Van NG predikant tot Tai Chi meester (Abel Pienaar)

Kyk ook:

Hierdie artikel vertel meer oor Abel Pienaar se teologie.

************

Van NG predikant tot Tai Chi meester

Jean Oosthuizen, 2008-05-25

Eers ’n NG predikant en nou ’n Tai Chi meester wat klasse gee in Tai Chi en meditasie. Dit is dr Abel Pienaar wat drie jaar gelede nog predikant was van die NG gemeente Skuilkrans in Pretoria. Dr Pienaar (Inner Awareness Therapist) het ook ’n beradingspraktyk wat veral werk met verhoudings en geestelike begeleiding. By dit alles is hy saam met ds Gert Janse van Rensburg (voorheen van die Hervormde Kerk) voltydse leraar van Renaissance gemeente in Pretoria se Oostelike voorstede. Hulle noem hulleself gnostiese Christene. Jean Oosthuizen wou by Abel Pienaar weet wat is ’n gnostiese Christen en hoe kry hy die kloutjie by die oor tussen sy Christenskap en sy Buddhistiese Zen benadering.

Jy sê by Renaissance wil julle die pad van die mistiese en Gnostisie loop. Wat bedoel julle daarmee?

Die Gnostici sê, leer jouself ken en dan sal jy die goddelike leer ken. En dit sal jou help om eerstehands/direk God te ervaar en deel maak van jou elke dag lewe.

Paulus moedig sy lesers aan om verder te groei in kennis, verby die fundamentalistiese feeste, heilige dae, reëls, regulasies en dogma; tot die grootste geheim wat nog ooit geopenbaar is in hierdie wêreld: Christus is in jou! Hierin moet elke Christen aan homself sterf (die eie ego en laagste bewussynsvlakke) en dan opstaan as die Christus in jou … Christus bewussyn. Rom 6:4.

Hierdie verstaan van die Skrifte is beperk tot bitter min pneumatologiese christene teenoor die letterlike verstaan van die fundamentalistiese Christen. Die Pneumatiese verstaan wat Paulus verduidelik: Ek is gekruisig saam met Christus: van nou af leef ek nie meer nie, maar Christus in my. Gal 2:20.

Die gemeente verkondig nie net ’n nuwe verstaan van Christelikheid nie, maar wil die wonde aan die westerse siel geslaan deur die fundamentaliste, heel. Fundamentalistiese dogma is gebaseer op historiese leuens en is besig om te wankel, spirituele en pneumatologiese christelikheid staan op die rotsvaste, tydlose mistiese waarhede en is vandag net so relevant as wat dit nog altyd was.

Die moderne wêreld is bloot te gesofistikeerd om enigsins verder uitgebuit te word deur die ‘dit staan in die Bybel daarom is dit waar’ roetine. Ons wil nie die Christendom aanval nie maar, as Christene, wil ons die innerlike mistiese waarhede, gedra deur die goddelike kennis op die vleuels van die pneuma, herwin wat duisende jare verlore was in die Christelike tradisie.

Jesus Christus is nie ’n geïsoleerde gebeurtenis in die verlede nie, maar wys na die pneuma renaissance (ware geestelike wedergeboorte en ontwaking) hier en nou! Waarlik die wonderlikste verhaal ooit vertel!

Renaissance Christelike gemeente is geroep om hierdie waarheid te bring, mense te begelei nader na God toe en die genade en liefde van God te laat seëvier.

Het julle ook gemeentes op ander plekke in die land?

Ja, ons begin 1 Julie 2008, ook in Kaapstad (naby Kirstenbos).

Die term Christen is lyk my deesdae so wyd soos die Heer se genade. Van die liberale teoloog John Spong, wat al een van julle gaste was, tot die fundamentalis van ’n Beny Hinn noem hulleself Christene. Is dit nie bietjie belaglik nie want daar is tog nie regtig iets wat hulle in gemeen het nie? Wat is nou eintlik ’n Christen?

Soos Buddha op ’n keer gesê het; “The finger that points to the moon is not the moon”. Die versamelnaam “Christen” word vol betekenis gepak. Maar soos jy tereg sê vul mense woorde met betekenis en “claim” dit dan as hulle alleenreg. In kort sou ek sê (verduidelik waarmee ek graag die woord “Christen” sou wou vul) dat ek verseker ’n volgeling van Christus (Christus beteken “die gesalfde”) is, maar dat ek daarmee nie nodig het om hom(historiese Jesus) te vergoddelik nie. Ek wil graag soos hy wees. Sy voorbeeld van vergifnis, liefde en dat hy so naby die bron van alles kon leef, is vir my ongeveer 2 000 jaar later nog ’n inspirasie. ’n Christen is dus vir my om ’n volgeling te wees van die weg wat Jesus (gestap het) kom wys het…

Jy praat van jouself as ’n gnostiese Christen. Watse ding is dit?

’n Gnostiese Christen, dis nie maklik om vinnig te verduidelik nie..maar kom ek probeer… In Europa, en nou in Suid Afrika, is daar toenemende tekens van skeuring binne die ortodokse geledere. Ook binne die tradisie waarin ek groot geword het die Protestantisme is daar pole besig om te vorm. Aan die eenkant is daar die fundamentalistiese siening van die Bybel, wat veral verteenwoordig word deur die charismatiese kerke. Teenoor hulle staan die liberaliste, wat meer neig tot ’n innerlike weg en wat toenemend aanklank vind by die vroeë Christelike groepe (o.a. gnostici) wat nou deur navorsing herontdek word.

Natuurlik vind hierdie twee groepe dit al moeiliker om met mekaar te gesels. Dan is daar ook nog ’n derde groep kerke wat in die middel probeer oorleef. Dit is verseker nie ’n nuwe gebeurtenis nie, want juis hierdie verskeidenheid van geestelike strominge was teenwoordig in die tydperk aan die begin van ons jaartelling—waaruit die Christendom gebore is. Ons het egter tot onlangs bitter min gegewens gehad oor presies wat hierdie onderstromings behels het.

Twee belangrike ontdekkings (in die afgelope dertig jaar) het egter ’n keerpunt in ons begrip van die eerste eeuse Christene gebring. In 1947 was daar die ontdekking van die Dooie See-rolle met ’n magdom inligting oor die Joodse godsdiens en die agtergrond van die Christendom. In 1945 is daar in Egipte by Nag Hammadi ʼn verdere ontdekking gemaak deur ’n Egiptenaar Muhammad ‘ Ali, wat ’n kruik met vroeg Christelike kodekse (die vroeë vorm van gebinde boeke van perkament) en tekste gevind het. Dit het ’n belangrike rol begin speel in die herinterpretasie van die vroeë Christendom.

Vir die eerste keer in amper 2 000 jaar is die vroeë Christendom self aan die woord en hoef ons hulle nie net te hoor vanuit die ortodokse groepe en ketterjagters nie. Onder die Nag Hammadi-geskrifte neem o.a. die herontdekte Evangelie van Thomas ’n belangrike plek in. Sommige navorsers reken dit is selfs vroeër as die oudste evangelie (Markus) wat in die Nuwe Testament opgeneem is geskrywe. Hierin word ’n koninkryk van God verkondig wat al in hierdie wêreld bereik kan word. En dat God nie iewers daarbuite is nie maar binne en rondom ons. En dat ons een kan word met God. Ook tussen die boeke en tekste wat gevind is by Nag Hammadi, Evangelie van Filippus, wat Jesus voorstel as baie anders as wat die evangelies in die Nuwe Testament dit doen.

Die maagdelike geboorte en die vleeslike opstanding van Jesus word byvoorbeeld uitgewys as kinderlike denke en misverstand. Hiermee saam is ander boeke soos Geheime boek van Johannes, Evangelie van Waarheid, Boek van Thomas die Kampvegter, die briewe van Petrus aan Filippus en die Evangelie van die Egiptenare gevind. Dit is net ’n paar titels van ’n klomp insiggewende manuskripte. Vanuit hierdie nuwe inligting kon daar nou duidelik gesien word dat die Christendom nie net een homogene groep mense was nie, daar was duidelik verskillende groepe en daarmee saam verskillende sienings en oortuigings. Die twee hoof groeperings was die ortodoksie en gnostiese bewegings.

Wie was hierdie gnostiese groepe?

Wel, volgens Professor Elaine Pagels van Princeton Universiteit is hulle: “These Christians are now called Gnostics, from the Greek word gnosis, usually translated as ‘knowledge’. For as those who claim to know nothing about ultimate reality are called agnostic (literally, ‘not-knowing’), the person who does claim to know such things is called Gnostic (‘knowing’). But gnosis is not primarily rational knowledge. The Greek language distinguishes between scientific or reflective knowledge (‘He knows mathematics’) and knowing through observation or experience (‘He knows me’), which is gnosis. As the Gnostics use the term, we could translate it as ‘insight’, for gnosis involves an intuitive process of knowing oneself. And to know oneself, they claim, is to know human nature and human destiny….. Yet to know oneself, at the deepest level, is simultaneously to know God; this is the secret of gnosis.” (Elaine Pagels 1979:18)

Prof. Pagles verduidelik verder dat Gnostici geglo het dat elkeen van ons ’n eerstehandse gnosis/kennis van God kan hê. Dat ons nie net deur tradisie en kerklike dogmas by God kan uitkom nie, maar dat elkeen van ons die Gees van God binne ons het en dus gesagvol kan getuig oor ons ervarings met God.

“Valentinus (a Gnostic) and his followers answered: Whoever comes into direct, personal contact with the ‘Living One’. They argued that only one’s own experience offers the ultimate criterion of truth, taking precedence over all second-hand testimony and all tradition-even Gnostic tradition! They celebrated every form of creative invention as evidence that a person has become spiritually alive.”

Met ander woorde, Gnostiese Christene in die eerste en tweede eeu het geglo dat elke mens God kan beleef, sonder die begeleiding van priesters, biskoppe en die kerk. So ook sê Tau Malachi in sy boek “Gnosis of the Cosmic Christ”, “The religious person is, as yet, an outsider to the experience worshipped, while the mystic is an insider of the experience worshipped. This well defines the term Gnostic, which means “one who knows trough direct experience” or “one who is a knower.”

Sodoende word jou direkte belewenis van die goddelike jou rigtingwyser en daarom is nuwe denke, maniere van uitdrukking, poësie, belydenisse aangemoedig. Dit het natuurlik die ortodoksie baie kwaad gemaak, want hulle het geglo slegs die dissipels wat direkte kontak met Jesus van Nasaret gehad het, kon enige “waar” uitsprake maak. Gnostici het egter geglo enige iemand wat die heilige gees ontvang het kan direk kommunikeer met die ‘Lewende Een’.

Wat is Renaissance se standpunt ten opsigte van die Opstanding? Glo julle dat Jesus liggaamlik opgestaan het uit die dood of is dit net ’n metafoor?

Die Gnostici het dan ook verskeie sienings gehad van Jesus van Nasaret. Want jy kan direk self die goddelike beleef nes Jesus kon. Jesus was verseker ’n wonderlike voorbeeld. Maar dat hy liggaamlik uit die dood opgestaan het, was nie noodwendig vir hulle waar nie. Jesus het gesterwe maar leef in elkeen se hart as die opgestane Christus. Hierdie opgestane Christus is ’n geestelike belewenis wat ’n realiteit in jou lewe word. Daarom sal die Gnostici sê Paulus is ’n Gnostikus want sy belewenisse van die Christus was deur drome en visioene. Prof. Pagels sê dan ook, “The resurrection, they insisted, was not a unique event in the past: instead, it symbolized how Christ’s presence could be experienced in the present. What mattered was not literal seeing, but spiritual vision…. The disciples themselves often misunderstood what Jesus said: those who announced that their dead master had come back physically to life mistook a spiritual truth for an actual event. But the true disciple may never have seen the earthly Jesus, having been born at the wrong time, as Paul said of himself. Yet this physical disability may become a spiritual advantage: such persons, like Paul, may encounter Christ first on the level of inner experience.”

Daar is vir ons ’n verskil tussen die Historiese Jesus en die Christus. Jesus se sterwe aan die kruis het te doen met Jesus se afsterwe van sy ego. En soos uit vele tradisies voor Jesus is die opstanding deel van ’n inwydings-ritueel tot geestelike geboorte. Sien gerus die Griekse mites met die vele “Messiase” wat uit die dood opstaan.

As julle nie glo aan die liggaamlike opstanding nie, glo julle uit die aard van die saak ook nie aan die hemelvaart en die wederkoms nie. Glo julle aan die lewe na die dood?

Die vraag moet eerder wees, “Wat bedoel ons met lewe na die dood?” Want dood verwys vir ons na mense wat aan die slaap lewe(geestelik dood) en opstanding verwys na mense wat wakker geword het! Soos Paulus sou sê; “Staan op uit die dood en ontwaak jy wat slaap!” Enligthment! Jesus is vir ons die voorbeeld van iemand wat Wakker geleef het, en ons aangemoedig het om ook wakker te word. Hiervan is ’n film soos die Matrix ’n wonderlike moderne mite! M.a.w ewige lewe begin reeds nou…eintlik gaan ons nooit dood nie. Die quntum fisika beskrywe dit besonders goed…deur ons daarop te wys dat alles energie is, en soos ons weet energie vergaan nooit nie dit verander net van vorm…wel volgens my beskrywe dit die proses perfek, ons gaan nie dood nie ons verander net van vorm…

Watter betekenis het die term hemel en hel vir julle?

Hemel en hel is ’n metafoor net soos reïnkarnasie een is. Dis mense se manier om sin te probeer maak uit lewe en dood. Ek persoonlik hou baie van Walt Whitman se beskrywing; “What will happen to my body when I die,I dont know. But what I do know, is that I will return to where I came from”. Ek dink al wat ons hierdie kant van die dood kan sê is: ons kom van God, en ons keer weer terug na God. Enige iets meer as dit is wilde raaiskote!

Hoe sal jy sonde definieer en glo julle nog aan die sondeval ?

Ek hou nie baie van die woord sonde nie, ek sou die woord vervang met lesse. Ons is hier op aarde om ons eie goddelikheid te ontdek, en deel van hierdie reis is om te leer wie ons is en nie die ego met wie ons identifiseer nie. Ons verkeerde keuses, swak oordeel,foute en donkerkant is eintlik ons grootste leermeesters. CS Lewis het op ’n keer gesê “God se megafoon om met die mens te praat is pyn”. Ons struikel en val veroorsaak soveel pyn in ons en mense rondom ons dat dit ons dwing om nuut te kyk na God, lewe, alles! En so word ons geskil soos ’n mens ’n ui sou skil (trane is ’n gegewe!), totdat ons by die kern kom…dan eindig die avontuur wat ons die lewe noem. Dan “ontwaak ons” soos Paulus sê!

En die duiwel? Wie is hy?

Die Duiwel/Satan is die verpersoonliking van ons donkerkant. Ons ego en pynliggaam (Eckhardt Tolle se metafoor) is die donker in ons en omdat ons nie kan glo dit kom van ons nie, skep ons ’n “scapegoat”! Want dan hoef ons nie verantwoordelikheid te neem vir ons eie dade nie…”die duiwel het my dit laat doen”, as ek Hansie Cronje se woorde kan aanhaal. Ek het nog nooit die Duiwel of ’n Demoon bose dinge sien doen nie—altyd net mense…

Wat is dit wat Jesus vir jou so besonders maak? Daar was tog seker die afgelope tweeduisend jaar en ook voor sy geboorte ander mense wat min of meer dieselfde mooi ideale nagestreef het as hy?

Ja daar was, soos Ekhardt Tolle na hulle verwys “Early Flowerings”. Jesus is vir my baie besonders omdat hy dit waarvoor hy gestaan het, geleef het en bereid was om daarvoor te sterf! Dit dwing my om te vra, sal ek lewe en veral bereid wees om te sterwe vir my oortuigings…

Maar wat maak Jesus anders as byvoorbeeld Gandhi of die Boeddha? Waarom aanbid niemand húlle op dieselfde manier as vir Jesus nie?

Ek weet nie of Jesus so ander as hulle is nie. En “ander” mense aanbid wel hulle “messiase” soos litteralistiese Christene Jesus aanbid. 70% van die wêreld se bevolking is nie Christene nie…en Boeddha, Krishna, Mohammed ens is dus vir baie (net soos Jesus vir Christene) die verpersoonliking van God in mensevorm. In een van die Boedhisties geskrifte wat ek gelees het was ek geamuseerd om te sien hoe hulle net soos Christene worstel met die vraag of Boeddha god is of nie. Natuurlik is daar baie groeperings in Boeddhisme (net soos in die Christendom), en is daar groepe wat sê hy was net ’n mens en ander wat hom aanbid as God. So Jesus se aanbidding is glad nie so uniek nie.

En die Bybel? Watter waarde het dit vir julle en wat is die gesag daarvan volgens julle oordeel. Die Woord van God of mense se woorde oor God?

Die Bybel is ’n boek waarin mense geskrywe het oor hulle belewenisse met en van God. Hulle verstaan van hulle wêreld het dit ingekleur. Die Bybel is dus ’n baie kosbare bron…maar vir my is die Bybel ook nie net die 66 boeke wat in meeste van ons Bybels saam gevat is nie. Die Apokriewe geskrifte en die Nag Hammadi geskrifte (wat 30jaar terug ontdek is) is vir my deel van hierdie bron. Ek het Vedas en Sutras ook bestudeer…en net soos ons Bybel, word daar vir ons wysheid deurgegee, waarsonder ek myself as geestelike begeleier nie kan indink nie.

Albei julle leraars by Renaissance kom uit van die drie Afrikaanse susterkerke. Waarom is julle weg daar?

Vir my het alles begin toe ek nie meer kon aanvaar dat ’n God van liefde sekere mense uitverkies en andere verwerp en verdoem tot ’n ewige hel nie. Dit maak mos nie sin nie! En so het al meer en meer van die dogmas net nie meer vir my sin gemaak nie, dit was nie maklik vir my om op hierdie reis te gaan nie. Maar ek kon nie meer anders nie. So ek het bedank as NG predikant omdat ek nie meer kon sê “daar is net een weg” nie…God is groter as enige godsdienstige sisteem of ideologie en daarom moes ek uit en het ek in 2005 bedank as leraar en lidmaat van NG Skuilkrans in Pretoria. Gert se konklusie was dieselfde, sy reis was egter anders…maar jy sal vir Gert moet vra om sy storie te vertel.

Het julle enige verbintenis met die Nuwe Hervorming Netwerk?

Ja, ons werk saam. Prof Sakkie verwys baie na ons as die geestelike been van die NHN. Ek dien ook al vir die afgelope 3 jaar op die bestuursraad van die NHN.

Julle sê julle volg ’n Zen benadering waartydens daar gemaklik beweeg word tussen die waarhede van verskillende geestelike tradisies. Kan jy kortliks verduidelik wat is die Zen benadering waarvan jy praat?

Met Zen bedoel ek hier, ’n oop en skoon benadering. Ons poog om nie te veel bagasie en “clutter” van ons “wortels” oor te bring nie. Ons poog regtig om eerlik om te gaan met ons voorveronderstellings oor God en spiritualiteit. Net soos die Gnostiese Christene voor ons probeer ons om ons belewenis met God eerstehands en spontaan te hou. Om dogma, reëls en die “wet”, ver van ons te hou.

Hoe lyk julle lidmate se profiel en hoe groot is die gemeente?

Groote is tans 400 lidmate. En die profiel is nogal ’n goeie deursnee… meestal mense wat bietjie verder wil dink oor die lewe en God….

Is jy nie maar net besig om ’n God wat dalk nie eers bestaan nie, te probeer panelbeat nie? As God werklik bestaan, waarom swyg hy so? Kan dit wees dat jy en ander liberale teoloë eintlik maar net bang is om die werklikheid van God se “nie-bestaan” in die oë te kyk? Daar is tog geen bewys dat God bestaan nie.

Met hierdie vraag laat jy my dink aan die student wat by sy leermeester aankom en sê dat hy vir hom ’n lemoen sal gee as hy vir hom kan bewys dat daar ’n God is. Hierop antwoord die leermeester, “ek sal vir jou twee lemoene gee as jy kan bewys daar is nie ’n God nie!” Hoe sou ’n mens liefde bewys? Deur afleidings te maak om na mense se gedrag te kyk. En dan te sê kyk hoe lief is daardie ma vir haar kind. Maar dit bewys nog steeds nie liefde nie! Is liefde ’n gevoel? Is liefde ’n biologiese proses binne jou brein? Is liefde instink? Wie weet??! Wat ons wel weet, daar is “iets” soos liefde…ons beleef dit elke dag!! Miskien is God baie soos liefde…miskien soek ons God op die verkeerde plekke! Dalk daarom dat ons sê God kan nie met vlees oë gesien word nie maar met die oë van die hart…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui