Kyk ook: |
Kyk Kanker van dié -ismes tref die NG Kerk waarin Henrietta Klaasing kommentaar lewer oor hierdie artikel.
**********
Tyd is verby vir keer en beheer
2012-02-26 21:05
(Van Beeld gekopieer.)
Stephan Joubert
Dit bly groot nuus dat die NGK, een van die hoofstroomkerke in ons land, by die 20 000 lidmate in ’n jaar verloor het [kyk NGK-lidmate 20 000 minder in een jaar].
Tog wonder ek of dit konstruktief is om heeltyd oor kerklike syfers te kibbel.
Wanneer kerkwees vanuit die Nuwe Testament verstaan word, gaan dit oor mense met ’n lewende belydenis dat Christus die Here is.
Dit gaan oor die uitleef hiervan saam met ’n nuwe familie van gelowiges in feestelike samekomste en op konkrete maniere.
Miskien sal dit ons loon om te onderskei tussen institusionele gesigte van kerkwees en kerkwees op grondvlak.
Sommige formele gesigte van kerkwees, insluitende die strukture, amptelike vergaderings, ordes en samekomste lyk nie aldag meer ewe relevant, lewenskragtig en Gees-aangedrewe nie.
Tog gebeur daar op grondvlak steeds die mooiste verhale in arm, ryk, plattelandse, stedelike, klein en groot gemeentes en ander bedienings.
Oral help gelowiges in Christus se Naam die armes; bedryf werkskeppings-aksies; versorg siekes en bejaardes; soek verlorenes op, ensovoorts.
Ander meetinstrumente skets totaal ander prentjies!
Drastiese afnames in getalle durf nie misgekyk word nie, maar om dit as primêre meetinstrument te gebruik beteken die oplossing is nogmaals om net meer mense op kerklike paviljoene terug te kry.
Die eintlike toets is of die kerk na binne en buite opleef aan die roeping om mekaar en ander dienend lief te hê.
Tesame met meer, beter meetinstrumente kort ons groter insig in eietydse menswees. Len Sweet skryf juis in ’n nuwe boek, Viral: How Social Networking is Poised to Ignite Revival, dat die kerk moet rekening hou met die nuwe “Google”-generasie.
As integrale deel van hul menswees “connect” hierdie digitaal-gedrewe “Googlers” via sosiale media, asook deur sterk klem op narratiewe en verhoudings.
Die “Gutenberg”-generasie is egter steeds kerklik aan die bewind. Hulle is diegene vir wie internet, selfone, Facebook en Twitter bloot tegniese hulpmiddels is.
“Gutenbergers” se kerkwêreld gebeur grootliks via papiergedrewe vergaderings, rasionele besluite, vaste ordes en voorgeskrewe roetes vir hul amptelike samekomste.
Vir die “Google”-generasie, wat terloops nie net ’n ouderdomgebonde groep is nie, gebeur die evangelie van Christus verhoudingsmatig, deursigtig, vinnig en doeltreffend.
“Googlers” is die eerste generasie wat ook nie outoriteitsfigure soos dominees, pastore en professore benodig om kennis te ontsluit nie. Hulle doen dit sommer self aanlyn.
Wat hulle wel benodig, is wyse “Gutenbergers” wat as mentors hierdie inligting vir hulle interpreteer en deursigtig voorleef.
Ook moet ons begryp watter denkverskuiwings plaasgevind het om sake wat 20 tot 30 jaar gelede ononderhandelbare bakens van kerkwees was.
Ek praat van dinge soos formele lidmaatskap; geordende leraars as die enigstes wat amptelik mag preek en gemeentes mag lei; die reg van “meerdere kerklike vergaderings” om namens individue te dink; en die bywoning van eredienste en aktiwiteite as vernaamste bewyse van kerklike betrokkenheid.
Hierdie sake is vir vele lank reeds nie meer die hoofbakens van kerkwees nie.
So lank as wat kerklikes meen dat lidmate diegene “op ons boeke” is, of dat kerke ’n eenstop-verskaffer van alle geestelike dienste is, sal die meeste oplossings deur skuldgevoelens gedryf word, of deur die slaafse herhaling van dieselfde ou antwoorde op die verkeerde vrae.
Die tyd is reg om te beleef hoe God nuwe dinge doen sonder dat ons dit kerklik kan beheer of keer.
Stephan Joubert is buitengewone professor in kontemporêre ekklesiologie aan die Universiteit van die Vrystaat.