Uittreksel: Almal snap die grap behalwe ons

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Uittreksel: Almal snap die grap behalwe ons | Rapport

Koos Kombuis

Sondag, 29 Oktober 2023

Hy gaan nie meer kerk toe nie, maar dit beteken nie dat hy die kerk verlaat het nie, skryf Koos Kombuis.

Daar was ’n tyd, lank gelede, toe alles soveel eenvoudiger was as nou.

Daar was ’n tyd toe mense hulle na geloof gewend het om antwoorde en troos te vind in donker tye.

Daar was ’n tyd toe gesinne saans huisgodsdiens by kerslig of spirituslampe gehou het. Dit was dekades gelede, op familieplase, in die tyd toe ons nog Langenhoven en Leipoldt se spookstories gelees het en snags op ons stoepe gestaan en opkyk het na die sterre en die teenwoordigheid van God kon aanvoel in die ewige swart ruimte bo ons koppe.

Maar tye het verander, en Langen­hoven en Leipoldt het plek gemaak vir selfone en computer-skerms.

In die meeste gevalle het huisgodsdiens verdwyn.

Dit het geleidelik gebeur, natuurlik. Dis nie asof die Afrikanervolk, of enige ander volk, eendag ’n vergadering belê het en saam besluit het: “Nou hou ons nie meer huisgodsdiens nie.”

Die praktyk het stadigaan uit die mode geraak, soos Hammond-orrels en saamsing-aande uit die FAK.

Ek was een van die eerstes van ’n jonger geslag Afrikaanse mense wat in die laat tagtigs geëtiketteer is as sogenaamde Alternatiewe Afrikaners.

Dit was nie die enigste etiket wat om ons nekke gehang is nie. Ons is ook gesien as ’n geslag Afrikaanse mense wat die kerk verlaat het. Ons is wyd veroordeel daaroor.

Maar het ons werklik die kerk verlaat?

Nee, ons het nie. Niks is verder van die waarheid nie.

Ek het nooit die kerk verlaat nie. Niemand wat ek ken, het die kerk verlaat nie.

Die kerk het ons verlaat.

Daar was ’n tyd, toe ek ’n bietjie jonger was as nou, dat ek vir ’n ruk lank baie kwaad vir die NG Kerk was oor wat ek beskou het as ’n verraad van hulle kant af.

Dit het verander. In plaas daarvan om woede te voel, het ek geleer om daardie periode van my lewe te aanvaar as deel van my geskiedenis.

Dit is my roots.

En omdat dit my roots is, voel ek selfs ’n mate van deernis teenoor die NG Kerk.

André Comte-Sponville beskryf dieselfde emosie in The Book of Atheist Spirituality: “I was raised a Christian. My feelings about this are neither bitter nor angry – quite the opposite. I owe much of what I am, or what I try to be, to the Christian religion . . . Even my way of being an atheist bears the imprint of the faith to which I subscribed throughout my childhood and adolescence.”

Die afgelope paar jaar het ek ’n eienaardige gewoonte begin; wanneer ek in ’n vreemde dorp is, of enige plek iewers in die platteland, sal ek dikwels ’n punt daarvan maak om my motor te parkeer voor die naaste NG Kerk en dan foto’s daarvan te neem. Hierdie foto’s sal ek dan soms later omskep in sketse en kunswerke, met swart pen, kryt en soms waterverf.

Ek is gefassineer deur ou kerke, veral ou NG kerke. Party van hierdie geboue is werklik pragtig. So dink ek aan die groot ou Moederkerk in Wellington se hoofstraat. Ek dink aan die imposante NG kerk in Swellendam.

En dan is daar Schoemanshoek se NG kerk – eintlik net ’n gewone kerk, sonder enige of interessante argitektuur, maar die pad daarheen, daardie reguit pad waarop jy links draai as jy van Oudtshoorn se rigting kom, is ’n prentjie in my kop wat wonderlike herinneringe terugbring, want my liedjie “Geel September” is deur daardie kerk geïnspireer.

Ek dink aan Graaff-Reinet se kerk.

Trompsburg.

Ek voel nostalgies wanneer ek deur my sketsboek blaai en na hierdie afbeeldings kyk, want dit is waar ek vandaan kom; dit was op ’n stadium my identiteit; dit beliggaam ’n denkwyse en ’n reeks metafore wat so diep in my ingebed is dat ek dit nooit kan of wil vergeet nie, al het ek dit ontgroei.

My vriende wat weet van hierdie stokperdjie van my spot my dikwels en sê dat ek meer hou van die buitekant van ’n kerk as die binnekant. Ek het niks om daarop te antwoord nie, want, ja, dit is waar.

Ek is nog steeds lief vir die argitektuur van die ou kerke en ek sal nooit my eertydse verbintenis met die kerk kan ontken of verloën nie.

Maar dit is onteenseglik waar: Die kerk het my langs die pad agtergelaat. Nie net vir my nie, maar talle ander soos ek.

Is dit ’n verlies? Of is dit ’n bevryding?

Dit is waarskynlik iets van albei.

Ek het dit vir die eerste keer besef toe ek eindelik, eers jare nadat dit verskyn het, vir die eerste maal die prent Johnny is nie dood nie gesien het.

Ek wou van die begin af nie na daardie film kyk nie, want ek het geweet dit handel oor dwelms, en ek wou nie herinner word aan die tyd toe ek nog met dwelms omgegaan het nie.

Maar een aand het die film eenvoudig begin speel op ’n TV-stel. Ek was alleen in ’n hotelkamer.

Ná die eerste vyf minute wou ek ophou kyk, maar ek kon nie.

Dit was ’n uitmergelende, skrikwekkende ervaring. Dit het ’n verlammende effek op my gehad.

En toe, toe die credits uiteindelik opkom, ’n uur of twee later, het die besef my soos ’n voorhamer getref: Vir ons het die gode gesterf.

Daar is niemand om hulle plek in te neem nie.

Ons is alleen.

This ain’t no upwardly mobile freeway

This is the road to hell – Chris Rea

Ja, en dit is juis deel van die probleem: hoe meer vryheid, hoe meer keuses.

Hoe meer keuses, hoe minder riglyne, hoe minder grense, hoe groter die onsekerheid en die gevaar om hopeloos te verdwaal.

Die probleem is groter as Afrikaners en Suid-Afrika. Die probleem is groter as ’n vervalle land sonder ware rolmodelle, sonder vaderfigure, sonder ’n leier soos De la Rey om ons uit die verknorsing te lei.

Waar is die helde van weleer?

Waar is die Churchills, die Gandhi’s, die Jeanne d’Arcs, die Kennedys en die Mandelas?

Waarom word ons regeer deur oorlogsugtige diktators, waansinnige kaartmannetjies en weifelaars met voete van klei? Waarom is ons kniediep in die moeras van ’n nuwe Koue Oorlog wat enige oomblik kan ontplof in wêreldwye vernietiging?

Ons is almal so vrydenkend, ons is almal op die oog af so selfversekerd, ons stap met so ’n ferme tred deur die virtuele markpleine van die internet en beklink ons transaksies sonder om die kleinskrif te lees of die ware koste te bereken wat betref sterwende spesies, die ondergang van buitestanders en “untouchables”.

Ons basuin ons verdraagsaamheid ten hemele, ons beskerm alle genders en let op al die korrekte “pronouns”, maar wat van die vlugtelinge wat daagliks verdrink wanneer hul skepe sink?

Wat van al die sterftes in Afrika wat veroorsaak word deur elektroniese afvalprodukte van ons ou selfone en rekenaars?

Ons bestaan het ’n leuen geword, ’n massa-illusie, ’n reusagtige grap waarvan alle lewende wesens op die planeet die punchline kan snap behalwe onsself.

Die dag wanneer die laaste lig uitgedoof word en die laaste kers doodgeblaas word, sal ons selfs te lui wees om ons eie selfmoordnota te skryf, maar dit eerder oorlaat aan ChatGPT.

Dit is ons selfgemaakte hel. Dit is ons kollektiewe psigose.

• Hierdie is ’n geredigeerde uittreksel uit Koos Kombuis se nuwe boek Deur die tonnel van twyfel. Dit word uitgegee deur Naledi.

Kommentaar

Daniel Louw

Koos Kombuis beweer dat hy nooit die kerk verlaat het nie, maar dat die kerk hom verlaat het. Hy het ervaar dat die kerk verraad gepleeg het teen hom. Hy sê nie hoekom nie.

Hy sê: “Vir ons het die gode gesterf.” ‘n Mens lei af dat hy dus ‘n ateïs of hoogstens ‘n agnos is.

Hy erken die probleem van hierdie posisie: “… dit is juis deel van die probleem: hoe meer vryheid, hoe meer keuses. Hoe meer keuses, hoe minder riglyne, hoe minder grense, hoe groter die onsekerheid en die gevaar om hopeloos te verdwaal.”

Dan verlaat hy hom op aardse leiers soos De la Rey, Churchill, Gandhi, Jeanne d’Arc, Kennedy en Mandela.

Dit is die tragiese gevolg daarvan dat hy God verlaat het. Hy het verval in selfbejammering en bekommer hom oor dinge waaroor hy geen beheer het nie. Hy dwaal doelloos op aarde rond.

Koos, kom oor jouself en keer terug na God. Ek belowe jou dat jou lewe sal verander.

1 thought on “Uittreksel: Almal snap die grap behalwe ons”

  1. Woorde het ‘n karakter van hul eie, en gekleed met die hart van die spreker, en kan lanseer word vanuit een magtige “missiel afweerder” (soos die ‘Iron Dome’ in Israel) om vyandige woorde te stop, of rus op die vlerke van ‘n skoenlapper, en met die hande van die wind, spin en bou paaie in fyngoud drade vir die Jerusalemstrate oor klowe diep in hierdie ❤ hart gegrawe en geploeg deur 🖤Wetharte van naby en ver, oor baie jare. En so bloei die ❤en bloei en bloei. Maar hul is blind en doof.

    Slegs die Gees van God kan woorde gebruik, om te doen wat Sy werk is om te doen. Geen mens kan.

    Soos “bergie en sy maat” luister na Lisa se Klavier in die aand- wat ‘n lied is waarna ek jare al na luister, en geniet – nétso kon ek ook al iets beleef van “bergie en sy maat” jare gelede by STRAATWERK se bedieninge in Kaapstad een Desember:
    1. In die vroeë oggendure – deel van Kaapstad se vele baie goed organiseerde straatskoonmaakspanne, tel ek ‘n opgefrommelde wit papier op in ‘n donker hoekie op die sypaadjie. En met die ingooi in die plastiese sak, besef ek dit is toiletpapier met menslike ontlasting, en met ‘n sintuiglike aroma wat ek nog nooit ervaar het nie. En op daardie moment, was daar so ‘n eggo in my hart: alle mense se sonde is soos drek voor GOD, en tog stuur Hy Sy Seun om met ons “drek -dinge” te “deal”, en ons by Sy ❤ uit te bring. En daar loop ek toe…die aroma aan my vasgekleef van drek, maar my ❤ vol van Sy Lig en Sy Teenwoordigheid só intens en geweldig en vol en oorvloedig – dit was as’t ware soos die hitte van ‘n vuur, wat rondom my ❤ brand.
    2. Die Tronke besoek by 2 SAPS kantore in die Skiereiland.
    3. Saam met die mense wat hul werk maak uit dinge wat erg is op strate – want hul het geen hoop of oplossing – ook gekuier en geëet.
    4 Ens. Ens.

    En só speel Lisa se Lied van Koos in my ❤ al vir jare lank. Hóé dit werk. weet ek nie, maar ek weet die Gees vat Koos se Lied, en laat hom sing op die hartsnare. Hy het maar ‘n manier om.deur Christus se volmaakte Offerbloed, van só ‘n Lied, ‘n Treffer te maak, vér meer as enige Halleluja of Psalm of Gesang of enige “Gospel 🎶” . WANT in mý ❤, is “bergie” = God Se Sionsberg in die Hemel. En “maat” = die Gees. En “klavier”= hartsmotiewe in woorde. En “sigaret” = Jesus se Gebed in Johannes 17. Ens. Ens.

    En so het ek maar die ploegskare van Fariseër🖤woorde letterlik voel ploeg diepe skeure in die ❤, en baie, meen nie eens so. Moordenaars noem ek hul. Verkragters van die siel, noem ek hul. LEUENAARS noem ek sùlke 🖤. Net soos ArcelorMittal se Leuens🖤 en ANC, is meesste leraar en pastoorharte – hul pleeg moord en verkrag die siel van ‘n mens. En soos HAMAS, verlekker hul hulself in hul eie handelinge, maar natuurlik, regverdig hul hulself voor die hele 🌍🌎🌏.

    En nog stééds luister ek na “Lisa se Klavier” in hierdie “nag 🌍🌎🌍” :

    LiSA SE KLAVIER – deur Koos Kombuis

    Ek het ‘n vriendin
    Vêr by die blou see
    Teen die hang van Tafelberg
    As die son sak
    Speel sy die mooiste melodieë
    Haar vingers ken die pad
    Opgesluit
    In wit en swart
    Die klavier se grootste vreugde
    Hartseer en verlange
    Verstaan die hart se diepste smart
    Ja, die hele wêreld word stil
    En luister in die donker uur
    Na die naggeluide
    Van Lisa
    Se klavier
    Ja, die hele wêreld word stil
    En luister in die donker uur
    Na die naggeluide
    Van Lisa
    Se klavier
    Lisa kan nie ophou
    As sy eers begin het nie
    Sy laat my nooit huis toe loop
    Of afskeid neem
    Voor my laaste sigaret nie
    Ek staan op haar balkon
    Ek drink haar appelkoostee
    Ek kyk na Kaapstad
    In die nag
    Die liggies
    En die swart, swart see
    Ja, die hele wêreld word stil
    En luister in die donker uur
    Na die naggeluide
    Van Lisa
    Se klavier
    Ja, die hele wêreld word stil
    En luister in die donker uur
    Na die naggeluide
    Van Lisa
    Se klavier
    En onder op die sypaadjie
    Sien ek die bergie en sy maat
    Gaan staan en opkyk
    Vêr na bo
    Vanuit die vullis
    Van Oranjestraat (Van Oranjestraat)
    Hulle ken al lank die klanke
    Wat uit haar woonstel stroom
    Lank na twaalf met die deure oop
    Al moan die bure ook al hoe
    Word Lisa
    Elke boemelaar se droom
    Ja, die hele wêreld word stil
    En luister in die donker uur
    Na die naggeluide
    Van Lisa
    Se klavier
    Ja, die hele wêreld word stil
    En luister in die donker uur
    Na die naggeluide
    Van Lisa
    Se klavier

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui