Uitdruklike antwoord oor ewige lewe kort

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Uitdruklike antwoord oor ewige lewe kort | Netwerk24

Jaun De Vries, Boksburg

Volksblad, 30 September 2024

Jan Lubbe se “Klagtes oor kerk gewoon onsin” (27.09), verwys. Lubbe vra vir Gert Lange (“Bly binne raamwerk van Woord”, 23.09) op grond waarvan hy beweer dat Lubbe ontken dat Jesus die enigste Verlosser is.

Reeds op 31 Julie het Henrietta Klaasing in ’n brief aan Kerk­bode, na aanleiding van Lubbe se RSG-onderhoud op 23 Julie in die program Op en wakker, aangedui dat die gesprek vraagtekens laat. Soos dat Lubbe die indruk skep dat daar, volgens hom, verskillende paaie na die hemel is. Lubbe het nie op Klaasing se skrywe gereageer nie.

Soos klaarblyklik Lange en Klaasing, het ek ook na die onderhoud geluister en van die antwoorde problematies gevind. Spesifiek oor die vraag of dit slegs Christene is wat die ewige lewe beërwe. Lubbe het frases soos “ek het geen twyfel dat daar net een Heiland is” en “ek het min twyfel dat Christus die Middelaar is” gebruik, maar hy het dit op verskeie maniere gekwalifiseer. Nooit met ’n uitdruklike “ja” of “nee” geantwoord nie.

Die Bybel stel dit uitdruklik dat Christus die enigste weg na saligheid is. Maar die moderator van die algemene sinodale moderamen van die NG Kerk omseil die vraag met ’n gekwalifiseerde en ontwykende antwoord. Wat nodig was, is ’n doodeenvoudige: “Ja, sedert die vleeswording en opstanding van Jesus is dit slegs geloof in en navolging van Christus wat aan iemand die ewige lewe besorg.”

Lubbe sê in antwoord op die vraag oor wie die ewige lewe beërwe dat Jode dieselfde God as Christene aanbid. Glo Jode nie slegs in één van die drie Persone in die Drie-enige Wese waarin Christene glo nie? Hy sê ook “as jy doen en leef soos Hy gesê het, dan volg jy sy weg en sal jy saligheid beleef”. Is geloof, bekering en wedergeboorte nie meer ter sake nie?

Lubbe vra wat Jesus sou sê of doen oor verskille oor kwessies soos homoseksualiteit. Jesus sou dalk antwoord: “Moenie langer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”

*******

Die volgende dag het Jaun de Vries ‘n korreksie aangebring:

Lubbe het inderdaad op dié vrae gereageer | Netwerk24

Jaun de Vries, Boksburg

01 Oktober 2024

In my skrywe “Uitdruklike antwoord oor ewige lewe ontbreek” (30.09) stel ek dit dat ds. Jan Lubbe “nie op Klaasing se skrywe gereageer het nie”. Ek stel dit graag reg. Terwyl Lubbe nie op Henrietta Klaasing se Kerkbode-brief gereageer het nie, het hy wel in “Eerder geroepenes in eenheid van ware geloof” (07.08) op dieselfde vrae gereageer.

Kommentaar

Daniel Louw

Jan Lubbe se antwoord in Eerder geroepenes in eenheid van ware geloof (7 Aug 2024) oortuig my nie. Gaan kyk wat hy gesê het in sy onderhoud:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui