Vasgevang in oerbeeld

Kyk ook:

Die volgende artikel is geskryf deur Wilhelm Jordaan en het in Beeld verskyn.

**************

Vasgevang in oerbeeld

2011-12-12 21:49

Die NG Kerk en sy standpunt oor gay-wees is nogmaals in die kollig. Wilhelm Jordaan gee ’n perspektief op waarom die NG Kerk (soos ander hoofstroomkerke) die behoudende agterhoede oor die saak vorm eerder as om waagmoedig en vernuwend voor te loop.

Me. Lulani Vermeulen, ’n gay teologiestudent aan die Universiteit van Stellenbosch wat al vier jaar in ’n vaste verhouding is en nie ’n dokument wou onderteken dat sy selibaat sal bly nie, sal nie in die amp van predikant in die NG Kerk kan dien nie. Dit is die praktiese gevolg van bestaande besluite van dié kerk se algemene sinode. ’n “Huwelik” tussen haar en haar maat is ook buite die kwessie aangesien die sinode net die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou.

Te oordeel na die reaksies in koerantbriewe en op Facebook en Twitter is daar oorwegend groot applous vir die kerk se standpunt. Tog wil sommige hê Vermeulen moet onvoorwaardelik tot die amp van predikant toegelaat word.

Daar is weliswaar kritiese vrae oor die kerk se houding teenoor gay dominees en die hoop word uitgespreek dat ’n kerk wat die Belhar-belydenis (wat oor geregtigheid gaan!) aanvaar tog weer sal dink oor gay dominees.

Die reaksiepatroon bevestig dat die NG Kerk – soos ander hoofstroomkerke – hom skaar by die meeste van sy lidmate se behoudende konserwatisme. Al is daar kerklike amps­draers en kerkgangers wat anders dink, is daar die vrees dat die behoudendes aanstoot sal neem en die kerk sal verlaat. Sonder om die ironie te be- sef dat gelowiges wat die konserwatisme verstikkend ervaar en elders ’n spirituele tuiste vind aanstoot gegee word.

Terselfdertyd moet mens toegee kerke het al ver gevorder om gays tegemoet te kom – so tussendeur die abstrakte kerkspraak met sy kenmerkende versigtige bewoordings, ver­- skansings en ontwykings.

Maar waarom bly die kerk huiwer om byvoorbeeld die grondwetlike beskerming van gays verder te voer en hulle onvoorwaardelik soos alle ander kinders van God te behandel?

My hipotese is dat die kerk, soos die meeste van sy lidmate en die algemene samelewing, ten diepste vasgevang is in ’n oerbeeld van man en vrou, naamlik dat man en vrou die enigste eenheid van seksuele genieting, voortplanting van die mens en gesinsvorming is.

Dié beeld sê die kragtige man het die swakker vrou gepenetreer, sy saad gestort en sy het dit ontvang. ’n Kind is verwek en word deur die vrou gesoog en versorg. En dit is die liefdesmanier wat vas en klaar deur die “natuur” gegee is.

In dié biologiese gebeure het pa­triargie sy eeue oue beslag gekry as die heerskappy en oorheersing van die man wat sê hoe dinge ís en sál wees; wat dit beteken om man of vrou te wees; en wat hul rolle is, seksueel en andersins, in die gesin en samelewing.

Vuisgeweld teenoor vroue spruit dikwels uit dié ingesteldheid en so ook die taalgeweld van die tong.

Die rubriekskrywer Cecile Cilliers beskryf dit in Beeld van 6 Desember as ’n “aaklige erfenis” en skryf:

“…hoe anders moet ek die geweld wat Lulani Vermeulen deur die kurato­rium van die US aangedoen is, verduidelik? Eers slaan, dan mooi broodjies van begrip en simpatie bak. Sedert Bybelse tye ken elke mishandelde vrou daardie storie.”

Die bestaan van en breë ondersteuning vir veldtogte soos Mighty Men en Worthy Women bevestig dié basiese patriargale ingesteldheid; wat ook al die genuanseerde verduidelikings, vergoeilikings en rasionaliserings. Daarmee – en ondersteun deur die historiese en voortgaande patriargale (lees: Bybelse) diskoers – word homoseksualiteit deur baie kerkmense beleef as ’n afwyking van die oerbeeld. Om gay te wees, is vir hulle ’n weersinwekkende vergryp, selfs ’n erge sonde, al sou die kerk se amptelike taal anders klink.

Hulle sluit gewoon die oë vir wetenskaplike kennis dat ’n homoseksuele oriëntering ’n sterk biologiese grondslag het, net so sterk soos die heteroseksuele impuls. En dat homoseksualiteit so oud soos die mensdom self is; dat die “biologie” daarvoor nog altyd bestaan het.

By baie mense bestaan die vrees dat manlikheid en vroulikheid soos dit patriargaal gestereotipeer word tot die mens se skade aan’t verander is. Vandaar hul venyn teenoor die kultuur van androgenie – die afwesigheid van duidelik onderskeibare “manlike” en “vroulike” kenmerke in kleredrag, algemene voorkoms en gedrag by mans en vroue wat onderskeidelik “in kontak” is met hul vroulikheid en manlikheid. Daaruit kom die argwaan: die androgene heteroseksuele man en vrou beduie dalk sluimerende homoseksualiteit.

Maar daar is ook ander vrese, veral by heteroseksuele mans. Hulle vermoed dit is feministiese waardes wat die vertroetelde oerbeeld van die penetrerende man en die ontvangende vrou ondermyn. Hulle is werklik bang sulke waardes bedreig hul seksuele regte, genietings én magsposisies in die verhoudingslewe.

Maar wat, meer presies, is op die spel in die gestadigde aftakeling van bogenoemde oerbeeld, en wat het dit te doen met die houding van kerkmense teenoor gays?

Uit navorsingsgegewens, populêre tydskrifartikels, gedigte en romans kom ’n prentjie na vore wat wesenlik sê ’n steeds toenemende aantal heteroseksuele vroue smag om te ontsnap aan die lewensontnemende patriargale greep.

Hulle verwag veel meer van hul verhouding met die man in hul lewe, soos dat liefde gedra word deur waardes soos vriendskap, vennootskap, toewyding, erkenning en emo­sio­nele intimiteit. Dit word verstaan as deel van hartstogtelike seksuele verkeer.

Natuurlik is daar heteroseksuele mans wat iets van die vrou se ervaarde ondergeskiktheid en verlange na iets meer verstaan. En wat ook die waardes wat hierbo genoem is, onderskryf en van daaruit, saam met hul vroue, aan hul verhoudingslewe beslag gee.

Waar dít sigbaar tot gestalte kom, is siniese opmerkings uit die patriargales se geledere. Soos mans wat sê: “Ek sal my nie só deur ’n vrou laat rond­shunt nie.” Of vroue wat sê: “My man is die hoof van ons huis, en so wil ek dit hê.”
Wat insiggewend is, is dat juis die ergste vorms van afkeer aan gays merendeels gevind word by patriargales vir wie die genoemde verhoudingsvormende waardes ’n “swakheid” is en wat beveg moet word ter wille van die behoud van die normgewende tradisie.

Hieruit volg die voortgesette pa­triargale diskoers, hoofsaaklik gevoer deur heteroseksuele mans én vroue wat hulle onderdanig napraat volgens ’n gestereotipeerde seksuele “draaiboek” wat die “ware” man/seun beskou as die dapper, behendige seksuele “jagter” teenoor die “ware” vrou/meisie as die passief afwagtende, terughoudender, dog beskikbare, sek­suele “prooi.” Wesenlik is dit ’n voortsetting van die oerbeeld van seksuele verkeer.

Daarom reken die patriargales gay- verhoudings is niks meer nie as weersinwekkende “abnormale seks”. Vir hulle is dit onmoontlik om gay-verhoudings te verstaan as ’n uitdrukking van dieselfde soort verhoudingsvormende waardes as wat by nie- patriargale heteroseksuele pare voorkom. En wat blootgestel is aan dieselfde soort gevare wat enige verhouding kan tref: wantroue, onversoenbaarheid, verloopte liefde en ontrou.

Wilhelm Jordaan is ’n rubriekskrywer en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Kommentaar

Kyk Die Bybelse ‘oerbeeld’ vervang deur ’n pan(en)teistiese oerbeeld, deur Slabbert Le Cornu

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui