Vasti Roodt: Om te wéét ek is (dalk) absoluut reg

*******

Vasti Roodt: Om te wéét ek is (dalk) absoluut reg | Netwerk24

Vasti Roodt

Rapport, Sondag, 23 Oktober 2022

Dink aan ’n kwessie waaroor jy sterk oortuigings huldig: die Suid-Afrikaanse politiek, die Russiese inval in Oekraïne, aborsie, inenting of iets dergeliks.

Vermoedelik is dit nie vir jou om’t ewe of jy reg of verkeerd is en of mense met jou saamstem al dan nie. Maar hoe weet ek dat ek reg is?

Ek kan wys op die intensiteit van my gevoelens oor die bepaalde saak. Emosies is egter nie ’n betroubare aanduiding van die waarheid van ons oortuigings nie. Wie van ons was nie al verkeerd oor iets (of iemand!) waaroor ons sterk gevoelens gekoester het nie?

Ek kan myself daarop roem dat ek al die relevante feite bekom het en op grond daarvan ’n ingeligte mening gevorm het. Die insameling van inligting behels egter aktiewe besluite oor hoe en waarop ons ons aandag rig, en oor watter feite swaarder weeg as ander.

Ons maak gevolgtrekkings op grond van dit wat ons gekies het om as getuienis te aanvaar. In hierdie opsig is ons oortuigings dus ’n oefening in oordeel en nie ’n passiewe notulering van feite wat bloot lê en wag om ontdek te word nie.

Indien ons keuses maak oor hoe en wat ons glo, kan ons hiervoor verantwoordelik gehou word. Net soos ons moreel aanspreeklik is vir ons dade in soverre ons ’n keuse gehad het om anders op te tree, is ons ook aanspreeklik vir wat ons dink en glo in soverre ons anders sou kon kies.

Om hierdie verantwoordelikheid ernstig op te neem verg ten minste twee dinge van ons. In die eerste plek verg dit kritiese nadenke oor ons eie denkprosesse. Dit behels onder meer dat ek myself afvra: Onder watter voorwaardes sou ek verkeerd kon wees? Wat sou as bewyse kon dien dat ek ’n fout gemaak het?

Indien my antwoord is dat ek onmoontlik verkeerd kan wees en dat niks my ooit sal oorreed om van mening te verander nie, moet ek ook toegee dat my oortuiging bloot iets is wat ek na willekeur aanhang. Ek kan dit natuurlik toegee, maar daarmee verbeur ek die reg om ander na my opinie te probeer oorhaal of om hulle te kritiseer wanneer hul sienings van myne verskil.

’n Tweede aspek van die verantwoordelikheid vir ons eie denke het te doen met die bronne waarop ons vertrou. Ons het min eerstehandse ervaring of diepte-kennis van die sake waaroor ons menings huldig. In die meeste gevalle is ons aangewese op inligting uit ander bronne op grond waarvan ons dan ons eie afleidings maak. Daarom moet ons ook kritiese ondersoek instel na die geloofwaardigheid van ons bronne.

’n Bron is nie geloofwaardig bloot omdat dit ’n mening onderskryf wat ek reeds huldig nie. Laasgenoemde is ’n sirkelredenasie: Ek glo wat ek in ’n bron teëkom omdat ek reeds glo wat deur daardie bron beweer word. Goed begronde oortuigings vereis ook onafhanklike redes vir die betroubaarheid van ons bronne.

Om verantwoordelikheid vir ons oortuigings te aanvaar behels dus ’n soort dubbele bewustheid. Aan die een kant neem ons stelling in oor een of ander aspek van die wêreld. Aan die ander kant moet ons ’n kritiese afstand teenoor ons eie oortuigings behou, ’n gewilligheid om dit waarin ons glo aan verdere ondersoek te onderwerp.

Ons wil graag hê dat die waarheid aan die hemele geskryf staan. Maar, eindige en feilbare mense wat ons is, kan ons nie die uitoefening van ons eie oordeel en die gepaardgaande verantwoordelikheid ontduik nie.

Net soos ons moet dink voordat ons doen, so moet ons leer om twee keer te dink voordat ons glo.

  • Vasti Roodt: Medeprofessor in die Departement Filosofie en die Hoof van PROSPER (Promoting Social and Political Ethics Research) (Bevordering van Sosiale en Politieke Etieknavorsing) in die Sentrum vir Toegepaste Etiek.Sy het ’n MA en DPhil (Filosofie) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Haar navorsing fokus op morele en politieke filosofie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui