Vas in skaduwee van ‘allerhoogste’

Kyk ook:

‘n Week later het daar heelwat reaksie verskyn op hierdie berig:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Vas in skaduwee van ‘allerhoogste’ | Rapport

George Claassen

Rapport, 21 Januarie 2024

Terwyl Afrikaanssprekendes hulle loswikkel uit die klewerige godsdiens-web, hunker die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns klaarblyklik na ’n voorwetenskaplike era, skryf George Claassen. 

In ’n analogie waarin die Britse geskiedskrywer A.J.P. Taylor die begin van ’n sneeustorting beskryf as die optel van ’n klippie, verduidelik hy die werk van die historikus as “om die klippie te identifiseer en dit dan los te laat”.

Vier boeke wat sedert 2021 uit die pen van eens leidende Afrikaanse gelowiges verskyn het, laat my dink aan Taylor se analogie: Was dié boeke nie miskien vier klippe wat die begin van die sneeustorting kan wees wat Afrikaanssprekendes se ek-slaan-my-oë-op-na-die-berge-my-hulp-kom-van-God-verblinding kan verander in ’n nuwe geslag wat uiteindelik van hul blindheid genees word en uit die skaduwee van die allerhoogste tree nie?

Om ’n ander analogie te gebruik: Is Afrikaanssprekendes stadig besig om hulle los te wikkel van die klewerige godsdiens-web wat hul kritiese denke geslagte lank verlam het?

Dit mag so wees, maar die publikasie van ’n reeks artikels in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Tydskrif vir Geesteswetenskappe (TGW) verlede jaar wat openlik die hoogs gediskrediteerde “teorie” van intelligente ontwerp (IO) as geldige wetenskap verkondig, laat mens wonder: As intellektuele en hoogs geskoolde Afrikaner-akademici sulke onwetenskaplike onsin in ’n geakkrediteerde, subsidie-draende vaktydskrif gepubliseer kan kry, wat sê dit van die akademie se oordeel?

’n Kardinale grondslag van die wetenskaplike proses en metode is dat ’n teorie nie geldig is indien daar nie bewyse is nie. Stellings moet toetsbaar en herhaalbaar kan wees deur ander, onafhanklike navorsers. Dat die SA Akademie die artikels deur ’n portuurevalueringsproses aanvaar het wat voorstel dat die natuurwetenskappe genoeg bewyse het dat ’n skepper-god die aarde en die heelal geskep het, terwyl daar nie een enkele bewys is vir die bestaan van so ’n skepper-god nie, werp ’n skerp soeklig op onwetenskaplike denke wat onderdanig is aan die wensdenkery van religie.

Gelukkig het die godsdienskenner Sakkie Spangenberg van Unisa – lankal nie meer ’n gelowige nie – ’n deeglike repliek op die vier artikels geplaas waarin hy tot die slotsom kom dat die skrywers van die artikels – Johan Dreyer, Kobus van der Walt en Rudy Denton – “hul eie waarheid uitgedink het”.

Wat het die redakteurs van die TGW besiel om hoegenaamd hierdie artikels vir publikasie te oorweeg; praat nie eens van te aanvaar nie?

Die grondslag van enige aanvaarding van ’n voorgestelde teorie lê in die Britse wetenskap-filosoof Karl Popper se weerlegbaarheidsteorie dat as iets nie getoets kan word om dit vals te bewys nie, dit nie wetenskap is nie. Die bestaan van ’n skepper-god, die grondslag van IO, kon nog nooit en sal ook nooit getoets kan word nie, maak nie saak hoeveel mense steeds glo hulle hoor hul god se stem en praat selfs met hom/haar nie – en neem daagliks besluite op grond van hierdie gewaande gesprekke.

Die skrywers van die Noordwes-Universiteit wat dié pseudowetenskaplike artikels in die TGW gepleeg het, en die hekwagters wat dit eintlik moes gekeer het, laat my dink aan Popper wat oor hierdie soort benadering teenoor die wetenskap geskryf het: “The wrong view of science betrays itself in the craving to be right.”

Die vier skrywers wat my moed gee dat miskien, net miskien en ondanks die TGW-artikels ’n nuwe kritiese ingesteldheid by Afrikaanssprekendes te bespeur is, is die oudteoloog Ben du Toit (God: Is daar ’n ander antwoord? ’n Bevrydende reis, Lapa), die landbouwetenskaplike Mike Reyneke (Die Bybel: Woord van God?, Naledi), die teoloog-cum-joernalis-cum-persombud Johan Retief (Die slegte nuus van die evangelie: My reis na verlossing, Naledi) en die ingenieur Bruwer Swanepoel (Faith Full Circle: The Religious Journey of a Baby-boomer Afrikaner, selfpublikasie).

Die Amerikaanse genetikus Jerry Coyne, skrywer van die insiggewende ontleding Why Evolution is True, som godsdiens raak op: dat dit nie ’n botsing is tussen religie en wetenskap nie, maar dat “die werklike oorlog is tussen rasionele denke en bygeloof”. “Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is.”

Du Toit, Reyneke, Retief en Swanepoel het ontslae geraak van die tirannie wat godsdiens oor hul gees gewerp het (om Jefferson te parafraseer) en in die proses bevry hulle nie net hulself nie, maar ek glo hierdie brawe en uitdagende boeke gaan heelwat ander bevry.

Wat is die verantwoordelikheid van rolmodelle – en dis tog wat TGW behoort te wees – wat hierdie soort onsin verkondig? Dit begin by kindertjies wat oopmond na die verhale van die Bybel luister, daagliks deur volwassenes oorgedra aan ’n gewillige, geïndoktrineerde, vatbare kindergehoor. Want ons moet mos soos kindertjies glo . . . ?

Die wetenskap-filosoof Daniel Dennett som dit raak op in sy skerp ontleding van godsdiens as ’n natuurverskynsel: “Onkunde is nie ’n skande nie; om onkunde op te dwing is ’n skande. Die meeste mense is nie te blameer vir hul eie onkunde nie, maar as hulle dit doelbewus oordra, is hulle te blameer” (Breaking the Spell: Religion as a Natural Phenomenon, Allen Lane).

Daagliks beleef ons dit, weerspieël in berig ná berig, opskrif ná opskrif in die hoofstroom- Afrikaanse media, stemboodskap ná stemboodskap op RSG en Pretoria FM en ook by talle gemeenskapsradiostasies, dat elke goeie of slegte ding wat met mense gebeur óf gebeur het met God se hulp (so of ’n god moet kant kies tussen wie ’n wedstryd moet wen of verloor) óf as God se wil. Sportmanne en -vroue slaan hul oë ten hemele en gooi dankbaarheidstekens na bowe vir die doel wat aangeteken, die drie wat gedruk of die wen-ses wat geslaan is.

Of slagoffers plaas hul verlies of ellende in aanvaarding aan die voete van ’n mitiese god en buig hul wil voor sy/haar gewaande almagtigheid.

Driehonderdduisend tsoenami-dooies in 2004, miljoene slagoffers van Hitler se verwoestende rassisme en mensehaat, derduisende vroue en kinders van verskillende rasse wat sterf in Britse konsentrasiekampe, afgemaaide mans wat in hul miljoene sneuwel in loopgrawe in Vlaandere, Frankryk en elders in Europa, meer as agtduisend Moslem-mans en -seuns wat by Srebrenica etnies uitgemoor word, die slagting van 7 Oktober 2023 deur Hamas op Israelse kibboetse en die Gasa-menseslagting deur Israel se weermag, enigiets tussen een en nege miljoen slagoffers van die Kruistogte tussen 1095 en 1291 – alles God se wil . . .

Wanneer lesers dié vier boeke deurgewerk het, pak gerus ook Matthew White se The Great Big Book of Horrible Things: The Definitive Chronicle of History’s 100 Worst Atrocities (W.W. Norton).

Vra daarna gerus jouself krities af, waar was die god waarin mense so vas glo toe hierdie verskrikkings hoogty gevier het en steeds daagliks deel van ons bestaan is?

Du Toit, Reyneke, Retief en Swanepoel verwys na die verskynsel van gelowiges wat enigiets wat hulle nie kan verklaar nie toeskryf aan God. Maar, om Coyne weer aan te haal, “as die geskiedenis van die wetenskap ons iets wys, is dit dat ons nêrens kom deur ons onkunde ‘God’ te noem nie”.

Wetenskaplikes soos David Gross, die Nobelprys-wenner in fisika in 2004, Bernard Carr van die Universiteit van Londen en Peter Woit van die Columbia-Universiteit in New York bevraagteken juis die wyse waarop die wetenskap te maklik wegbeweeg van bewysgedrewe ontledings, die vanggat waar TGW nou so holderstebolder ingefoeter het.

Ook die Amerikaanse The Skeptics Society se president, Michael Shermer, wys daarop dat wetenskaplikes die gevaar loop om hul geloofwaardigheid te verloor as hulle rasionele bewyse wat deur waarneming verkry word laat plek maak vir irrasionele, filosofiese “spookasem-uitvlugte”.

Om terug te keer na die vier TGW-artikels oor intelligente ontwerp: Deesdae het die bewyse vir evolusie so allesoorheersend sterk geword dat heelwat gelowiges, ook die drie skrywers van die artikels, hulle wend tot ’n nuwe verskoning om God se bestaan te verdedig: Evolusie is en word dan kwansuis deur God aangewend, die credo van die intelligente-ontwerp-brigade.

In Afrikaanse kringe is dit veral bekende professore en rubriekskrywers wat verwelkomende platforms kry om hierdie skuiwergat in die media te verkondig, sonder een enkele bewys van die bestaan van god. Tog is die IO-ondersteuners bloedneus geslaan in die Kitzmiller and Others v. Dover Area School District-saak in die VSA in 2005.

Hulle argumenteer, ’n gerieflike terugvalmeganisme, deur te beweer niemand, ook nie die slimste wetenskaplikes nie, kan bewys dat God nie bestaan nie.

Tydens die hofsaak het ’n groot voorstander van IO as geldige wetenskap en biochemikus van die Lehigh-Universiteit in Pennsilvanië, Michael Behe, ’n breë definisie van ’n wetenskaplike teorie probeer uitspel. Maar onder kruisverhoor moes hy beken dat sy definisie van so ’n teorie so breed is dat dit selfs astrologie sou insluit.

Covid-19 het gewys dat die wetenskap en rasionele denke die beste manier is om onkunde te beveg. Tog het soveel pastore en dominees en imams en heilige “profete” verkondig dat gebed die enigste oplossing is, dat die inentings van die duiwel is. Selfs ons eie voormalige hoofregter het hierdie absolute sotterny verkondig.

Ons keuse is: Ons bly beoefenaars van Pleistoseendenke – of ons betree die ruimte-eeu, soos Du Toit, Reyneke, Retief en Swanepoel dit hier so treffend doen deur uit die verdonkerende skaduwee van die allerhoogste te tree.

Swanepoel som sy groei van ’n hoogs gelowige kerkmens weg van die wêreld van wensdenkery sekerlik namens heelwat van ons op: “Dit het ’n tydjie geneem, maar vandag is ek trots om myself ’n ateïs te noem.”

Wat die TGW betref: Miskien moet ’n groep sterrewiggelaars hul astrologiese voorspellings as “wetenskap” toets deur artikels voor te lê wat dit as geldige wetenskap voordoen, nes die IO-ondersteuners van Potchefstroom.

Ek kan nie wag vir die resultaat nie.

• Dr. George Claassen is die skrywer van Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite (2008, Protea Boekhuis).

• Lesers kan die artikels van Dreyer, Van der Walt en Denton gaan lees by http://tgwsak.co.za. Dit is gepubliseer in uitgawe 63(2) en Spangenberg se repliek daarop in uitgawe 63(4).

Kommentaar

Daniel Louw

Alhoewel ‘n mens nie die bestaan van God wetenskaplik kan bewys nie, is die aanduidings vir die bestaan van God oorweldigend. Om alles op aarde te verklaar sonder God verg baie meer geloof as om te glo dat God geskep het. Kyk Hoekom glo ons in die bestaan van God?

Verder, Claassen beweer dat die bewyse vir evolusie allesoorheersend sterk geword het. Dit is ver van die waarheid. Vir meer hieroor, kyk:

 

1 thought on “Vas in skaduwee van ‘allerhoogste’”

  1. Is dit hoe mens praat as jy “doktor” is? Is dit nie moontlik om rustig net jou sienswyse te stel nie? Moet mens beledigend wees en mense wat van jou verskil persoonlik aanval en afbrekende aanmerkings maak? Wie sal met hierdie geleerde man gesprek wil voer? Want lyk my as jy nie met hom saamstem nie dan is jy dadelik in die “firing line”.
    Kalmte liewe doktor, “sagte woord keer die grimmigheid af”……o gaats jammer.. dit staan mos in daardie boek wat so baie moeilikheid veroorsaak…..dan gaan dit seker nie vir jou werk nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui