Kyk ook:
- Vrystaat Sinode 2023
- Ses opsies vir die NG Kerk Vrystaat (uit die agenda)
- Die algemene sinode se sterwensbegeleiding van die NG Kerk (Dubois du Toit, 23 Mei 2022)
- Vraelys aan predikante in die Oos-Kaap (2022)
Die volgende verslag is deur Dubois du Toit, verbonde aan NG gemeente Kestell, na aanleiding van die afgelope Vrystaatse sinode.
*******
Verslag van die buitengewone sinodesitting Vrystaat 18 April 2023
Dubois du Toit (snr), Kestell
10 Mei 2023
1 Inleiding
306 afgevaardigdes uit die 154 gemeentes het die sitting bygewoon. Nege (9) gemeentes het verskoning gemaak weens vakature van leraars en ander omstandighede, asook een (1) dolerende gemeente. Veertien (14) afgevaardigdes het voor die finale stemming geloop. Die agenda het in die vorm van ‘n erediens sy beslag gekry waarna daar toe vergader is in Ringsverband. Daar is die vraag aan Ringe gevra of die Sinode van die Vrystaat uit die verband met die Algemene Sinode moet tree (Art. 37). Reeds in daardie kleiner groepering was daar klaar sterk aanduidings dat meeste predikant en ouderlinge nie die verband wou verlaat of die aanbeveling van ‘n elfde sinode in welwillendheid sou goedkeur nie. Daar was die gewone retoriek waaraan ons nou al so gewoond is oor die jare heen, nl dat ons mekaar moet vashou, bly praat, dat ons eenheid groter as ons verskille is en dat ons saam moet soek na oplossings.
2 Stemming
Hierna het die Sinode oorgegaan tot stemming met ses (6) opsies voor hulle. Daar is Kerkorde kundiges van buite wat gemeen het dat dit nie kerkordelik reg is om oor ses opsies gelyk te stem nie, maar dat daar eerder vir elkeen apart gestem moes word totdat ‘n finale uitslag verkry is oor die opsie met die meeste stemme. Dalk sou ‘n ander uitslag so verkry word. Maar daar was nie meer tyd om so ‘n voorstel te maak nie en vanuit Behoudende kringe was daar nie ‘n spesialis kerkregkenner om die tegniese verloop van sake te bevraagteken nie.
Die uitslag van die eerste stemming was soos volg:
- Opsie A – 2
- Opsie B – 48
- Opsie C – 48
- Opsie D – 6
- Opsie E – 186
- Opsie F – 9
Opsie E, wat ‘n meerderheid van 66% (2/3 stemme) gekry het, bestaan uit 5 beskrywingspunte en twee teenoorstaande verslae waarmee met die AS in gesprek getree moet word, waaruit een gekies moes word. Die een verslag is korter, direk en stel ‘n sterk oproep tot verantwoording van die AS i.t.v. vorige kontroversiële besluite. Die ander een is langer met ‘n sagte opsomming en herbewoorde beskrywings van vorige verdelende “ruimhuis”-besluite van die AS met die versoek om net weer na hulle vertolking van besluite te gaan kyk, sonder enige werklike oproep tot herbesinning, of drastiese verandering t.o.v. spesifieke besluite. Daar is wel in Opsie E ‘n punt 5, wat dit moontlik maak dat indien daar geen positiewe reaksie van die AS was na die sitting in Oktober 2023 volgens Behoudende gemeentes nie, ‘n proses begin kan word vir gemeentes wat nie langer deel wil wees van die verband met die AS nie en dan ook uit die Vrystaat se kerk kan tree met behoud van alle bates, naam ens. (Beteken dit Art 37 deur in twee sinodes te verdeel in VS en dan Art 37 van die AS te neem? Dan sal dit in detail uitgeklaar moet word) Maar ingesluit in die punt lees ook: “mits alle lidmate dit goedkeur”, wat hindernisse wil lê voor Behoudendes. Dit sê dus nie duidelik soos Opsie D, dat die Vrystaat in twee vergaderings (sinodes) sal kan verdeel en dan die Vrygemaaktes kan Art 37 van die AS nie.
Die Opsie B, wat ‘n welwillende opsie was, het gevra dat VS die AS vra om ‘n elfde teologiese kategoriale sinode te skep deur Art 32 (geografiese band) te verander, waardeur die behoudendes dan vrywillig kan assosieer. Die doel was om vanuit die elfde sinode dan die AS tot Reformasie op te roep. Opsie B het (48) stemme gekry, en Opsie C, wat die Vrystaat se band met die AS wou losmaak dmv Art 37, het ook (48) stemme gekry. Opsie D, wat ‘n Vrygemaakte sinode binne die VS wou skep en dan die band losmaak, het (8) stemme gekry. Dus 104 afgevaardigdes (52 gemeentes) het behoudend gestem, maar toe gebeur ‘n baie interessante verwikkeling.
Toe daar vir die twee verslae (bylaag 18 en 19) gestem moes word by opsie E, was die verdeling heeltemal anders. Dit was feitlik gelyk, maw 137 stemme vir die sterker verslag (bylaag 18) en 149 vir die swakker verslag (bylaag 19). Daar het elf afgevaardigdes vroeër geloop, wat moontlik ‘n verskil kon maak, asook die tien gemeentes wat nie bygewoon het nie. Voorstelle is gemaak aan die vergadering om te stem vir beide ‘n meerderheid- en minderheidsverslag en hoewel die voorsitter dit genoem het as moontlikheid, is die sinode geboelie en gedwarsboom deur ‘n orde mosie van liberales op ‘n kritiek oomblik, wat slegs die meerderheidsverslag na die AS wou stuur.
3 Nabetragting
Hoewel dit nie ‘n wesenlike verskil in die keuse van Opsie E gemaak het nie, is die vraag: Waarom die eienaardige verdeling van die twee stemgeleenthede? As byna die helfte (48%) van die VS wel voel dat die AS sterker aangespreek moet word, maar tog nie uit die verband wil tree nie, kan dit beteken dat behoudendes (en baie draadsitters) die oortuiging het dat daar wel baie dinge verkeerd is in die NG kerk, maar dat by verre die meerderheid van hulle nie bereid is om die woord by die daad te sit en ‘n meer radikale optrede voor te staan nie, nl of om ‘n elfde sinode te gebruik om die AS op te roep tot bekering, of om die band los te maak met die AS deur Art 37 nie. Wat sou die rede wees vir die diskrepansie?
Dalk omdat baie behoudende leraars se kerkraad nie wil toestem tot radikale optrede nie, hoewel hulle dalk met sommige besluite kan saamstem, heelwat ouer leraars staan nader aan die einde van hul bedienings, hulle is gevestig in hul gemeenskappe en wil nie graag “stir” in hul gemeentes nie, want hul aftree-sekuriteit en bediening kan in die gedrang kom indien gemeentelede verdeeld raak of invloedryke, welgestelde lidmate bedank, waarvan sommige se kinders of familie gay is. Baie ouer leraars het nie die krag of tyd om hulleself op hoogte te bring met verdere studie om hulle teologies te kan verwoord teen alles in hierdie tydsgees verkeerd is met teologiese opleiding en die Liberale hermeneutiek wat die fondament geword het van ons kerk se teologie en belydenis nie en meeste behoudendes wil ook nie meer in liberale strukture betrokke raak in gevegte nie – hulle word in elk geval gekanselleer, verstoot, geïsoleer.
Baie van die ouer leraars is moeg geveg oor jare heen en het gesien dat sinodes eintlik baie moeilik omdraai as hulle eers op ‘n verkeerde pad is. Daar is baie min van die ouer leraars wat betrokke wil raak by behoudende akademiese VBO en om behoudende Gereformeerde teologiese opleiding te gaan probeer aanbied, want dit is heeltyd ‘n stryd.
Jonger leraars wil graag in ‘n sterk denominasie bedien met die hoop dat daar nog vir hulle ‘n toekoms is, en hulle is ook gevestig in hul gemeentes en gemeenskappe, het finansiële verpligtinge, kinders by goeie skole, eggenote het goeie betrekkings en het status in hul gemeenskappe, dien op verskeie liggame en rade van barmhartigheidsorganisasies. Daar is dus baie op die spel. Hulle kom meesal deur die “liberale” teologiese opleiding en het seergekry deur dosente en mentors in wie hulle vertroue verloor het en is baie keer geskok deur diegene se teologiese uitgangspunte en oortuigings wat al meer openlik dit verkondig. Hulle wil dus net ‘n gemeente-dominee wees wat werk in hulle konteks en nie betrokke wees in hierdie skaakspel nie. Daar kan ook nog ander faktore ‘n rol speel.
Of anders moet ons aanneem dat sommige van die behoudendes, meesal eintlik net op een verkeerde besluit van die AS fokus, nl die SGV besluit van 2019 en as dit net omgekeer word by AS 2023, dan het ons genoegsaam Gereformeer. As dit so is, kan dit amper herinner aan 1987 se APK skeuring oor swartmense, waar rassisme (ons hou nie van hulle) die oorsaak was en nou weer homofobie (ons hou nie van hulle nie). Wat van die hele aanloop tot 2019 se SGV besluit en die ander kontroversiële besluite, nl die sogenaamde “ruimhuis”, wat geskep is deur 2002 en 2004 se kontroversiële besluite oor Skrifgesag en -beskouing? Wat van teologiese opleiding wat die hele NG kerk in die Liberale moeras ingestuur het? Wat van Droom Scenario 2030, waarvan meeste Behoudendes skaars bewus is?
Of ons moet aanvaar dat baie behoudende leraars nie werklik ‘n benul het van die reuse omvang van hoe ver die AS se liberale invloed op die NG kerk gevorder het en alles infiltreer het nie – die AS, elke streeksinode, taakspanne, sinodale strukture, teologiese opleiding, en gemeentes.
4 Die groot onbekende faktor – Droom Scenario 2030
Verreweg die meeste leraars en gemeentes is nie ingelig of weet van die bestaan van die sogenaamde Droom Scenario 2030 nie. Die AS het dit in 2019 onopmerklik goedgekeur in ‘n verslag oor kerkverband tussen ander sake wat nie die oog getrek het met al die emosie tydens die SGV besluit nie. Indien iemand moeite gaan doen het en daardie verslag bestudeer het, en so ook die afgelope 4 jaar se ASM vergaderings se agendas, sou dit duidelik wees dat DS 2030 die totale fokuspunt is van die AS en by verstek dus die hele NG kerk (en vele ander denominasies) se visier daarop ingestel het.
Die hele “ruimhuis”-beginsel het juis sy beslag gekry, omdat daar sedert die (1990’s) negentiger jare baie groot krake gekom het in die NG kerk se Gereformeerde Skrifbeskouing as grondslag en teenvoeter vir die tydsgees wat posgevat het in ‘n nuwe demokratiese land met die liberaalste grondwet in die wêreld. Die Teologiese opleiding wat voortaan by sekulêre universiteite met ekumeniese fakulteite sou plaasvind, was die voertuig wat DS 2023 sou verwerklik, saam met die besluite van 2002 en 2004 wat dus die deur oopgemaak vir al die kontroversiële ruimhuisbesluite wat oor twee dekades geneem is.
Met elke Algemene sinodesitting is die grense verskuif na ‘n meer en meer liberale Skrifbeskouing oppad na die Utopia van DS 2030 waar sending (uniekheid van Christus) nie meer gaan bestaan nie, wel Missionale Diakonaat en universalisme, onder beheer van die Grondwet met menseregte waar sonde nie meer aangespreek sal mag word nie. Telkens is daar net ‘n effense tree terug gegee om behoudendes te kalmeer, maar uiteindelik is die doel van die liberale element in die NG kerk om alles te verander volgens DS 2030 se merkers.
5 Algemene sinode Oktober 2023
Wat staan ons te doen as Behoudendes in die Vrystaat Sinode? Daar is so ‘n vloedgolf besluite wat gaan deurkom met die AS dat ons glad nie gereed gaan wees daarvoor nie. Sekere sake is teruggehou in 2019 om nie die skokke te groot te maak nie, waarvan aborsie bv een is. Baie geld, tyd en navorsing is hierin gesit sodat wanneer dit na die streeksinodes afgewentel gaan word vir besluitneming, geen sinode gereed gaan wees met ‘n behoudende teenvoeter nie en dit sal ook deur die inklusiewe ruimhuis goedgekeur word. Die afgelope 20 jaar se behoudende AS afgevaardigdes kon nie die liberale stroom stuit nie. Die AS is onrehabiliteerbaar, want radikale reformasie beteken radikale bekering van die kerk terug na die vyf SOLAS, die Skrif en Belydenisskrifte – en DS 2030 wil juis afskeid neem van die Gereformeerde, ekslusiewe verlede.
Wat dus oorbly, is om te probeer om vry te kom van die AS op die enigste kerkordelike manier wat nog oorbly, nl deur beskrywingspunte van individuele gemeentes. Die VS se Opsie E stel geen verantwoordelikheid aan die AS nie. Dit is nie bekend of enige ander streeksinode, behalwe dalk Namibië, enige vereistes gestel het aan die AS tydens hul streeksinodevergaderings nie. Oostelike sinode gaan die AS vra om ook in twee sinodes te verdeel en dan Art 37. Maar die AS kan dit alles van die tafel afvee, soos in die verlede. Wat dan?
6 Moontlike weg?
Na die AS in Oktober 2023 verby is, as daar geen ligpunt of oplossing is vir Behoudendes nie, kan die Vrystaat se Behoudendes volgens punt 5 van Opsie E die VSM vra, (dmv genoeg beskrywingspunte van gemeentes?), om vrygemaak te word dmv Art 37. Dit beteken Opsie D sal moontlik in werking kan tree. Taakspanne sal aangestel moet word wat die Uittree-scenario voorberei. Maar dit sal weereens getoets moet word by ‘n Buitengewone sitting (wat gevra sal moet word van die Moderamen vir 2024, anders dan eers by ‘n gewone sitting in 2025) om genoeg stemme te kry daarvoor. Dit kan beteken dat die Vrystaat in twee sinodes deel en dan maak die Vrygemaakte sinode dmv Art 37 die band los van die AS. Die proses kan nog ‘n paar jaar duur.
Maar ‘n ander voorstel is dat Behoudendes tegelyk die een doen en die ander nie nalaat nie. Almal wat so gelei voel, word deel van die Koinonia Sinode, wat die weg voorberei om weg te doen met die AS en dus ‘n kerk te skep wat weer reformeer terug na ons Gereformeerde wortels. Op 3-4 Mei 2023 konstitueer die Koinonia Sinode en dan sal baie dinge duidelik begin raak wanneer die groter Behoudende groep in die NG kerk saam gaan werk tot Vrymaking van die AS.
Dus, op mikrovlak kan Behoudende gemeentes in die VS en ander sinodes dmv beskrywingspunte die AS probeer oorreed om d.m.v Art 32 te wysig, ons geleentheid te gee om ‘n teologies kategoriale sinode te skep deur welwillendheid. Daar kan dalk beskrywingspunte van Streeksinodes inkom wat soortgelyke voorstelle maak. As daar geen reaksie of oplossing kom by die AS nie, dan beweeg ons oor na Opsie E se punt 5 om ‘n proses van verdeling in die VS te begin om Vrygemaak te word.
Op mesovlak sal daar tegelyk ten volle saamgewerk moet word met die Koinonia Sinode om die weg voor te berei om ‘n selfstandige kerk te word wat tydelik in verbintenis met die AS en streeksinodes in die NG kerk is, en dan om uiteindelik die band met die AS afsny. Eie teologiese opleiding sal ontwikkel moet word, strategie met beroeping, finansies, leraars se traktementsekuriteit, volhoubaarheid ens. sal alles uitgewerk moet word.
Op makrovlak sal ‘n langtermyn strategie (Droom Scenario) teenoor AS se DS 2030 deurgebid en gepraat moet word, agv snel krimpende lidmaatgetalle, gemeentes wat toemaak vs kreatiewe gemeente vorme, kerkstrukture, min/geen jongmense wat teologie wil swot, veroudering van kerk (baie min jongmense), fokus op teologiese opleiding en akademiese volhoubaarheid itv opleiding en dosente, samewerking met ander behoudende denominasies, toerusting van lidmate itv dissipelskap, sending en evangelisasie, ens.