Verskeie ‘brille’ vir Bybellees

Kyk ook:

Die volgende het in Beeld, 15 September 2016 verskyn. Hierin is Cas Wepener, baie duidelik daaroor dat die Bybel vir hom ’n “kultiese boek” vol “mites” is. Cas Wepener is die hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Teologiese studente wat by hom studeer gaan baie moeilik ongeskonde daarvan afkom.

In NG teologiese skole progay lees ons dat die teologiese fakulteit van Stellenbosch openlik progay is. Volgens Fanie Snyman is die teologiese fakulteit van die Vrystaat ook progay. Dit is net oor Tukkies wat ’n mens nie ’n afleiding kon maak nie. Die feit dat Cas Wepener egter so openlik hierdie dwaallering verkondig, wys dat Tukkies ook ver heen is. Daar is werklikwaar geen NG teologiese fakulteit in Suid-Afrika oor wat Woordgetrou is nie.

********

Verskeie ‘brille’ vir Bybellees

Die Bybel hoort in die kerk en die erediens en nie in die slaapkamer nie, skryf Cas Wepener na aanleiding van die gaydebat in die NG Kerk.

Beeld

15 Sep 2016

Oor Skrifverstaan en Bybelinterpretasie is daar al soveel geskryf en geredeneer die afgelope eeue dat min mense nog energie daarvoor oor het.

Daar is ook tans heelwat mense wat so daaroor voel noudat die NG Kerk opnuut oor homoseksualiteit dink. Hierdie debatte, ook die gay-debat, is dikwels onverkwiklik en die gespreksgenote is nie noodwendig altyd ná die tyd op ’n beter plek as waar hulle begin het nie. Gewoonlik berus die verskille in standpunt op die uiteenlopende interpretasies van Bybeltekste.

Diegene wat ons baie help in hierdie gesprekke is Bybelkenners, geleerdes wat ingestudeer is in die oorspronklike tale en kulture van die Bybel, wat predikante en lidmate help met die interpretasie van hierdie ou en dikwels moeilike tekste.

Ek is nie ’n Bybelwetenskaplike nie, maar ’n liturgis en wil as liturgis ’n klein stuiwer in die armbeurs gooi. ’n Liturgis is iemand wat, soos die Ou- en Nuwe Testamentici die Bybel, reflekteer op die liturgie en erediens wetenskaplik oordink.

Dit beteken dat dit wat ons bestudeer veral neerkom op simboliek, op ritueel, op alles wat te doen het met die gevierde en uitgevoerde aspekte van godsdiens; die meer metaforiese en simboliese kant van die Christelike geloof soos byvoorbeeld eredienste, begrafnisse, lofprysing, hoe mense saam eet of selfs hoe vol simboliek die kuberruimte in ons eie dag is.

Hiermee in gedagte wil ek die redelik voor die hand liggende opmerking maak dat die Bybel in die eerste instansie ’n kultiese boek is. Daarmee bedoel ek die Bybel hoort in die eerste instansie in die liturgie of erediens en moet as sodanig geïnterpreteer word.

Wanneer die Bybel as kultiese teks in die liturgie oopgemaak, gelees, gesing, gebid en vanuit gepreek word, is die raam waarin die teks funksioneer ’n baie spesifieke simboliese ruimte en is die bril waardeur ons die tekste lees en die gehoorapparaat waardeur ons die tekste hoor, dié van ’n rituele ruimte. So ’n rituele ruimte is vir seker anders as die ruimte van ’n laboratorium of universiteitsbiblioteek of selfs ’n slaapkamer wat almal insgelyks vol is van ruimtelike simboliek.

Die tekste word in die erediens omgeef deur die klank van kerkmusiek, die reuk van ’n kerkgebou of dalk selfs brood en wyn, dit word beleef in die simboliese bedding van die drama van die erediens wat telkens weer die mites (stories) van God en die mens opvoer. Dit is die raam waarin ek glo die Bybel bedoel is om te funksioneer.

Hierdie oortuiging is die laaste paar jaar by my versterk wanneer ek Bybeltekste vir my kinders in hul slaapkamers voor slaaptyd lees.

Natuurlik is daar die glimlagte en genoegdoening by die aanhoor van die bekende en geliefde verhale, maar die teenoorgestelde is ook waar.

Daar is gereeld die fronse en skeptisisme wat die aanhoor van die verhale by hulle ontlok. ’n Mens begin skaars met die verhaal of die histories-kritiese vrae klink soos ’n klein kantory op van die kussings: “Dis vreeslik! Is dit regtig moontlik? Dr. André Bartlett van die NG Kerk se Hoëveldse sinode was verheug toe die NG Kerk verlede jaar besluit het gay pare kan in die kerk trou. Die besluit is later opgeskort nadat daarteen geappelleer is. klink onregverdig!”

Wanneer die voorlesing dan noodwendig onderbreek en vervang word met ’n les in eksegese (uitlegkunde), is dit vir my duidelik dat heelwat skade reeds aangerig is en ek eintlik net verder afsak in ’n moeras en dinge aan kinders sê wat ontoepaslik is op hul ontwikkelingsvlak. Telkens besef ek dat hierdie mites van die Bybel, soos alle mites, rites nodig het.

Omgekeerd is dit ook waar dat agter elke ritueel of liturgie of erediens ’n storie of mite skuilgaan, maar dit is juis daardie storie van die ritueel wat krities noodsaaklik is om die rituele stories van die Bybel in perspektief te plaas.

Ek is stewig gewortel in die Protestantse tradisie met die gepaardgaande klem op en waardering vir die belang van die Bybel.

Tog wonder ek al hoe meer of daar nie ook ’n foutlyn deur my eie tradisie loop nie en hier hang my onderrok as liturgis natuurlik nou baie laag uit.

Eerstens is ek natuurlik diep daarvan oortuig dat die erediens en alle vorme van simboliese handelinge nie die nodige waardering kry in my tradisie nie en dat die klem op die verstand en verstaan in ons godsdiens dikwels die misterie van die geloof ontluister.

Die voorlaaste woorde wat ons hoor voordat ons die nagmaal “vier”, is dan juis ook “dink daaraan”! En tweedens wonder ek of ’n kultiese boek buite-om die kultus werklik met die nodige respek hanteer kan word. Hiermee bedoel ek die kultiese of rituele of liturgiese raamwerk wat die erediens bied waarin die Bybel verstaan moet word.

Sodra ’n kultiese raam om die Bybel geplaas word, is die Bybel nie meer in die raam van die positivisties-wetenskaplike denkraamwerk van ’n laboratorium of hedendaagse biblioteek en keiharde eksegetiese benadering nie, maar in die raam van misterie en verwondering. Wanneer die lyk van die Leviet se byvrou van Rigters 19 in 12 stukke opgesny word terwyl ek die gedekte nagmaalstafel in die oog kan hou, met die doopvont daar naby en in die samekoms van die gemeente en die sfeer van die wolk van getuies, is dit anders as op die rand van ’n kindjie se bed.

Dieselfde geld insgelyks vir ’n broer wat die ander doodslaan, of mense wat ’n ander land afneem of ’n vloed wat menigtes laat verdrink en die rits tekste wat tans in die gesprek oor homoseksualiteit funksioneer.

Hiermee ontken ek nie die mondigheid van lidmate en die belang van die Bybel nie, inteendeel. Ek wonder wel of die mite nie in die raam van die rite moet bly indien ons werklik en met die nodige respek met die mite wil omgaan nie.

Is dit nie dalk nodig dat ons ook tuis, eintlik in alle ruimtes waar die Bybel gelees word, die nodige simboliese handelinge uitvoer, soos om ’n kers op te steek, voordat ons uit die Bybel lees nie? Selfs ’n kind verstaan die taal van simboliek, hulle sal dadelik besef dié Boek is nie sommer enige boek nie, ons lees dit wel anders. Prof. Cas Wepener is hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui