Verklaring van Welwillende Voorneme

Die volgende dokument is die produk van die Vrystaat se moderamen vergadering op 11 Maart 2024 by Winburg. Die vergadering het bestaan uit ongeveer 26 mense. Die dokument is uitgestuur as deel van Skrywe van Vrystaatse moderamen aan gemeentes (8 April 2024)

********

Verklaring van Welwillende Voorneme

Moderamen van die NG Kerk Vrystaat

11 Maart 2024

Die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat, saamgestel uit verkose verteenwoordigers uit elke Ring van die NG Kerk Vrystaat, het in sy vergadering op 11 Maart 2024 in Winburg, …

1. BEVESTIG

a) dat die NG Kerk Vrystaat, in haar bedieninge in gemeentes, vergaderings en roeping die Bybel as Skrifgeworde Woord van God lees, glo en daarom as gesagvol vir ons lewens aanvaar en streef om onder leiding van sy Gees, God se stem daarin te gehoorsaam, soos wat ons beskrywingspunt aan die Algemene Sinode 2023 gelui het en dit daar aanvaar is;

b) dat die NG Kerk Vrystaat ons gereformeerde belydenis soos uitgedruk in die vroeë ekumeniese credo’s en drie Formuliere van Eenheid uit die Reformasie onderskryf, koester en in ons bediening blý vertolk met die oog op ons tyd en konteks, spesifiek ten opsigte van Jesus Christus (Sy ontvangenis en geboorte, lewe en lyding, sterwe en opstanding en ewige heerskappy) en dit téénoor die werklikheid van ons eie gebrokenheid en van duisternis en verslawing deur die Bose, soos wat ons beskrywingspunt aan die Algemene Sinode 2023 gelui het en dit daar aanvaar is;

c) dat die NG Kerk Vrystaat op grond van die Skrif en ons gereformeerde erfenis, die eenheid van die Liggaam van Christus – sy Kerk – in waarheid en liefde bely en in ons bediening, vergaderings en roeping nederig blý soek, tot Sý eer alleen, sodat ons saam met die ganse gemeenskap van gelowiges opgebou mag word “as lewende stene tot ‘n geestelike huis” (1 Petrus 2:5-6; Heidelbergse Kategismus Sondag 21);

d) dat die NG Kerk Vrystaat as gereformeerde kerkverband, die ruimte in ons Kerkorde vir sinodes, ringe en gemeentes respekteer om in hul bediening, vergaderings en roeping onder leiding van die Woord en Gees, in vryheid en vrede, selfstandig én gesamentlik te handel, en dit daarom ook só aan die Algemene Sinode 2023 betuig het en dit daar aanvaar is;

e) dat die standpunt van die NG Kerk Vrystaat oor menslike seksualiteit, die huwelik en selfdegeslagverbintenisse – dat die huwelik vir ons ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, ‘n Godgegewe veilige ruimte waarin die waardes van liefde en trou, wedersydse respek en versorging tot vervulling kan kom; dat dit nie vir ons dieselfde is as ‘n selfdegeslagverbintenis nie; dat alle vorme van losbandigheid en promiskuïteit verwerp word; en dat ons hierdie aangeleentheid pastoraal in gemeentes wil hanteer waar ons mekaar as medegelowiges liefhet, bemoedig en God saam dien – aan die Algemene Sinode 2023 deurgegee is en tot ‘n groot mate daar aanvaar is;

f) dat die NG Kerk Vrystaat haarself verbind het tot teologiese opleiding in haar vennootskap met die Fakulteit Teologie en Religie (UV) en in haar eie Seminarium, waarin die bestudering van die Bybel, ons belydenis en erfenis as kerkverband, én die gemeentelike bediening (eredienste, kategese, pastoraat, barmhartigheid en sending) op ‘n akademiese vlak én in die kerklike vorming van hul geloofsidentiteit, geloofslewe, persoonsvaardighede en praktykblootstelling, aan studente van ons NG Kerk-familie gebied word;

g) en dat daar deur die afgelope twee jaar sedert ons sinodesitting in Maart 2022, op ‘n inklusiewe en geloofsonderskeidende wyse in ‘n verskeidenheid van rings- en sinodale vergaderings, studiegroepe en konferensies, die Buitengewone Sinode van April 2023 en in ontmoetings met kerkrade, gemeentes en lidmate oor bogenoemde sake goed na mekaar geluister is in ons soeke na ‘n welwillende weg vir ons kerkverband vorentoe.

2. ROEP

a) ons alle gemeentes, leraars, kerkrade én onsself as vergadering op – spesifiek nou in Lydenstyd, Pase en Pinkster – om ons harte, motiewe, gedagtes, woorde en handelinge voor God en in die lig van sy Woord te ondersoek; ons ongehoorsaamheid en onderlinge vervreemding en verdeeldheid te bely; en ons oop te stel vir die helende en vernuwende werking van sy Gees in en tussen ons;

b) ons alle leraars, lidmate én onsself op om ons te weerhou van gevolgtrekkings of veralgemenings oor kollegas, medegelowiges en vergaderinge in ons kerkverband van wie ons mag verskil, alvorens ons nie die volledige waarheid oor hul standpunte of besluite of handelinge by hul persoonlik en/of aan die hand van die amptelike bronne daarvoor, vasgestel en verantwoord het nie;

c) ons alle leraars, lidmate én onsself op om ons te weerhou van kwetsende woorde, tiperings, benaminge en handelinge waarmee ons mekaar se diepste hartsoortuigings en persoonlike verbintenis aan Christus beoordeel, betwyfel of bespotlik maak en allermins optree ooreenkomstig die vrugte van die Gees van God;

d) roep ons diegene op wat ons as NG Kerk Vrystaat in haar verband, ringe en bediening daarvan beskuldig dat ons nie die Bybel as Gods Woord erken of glo nie; nie ons gereformeerde belydenis onderskryf en daarvolgens probeer leef nie; nie volgens ons ooreengekome Kerkorde handel nie; maar “wêreldsgesinde navolgers of goedkeurders van die leuens volgens die tydsgees geword het”; “as bondgenote optree van ideologies-gedrewe groepe wat die kerk en kerklike vergaderinge binnegedring en vir ‘n eie agenda gekaap het”; “aan (ons)self meer gesag toeken as wat die sinodaal-presbiteriale kerkregeringstelsel toelaat en sodoende ‘n magsorgaan geword het” en daarom “die valse kerk” is (Artikels 27-29, Nederlandse Geloofsbelydenis), om sulke en dergelike beskuldigings terug te trek;

e) en roep ons daarom ook alle gemeentes, leraars en lidmate wat oor sinodebesluite van die verlede of gebeure in ons kerkverband treur, ‘n geskil verklaar of ‘n “akte van opskorting” aan ons gestuur het, op om dit in die lig van ons getuienis hierbo, te heroorweeg en in die gees van Christus en sy groot genade vir ons almal, weer jul volle plek in ons gemeenskap van gelowiges in te neem, dat ons band met mekaar kan herstel en ons weer eensgesind – al is ons nie in alles eenstemmig nie – ons gedeelde roeping met vreugde en tot eer van God kan vervul; die Vrystaat het ons almal en ons genadegawes nodig.

3. VERBIND

a) ons onsself as Moderamen opnuut daaraan om ‘n welwillende weg te soek vir alle lidmate, alle leraars en elke gemeente in die verband van ons NG Kerk in die Vrystaat vorentoe, sodat ons die Here in gees en waarheid kan aanbid en dien;

b) ons onsself opnuut daaraan om met alle gemeentes, lidmate, leraars, kerkrade en ringe oor so ‘n welwillende weg in gesprek te bly of opnuut te tree, en versoek ons almal in ons kerkverband om dit as ‘n ope en opregte uitnodiging te beskou en te benut;

c) ons onsself en ons kerkverband daaraan om op ‘n verantwoordelike en veilige wyse binne ons ooreengekome Kerkorde ruimtes te vind vir die lewe en bediening van elke gemeente vorentoe, moontlik ook binne unieke ringsverbande;

d) ons onsself daartoe om in ons algemeen sinodale verband, die selfstandigheid en unieke karakter, besluite, bediening en roeping van die NG Kerk Vrystaat en haar gemeentes te koester, uit te leef en indien nodig ook daardie verband te herdefinieer;

e) ons onsself daartoe om in ‘n gees van welwillendheid dit vir gemeentes wat sou wou, dit moontlik te maak om aan die hand van ‘n prosedure soos deur die gewysigde Artikel 32 van ons Kerkorde voorgestel, by ‘n ander geografiese sinode waarin hul hulself beter sou kon tuisvind en uitleef, in te skakel;

f) en verbind ons onsself daartoe om nie in die weg te staan van lidmate of leraars wat uiteindelik sou besluit dat in die lig van God se Woord en ons belydenis hul nie meer die NG Kerk Vrystaat as deel van die ware Kerk van Christus kan erken nie en daarom uit ons kerkverband wil tree, hoewel dit vir ons ‘n hartseer dag sal wees en ons dit daarom uit oortuiging en onderlinge verbondenheid aan mekaar, sover moontlik wil voorkom.

4. BESLUIT

a) ons as Moderamen om hierdie “Verklaring van Welwillende Voorneme” as vertrekpunt en raamwerk vir ons verdere gesprekke oor die NG Kerk Vrystaat as kerkverband te neem en só te kommunikeer;

b) gee ons die advies van ons Sinodale Taakspan Kerkorde (STK) oor die “aktes van opskorting” wat ons ontvang het, deur na daardie ringe waarvan die betrokke gemeentes deel is en ondersteun ons die STK en daardie ringe in hul beplande gesprekke met die betrokke gemeentes ten einde die bande te herstel;

c) versoek ons die Interimkomitee en STK om met inagneming van voorstelle wat ons reeds oor ‘n verdere welwillende weg ontvang het en met die reg tot koöpsie van ander leraars en lidmate, ‘n raamwerk en moontlike opsies vir ons Vrystaatse kerkverband vorentoe uit te werk en dit by ons vergadering van die Moderamen op 27 Mei 2024 voor te lê;

d) beplan ons om bogenoemde inligting en opsies in ‘n reeks ontmoetings daarná met leraars, kerkrade, gemeentes en ringe (bv. in in streekskonferensies) te bespreek;

e) en dra ons dit aan die Interimkomitee op om so spoedig moontlik ‘n datum vir ‘n Buitengewone Sinodesitting van die NG Kerk Vrystaat vas te stel vir finale besluitneming hieroor, verkieslik nie later as in Augustus of September 2024 nie, en dit op 27 Mei 2024 deur die Moderamen te laat goedkeur.

In nederige afhanklikheid van God.

“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
(Johannes 8:12)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui