyend gesanksioneer of verwerp.
Dis hoe die geskiedenis oor die posisiekeuse van die NGK sal oordeel.
– Prof. Mary-Anne Plaatjies van Huffel is moderator van die VGKSA.