Tweede doop verwerp eerste

Kyk ook:

Gekopieer vanaf Rapport.

***********

Tweede doop verwerp eerste

deur Ds. Gideon Aggenbag (emeritus), per e-pos
2011-08-13 15:52

’n Tweede doop “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” is in wese ’n verwerping van die eerste. Nou kom die vraag egter oor ’n bekeringsdoop – hopelik volgens ’n ander formule. Ek kan nie insien hoe prof. Adrio König tot die gevolgtrekking kan kom dat dit “in die wese van ’n Gereformeerde teologie” lê om ’n bekeringsdoop te akkommodeer nie.

Ek moet beslis verskil van sy mening soos gegee in Rapport van 7 Augustus 2011. Myns insiens sál ’n tweede (bekerings-) doop die verbondsdoop ondermyn. Dit sal die God-gegewe karakter daarvan, al die nuanse daaraan verbonde, en dít wat God vir ons daarin be-teken en beseël het, oorskadu en op die agtergond skuif. Die bekeringsdoop het alreeds die karakter aangeneem dat dit nodig is/geag word. Dit het alreeds die verbondsdoop by baie lidmate verdring – presies soos prof. König dit self uitdruk: “…lidmate en predikante wat besluit het hul kinderdoop is ongeldig”, en daarom het “reeds talle NG-gelowiges … hulself laat grootdoop”. Bekeringsdoop het alreeds ’n mededinger van die verbondsdoop geword.

Dit is myns insiens om hierdie redes dat die NGB in Art.32 waarsku dat ons noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus vir ons ingestel het nie. Daarom word “alle menslike uitdinksels wat mense sou wil invoer om God te dien…”, verwerp. Die kerk wat dit wel invoer en “aan sy besluite meer mag en gesag” toeken as aan die Woord van God, het ’n valse kerk geword, en “neem weg en voeg by na eie goeddunke” (Art.29).

Daarom stem ek heelhartig saam met dr. Andries Kritzinger van Orkney: “Die gepaste manier om daarop te antwoord is om op praktiese en etiese maniere die gemeenskap van Christus in die wêreld uit te leef.” God vra niks anders van die bekeerling nie as om Hom vir die res van sy lewe daadwerklik lief te hê en te gehoorsaam nie. Dít, en nie ’n bekeringsdoop nie, is die gepaste “manier waarop mense met ’n diep geestelike ervaring op hul vroeëre Christelike doop kan antwoord”, soos prof. König dit stel.

Die vraag kom op: waarom dan nie maar ’n tweede Nagmaal óók instel nie? Sal ’n nagmaal waaraan hulle hulle eie emosies, konnotasies, belewenisse en oortuigings kan koppel, bekeerlinge miskien tevrede stel? Hoe lank nog voordat dit óók gebeur?

Kerkleiding moet liewer meer moeite doen om maniere te vind om lidmate (en sommige predikante) op te voed in die ware betekenisse (ens.) van die verbondsdoop, sodat hulle die ware wonder en diepte van God se bemoeienis met Sy verbondelinge na regte sal ken en waardeer. Dít is só ryk en genoegsaam dat daar geen meerdere behoeftes hoef te bestaan nie. Dit wil voorkom asof leiers (soos o.a. predikante) hulle kennis hieroor en/of oordrag daarvan aan lidmate, skromelik verwaarloos.

Samevattend: Dit is goed om “met deernis na lidmate se behoeftes te luister”, maar dan moet dit met die suiwer leer van Jesus Christus se evangelie beantwoord word – met waardering en begrip vir daardie behoeftes – nie met instemming tot buite-Bybelse behoeftes nie. As die komende Algemene Sinode dit doen en allerlei “emosionele” behoeftes buite-om die evangelie akkommodeer, baan dit die weg vir die chaos wat reeds in Europa ver gevorder het, en besig is om hier te lande te ontwikkel. So rapporteer Robert Pigott in BBC Europe: “But many churches are keen to work with anyone who believes in ‘something’. They believe that only through adaptation can their religion survive… The new Christianity is already developing its own ritual.”

Ons bid dat die Gees van God die Oktober-Sinode in alle waarheid sal lei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui