Die kuratorium van die NG Kerk het die volgende verklaring uitgereik na aanleiding van die berig Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie’ in Rapport op Sondag, 30 Maart 2025.
*********
Kuratorium van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal
Fakulteit Teologie en Religie – Universiteit van Pretoria
E-pos: ngkerk@up.ac.za
Die Kuratorium van UP wil graag aan lidmate van die Ned Geref Kerk die volgende inligting deurgee na aanleiding van berig in Rapport “Satanis by Tuks kap Roets oor ‘giftige rasteorie” (30 Maart 2025):
Die Departement van Godsdiensstudies (Religion Studies) is die één departement in die groter Fakulteit van Teologie en Religie wat nie vanuit ‘n teologiese (geloofs-) perspektief na godsdiens kyk nie, maar met ‘n meer neutrale (filosofiese-) invalshoek werk. Studente van alle geloofsoortuigings
kan verdere studie aan hierdie departement doen, en ‘n aantal Moslems, Baha’i, en Boeddhiste het akademiese kwalifikasies hier behaal. Die Kuratorium is baie dankbaar vir die werk van die Fakulteit waarvan die Departement van Godsdiensstudies deel is.
Dr Tristan Kapp het onlangs sy PhD suksesvol voltooi in Godsdiensstudies, en word daarom soos alle suksesvolle PhD studente as ‘n navorsingsgenoot van die Fakulteit gereken om navorsingsuitsette te registreer. Hy is geensins in diens van die Fakulteit nie, ook nie aangestel in enige posisie by UP nie, en gee daarom dus ook nie klas vir studente nie. In sy eie Facebook profiel het Dr Kapp bevestig dat hy nie by UP klasgee nie en dat die Rapport-berig ‘n valse en misleidend verklaring was.
Die Kuratorium is teleurgesteld in die sensasionele beriggewing in Rapport en wanvoorstellings, onder andere op Facebook, en daarom nooi ons lidmate om hierdie verklaring op sosiale media te deel sodat die korrekte inligting mense kan bereik.
Dagbestuur van die Kuratorium van Pretoria
31 Maart 2025
Kommentaar
Daniel Louw
Ek weet nie of hierdie verklaring baie help nie. Die departement van Godsdiensstudies is ‘n subdepartement van die fakulteit Teologie en Religie. Dit is verstommend dat die kuratorium van die NGK so maklik kan sê dat hulle dankbaar is vir die werk wat die teologiese fakulteit doen. Die GKSA het vir baie kleiner redes besluit om weg te breek van Potch – kyk Mediaverklaring: GKSA teologiese opleiding (4 Feb 2023)
Aaai as ons Kerke en die mense in beheer net minder sal baklei oor nietighede dan sal ons kerke nie so leeg loop nie. Maar aai ons leer nie. As mens by ‘n werkplek werk en bestuur baklei ondermekaar dan is dit nie ‘n lekker plek om te werk nie , en jy bedank so gou as wat jy kan. Sal die NK Kerk nie dit maar leer nie?