Kyk ook: |
Die volgende nuusbrief is geskryf deur Jan Louw in Februarie 2000.
**************
Toe ons in Desember [1999] met vakansie was het ons hierdie toneel van die see aanskou by Harkerville naby Knysna. Dit het my laat dink aan die apostel Johannes wat verban was na die die eiland Patmos, omdat, soos hyself sê, hy “die woord van God en die getuienis van Jesus verkondig het.” (Openbaring 1:9) Hy het seker ook baiekeer uitgekyk oor die see wat hom op die eiland gevange gehou het. Dit het my deels gemotiveer om die foto te neem.
Die Here het waarskynlik in die dinge wat Hy aan Johannes geopenbaar het, aangesluit by die indrukke wat Johannes in daardie tyd van die see gehad het. Daarom speel die see ’n belangrike rol in die gesigte wat die apostel gesien het. Laat ek ’n paar voorbeelde noem:
- In Openbaring 4 skryf Johannes dat die Gees van God hom weggevoer het na die hemel toe, waar hy ’n fantastiese gesig gesien het van God wat in heerlikheid op sy troon sit. Voor die troon het dit gelyk of daar ’n spieëlgladde see uitgestrek het, ’n see so helder soos kristal. (Openbaring 4:6) Dit moes by Johannes ’n ervaring gelaat het van God se grootsheid en sy onbereikbaarheid.
- Later in Openbaring 10 vertel Johannes dat hy ’n groot sterk engel uit die hemel sien afkom het. Die engel was so groot, dat hy met sy een voet op die see en met sy ander voet op die land gaan staan het. As God sulke groot engele het wat Hom dien, hoe groot is God self nie?
- Nog verder in Openbaring 13 vertel Johannes dat hy ’n verskriklike dier uit die see sien opkom het. Hierdie dier het tien horings en sewe koppe gehad. Hy was ’n werktuig van die duiwel en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangeloop.
- By die laaste oordeel in Openbaring 20:13 sê Johannes, het hy gesien dat die see die dooies wat in hom was teruggegee het. Dit beteken dat die mense wat deur die jare in die see verdrink en weggeraak het, weer uit die see na vore sal kom, sodat hulle voor God kan verskyn.
- Na die oordeel in die nuwe woonplek wat God vir ons gereed maak sal daar nie meer ’n see wees nie. (Openbaring 21:1) Die see is by al sy grootsheid en glans uiteindelik ’n deel van die aarde waar ons nie kan leef nie. Die see hou vir ons gevaar in. Die see skei mense van mekaar.
Ons het ’n nuwe millennium ingegaan. Dit lyk nog vir ons vreemd om 2000 aan die einde van die datum te skrywe. Kom ons dank God dat Hy vir ons verseker dat Hy vir ewig regeer oor hierdie groot wêreld van ons met al sy gevare en magte wat hier aan die werk is. Hy is die Een wat die geskiedenis skryf en Hy sal al die magte wat teen Hom opstaan, op die tyd waaroor Hy besluit, aan Hom onderwerp. Vir almal wat volhard en getrou bly aan Jesus Christus is daar ’n wonderlike ewige toekoms by God. Dit is boodskap wat God aan Johannes vir ons bekendgemaak het daar op Patmos waar hy oor die see uitgekyk het. Laat ons voortaan Ges 177:1 met ’n nuwe entoesiasme sing:
Ek sien ’n nuwe hemel kom,
die aarde nuut en vry.
Die see en al wat skei, verdwyn.
God self kom by ons bly.