Uitverkiesing

Die kwessie van uitverkiesing (Engels=”election”) gaan daaroor of God slegs sekere mense uitverkies om gered te word teenoor die gedagte dat God almal die geleentheid gee om gered te word en dat jy die verantwoordelikheid het om die keuse te maak.

Uitverkiesing kan in die volgende twee hoof pole verdeel word:

  • Calvinisme fokus op die hoogste soewereiniteit van God, predestinasie, die totale verdorwenheid van die mens, onvoorwaardelike verkiesing, beperkte versoening, onweerstaanbare genade en die volharding van die heiliges.
  • Arminianisme beklemtoon voorwaardelike verkiesing gegrond op God se voorkennis, die mens se vrye wil deur middel van voorbiddende genade om saam met God in verlossing, Christus se universele versoening, weerstaanbare genade en verlossing wat moontlik verlore kan gaan, saam te werk.

Die volgende artikels handel oor die uitverkiesing:

1 thought on “Uitverkiesing”

  1. DIE LEER VAN DIE UITVERKIESING: DIE BLYE BOODSKAP VIR GELOWIGES

    Die leer van God se uitverkiesing van sondaars uit die wêreld lê aan die wortel van die blye evangelie van verlossing in Christus Jesus. Oor die eeue heen het teoloë dit uit elke moontlike hoek bestudeer en ’n legio Bybelverse gebruik om hul teologiese gevolgtrekkings te staaf. Die doel hiermee is nie ’n vergelykende studie van elke moontlike komplekse teologiese standpunt nie. In sy boek Uit Vrye Guns Alleen het professor Willie Jonker dit reeds met onderskeiding gedoen, wat van groot hulp was. Ander teoloë se verklarings was ewe waardevol. Die Woord van God bly egter altyd die primêre bron, waaruit tersaaklike gedeeltes deurlopend aangehaal word. Die klem val hier op die Nuwe Testamentiese uitverkiesing van Jood sowel as nie-Jode.
    Augustinus en Calvyn het albei gesê dat God nie net vooruit geweet het nie, maar ook vooruit gekies het. Die Uitverkiesingsleer is egter eers amptelik by die Sinode van Dordrecht gedurende 1618 en 1619 geformuleer. Verskeie teoloë uit Nederland, Engeland, Skotland, Duitsland en Switserland het, met die Woord van God as enigste bron, oor ’n tydperk van maande vergader en hierdie leerstelling as die Dordse Leerreels verwoord. Dit is as die amptelike standpunt van die kerk aanvaar, en is dit vandag steeds. (Soos ook die Heidelbergse Kategismus en die Nederlandse Geloofsbelydenis wat saam met die vyf solas gereformeerde leër omvou.)
    Om die Uitverkiesingsleer eenvoudiger aan gelowiges oor te dra, het die TULIP-samevatting daarvan veel later uit die Dordse Leër ontstaan. Wat beteken hierdie akroniem? Die T staan vir “total depravity” of totale verdorwenheid; dit wil sê almal het gesondig en verdien die dood. U staan vir “unconditional election” of onvoorwaardelike uitverkiesing. L staan vir “limited atonement” of beperkte versoening. I beteken “irresistable grace” of onweerstaanbare of onverdiende genade, en P dui op die “preservation of the saints” – of die bewaring van die heiliges.

    Die uitverkiesing is dus ’n duidelike leerstelling. Dog dit is ook een wat in sy diepste betekenis ver bo menslike verstand verhewe is. Enersyds is dit vir gelowiges die mees geliefde deel van die blye evangelie en van God se raadsplan, andersyds is dit vir ander weer die mees verwerplike aspek daarvan. Uit hul gevalle sondige natuur, is die neiging onder kritici om hierdie leer as uiters onregverdig af te maak, wat die mens se eie wil en sy onvervreembare outonome reg van denke, keuse en besluitneming misken. Terwyl dit uit Sy Woord waar is dat God mense wel toelaat om eie besluite te neem en self verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar, het die mens aan die ander kant nie die reg verkry om aan God menslike eienskappe, soos regverdigheid, toe te dig nie en ook nie om te bevraagteken wie Hy tot Sy ewige heerlikheid moet toelaat en wie nie.

    Hierdie kritiek verdien nietemin meer volledige bespreking. Die apostel Paulus behandel die uitverkiesing in sy sendingbriewe, maar nêrens duideliker as in Romeine 9:10-20 nie, waar hy dit aan die hand van gebeure uit die Ou Testament doen: (Ter wille van groter duidelikheid word die hele gedeelte hier aangehaal.) “Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: ‘Die oudste sal die jongste dien.’ Daar staan ook geskrywe: ‘Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.’ Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! Vir Moses het Hy gesê: ‘Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.’ Dit hang dus nie af van ’n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. In die Skrif sê God immers vir die farao: ‘Juis hiervoor het ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.’ Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.” Dan vra Paulus in vers 19 wie tog teen Sy wil kan ingaan en in vers 20: “ Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer?”

    Eerder as om met God te wil redeneer, moet die mens, soos Paulus in Romeine 11:33-36, voor die onbeskryflike almag van God verstom staan: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!” Teen hierdie agtergrond word God se uitverkiesing van sondaars verstaanbaarder.

    In 2 Tessalonisense 2:13-14 lees ons: “Ons moet God altyd vir julle dank, broers. Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo. Hy het julle hiertoe geroep deur die evangelie wat ons aan julle verkondig het, sodat julle deel kan kry aan die heerlikheid van onse Here Jesus Christus”. In sy eerste brief van Petrus sluit hy in hoofstuk 1 vers 20 hierby aan: “Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.”

    Wanneer het God dit vooraf bestem? In Efesiërs 1:4-6 stel Paulus dit pertinent dat God “nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy groot genade wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het”. Vers 11 bevestig dit weer: “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy het alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit” – ’n volk van uitverkorenes wat vir Sy ewige heerlikheid bestem is.

    Kan die mens uit homself enigiets doen om sy uitverkiesing te bewerkstellig en te verdien? In Romeine 11:6 beklemtoon Paulus dat uitverkiesing slegs uit genade is: “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie”. Die genade wat aan die sondaar bewys word, is net in God se vrye welbehae gegrond. Geen grond bestaan in die mens self waarom hý gered word en ander nie. Dit onderstreep die beginsel van verlossing uit genade alleen. In 2 Timoteus 1:9 bevestig Paulus weer dat God ons gered en geroep het om aan Hom toegewyd te wees, “nie op grond van ons dade nie, (die mens was toe nog nie geskape nie) maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af (letterlik van voordat tyd begin het) in Christus Jesus aan ons geskenk het.” In sy brief aan Titus hoofstuk 1 vers 2 gebruik Paulus hierdie selfde bewoording: “God, wat sy woord hou, het die ewige lewe ‘van voordat tyd begin het’ aan ons belowe.”

    Terwyl die skepping en dus ook die mensdom nog nie bestaan het nie, hoe het die drie-enige God dan in sy almag die belofte aan “ons” gedoen? Deur die belofte as Vader aan die Seun te doen. Jesus was van altyd af by God. Hy is aan God gelyk omdat Hy self God is. Hieroor is die Bybel baie duidelik. Met verwysing na Jesus begin Johannes sy evangelie met: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” In Kolossense 1 vanaf vers 15 bevestig Paulus dit weer: ‘’Die Seun is die beeld van God…Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is…Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen.” Daarom is Christus die sentrale figuur.

    Hierdie belofte hou duidelik met die sondeval verband, waarna alle mense sou sondig en daarom die loon van die sonde, naamlik die dood, verdien. Dan moes God dit toe reeds geweet het. Hieroor kan egter net onbybels bespiegel word. Jonker stel dit so: “ Die oorsprong van die sonde is ’n raaisel waaroor niks aan ons geopenbaar is nie. Wat wél geopenbaar is, is dat die Skrif die mens verantwoordelik hou vir sy sonde”.

    So tel elke uitverkorene as God se liefdes-geskenk aan sy Seun. Daarom kom niemand tot die Vader behalwe deur die Seun nie (Johannes 14:6). God het reeds besluit dat hy die mensdom sou skape, dog ook besluit wie Hy uit hierdie totale mensdom oor al die eeue heen en tot die voleinding as bruid vir sy Seun sou uitverkies, Hy wat die offer vir hulle sonde sou bring en wie se name Hy toe reeds en vir ewig in die Boek van die Lewe sou skryf. God se liefdes-geskenk aan Sy Seun was ’n voltallige geskenk van uitverkorenes wat nie as gevolg van enige menslike daad verdien of deur enige dwaling weer verloor kan word nie. In Johannes 6:37-39 bevestig Jesus al bogenoemde: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie. Ek het van die hemel afgekom nie om my wil te doen nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat my gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na my toe TREK nie.” (Hieroor sê Jonker: “Diegene wie se name in die Boek van die lewe van die Lam geskryf is (Luk. 10:20; Fil. 4:3; Op. 3:5; 17:8, ens), hoef nie te vrees dat dié name weer uitgewis sal word nie. Om in die Boek van die Lewe opgeteken te wees, is deur en deur die guns en genade van God, en daarom lê dit vas in sy ewige en onveranderlike trou”.)

    Hoe onnaspeurlik is hierdie waarheid! Die Vader het nie net gekies nie, maar dring elke uitverkorene om uit geloof, deur die Heilige Gees geïnspireer, die knie voor Sy Seun te buig. Daarom bevestig Jesus pertinent in Johannes 10:28 dat hy sy skape ( dié wat hy by die naam ken) “die ewige lewe gee, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie”. Paulus beklemtoon dit weer in Romeine 11:29: “As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.”

    En tog rig die skrywer van Hebreërs in hoofstuk 6 vers 4-6 in hierdie verband ’n baie ernstige waarskuwing aan gelowiges: “Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.” (En dit gebeur wel. In die onlangse verlede het ’n predikant van die NG Kerk sy geloof in die drie-enige God in die openbaar afgesweer. Hy het sy gemeentes om verskoning gevra dat hy hulle vir so lank “mislei” het, homself tot ateïs verklaar en bevestig: “Nou is ek oplaas verlos van God.”)

    Daar bestaan in die moderne sekulêre omgewing ’n al hoe sterker groeiende siening dat Christus vir die sonde van die wêreld gesterf het en dat die ganse mensdom dus hul weg na die hemel sal vind, ook omdat alle godsdienste eintlik maar dieselfde god aanbid! Om nog beter te verstaan wie werklik vir die heerlikheid van God bestem is, of anders gestel, vir wie Christus aan die kruis gesterf het, moet die betekenis van die woord ‘wêreld’ waar dit in die Bybel voorkom, binne die regte konteks verstaan word. Indien nie kan die bedoeling uiters verwarrend wees. Die Griekse woord “kosmos” het verskeie betekenisse. Byvoorbeeld in Johannes 12:19 sê die Fariseërs vir mekaar: ”Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!” Dit beteken tog nie die hele wêreld nie, dog slegs ’n aansienlike gedeelte van die publiek. Nog ’n betekenis van die woord kom in Lukas 9:25 voor. “Wat help dit ’n mens as hy die hele wêreld as wins verkry het, maar homself verloor of ten gronde gaan.”

    Christus verduidelik dit ook in Johannes 6:33 en 51: “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam”. Duidelik word slegs “iemand” uit die wêreld bedoel en nie almal wat die lewenslig gesien het nie. Nog ’n voorbeeld kom uit Johannes 12:47-48. “En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.”

    Die bedoeling met die gebruik van die woord wêreld word verder in Johannes 3:16 en 18 duidelik: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, (Vir die ganse mensdom?) sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê… Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie”.

    Wanneer Jesus voor sy gevangeneming in Johannes 17:6 en vers 9-10 vir sy dissipels tot die Vader bid, is dit duidelik dat sy opdrag afgehandel is: “Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan my gegee, en hulle het U woord ter harte geneem…Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik”.

    In Johannes 10:1-18 word dit nogeens duidelik vir wie Christus aan die kruis gesterf het wanneer Hy die rol van die “goeie herder” aannneem. Vers 3-4: “Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit…hulle volg hom omdat hulle sy stem ken.” Hulle is deel van ’n trop, maar volg Hom uit die trop omdat hulle sy stem ken. Vers 11: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape”. Vers 18: “Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het”. Sy skape se name is aan hom wel bekend en Hy lê sy lewe vir hulle af! Wanneer Johannes die Doper sê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”(Johannes 1:29) beteken dit dat Hy die enigste verlosser is wat sonde wegneem, dog slegs die sonde van gelowiges, wat nie uit vrye wil en keuse glo nie, maar deur God uit genade na Hom getrek is en gevolglik glo en bely.

    Op grond hiervan stem verskeie teoloë saam dat Christus nie vir die hele wêreld gesterf het nie. As Hy vir alle mense gesterf het, was die prys van sy kruisdood nie volkome en volmaak nie; selfs grootliks vergeefs, omdat Hy mense “vrygekoop” het wat nogtans in die ewige verderf beland. God het nie Sy kosbare Seun aan ’n kruis laat ly en sterf, sodat ’n massa wat Hom verwerp, Hom bespot en Sy Naam ydel gebruik, nogtans potensieel verlossing as prys daarvoor ontvang nie. Jonker waarsku dat nie afgelei moet word “dat Christus dus slegs ’n beperkte versoening (limited atonement) bewerk het nie. Hy het inderdaad ’n versoening bewerk wat genoegsaam is vir die sondes van die hele wêreld, maar Hyself gee deur sy Gees diegene effektief en onweerstaanbaar daaraan deel wat deur die Vader na hom getrek word… Of Christus vir iemand gesterf het, hang daarvan af of hy in Christus is. En dit kan alleen konkreet sigbaar word wanneer die versoening deur Christus self in sy lewe waargemaak word deur sy Gees en Woord”. ’n Ander teoloog som Christus se versoening soos volg op: “Sufficient for all… efficient for few.”

    Verlossing vanuit hierdie hoek gesien, is dus tog beperk, (limited atonement) omdat Hy net volkome verlossing vir al Sy kinders verseker het. Dit strook weer met wat Christus in Matteus 20:28 sê naamlik dat hy sy lewe gegee het “as losprys vir baie mense”. ( nie vir almal nie.) In Matteus 7:13-14 bevestig Hy onteenseglik: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en die wat daardeur ingaan is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en die wat dit kry, is min.” Jy sal dit nie kry nie as God nie uit Sy groot genade die weg wys nie! In Johannes 6:65 bevestig Christus dit net weer: “…niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

    Dit sluit nou aan by Christus se uitspraak in Matteus 22:14: “Baie is geroep maar min is uitverkies,” wat binne die konteks verstaan moet word waarmee Hy sy gelykenis van die bruilof afsluit. (Die koning het vir sy seun ’n bruilofsfees voorberei, dog toe die genooides na die fees geroep is, het hulle verskonings gevind om nie op te daag nie, dus op die breë pad te bly, waarop mense op die strate genooi is, wat die feessaal toe gevul het.) Jonker verduidelik hierdie uitspraak nader: “Dit is nie bedoel om ’n verklaring te bied van waarom min mense gered word in vergelyking met die baie wat geroep is nie, maar is in die prediking van Jesus, soos dit dikwels by Matteus die geval is, ’n ernstige waarskuwing om nie die tyd van redding te misken nie.”

    Paulus verduidelik hoekom soveel mense die breë weg kies. Hulle is “die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld (die Satan) verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie.” (2 Korinthiërs 4:4). In Romeine 11:8 sê hy hulle is verhard, waarop: “God aan hulle ’n gees gegee het wat hulle bedwelm het: oë wat nie sien nie, en ore wat nie hoor nie…” Die bewys hiervan word reeds van die vroegste tydperk van evangelieverkondiging af duidelik. In Handelinge 13:48 lees ons: ”Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem (uitverkies) was, het gelowig geword”. In Hebreërs 4:2-3 verwys Paulus ook hierna: “Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie. Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie.” Dit het daarna deur al die eeue heen en tot vandag toe nog gebeur, wanneer die saad van die evangelie tussen dissels beland.

    Teen hierdie agtergrond moet alle tekste wat “almal” of “die hele wêreld” se verlossing impliseer, verstaan word, soos byvoorbeeld in 1 Timoteus 2:4: “God…wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” en in 2 Petrus 3:9: “Die Here…wil nie hê dat iemand verlore gaan nie; Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.’’ Die verwysing is bloot na almal wat Hy vir die ewige lewe bestem het. As dit nie so was nie, sou nog ’n menslike eienskap, naamlik een van groot mislukking, aan God toegedig moet word.

    Die woord “wêreld” word egter ook gebruik om omvang te verduidelik, veral as bedoel word dat die evangelie vir sowel Jood as nie-Jode verlossing bring. In Johannes 10:16 sê Jesus: “Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder”. In Handelinge 15:7 sê Petrus vir sy toehoorders dat God hom as Jood gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig sodat hulle kan glo. In vers 8 sê hy: ”En God, wat die harte ken, het dit bevestig deur die Heilige Gees aan hulle te gee net soos aan ons. Hy het geen onderskeid tussen hulle en ons gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.”

    ‘n Besondere aspek van God se uitverkiesingsplan is dus baie nou met die sendingopdrag verweef wat Jesus duidelik in Matteus 28:19-20 aan sy dissipels gee: ”Gaan dan na alle nasies en maak die mense my dissipels…leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het…” Onder alle nasies, volke en tale tot aan die uithoeke van die aarde, is daar talle mense wat uitverkies is, dog dit nie weet nie, omdat die evangelie van Jesus Christus nog nooit aan hulle verkondig is nie. Daarom moet die evangelie deur die kragtige werking van die Heilige Gees verkondig word sodat sondaars, daardeur tot geloof kom. Paulus sê in 1 Tessalonisense 1:4-7: “Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging”. Dié, wat die evangelie aanneem, doen dit “met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom”. In 1 Korintiërs 12:3 sê Paulus: “… niemand kan sê: ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees.” God het hulle getrek… en hulle het geglo. Omdat hulle glo, word hulle “deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.” (1 Petrus 1:5) Uiteindelik bevestig Jesus die uitverkiesing van gelowiges uit alle nasies self in sy visioen aan Johannes op die eiland Patmos in Openbaring 13 vers 8: ”Al die bewoners van die aarde sal hom aanbid (die dier uit die see wat God sal laster), almal wie se name nie van die skepping van die aarde af (ook uit al die bewoners van die aarde) geskrywe staan in die boek van die lewe, die boek van die Lam wat geslag is nie.”

    ‘n Wonderlike voorbeeld van uitverkiesing vind by die kruis plaas. Aanvanklik het albei rowers wat saam met Christus gekruisig is, Hom bespot, (Matteus 27:44) totdat God die verharde hart van die een – wat Hy reeds lank tevore uitverkies het – tot geloof laat verkrummel het, en die man “Jesus, dink aan my…”(Lukas 23:42) kon prewel. Dit geld tog ook vir die Romeinse heiden- offisier wat toe Jesus Sy lewe gee, gesê het: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” (Markus 15:39) Van waar sou hierdie bekentenis gekom het indien nie van die kragtige werking van die Heilige Gees nie!
    En dit is die blye evangelie vir almal wat deur die Vader se bemoeienis tot geloof in Jesus Christus gekom het en sal kom, wie se sonde sodoende volkome deur Sy kruisdood vergewe is, en wie Sy verheerlikte liggaamlike opstanding as oorwinning oor die dood waaragtig glo. Toe die ongelowige Tomas die opgestane Jesus herken, bely hy in Johannes 20:28: “My Here en my God.” Jesus ántwoord hom daarop in vers 30 : ”Glo jy nou omdat jy my sien? Salig is die wat nie gesien het nie en tog glo.” Daarom kan Paulus in Romeine 10 vers 9 verklaar: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word”. (En jy sal dit doen omdat die Heilige Gees jou daartoe gebring het. Niemand wens homself geluk dat hy sy eie bekering bewerkstellig het nie! Daarom bid ons ook vir ander dat hulle deur die Heilige Gees tot geloof sal kom, omdat hulle wel uitverkies mag wees, dog desondanks verklaar dat “hulle” nog nie die keuse gemaak het nie. ’n Teoloog gee hieroor simpatieke leiding: “Leef asof jou redding suiwer van jouself [eie keuse] afhang en dank God asof jy geen rol in jou redding het nie.”) Wat van die miljarde mense wat gesterf het sonder om ooit die evangelie van Jesus Christus te hoor? Jonker sê: “Dit moet ons in die hand van God laat”.
    Die uitverkore gelowige word ’n nuwe mens. “Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” (2 Korintiërs 5:17-18) In Johannes 15:16 bevestig Jesus dit: “Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou.” Dan “gee jy jouself aan God as ’n lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is…dan word jy nie aan hierdie sondige wêreld gelyk nie, maar laat God jou verander deur jou denke te vernuwe. Dan sal jy kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Romeine 12:1-2)

    Moontlik as gevolg van Christus se uitspraak in Matteus 7:22-23 bestaan daar dikwels twyfel in menige Christen-hart of hy of sy werklik uitverkies is en wel kan onderskei wat die wil van God is en dit wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is: “Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” Hulle het duidelik niks hiervan in Sy naam gedoen nie, want Jesus sê openlik dat hy hulle nooit geken het nie! Dit gaan hier oor diesulkes wat voorgee dat hulle gelowiges is en dit selfs glo, maar wat die wet (Woord) van God herverklaar (dus oortree) om by hulle lewenstyl en die heersende openbare mening te pas. Sodoende verkondig hulle ’n valse godsdiens, (nie ’n valse evangelie nie, aangesien laasgenoemde nooit vals kan wees nie) onder die dekmantal van ware geloof. (‘n Kontemporêre voorbeeld hiervan sou die 2019-NG Kerk sinodebesluit kon wees dat twee persone van dieselfde geslag “met God se seën”, in Sy Kerk en aan die hand van ’n nuwe formulier, wat Sy stempel dra, in ’n huwelik bevestig kan word. Dit is gelowiges wat die wet van God nie net oortree nie, maar selfs aan God voorskryf dat Hy hul nuutgevonde huweliksformulier sal seën! En dit terwyl so ’n huwelik so totaal absurd in God se oë is, dat daar op geen plek in Sy Woord selfs daarna as ’n moontlikheid verwys word nie, terwyl Sy verdoeming van sulke selfdegeslag- seksuele verhoudings welbekend is.) In Mateus 24:24 voeg Christus hierby: “Daar sal vals christusse en vals profete (lees valse “gelowige” leiers) na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen (so oortuigend optree) om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.”

    God se genadegawes is so ver bo menslike verstand verhewe, dat dit selfs die uitverkorene se toekomstige verheerlikte voorkoms insluit. Paulus sê in Romeine 8:29: “Die wat Hy lank tevore gekies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun.” In 1 Johannes 3:2 word dit ook bevestig: “Wanneer Jesus kom sal ons soos Hy wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is.” Uiteindelik volmaak soos Hy!

    Daar wag nog ’n finale hoogtepunt binne God se raadsplan. Jesus wat elke uitverkorene as liefdesgeskenk van God ontvang het, sal hulle nie net in veilige bewaring hou nie, maar met die voleinding van die wêreld weer aan die Vader terugbesorg. Paulus verduidelik dit in 1Korinthiërs 15:27-28: “Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is”, (dan nie net die geskenk van uitverkorenes nie, maar ook die ganse heelal volgens Openbaring 6) “is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles”.

    ‘n Teoloog som dit soos volg op: “The Father loves the Son, gives Him a redeemed humanity, brings them all to glory and when that is all complete, the Son takes the bride and Himself and gives them back in a reciprocal act of love to the Father; and God is all in all”. Net so sal die uitverkorenes krone van beloning by die “bema” (die regterstoel) van Christus ontvang, dog dadelik weer, uit groot dankbaarheid vir die genade, dit net weer so aan Sy voete neerlê.

    Charles Spurgeon (1834-1892) is die bekende Amerikaanse teoloog, wat in sy leeftyd meer as 65 miljoen kopieë van sy preke, in ongeveer 40 tale gepubliseer het. Sy treffende samevatting van die diepe betekenis van die uitverkiesing word hier aangehaal: “I know nothing that is more humbling than this doctrine of election. I have sometimes fallen down before it when endeavoring to understand it. But when I came near it, and the one thought possessed me, God has from the beginning chosen you unto salvation, I was staggered by the mighty thought and from the dizzy elevation came down my soul, broken, saying, ‘Lord, I am nothing. I am less than worthy. Why me? Why me?”

    Dan kom hy tot die oortuiging: “Nothing under the gracious influence of the Holy Spirit can make a Christian more holy than the thought that he is chosen. Shall I go astray after so much loving kindness and tender mercy? No, my God. Since You have chosen me, I will love You, I will live for You. I will give myself to You, to You forever, solemnly consent to do Your service.”

    Etienne Liversage
    Julie 2022

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui