Kyk ook:
Kyk ook die artikel onderaan in reaksie op Wilhelm Jordaan se artikel.
Beide die skrywers wil lyk my metafories aan God dink.
*******
Vir gelowige is oerknal soos om God te sien | Netwerk24
Deur Wilhelm Jordaan
12 April 2017
Wat bedoel mense wat sê geloof is om verwondering oor die moontlikheid van ’n God te hê?
Sommige meen dit is om met nuwe oë na alles te kyk asof jy dinge vir die eerste keer raaksien; en om dan in ’n toestand van durende vervoering te leef. Ander voel dit behels ’n ekstatiese belewenis; iets wat net soms gebeur – soos wanneer jy oorweldig word deur verruklike skoonheid.
Nog ander reken verwondering word deur gevoelens van gelyktydige eerbied en ontsag gedra; emosie wat jou in die gemoed “beweeg” – soos die Latynse woorde “emotus” en “movere”, en die onuitspreekbare Hebreeuse JHWH (Jahwe) te kenne gee.
Ook die eeue oue Christelike kerklied “Hoe groot is U” werk met die beweegkrag van gelyktydige eerbied en ontsag: “O Heer my God, as ek in eerbied wonder / en al U werke elke dag aanskou . . .” Eerbied en ontsag word hier gewek deur ’n meesleurende, byna weemoedige melodie en beeldryke liriek oor die skepping. Dit is wat musiek en poësie soms aan ’n mens doen.
Wat onderskat word, is hoe wetenskap verwondering kan voed; nie as ’n bewys van God se bestaan nie, maar as die feitelike grondslag van ’n uitkringende spiraal van verwondering. Sulke kennis hoef nie ’n streep deur godsdiensverhale te trek nie. Ook nie deur die musiek, kuns, letterkunde en poësie oor die dinge van God nie.
Wetenskap vertel ’n ánder verhaal: dat die kosmos 13,8 miljard jaar gelede ’n beginpunt had, toe tydruimte in die allerkleinste fragment van ’n oomblik dáár was, toe die dag sonder ’n gister gebore is. George Smoot, ’n medewenner van die Nobelprys vir fisika, beskou dié oomblik as die punt van uiterste eenvoud toe “iets” uit “niks” gevorm is.
Oor die oerknal is daar nog talle ongetoetste én ontoetsbare wetenskaplike hipoteses, sê hy. Soos: Wat was die niks waaruit die iets gekom het? Waarom het dinge juis só gebeur en nie anders nie? En voeg dan by: “Vir ’n gelowige is die oerknal soos om God te sien.”
Smoot reken jy het dan ’n keuse oor hoe jy die oerknal wil verstaan. Enersyds kan jy sê tydruimte se ontstaan was ’n blote toevalligheid. So ook die byeenbring van die bestanddele van die sterrestof waaruit die mens gekom het. Maar dit alles is tans nog onbewysbaar.
Andersyds, en ewe onbewysbaar, kan jy reken die ganse kosmos word onderlê deur ’n fundamentele spirituele “kode” wat aan alles uit die oerknal se nágloed ’n gerigtheid, ’n plek, simmetrie, skoonheid en ’n ontvouende orde gee. En dat ’n mens, gelowig én met verwondering, dié kode “God” kan noem. Só word “God” ’n onbevatlike dog singewende metafoor.
Aanvaar ’n mens dít, vul stories, poësie, musiek, kuns en wetenskap mekaar aan én laat jou toe om met verbeelding te sê die oerknal is “God” se kosmiese liefdeskreet waarmee alles wat is in aansyn geroep is.
*******
Liefde maak God ’n werklikheid | Netwerk24
Outeur onbekend
13 April 2017
Wilhelm Jordaan bevestig in “Vir gelowige is oerknal soos om God te sien” (12.04) die moderne wetenskap-georiënteerde gelowige se belewing van God se teenwoordigheid in Sy skepping.
Van die vroegste tye in sy bestaan af het die mens verwonderd gestaan oor die onbeskryflike wonder van iets groots agter die prag van die skepping. Inderdaad het die mens van gister die Goddelike teenwoordigheid in homself en in die waarneembare rondom hom beleef. So het sy geloof in God ontstaan en ontwikkel. Tot vandag toe kon niemand egter die Goddelike teenwoordigheid fisiek waarneem en in poësie of ander skeppinge van sy eie vergestalt nie. Ook die wetenskap kon dit tot nog toe nie doen nie.
Jordaan se bespiegeling van “God” as ’n verwonderingswekkende, metaforiese, spirituele kode maak uit ’n wetenskaplike perspektief egter groot sin, veral sy slotbyvoeging dat wat ons “God” noem, in die oerknal gestalte gegee het aan die liefdesbeginsel waarop die hele skepping berus: die in ag neem van mekaar vanaf mensies op ons aardetjie tot planete en verre heelalle wat mekaar se natuurwetlike wentelbane respekteer om balans in die skepping te handhaaf. So word die metaforiese “God” ’n werklikheidsbelewing.