Kyk ook:
Kyk Neem dié perspektiewe ook in ag (DC Coetsee, 7 Des 2022) wat op hierdie artikel reageer.
*******
‘Twee ou wit mans’: Los die ‘braai, bier, bliksem en bendes’ en luister na vroue | Netwerk24
Willemien Brümmer
25 November 2022
Twee Stellenbosse teoloë stuur vandag op die Internasionale Dag vir die Beëindiging van Geweld teen Vroue ’n jaar lange veldtog met ’n verskil van stapel. Prof. Bernard Lategan en dr. Chris Jones het met Willemien Brümmer gepraat oor hoekom mans na vroue moet luister.
Die Amerikaanse skrywer en toekomskundige Alvin Toffler het gesê die ongeletterdes van die 21ste eeu is “nie diegene wat nie kan lees of skryf nie. Dis dié wat nie kan leer, afleer en oorleer nie.”
Vir twee Stellenbosse teoloë en voormalige NG predikante het hierdie woorde ’n soort credo geword toe hulle saam besluit het om Suid-Afrikaanse mans uit te daag om anders te begin dink en op te tree teenoor vroue.
Wat dit veral beteken is dat die ondertekenaars van hul veldtog moet “stilbly en na vroue luister” – in plaas daarvan om te marsjeer en luidkeels protes aan te teken.
Dit is in skrille kontras met die tafereel wat hom onlangs in Stellenbosch uitgespeel het, waar mans voor in die koor was om die Khampepe-verslag, deur ’n swart vroulike oudregter, te veroordeel, sonder om met ’n oop gemoed te luister (en te lees) hoe hulle hul omgewing ’n meer deernisvolle plek kan maak. Of ons minister van polisie, Bheki Cele, wat met ’n swart cowboy-hoed op deklameer dat mans ’n einde moet maak aan gender-geweld, maar kort daarna beveel: “Skiet eers en vra dán vrae”.
Toe Cele Woensdag die kwartaallikse misdaadstatistieke bekend stel is onthul 989 vroue is in die net meer as 90 dae in Suid-Afrika vermoor, buiten die 1 277 voorvalle van poging tot moord op vroue wat ook by die polisie aangemeld is. Meer as ’n 100 vroue is daagliks verkrag – en dit is net waarvan ons weet.
Ter wille van sy kleindogters
Vir prof. Bernard Lategan (84), ’n internasionaal gerekende navorser oor onder meer waardestelsels en stigter van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias), het dit begin by die besef dat daar iets ontbreek aan die veldtog van 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgeweld.
Hy glimlag waar hy in sy eertydse student, dr. Chris Jones (62), se kantoor in die fakulteit teologie (die sogenaamde “Angel Factory”) in Stellenbosch sit. Dié twee het 44 jaar gelede ontmoet toe Jones ’n student in Lategan se Bybelkunde-klas was. Hoewel dié voormalige dekaan homself as ’n “leek” op die gebied van geslagsgeweld beskou, was hy vasberade om iets te doen ter wille van sy sewe kleindogters. Hy praat toe met Jones oor die “blinde kolle” in die huidige veldtogte.
Elke jaar is daar immers ’n heldhaftige poging tussen 25 November en 10 Desember en elke jaar bly dit, in Bybelse terme, ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal. “Trouens, dit raak skynbaar net erger en meer brutaal – hierdie week weer met ’n vol bierbottel of ’n fietsketting en graaf, om nie bloot geweld te pleeg nie, maar ook om ’n veronderstelde geliefde te vermoor,” sê Lategan.
Die huidige veldtogte het veral twee gebreke, meen dié twee wat hulself tong-in-die-kies die “ou wit mans” gedoop het. Eerstens is mans, selfs in die Verenigde Nasies (VN) se ellelange handleiding oor die 16 dae van Aktivisme, “feitlik onsigbaar”. Tweedens vind dit “in die modus van protes” en “daadkragtige optrede” plaas – in plaas daarvan dat mans hulle daartoe verbind om hul eie denke en gedrag te heroorweeg.
“Dis natuurlik nie alle mans wat vroue seermaak nie en natuurlik kan mans ook slagoffers van geweld wees,” sê Lategan. “Maar dit verander niks aan die feit dat die meerderheid van geslagsgeweld deur mans gepleeg word nie – en dat dit baie keer teenoor diegene is wat die naaste is aan hulle.”
Hy sit vorentoe. “Ons wil elke man in Suid-Afrika uitdaag om vir ’n oomblik alle ander oorwegings en verskonings opsy te skuif en vir hulself te vra: Hoe dínk ek oor vroue? Hoe sien ek hulle regtig? Hoe tree ek teenoor hulle op? En hoe behóórt ek op te tree?”
‘Cowboys don’t cry’
Die plan is nie bloot om handtekeninge te jag nie. Lategan en Jones wil ’n jaarlange veldtog voer wat alle sektore van die samelewing betrek – skole, universiteite, sportliggame, geloofsgemeenskappe en die polisie. En as mans eers geteken het, is die idee dat hulle betrokke bly.
Jones, hoof van die eenheid vir morele leierskap by die US, wat verlede jaar die redakteur was van die sosiaal-wetenskaplike publikasie Violence, South African Perspectives, sê as jy in ’n optog toi-toi, verander dit nie noodwendig jou gedrag nie.
“Ons benadering is ’n bietjie anders, in die sin dat jy ’n verklaring gee wat eintlik op die individu afgestem is: Lees ’n bietjie hier en meet jouself met betrekking tot hoe ons vroue in die steek gelaat het en hoe ons onsself opnuut kan verbind daartoe om anders teenoor vroue op te tree.”
Hy dink egter nie dis ’n “towerstaf wat alles sal regmaak nie”. “Ons moet ook ’n indringende nasionale gesprek voer oor geweld teenoor vroue wat ’n mens in skoolkurrikulums moet invoeg – hoe vroeër hoe beter,” sê hy.
Dié gesprek moenie wegdeins van drank, daardie voggies wat dié universiteit die afgelope jaar om al die verkeerde redes in die nuus laat beland het nie.
In navorsing wat Jones gedoen het oor die doodstraf in nege provinsies onder 467 veroordeelde moordenaars, het hy bevind by ’n volle 70% van die moorde op vroue was die man onder die invloed van alkohol of dwelms – of albei.
“Ons moet ook kyk na hoe seuntjies gesosialiseer word,” sê hy. “Ons word geleer cowboys don’t cry en moenie toelaat dat ’n vrou op jou kop sit nie en jy moet ’n man wees en nie ’n muis nie.”
Lategan meen geweld word steeds as oplossing verheerlik in ons daaglikse handel en wandel. Dink maar aan padwoede of video-speletjies.
“Hoe eindig elke ‘romantiese’ cowboy-verhaal? Met ’n shootout in ’n stowwerige hoofstraat of in ’n kroeg wat dan kwansuis alle probleme eensklaps ‘oplos’. Geen spanningsfliek is sonder uitgerekte tonele waar teenstanders op die mees gewelddadige maniere afgemaai word nie. Dit word ondersteun deur ’n sieklike kultuur dat jy teen alle koste moet wen.”
Hy vertel van Henry Ford, die stigter van Ford-motors, wat gesê het: “Failure is the only opportunity to begin again more intelligently.”
“Dis belangrik dat mans besef jy is nie onoorwinlik nie, jy kan maar ’n bietjie huil ook.”
Waar taal ontbreek
In Violence skryf Jones en die paleontoloog dr. Jurie van den Heever geweld is letterlik al vir duisende jare deel van die mens se bestaanswêreld – dink maar aan die talle bloeddorstige Bybelverhale. Die eerste anatomies moderne mense wat Suider-Afrika ongeveer 160 000 jaar gelede bewoon het, het hulle aan kannibalisme skuldig gemaak.
Ook die dominerende en besitlike gedrag van mans teenoor vroue is ’n oeroue verskynsel. Lategan vertel die openingstoneel van Homeros se epiese gedig Die Iliade wat afspeel tydens die Trojaanse oorlog is ’n bekgeveg tussen koning Agamemnon en die vegter Achilles oor “oorlogsbuit”: “In albei gevalle is dié ‘buit’ natuurlik vroue wat geen sê in die hele petalje het nie”.
Of jy lees oor die begrafnis van ’n Noorse opperhoof, waar al sy aardse “besittings” saam met hom verbrand moes word voordat hy skynbaar na Walhalla kon gaan. Hierdie “besittings” was onder meer ’n hond wat in die helfte gesny moes word, twee perde wat doodgesteek moes word met swaarde en ’n slaaf wat tussen die ribbes gesteek moes word met ’n dolk wat regdeur haar bors dring. Eers moes ses mans egter met haar seks hê in die tent waar die dooie opperhoof sy ewige roes afgeslaap het.
Ons moet egter nie redeneer omdat geweld en aggressie produkte van die mens se evolusionêre geskiedenis is, kan ons nie verantwoordelik gehou word daarvoor nie, sê Jones.
“My gevoel is baie keer dat taal ontbreek,” sê hy. “Onder die jagter-versamelaars het jy hierdie sterk alfa-mans gekry wat almal beheer en gereguleer het. Mettertyd het taal egter ontstaan wat ondergeskiktes in staat gestel het om te kommunikeer en koalisies te vorm en te praat oor wat jy kan doen om die alfa-man te onttroon.”
Daarom wil die verklaring ook aan mans die “nodige taal en gedagtes” gee sodat hulle hulself daaraan kan meet. “Ek dink waarmee ons die meeste sukkel is kommunikasie en ons word nêrens geleer hoe om te kommunikeer nie. En dan veral as daar alkohol ter sprake is en jou sinne word so ’n bietjie verdof is, het jy nóg minder taal. Die maklikste en vinnigste manier om dan konflik op te los is deur geweld.”
‘Hou jou bek en luister’
In ’n artikel vir LitNet skryf Lategan oor die insigte van die Duitse teoloog Eberhard Jüngel wat betref die verhouding tussen moontlikheid en werklikheid. Indien die bestaande werklikheid die norm is, kan ons slegs die geskiedenis herhaal. As die moontlike egter voorrang kry, kan ons ’n nuwe werklikheid opdroom.
Hy en Jones probeer ook om in hul eie lewe “verby die hede en los van die verlede” te dink. “Jy kom elke keer agter jy is onbewustelik nog op ’n sekere manier gekondisioneer,” sê Lategan.
“Dis ’n langdurige proses van ontsosialisering van waar jy vandaan kom en ’n gedurige soeke na gepaste maniere van optree. Ek weet nóú nog nie altyd wat is gepaste maniere van optree teenoor vroue of hoe ’n mens regtig respek wys nie. Dít sou ek baie graag wou doen in gesprek met vroue.”
Hy lag. “Die ergste sou wees as jy dink ons het nou die oplossing en ons is nou die soort van ghoeroes. Ons wil nie direktief of voorskriftelik klink en sê: ‘Manne, dís nou hoe dit moet gebeur’ nie. Ons moet nog hierdie ding ontdek en uitpluis.
“Sê nou maar ons sê byvoorbeeld ons moet die rassisme van apartheid ontgroei, waarvan jy nooit regtig loskom nie, hoe realiseer jy ’n nuwe moontlikheid? Dis dan stukkie vir stukkie dat jy begin optree volgens die nuwe moontlikheid sodat ’n nuwe werklikheid geskep kan word.”
Hy lag. “Dis dáárom dat die verbintenis in die verklaring is om jou bek te hou en te luister. En dít kan nogal moeilik wees.”
Braai, bier, bendes en bliksem
Jones knik. “Daar is baie leemtes in ons eie mondering, byvoorbeeld dat ons onsself maar altyd moet herinner om nie noodwendig eerste te praat en te dink jy weet beter nie. Dis hoekom dit so belangrik is om te leer en af te leer en óór te leer, selfs al is jy in jou 60’s of in jou 80’s. Jy arriveer mos nooit nie. Dit bly ’n leerproses.”
Hy meen mans moet wegkom van die persepsie dat manlikheid saamhang met “braai en bier en bendes en bliksem,” na ’n plek waar mans hul eie kwesbaarheid kan omhels.
“Dit moet gaan oor selfrespek en respek vir ander, oor waardigheid, deernis en sensitiwiteit. Ons wil nie ’n super-manlikheid nastreef nie. Ons wil die Bheki Cele’s teenwerk en sê: Dís nie hoe ’n mens met sekere situasies omgaan nie. Ons besef die polisie is gefrustreerd en hulle het baie uitdagings. Maar ons mik vir ’n ander soort manlikheid waar jy ook vir vroue volkome vryheid kan gee en waar vroue kan werk en kan liefhê soos hulle wil en waar mans nie vir hulle voorskryf nie.”
Die gevaar is natuurlik dat die inisiatief gekoppel bly aan “twee ou wit mans van Maties”. Daarom is dit vir hulle uiters belangrik dat dit deurspoel na verskillende sektore van die samelewing, en dis hoekom die verklaring voorlopig in Xhosa, Zulu, Sesotho, Afrikaans en Engels is.
Jones lag effe onseker. “Ons weet nie presies waarheen ons op pad is hiermee nie, maar ons gee nou maar ons lyf vir die brander en kyk waarheen ons geneem word.”
• Voeg jou naam hier by die #Oproep aan Alle Mans in Suid-Afrika.