Kyk ook:
*******
Verlang jy nog na die kerk? | Insig
Insig, 31 Desember 2003
Deur Tobie Wiese, illustrasie Peter Eastman
Die tradisionele Afrikaanse kerke loop leeg. En noudat selfs van die stoerste kerkgangers deesdae loop, word gevra: Waarom? Is dit simptomaties van die tegnologiese tydsgees, of die kerk se verlies aan politieke _mag? Of is daar ‘n vertrouensbreuk?
Lina Spies kan nie onthou wanneer sy laas in die kerk was nie. Dis nogal merkwaardig vir iemand wat vyftig jaar lank kerklik aktief was, religieuse gedigte skryf en onlangs nog in die kerklike kommissie vir die omdigting van die Psalms gedien het.
Sy kan dit nie langer regkry om saam met die res van die gemeente daar te staan en die eeue oue woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis na te sê nie: “Ek glo in Jesus Christus .. . God se eniggebore Seun … wat gebore is uit die maagd Maria … wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode .. . opgevaar het na die hemel… van waar Hy sal kom om te oordeel… ”
Sy kan nie, want sy glo dit nie meer nie.
“Ek het ‘n nuwe ervaring van Jesus, van sy menslikheid. Hy is nie vir my God nie. Hy is wel ‘n gesig van God, die gesig wat ek die beste ken, maar nie die enigste gesig nie. Hy het ook nooit gesê Hy is die seun van God nie. Ja, die belydenisskrifte sê so en die dogmamakers sê so en die Skrifgeleerdes wat Hom voor Pilatus gedaag het, het Hom daarvan beskuldig maar Hy het nie daarop aanspraak gemaak nie.
“Ek kan Jesus wat op aarde gewandel en gewerk en gesterf het, nie vereenselwig met die ewige, onsienlike en alomteenwoordige God nie. Dit is waar my breuk met die tradisionele godsdiens kom.”
Die implikasies dáárvan laat haar telkens terugdeins. Hier van haar woonstel onder Stellenbosch se akkerbome is die Kweekskool net om die draai “waar ek boesemvriende het”, soos ook in die NG Moedergemeente waar sy twaalf jaar (terwyl sy professor in Afrikaans en Nederlands was) ‘n meelewende lidmaat was. “My liefde vir die kerk is te groot om die bande te breek – en ek wil darem nog uit die kerk begrawe word! – maar die kerk kan mense nie meer die swye oplê nie. Hierdie dinge, soos die vraag na wie Jesus werklik was, word oor die wêreld heen bespreek. As ek hierdie uitsprake in Europa maak, sal niemand eers skeef opkyk nie.”
War het haar van oortuiging laat verander? As antwoord dra sy drie boeke aan: A History of God van Karen Armstrong, Ruim geloven van C.J. den Heyer en Fatherless in Galilee van die Suid-Afrikaanse teoloog Andries van Aarde. Veral ná die lees van laasgenoemde het sy besef dit is glad nie nodig om Christus se sogenaamde maagdelike geboorte te beskou as die oorsprong van Sy boodskap en aardse omwandelinge nie. “Ek kan Hom verstaan en … ”
En aanbid?
“Nee. Ek kan Hom verstaan en Hom eer vir wat Hy was en is – ‘n unieke en baie besonderse mens – sonder ‘n beroep op ‘n maagdelike geboorte. Ek glo Hy het gelewe, maar as ons glo Hy is maagdelik gebore, kan Hy – skryf dit tog met ‘n hoofletter! – so maklik net nog ‘n mitologiese figuur word want daar is naas die Bybel ook ander ou geskrifte met verhale van maagdelike geboortes.”
Watter Bybel se verhale kan mens dan wel glo, soos Christus se opstanding uit die dood? “Ek twyfel of dit die essensie van die Evangelie is. Ek is nie ‘n Christen om vir my ‘n ewige lewe te probeer verseker nie. As daar ‘n lewe hierna is – ek weet nie of dit so is nie – sal dit ‘n bonus wees. Ek glo nie aan die wederkoms nie. Mense wat daarop wag, sal ‘n paar biljoen jaar moet wag totdat die son uitbrand en die aarde soos ons dit ken, vergaan.”
Wat mens die indruk kan gee dat Lina die selfversekerdheid van ‘n nuutbekeerde het. Allesbehalwe. ” ‘n Skeppende mens het ‘n bewussyn van ‘n ander dimensie wat nie rasioneel verklaar kan word nie en wat ongeloof onmoontlik maak.
“Soos Van Gogh gesê het: ‘Ik ben een gelovige in mijn ongelovigheid.’ Ons weet dat ons nie weet nie. Wat my irriteer van die kerk, is die aandrang op sekerheid. Hoe kan jy seker wees van die onsienlike? En as jy seker is van alles, het jy geen geloof nodig nie. Geloof berus juis op nie-weet, op hoop, op vertroue, op onsekerheid. Daarom is geloof ‘n sprong in die duisternis.”
‘n Sprong wat Lina, opnuut, met die lig tot haar beskikking neem: huiwerig maar hoopvol. Daar is vir haar nie die gerief van ongeloof nie.