Tyd vir die kerk om op te staan (Chris Jones)

Kyk ook:

In die volgende artikel (van Beeld gekopieer) maak Chris Jones, hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap, geen geheim oor sy siening oor homoseksualiteit nie. Ten spyte daarvan dat die Bybel so duidelik daaroor is (kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit).

Kyk ook ds Gideon Aggenbag se reaksie direk onder hierdie artikel en ook Bygevoeg en Weggelaat, Juig!, Maart 2013.

*********

Tyd vir die kerk om op te staan

2013-01-19 06:00

Dit is tyd dat die NG Kerkfamilie en ander Protestantse kerke die teologiese uitdaging van homoseksualiteit aanvaar en etiese leiding neem ter wille van God se koninkryk en gays se waardigheid, skryf Chris Jones.

Volgens my lees van die Bybel lewer nóg die Ou nóg die Nuwe Testament uitspraak oor homoseksuele oriëntasie soos ons dit vandag ken, óf oor ’n intieme verhouding tussen twee volwassenes van dieselfde geslag, gegrond in ’n monogame verbintenis en gekenmerk deur liefde, respek en menswaardigheid. Waaroor dit wél in die Bybel gaan, is homoseksuele verkragting, wellus, tempelprostitusie en pederastie (’n man wat onsedelike verhoudings het met persone van sy geslag, veral met jong seuns).

Hierom moet ons baie versigtig wees hoe ons die Bybel gebruik wat homoërotiek betref. Die sosiaal-historikus Daniel Boorstin sê: “The greatest obstacle to discovering the shape of the earth, the continents and the ocean was not ignorance, but the illusion of knowledge.”

’n Teenstrydigheid in ons Protestantse kerke se beredenering van hierdie saak bly die onderskeid wat gemaak word tussen homoseksuele oriëntasie en homoseksuele gedrag. Terwyl laasgenoemde afgewys word as sonde, geld dit vir hierdie kerke nie wat eersgenoemde betref nie. Maar kan die oriëntasie onskuldig wees as dit sou dui op ’n geneigdheid tot gedrag wat as sondig beskou word? Is dit nie inkonsekwent nie?

Selfs al gaan ons nie oor tot die sondige daad nie, wys Jesus tog reeds die sondige begeerte af wanneer Hy die blote begeerte tot egbreuk reeds met die daad gelykstel (Mat. 5:28)! Die oriëntasie (skuldig sowél as onskuldig!) en die daad is dus gelyk. Een! (Flip Theron)

Ek dink nie bogenoemde redenasie van (kerk)mense wat so gerieflik tussen oriëntasie en gedrag onderskei, kan die toets van die tyd deurstaan nie.

Vandag word taamlik algemeen aanvaar dat seksualiteit nié ’n geïsoleerde deel van ons bestaan is nie. Dit word gesien as deel van die totaliteit van ons menswees. Dit is integraal deel van ons identiteit; van hoe ons “aanmekaargesit” is.

Dit hou verband met ons behoefte aan fisieke en geestelike eenheid met ’n ander persoon, en ons soeke na die diepste vorm van intimiteit. Die seksuele wil dus ons menswees en persoonwees dien. Dit wil uitdrukking wees van ’n Godgegewe liefde wat ons eensaamheid verlig. Dít moet alle mense gegun word, ongeag hul sek­suele oriëntasie!

In hierdie opsig is dit belangrik om te besef dat ’n mens se liggaam nie iets is wat jy hét nie, maar wat jy ís. ’n Mens se seksuele behoeftes is so deel van jou soos jou hart en brein. Dit is natuurlik nie ál wat ’n mens is nie, maar hiersonder kan jy nie waarlik jy wees nie. Dit wórd en verander, pas aan en pols soos wat ’n mens leef en ouer word.

Daar ís dus ’n onlosmaaklike verweefdheid van die innerlike self en liggaamlikheid, van rede en begeerte. Om dít los te torring en te polariseer, soos deur eeue heen gedoen is, en steeds in en deur die kerk gedoen word, is nie net pynlik nie, maar besonder onmenslik! Die lewe voor (en vir) God kan eintlik net ’n volledig beliggaamde lewe wees.

Soms is dit vir Protestante só moeilik om met een van hul eie kernbeginsels om te gaan. Paulus skryf in Rom. 1:17: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Geloof alleen is dus wat saak maak. Die mens wat glo, is bevry van alle ander vereistes/verpligtinge om sy/haar saligheid op die een of ander wyse te “verdien”. Ongekwalifiseerde bevryding binne hierdie konteks beteken dus terselfdertyd ongekwalifiseerde inklusiwiteit. Almal wat opreg glo, is welkom!

Die tragiese is egter dat dwarsdeur die geskiedenis van die kerk hierdie inklusiwiteit op allerhande maniere ondermyn is. Om te glo is belangrik, maar… jy moet óók besny wees; of jy moet óók groot of klein of weer gedoop word; of jy moet jou by jou eie kultuurgroep aansluit; of jy moet ’n man wees om in die ampte te dien; of jy moet heteroseksueel wees óf selibaat leef (as jy ho­mo­sek­su­eel is) om ’n dominee te word.

Hierdie lys van “plusse” het oor die eeue gewissel. Telkens is nuwe variasies uitgedink. Daardeur is die wesenlike inklusiwiteit van die geloofsgemeenskap op allerhande maniere ondermyn. Die ergste is dat hierdie “plusse” deurgaans teologies verdedig is!

In die geval van gelegitimeerde gay proponente is die “plus” wat vereis word dat hulle selibaat sal leef – watter vreemde gedagte. Waarom nie eerder terugkeer na die reformatoriese kernbeginsel van die erkenning van geloof as die enigste voorwaarde vir volle, ongekwalifiseerde, inklusiewe lidmaatskap van die geloofs­gemeenskap nie? (Bernard Lategan)

En hoe Bybels is dit om selibaatheid van iemand te eis?

Waar dit wél gebeur, dink ek word ’n “strukturele denkfout” gemaak, want Paulus verwys na selibaatheid as ’n charisma – ’n genadegawe van God.

Die teoloog Helmut Thielicke wys daarop dat die selibate lewe nooit ’n “gedwonge keuse” kan wees nie.

Dit is uiters onbillik om seksuele onthouding van enige persoon te “eis”, behalwe natuurlik in gevalle van seksuele afwykings waardeur ’n persoon ander kan benadeel, byvoorbeeld in die geval van pedofilie.

Wat presies moet in elk geval onder selibaat verstaan word?

Geestelike volwassenheid behels bevryding van vooroordeel. So baie van ons samelewing se instellings werk met eng aannames van wat normaliteit is. En juis dít kan homofobie dryf.

Agter bogenoemde redenasie lê nié ’n najaag van die Suid-Afrikaanse regering se erkenning van diversiteit en pluraliteit soos in ons liberale Grondwet vervat nie. Dit is veel eerder ’n teologiese uitdaging aan die NG Kerkfamilie en ander Protestantse kerke om ’n slag op ’n dapper wyse op te staan en sterk etiese leiding in hierdie opsig te neem ter wille van God se koninkryk en gay mense se waardigheid.

Onthou, voorwaardelike aanvaarding bly verwerping!

Die Duitse teoloog Martin Niemöller het tydens Adolf Hitler se bewind die volgende gesê (hierdie is die bekendste Engelse vertaling):

They came for the Communists, and I didn’t object – for I wasn’t a Communist;
They came for the Socialists, and I didn’t object – for I wasn’t a Socialist;
They came for the labour leaders, and I didn’t object – for I wasn’t a labour leader;
They came for the Jews, and I didn’t object – for I wasn’t a Jew;
Then they came for me – and there was no one left to object.

Hiervoor moet die kerk(e) baie versigtig wees.

– Dr. Chris Jones is ’n teoloog van Stellenbosch.

Kommentaar

Ds Gideon Aggenbag

Ek reageer op ’n artikel in Beeld van 19 Januarie 2013, “Tyd vir die kerk om op te staan” deur dr. Chris Jones, ’n teoloog van Stellenbosch.

Dr. Jones stel heelwat bedrieglike redenasies en nie-tersaaklike sake oor geloof, wat “die kerk” leer, die eng aanames van ons samelewing, lyste van “plusse” wat oor die eeue gewissel het en variasies wat uitgedink is, maar ek soek tevergeefs by hom vir ’n Bybelse begronding van sy standpunte.

Dr. Jones beskou homoseks as ’n “teologiese uitdaging” en meen dat die Bybel nêrens ’n uitspraak daaroor maak nie. Hierdie is ’n wydlopige stelling sonder enige begronding. Hy maak geen poging om ’n verskil aan te dui tussen “homoseksuele oriëntasie soos ons dit vandag ken” en die Bybelse uitspraak, te wete “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.” (Lev 18:22). Dieselfde beginsel geld ook in Lev 20:13 “En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen.” Dieselfde gruwel word ook beskryf in Rom.1:24-27.

1 Kor.6:9-10 noem mense wat homoseks beoefen in dieselfde sin as onsedelikes, afgodsdienaars, egbrekers, diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters en bedrieërs, en 1 Tim. 1:9-10 noem hulle in dieselfde asem as goddeloses, sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, ontugtiges, ontvoerders, leuenaars en dié wat meineed pleeg.

In die saak van homoseks stel die Bybel geen uitsonderings soos ’n monogame verbintenis, liefde, respek of die waardigheid van die beoefenaars daarvan nie. Hierdie faktore is nie ter sprake (of ’n verskoning) by iets wat God verbied nie.

Verbasend sê dr. Jones: “Waaroor dit wél in die Bybel gaan, is… [o.a.] pederastie (’n man wat onsedelike verhoudings het met persone van sy geslag…)”. Steeds versuim hy om ’n verskil aan te toon tussen hierdie verhoudings en die Bybelse uitspraak teen homoseks.

Hy hou voor: ‘Paulus skryf in Rom. 1:17: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” Dít is baie waar, maar dan voeg dr. Jones by: “Geloof alleen is dus wat saak maak.” Natuurlik is dit so, maar hy vermy duidelik (en bedrieglik, na my mening) ’n uitklaring oor wat geloof behels. Hy versuim om te verduidelik dat om te glo, beteken ook ’n gepaardgaande geloofslewe met geloofswerke. Om te glo beteken om God lief te hê, Hom te gehoorsaam en jouself te weerhou van volgehoue en beroulose sonde. Daarsonder bestaan daar nie soiets soos geloof nie. (Jak.2:19,22,26; Hebr.11 ens.).

As dr. Chris nou sê dat “Die mens wat glo, is bevry van alle ander vereistes/verpligtinge om sy/haar saligheid op die een of ander wyse te “verdien””, staan die vraag aan hom nog steeds: Van watter soort “glo” praat hy? Die duiwels “glo” óók, en hulle sidder van angs (Jak.2:19).

Hy bepleit “ongekwalifiseerde inklusiwiteit” vir “almal wat opreg glo”. As iemand dus beweer dat hy “glo” maar sy doen en late getuig daarteen, diskwalifiseer hy homself beslis vir “ongekwalifiseerde inklusiwiteit”. So iemand is beslis nie die kind van die Here se MEDE-gelowige nie.

Die saligmakende geloof ken geen lys van plusse om saligheid te verdien nie. Dit sluit wel in dat die gelowige leef en doen soos wat dit God behaag. Om iets te verdien? Nee! Omdat hy God liefhet, Hom wíl behaag en omdat hy dankbaar is vir verlossing. So iemand sal nie volhard in iets wat God duidelik afwys en as ’n gruwel brandmerk nie.

Dr. Jones vra ’n verbasende vraag: “En hoe Bybels is dit om selibaatheid van iemand te eis?” En verder: “Dit is uiters onbillik om seksuele onthouding van enige persoon te “eis”…” Die feit is: God self eis selibaatheid van dié wat in Hom glo, en Hy beperk enige seks slegs tot die huwelik . Hoe is dit ’n “strukturele denkfout”? Ek kan dr. Chris se vraag en standpunt nie anders verstaan nie as dat hy ’n voorstander is van buitehuwelikse seks. Die werke van die vlees is owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid, maar die vrug van die Gees is (o.a.) selfbeheersing. Dié wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig (Gal.5:19,22,24).

Dr. Jones vergeet blykbaar dat die saligmakende geloof ’n “charisma” (genadegawe) van God is en dat selibaatheid daarby ingesluit is. Lg. kan nie losgemaak word van geloof as genadegawe nie – dít sou beslis ’n “strukturele denkfout” wees.

Dr. Chris Jones sê: “Onthou, voorwaardelike aanvaarding bly verwerping!” Die vraag is egter wie of wat aanvaar moet word. Die boetvaardige of die beroulose, volhardende sondaar? Verwerp as mens of medegelowige? Van die beroulose sondaar sê Jesus self: “As hy na die gemeente ook nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel” (Mat.18:17). Die voorwaarde van aanvaarding (as medegelowige) is dus om te “luister na die gemeente”. Weer is dit nie liefde, respek of waardigheid wat ter sprake is nie, maar gehoorsaamheid aan die wil van God.

Met die “sterk etiese leiding” wat dr. Chris vir die kerk aanbeveel, bedoel hy klaarblyklik dat die kerk vir sy lidmate moet leer dat buitehuwelikse seks (hetero- of homo-) aanvaarbaar is, dat God geen eise stel omtrent selfbeheersing nie, en dat homoseks nie ’n gruwel is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui