Vrae aan Kairos Netwerk

Agtergrond

Ek, Daniel Louw, het op 14 Julie 2022 negentien vrae aan die Kairos Netwerk gestuur. Meer as drie maande later, op 25 Oktober 2022, het Kairos Netwerk hulle antwoorde aan my gestuur. Hierdie antwoorde is direk na my vrae ingevoeg, gemerk met [KN: …].

My reaksie op Kairos Netwerk se antwoord volg daarna met [Daniel: …]

********

Vrae aan Kairos Netwerk

Aan: Kairos Netwerk

Van: Daniel Louw

Datum: 14 Julie 2022

[KN: Beste Daniel, dankie vir jou vrae.

Hoewel die trant van hierdie vrae en die wyse waarop dit ook elders gepubliseer was, nie die styl is waarop Kairos gesprek voer nie, probeer ons tog om in nederigheid en liefde te antwoord. Ons vertrou dat jy dit ook in hierdie selfde gesindheid aan die WhatsApp groepe en webwerwe sal deurgee waar die vrae reeds gepubliseer was.]

[Daniel: Sommer met die intrapslag word die morele hoëgrond ingeneem: Daar word duidelik aan my gesê dat “die trant” van my vrae in swak styl was, maar dat ons, die Kairos Netwerk, dit Christelik (in nederigheid en liefde) sal antwoord, want ons is die geestelike volwassenes in hierdie verhouding.]

Doleansie

  1. Hoe kyk Kairos Netwerk (KN) se leierskap na doleansie: is dit slegs ’n tydelike doelwit of kan dit ’n langtermyn strategie word? Met ander woorde, dat dolerendes bloot meer en meer hulle eie ding doen en stadig maar seker “weg raak”. Amptelik is hulle steeds deel van die NG Kerk, maar nie in praktyk nie.

[KN: Doliansie is nooit bedoel om permanent te wees nie.

Die dolerende gemeentes is steeds amptelik deel van die NG kerk. Dit is juis waarom hulle doleer omdat hulle treur oor die toestand van die NG kerk, maar hulle wil nie die kerk verlaat of skeur nie. Hulle roep so veral die AS as beleidmakende sinode van die NG Kerk tot bekering deur te doleer. KN gee geen voorskrif vir gemeentes oor hoe en hoe lank hulle moet doleer nie. Elke plaaslike gemeente is volledig kerk (ecclesia completa) maar tog nie alleen kerk nie. Elke gemeente neem dus selfstandig besluite soos die Hoof van die Kerk hulle lei deur Sy Woord en Gees. Ons respekteer hulle besluite en ondersteun hulle sover ons kan.]

[Daniel: Die beginsel dat die plaaslike gemeente volledig kerk is, is glad nie so ‘n eenvoudige kwessie. Dit word later in hierdie dokument weer bespreek.]

Huidige opsies

Behoudendes binne die NG Kerk het basies slegs drie opsies:

  • Opsie 1: Draai die NG Kerk om. Dit sal impliseer dat liberales self loop omdat hulle te veel druk ervaar of selfs geskors word as predikante in die NG Kerk.
  • Opsie 2: Behoudendes verlaat die NG Kerk.
  • Opsie 3: Leef saam binne een denominasie en maak ruimte vir mekaar.

[KN: Geen mens kan die NG Kerk (ook nie die EGK waarvan jy lidmaat is) “omdraai” nie. Omdraai is bekering en dit kan Christus wat Hoof van die Kerk is alleen doen deur die werking van die Heilige Gees.

Daar bestaan in hierdie bedeling geen kerk op aarde, wat nie ook huigelaars binne die kerk het nie. Selfs in die Bybel was daar nie een gemeente wat nie ook huigelaars gehad het nie. Daarom is reformasie en kerksuiwering ’n voortdurende proses wat in hierdie bedeling nooit heeltemal afgehandel sal wees nie.]

[Daniel: Die feit dat ek tans in die EGK is, het niks met die prys van eiers te doen nie. Ek noem dit spesifiek, want dit is niks anders as ’n persoonlike aanval nie – met ander woorde, die man word gespeel en nie die bal nie. Ad hominem. En daar kom nog baie in hierdie dokument.

Natuurlik het elke kerk huigelaars. Die probleem is wanneer die huigelaars in die meerderheid is. Moet jy dan steeds net aanbly en hoop dat jy (of God) hulle sal omdraai? Ten spyte van al die Bybelverwysings wat sê dat jy jou moet afskei van hierdie mense? Kyk Onttrek jou van goddeloses en dwaalleraars en Die Bybel oor dwaling/4.

En dan is daar ook vlakke van huigelary. Om verskille oor byvoorbeeld die doop en eskatologie te vergelyk met selfdegeslagverhoudings en die bestaan van die duiwel is om druiwe met waatlemoene te vergelyk.]

Opsie 1: Om die NG Kerk om te draai

  1. Die Kairos Netwerk leierskap gebruik tans terme soos “radikale reformasie”, “van binne hervorm” en “wie moet loop: die inbrekers of die wettig eienaars?”. Dit skep die indruk dat KN wil poog om die NG Kerk stadig maar seker om te draai deur NG lidmate in te lig en hulle tot aksie te roep om saam die NG Kerk te probeer omdraai. Is dit korrek? Indien nie, wat beteken hierdie woorde prakties?

[KN: Ons kan niemand omdraai nie, slegs God kan. Verder is die kerk nie iets anders as die lidmate nie. As die lidmate draai dan draai die kerk. Net soos wat kerkverval ’n proses is wat nie skielik net in een dag gebeur nie, so is reformasie ook ’n proses wat gewoonlik baie tyd vat en nooit heeltemal voltooi is nie. So is die heiligmaking ook in elke gelowige se lewe ’n lewenslange proses.]

[Daniel: Die vraag word nie baie duidelik geantwoord nie, maar ’n mens aanvaar dat die antwoord “ja” is: KN glo dus dat dit beter is om binne die NG Kerk te bly en eerder te probeer om die NG Kerk van binne te hervorm/omdraai.

Die afgelope streeksinodes (Vrystaat, Namibië, Noord-Kaapland en Goudland) het egter gewys dat die argument van “inbrekers” en “wettige eienaars” nie meer geld nie – kyk Wettige eienaars van die NG Kerk?. Om dus te bly totdat die kerk omdraai is onrealisties. Ek kan nie help om te dink dat dit ‘n passiewe benadering is nie.]

  1. Is dit so dat die NG Kerk slegs by die algemene sinode omgedraai kan word?

[KN: Nee, die Algemene Sinode is nie kerk nie. Dit is ’n vergadering van kerke. Reformasie is bekering en bekering begin in mense se harte. Met elke lidmaat binne die kerk wat tot bekering kom is die kerk een tree nader aan radikale reformasie. Die huidige Algemene Sinodale strukture is egter ’n groot struikelblok op die pad van bekering/reformasie aangesien die gemeentes en lidmate nie daar waar beleidsbesluite geneem word sitting het nie.]

[Daniel: Hoekom staan daar dan in Kairos Netwerk Nuusbrief – 27 Nov 2020: “Omdat die geskil met die AS is kan niemand (nie die ASM, ATR, AKLAS of die voorsitter van die ASM) die geskil namens die AS oplos nie. Slegs die AS, want die geskil is met die AS”. Kyk ook 5 Feb 21 en 26 Feb 21.

Byvoeging (7 Mei 2023): Ook in die agenda van die Koinonia Sinode 2023, word die volgende stelling gemaak: “Daar is eintlik net een vergadering wat die verkeerde en omstrede besluite van die AS kan regstel of herroep, en dit is die AS self.”

Die Algemene sinode ís in effek die NG Kerk. Die Algemene Sinode bestaan uit verteenwoordigers van regoor die land en die struktuur is so ontwerp sodat gemeentes so goed moontlik by die AS verteenwoordig word. Elke sinode word deur oorwegend nuwe afgevaardigdes bygewoon juis om te verseker dat dit almal verteenwoordig word. Dit help dus nie om die struktuur van die NG Kerk die skuld te gee nie. Indien die struktuur die probleem was of indien daar grootskaalse manipulasie tydens sinodes geskied het, sou ’n mens kon redeneer dat daar baie meer gemeentes sou doleer.

“You can fool all of the people some of time; you can fool some of the people all of the time, but you can’t fool all the people all the time.” ~ Abraham Lincoln in The New York Times, 27 Augustus 1887.

Op die oomblik is daar maar slegs 94 uit meer as 1000 gemeentes wat doleer. Dit is minder as 10%.

KN sê: “Met elke lidmaat binne die kerk wat tot bekering kom is die kerk een tree nader aan radikale reformasie.”

Absoluut so, maar met elke behoudende lidmaat wat die kerk verloor, is dit ’n tree terug en ek dink die NG Kerk verloor vinniger behoudende lidmate as wat lidmate “tot bekering” kom. Verder, behoudende jong Christene kies al hoe minder om by die NG Kerk in te skakel. Dus verloor die NG Kerk nie net bestaande behoudende lidmate nie, maar verloor hulle ook potensiële behoudende lidmate.]

  1. Indien mens die NG Kerk by die AS wil omdraai volgende jaar (Oktober 2023), hoe sal so ’n roete tipies lyk? Verwys asb na onder andere die volgende:
    1. Kennis van revisie
    2. Wie gaan die beskrywingspunt(e) opstel?
    3. Wie gaan die beskrywingspunt tydens die AS aanbied en verdedig?
  1. Indien daar ander opsies is om die NG Kerk om te draai, noem dit asb.
  1. Daar is baie wat glo dat die meerderheid lidmate in die NG Kerk behoudend is en teen die 2019-besluit oor SGV is. Hoekom word daar nie ’n referendum gehou en dan daarvolgens besluit nie?

[KN: Weereens redeneer KN nie so humanisties nie. Slegs die Here kan ’n AS omdraai. Hy doen dit op verskeie maniere waarvan sommige vir ons te wonderbaar is om eers aan te dink. Hy begin gewoonlik nie by strukture nie maar deur mense binne die kerk se harte te verander.]

[Daniel: Vraag 4 word glad nie beantwoord nie, omdat Kairos Netwerk baie duidelik nie die realiteit in die oë wil staar nie. Instede daarvan eis hulle die morele hoëgrond op deur bloot te redeneer dat hulle hul vertroue in God stel om die NGK om te draai.

Dit is dieselfde as om die lot van ’n terminale kankerpasiënt te ontken: alle kennis en ervaring dui daarop dat daar aanvaar moet word dat die persoon gaan sterf, maar steeds kies die familie om te glo dat God die geneser is wat kan (sal?) genees. Almal wat dan nie hulle “geloof” het nie, word afgemaak as kleingelowig.

Dit herinner ook sterk aan Sodom en Gomorra: Abraham het vir Sodom en Gomorra gepleit, maar Lot moes die stad verlaat (skeur), want God het besluit om Sodom en Gomorra te vernietig.

Dit herinner ook sterk aan die teenstand wat Jeremia gekry het toe hy die oordeel oor Juda aangekondig het (Jeremia 20, 28). Daar was waarskynlik baie profete wat met baie vroom argumente gekom het en geredeneer het dat God hulle land vir ewig aan hulle belowe het, maar tog wou God hê dat hulle in ballingskap moes ingaan. Daar was ook waarskynlik baie mense wat aan God getrou was wat gehoop het dat Juda eerder terug na God sou draai en nie wou aanvaar dat hulle hulself aan Nebukadneser moes oorgee en vir 70 jaar in ballingskap weggevoer moes word nie.]

[KN: Verder:

Elke vergadering van die Algemene Sinode is daar wisseling van afgevaardigdes. Dus lyk elke vergadering anders. Tussen sinodale vergaderinge is daar taakspanne – (bestaande uit mense wie se harte kan verander) – wat verslae opstel wat hulle voor die sinode moet lê vir goedkeuring. Vooraf gesprekke, voorleggings en onderhandeling met sulke taakspanne kan ook groot bydrae tot refomasie lewer. Verkiesing van ander moderature maak ook n groot verskil; indiening van gravamena kan ’n rol speel ens. Ens.]

[Daniel: Die feit dat elke AS uit ander verteenwoordigers bestaan, maak dit erger. Dit beteken dat elke AS uit ander mense bestaan wat die geleentheid gehad het om die liberale stroming in die NG Kerk te keer, maar elke sinode sedert 2000 het net meer en meer liberale besluite geneem (AS2016 was ’n kortstondige uitsondering). Die struktuur is nie die probleem nie – die mense is die probleem.]

[KN: Reformasie begin dus nie by die AS se vergadering nie, maar nou reeds elke dag hier in gemeentes en ringe en sinodes. Reformasie is ook nie afgehandel wanneer die Algemene Sinode verdwyn of tot bekering kom nie. Die huidige AS is tans wel ’n groot hindernis op die pad van reformasie in die NG Kerk, daarom moet sterk gefokus word op bekering of verdwyning van die AS.]

[Daniel: Daar is so pas gesê dat die verteenwoordigers van die AS met elke byeenkoms wissel, dus word die AS goed verteenwoordig deur gemeentes reg oor die land. Wie moet dus tot bekering kom? Dit maak glad nie sin nie. Om die AS te ontbind, sal ook net in groter chaos ontaard – kyk Dit help nie om algemene sinode te ontbind.]

[KN: Wat die gedagte van ’n referendum aanbetref : Die kerk is nie ’n politieke party waar slegs stemme getel word nie. Die kerk is ook nie ’n demokrasie nie, maar ’n Teokrasie. Al sou die meerderheid van die kerk ’n saak goedkeur beteken dit nie dat die Bybel dit goedkeur nie. As dit teen die Skrif is, bly dit ’n onwettige besluit selfs al sou 80% in ’n referendum daarvoor stem. Dit word ook bevestig deur ons Kerkorde Artikel 23.1

“Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien Artikel 1 en 2).”]

[Daniel: Ek is self nie ten gunste van ’n referendum nie, maar:

1. Dit is nie sinvol om te redeneer dat die kerk nie ’n demokrasie is nie, maar ’n teokrasie. Veronderstel die AS moet besluit oor die vrou in die amp, hoe gaan hierdie argument van ’n teokrasie help? Hoe moet ’n sinode dit hanteer? Beide partye glo dat hulle standpunte oor die kwessie Bybels is.

2. Indien ’n referendum gehou word moet in elkgeval mooi besin word oor die vraag waaroor gestem word. Die vraag is nie: “Is jy persoonlik ten gunste van selfdegeslagverhoudings?”. Die vraag waarop besluit moet word is: “Is jy ten gunste daarvan dat daar ruimte gelaat moet word vir mekaar in die NGK vir verskillende opinies oor selfdegeslagverhoudings?” Die uitslag van die vraelys aan predikante in die Oos-Kaap wys dalk moontlik wat die resultaat van so ’n referendum sal wees. Daarom dink ek nie eers dat ’n referendum noodwendig sal help nie.]

  1. Op watter stadium sal KN erken dat die NG Kerk nie meer omgedraai kan word nie.

[KN: Wanneer en indien die Here ons daartoe oortuig, nie wanneer persone wat self buite die NG Kerk sit en ons lidmate probeer manipuleer om die kerk te skeur so besluit nie. Gaan vra maar vir die ongelowige spotters Tobia en Sanballat (Neh 4). Hulle het ook smalend gespot toe die Here vir Nehemia geroep het om die mure van Jerusalem te herbou. Hulle het selfvoldaan gespot en gesê: “selfs al sou ’n jakkels teen daardie mure spring sal dit omval”. Tog het die Here Nehemia gebruik om mure wat in die oë van die spotters onherstelbaar was te herbou. Die ongelowige spotters se missie was om te breek nie om te bou nie.]

[Daniel: Weer ’n persoonlike aanval. Nou word ek met die spotters, Tobia en Sanballat vergelyk. Nog nooit was ek smalend nie. Ek vra nou al vir amper drie jaar hoe die Kairos Netwerk die NG Kerk wil omdraai, en al antwoord wat ’n mens kry is: “Vir die Here is alles moontlik.” In ’n mate wil ek begrip daarvoor hê dat dit die persepsie is oor my, maar ek verkies om te glo dat ek objektief na die feite kyk en tot die mees realistiese gevolgtrekking kom. Dit gaan nie daaroor om mense te oortuig om te skeur nie, maar dit gaan daaroor om mense te wys wanneer hulle ’n verkeerde rigting (in my oë) inslaan. Die feit dat ek buite die NG Kerk staan, gee my dalk selfs ’n meer objektiewe perspektief.

En verder weet ons dat God baie duidelik vir Nehemia gesê het om die muur te bou. Is die KN oortuig dat God vir hulle gesê het om te bly en te veg binne die NG Kerk? Ten spyte daarvan dat die Bybel sê dat jy jouself moet onttrek van hierdie mense?]

Opsie 2: Verlaat die NG Kerk

  1. Die KN leierskap het hulleself al in die verlede baie sterk uitgespreek teen kerkskeuring.
    1. ‘n Moontlike definisie vir kerkskeuring is wanneer ’n groep lidmate op georganiseerde wyse hulle denominasie verlaat en ’n nuwe denominasie of struktuur stig. Dit is wat die APK en die ARC (Alliance of Reformed Churches) byvoorbeeld gedoen het. Is dit ook KN se definisie van kerkskeuring?
    2. Hoe dink die KN oor wegbreek/skeuring. Is dit ’n praktiese opsie of sien die KN dit as ’n sonde wat ten alle koste vermy moet word?

[KN: Natuurlik kan daar ’n tyd kom wat die Here iemand lei om ’n ander geestelike tuiste te vind. Indien die persoon of persone dit met ’n skoon gewete voor God kan regverdig en nie van almal verwag om ook selfde te doen nie, respekteer ons hulle en het ons nog altyd in groot vrede en liefde met sulke gelowiges saam geleef en saam gewerk. Dit is egter totaal iets anders as iemand die kerk verlaat en dan op ’n sektariese wyse almal veroordeel wat nie dieselfde doen as hy nie. As iemand gelei word om sy kerk te verlaat omdat daar dwaling binne die kerk is, moet hy natuurlik ook eers seker maak dat hy dit nie maar net verruil vir ander dwalinge by sy nuwe kerk nie. Enige dwaling is ’n vervalsing van God se Woord, en dus sonde.]

[Daniel: Weereens ’n verwysing na my wat buite die NGK staan en kwansuis veroordeel. Verder is dit interessant dat die KN sal verstaan as gemeentes sou wegbreek, maar dit lyk nie of dit vir KN ooit ’n opsie sal wees nie.]

  1. Die Hervormde Kerk het onlangs ’n skeuring beleef. Die wegbrekers het hulleself eers die SteedsHervormers genoem en staan nou bekend as die Geloofsbond van Hervormde gemeentes. In Maart hierdie jaar het die wegbrekers ’n hofsaak teen die Hervormde Kerk gewen – die hof het bepaal dat die gemeentes wat weggebreek het hulle bates kan behou.
    1. Het die KN al ondersoek ingestel om te bepaal of dit ook vir NG gemeentes sou kon geld indien hulle sou wegbreek?
    2. Indien KN nog nie ondersoek ingestel het nie, hoekom nie?

[KN: Let wel: Die Geloofsbond beskou hulleself nog steeds as Hervormde gemeentes (SteedsHervormers). Hulle het nie hul rug gedraai op hul eie lidmate nie, hulle vergader steeds in dieselfde kerkgeboue en hou steeds gereelde eredienste op selfde wyse as al die jare, en sit dieselfde bediening voort. Al wat gebeur het is dat hulle nie meer inskakel by die ou meerdere vergaderinge (sinodes) wat (volgens hulle) afgedwaal het nie. Die woord “wegbrekers” moet dus gekwalifiseer word as mens hulle so wil noem. As ons bv ’n sinode kry wat ’n Artikel 37 besluit neem dan is ons ook nog in alle opsigte NG Kerk maar nie meer gebind aan Algemene Sinode nie. Ons breek wel weg van die Algemene Sinode maar nie van die NG Kerk nie.]

[Daniel: Hierdie is uiters vreemd om te probeer redeneer dat die Geloofsbond van Hervormde gemeentes (GHG) nie eintlik geskeur het nie. Wat is dan die rede dat die Hervormde kerk die GHG hof toe gevat het? (Kyk Kerk gaan appelleer teen uitspraak oor bates van wegbrekers.) As die GHG nie geskeur het nie, is die vraag of die APK dan van die NGK geskeur het? Die idee was tog nog altyd dat dolerende/behoudende gemeentes as gemeente moet wegbreek van die NG Kerk en dus nie “hulle rug op hulle eie lidmate draai nie”.]

[KN: Ja, Kairos is tenvolle op hoogte van die implikasies wat “wegbreek” vir ’n gemeente het. Daaroor kan jy rustig wees. (Het die nuwe administrateur van “Ek Doleer” of sy groep al so ’n studie gedoen? Indien nie, hoekom nie?)]

[Daniel: Baie interessant. Wanneer het Kairos dit uitgevind? Dit was duidelik dat hulle dit nie voor die FGG geleentheid (21-22 Julie 2022) geweet het nie. Indien die Kairos Netwerk dit nou onlangs uitgevind het, hoekom so ’n meerderwaardige houding inneem? En wanneer beplan hulle om dit te kommunikeer aan die lede van die Kairos Netwerk? En hoekom moet die nuwe administrateur van die Whatsapp groep “Ek Doleer” (wat ek is), so ‘n studie doen? Die KN leierskap is in ‘n baie beter posisie om so studie te doen.]

  1. Laat KN ruimte vir die gedagte dat behoudendes die NG Kerk sal moet verlaat omdat God vir hulle iets beters in gedagte het?

[KN: Ons respekteer elkeen se besluit mits hy/sy met ’n skoon gewete oortuig is dat die Here so lei. Ons het egter geen respek vir mense wat nie kan insien dat ander mense soms soos Nehemia geroep en gelei word om van binne te werk en te bid vir kerkreformasie nie. Ons het ook geen respek vir mense wat hulleself doelbewus blind hou vir dwaalleer wat hulle ook in eie geledere koester nie. Hulle is gewoonlik ook blind vir die feit dat die Heilige Gees tog nog kragtig binne verskillende gemeentes van die NG Kerk werk.]

[Daniel: Eerstens word die vraag nie regtig beantwoord nie. Die regte antwoord is: “Baie beslis! Ons sal gaan waarheen God ons lei.”

Tweedens is hierdie weereens ’n onnodige aanval op my. Ek moet dus aflei dat die KN geen respek vir my het nie omdat ek smaled spot met mense wat die eerbare ding wil doen en die kerk wil omdraai eerder as om net te loop. My persepsie is ook dat sommiges in die Kairos Netwerk krampagtig aan die NG Kerk vasklou ongeag wat. Onthou, die NG Kerk is bloot ’n mensgemaakte struktuur. Dit is nie “die kerk van Christus” nie.]

Opsie 3: Leef saam binne een denominasie

In 2010 wou Juanita du Plessis nie tydens Huisgenoot se Skouspel ’n verhoog met Jack Parow deel nie. Nadat sy ’n CD van Parow geluister het, het sy “geweet Skouspel se plan vir ’n gospel-oomblik met die Onse Vader gaan nie werk saam met Parow op dieselfde verhoog nie.” Op die ou einde het Skouspel hulle uitnodiging aan Parow onttrek. Oor die algemeen steun behoudendes Du Plessis se destydse optrede baie sterk. Daar is ’n sterk ooreenkoms tussen hierdie insident en die huidige situasie in die NG Kerk: Behoudendes (dolerendes) kan nie ’n verhoog (NG Kerk denominasie) met liberales deel nie. Dit is ook ’n Bybelse opdrag. In 1 Korintiërs 5:11 sê Paulus: “…julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.” Dus moet óf behoudendes die verhoog verlaat, of liberales. Daar sal ’n skoon breuk moet plaasvind: óf die NG Kerk moet omgedraai word, óf behoudendes moet die kerk heeltemal verlaat.

  1. Stem u saam dat behoudendes en liberales nie in vrede in die NG Kerk kan saamleef nie? (Ons kan nie ’n verhoog met mekaar deel nie.)

[KN: Bogenoemde teks word hier buite konteks skeefgetrek. Iemand wat so redeneer gaan elke maand weer ’n nuwe kerk moet stig. Ons vermoed dat die outeur van hierdie vraag dan ook lankal herhaaldelik ’n nuwe kerk gaan soek het, want waar hy nou sit skuil ook verskeie ernstige dwaalleringe. Die regte Skriftuurlike antwoord is nie om te vlug nie maar om te reformeer sodat die dwaalprofete kan vlug. “Ecclesia reformata semper reformanda”]

[Daniel: Nog ’n persoonlike aanval. En weereens word die vraag nie beantwoord nie. En hoekom is hierdie teks buite konteks skeef getrek? Wat het Paulus dan hier bedoel wat heeltemal anders is as die situasie in die NG Kerk? En wat van nog baie ander tekste wat ‘n mens direk op die NG Kerk kan toepas? Kyk Onttrek jou van goddeloses en dwaalleraars.

En wat as dit duidelik word dat die dwaalprofete die oorhand gekry het en nie gaan vlug nie?]

  1. Goudland sinode het in Junie hierdie jaar hulle standpunt oor SGVs van 2015 bevestig. Dit verklaar dat selfdegeslagverhoudings nie Bybels verantwoordbaar en aanvaarbaar kan wees nie. Dit is totaal teenstrydig met wat byvoorbeeld die sinode van Wes-Kaapland besluit het in Mei 2019. Goudland wou egter nie besluit om van die AS weg te breek met artikel 37 nie. Dit beteken dat Goudland tevrede is om “die verhoog met liberales te deel”. Wat is u opinie hieroor?

[KN: Nee, Goudland het nooit regtig oor Art 37 gestem nie. Weens tegniese redes het die voorsitter gereël dat die voorstel oor Art 37 nie ontvanklik is nie. Goudland se buitengewone sinode was ’n groot chaos. Dank die Here vir enkele leraars in Goudland wat ten spyte van die chaos onwankelbaar vas staan om in liefde by die waarheid te bly. Goudland staan op die oomblik nog in die middel van die stryd. Hulle word in baie rigtings getrek en het nog nie tot finale konsensus besluite gekom nie. Dit is ’n verkeerde afleiding om te beweer dat Goudland “tevrede is om…” Daar is op die oomblik sover ons kennis strek nog nie vrede en finale besluite in Goudland nie.]

[Daniel: Weereens ’n vreemde opmerking. Die behoudendes is uiters gefrustreerd daar weg. As die meerderheid van die sinodegangers van Goudland sterk gevoel het oor die saak, sou die voorsitter dit nie kon regkry nie. En wanneer gaan Goudland finaal besluit? Moet behoudendes maar weer probeer tydens die volgende streeksinode? Wat gaan verander? Gaan die voorsitter nie weer die saak uitgooi weens “tegniese redes” nie?]

  1. KN stel voor dat die algemene sinode moet ontbind. Enige groot organisasie het egter ’n oorhoofse struktuur nodig sodat die kleiner dele van die organisasie (in hierdie geval streeksinodes, ringe en gemeentes) dieselfde visie het. Met ’n AS in plek het streeksinodes reeds teologies van mekaar weggedryf (soos reeds genoem het Wes-Kaapland weggedryf en heelwat ander sinodes neem nie sterk genoeg standpunt in nie). As daar nie ’n AS is nie, sal dit net nog erger wees. Hoe sal hierdie opsie ’n oplossing bied? Is daar enige ander groot denominasie in die wêreld wat nie ’n oorhoofse struktuur, soos die AS, het nie?

[KN: Die AS is nie die hoogste vergadering in die NG Kerk nie. Dit is die meerdere vergadering. Nie die hoogste vergadering nie. Grootste probleem tans is nie ’n Algemene kerkverband as sodanig nie maar die wyse waarop die huidige AS saamgestel word sonder dat gemeentes verteenwoordig is asook die wyse waarop die huidige AS funksioneer. As die AS ontbind en vervang word met ’n Federale Sinode wat nie bindende besluite vir gemeentes kan neem sonder die gemeentes se verteenwoordiging nie kan dit baie probleme oplos. Dan is daar geen sprake van ’n “oorhoofse struktuur” nie. Besluite is dan slegs bindend as elke sinode afsonderlik, waar al die gemeentes teenwoordig is, dit goedgekeur het.]

[Daniel: As die algemene sinode nie die hoogste gesag is nie, wat is die doel van die AS? Kort na die 2016-besluit oor SGV (toe die 2015-besluit omgedraai is), het Nelis Janse van Rensburg in ’n video gesê dat gemeentes eintlik reeds self besluit oor SGV in hulle gemeentes, ongeag wat die sinode sê. Daaroor was behoudendes baie ontsteld. Nou sê Kairos Netwerk presies dieselfde.

KN sê: “Grootste probleem tans is … die wyse waarop die huidige AS saamgestel word sonder dat gemeentes verteenwoordig is asook die wyse waarop die huidige AS funksioneer.”
Wat sou die KN voorstel vir beter verteenwoordiging? Mens sou kon redeneer dat die verkleinde sinode van 200 lidmate te min was. Volgende jaar is daar egter weer 400 afgevaardigdes. Is dit genoeg? Weereens, indien die verteenwoordiging en/of wyse waarop die AS funksioneer die probleem is, sou mens meer ongelukkigheid verwag het by gemeentes oor sinodebesluite. Hoekom is daar dan slegs 94 gemeentes (minder as 10%) wat doleer?

Na watter bindende besluite word hier verwys? Geen van die problematiese besluite wat geneem is die afgelope 15 jaar was bindend vir gemeentes nie. Al die besluite het ruimte geskep.

Soos reeds genoem, sal dit nie help om die AS te ontbind nie. ’n Mens sou selfs ook kon redeneer dat die NG Kerk reeds ’n federale struktuur het. Kyk Dit help nie om algemene sinode te ontbind.]

Artikel 37

My verstaan van die artikel 37-opsie is die volgende: Indien ’n streeksinode (sê Vrystaat) hierdie opsie uitoefen breek Vrystaat weg van die algemene sinode. Vrystaat verbreek dus alle amptelike kontak met die res van die NG Kerk. Behoudende gemeentes uit ander streeksinodes kan nou by Vrystaat aansluit. Dus skep artikel 37 ’n moontlike uitweg vir behoudende gemeentes.

  1. Is dit korrek?

[KN: Nee nie korrek nie. Die Algemene Sinode is nie die NG Kerk nie. Dit is slegs een spesifieke soort kerkverband tussen verskillende NG Sinodes. As Vrystaat op Artikel 37 besluit, breek Vrystaat nie weg van die NG Kerk nie maar slegs van die spesifieke kerkverband waarin sommige NG Kerke dan nog staan nl die Algemene Sinode. Vrystaat sou dan nuwe kerkverbande kon sluit met ander sinodes van die NG Kerk en met ander behoudende gemeentes oor die land. Die laaste sinnetjie is wel korrek dat Artikel 37 ’n moontlike uitweg skep vir behoudende gemeentes.]

[Daniel: Ek het nie in hierdie vraag gesê die AS is die NG Kerk nie, maar, soos ek reeds gesê het, die AS verteenwoordig amptelik die algemene siening in die NG Kerk. Ek het ook nie gesê dat Vrystaat van die NG Kerk wegbreek nie, maar dat hulle kontak met die res van die NG Kerk verbreek. Die enigste amptelike forum waar streeksinodes kontak het met ander streeksinodes is by die AS. As jy wegbreek van die AS, dan verloor jy daardie kontak met die res van die NG Kerk. Jy verminder die kans dan drasties om die NG Kerk van binne te hervorm.]

  1. Indien ’n mens die NG Kerk sou wou omdraai sou mens nie hierdie opsie wou uitoefen nie, omdat jy jou invloed op die res van die NG Kerk elimineer, tensy mens van buite af ’n invloed probeer uitoefen. Is dit korrek?

[KN: Nee. Die redenasie is steeds foutief, want met art 37 staan jy nie buite die NG Kerk nie maar slegs buite die Algemene Sinode as een soort kerkverband tussen sinodes. Jou pad is steeds oop na al die NG streeksinodes sowel as al die NG gemeentes sowel as al jou eie gemeente en sinode se NG lidmate.]

[Daniel: Die punt wat ek wil maak is dat Artikel 37 jou in ‘n posisie plaas waar jy tussen die boom en die bas is: Op papier is jy dalk nog deel van die NG Kerk, maar in praktyk het jy alle kontak met die res van die NG Kerk gebreek. Die kontak wat dolerende gemeentes nog tans met die res van die NG Kerk het, help in elkgeval nie veel om ander in die NG Kerk “tot bekering” te bring nie.]

Beskou die volgende scenario: Vrystaat oefen artikel 37 uit. In ’n sekere dorp is daar twee NG gemeentes. Die een gemeente sluit by Vrystaat aan, maar die ander gemeente maak op alle vlakke ruimte vir SGVs en begin selfs om selfdegeslaghuwelike te bevestig.

  1. Die enigste manier om sinvol tussen hierdie twee gemeentes te onderskei sou wees indien Vrystaat hulle naam verander. Stem u saam?

[KN: Nee: Die naam is irrelevant. As Vrystaat sinode besluit om bande met AS los te maak soos Kerkorde bepaal… dan skeur Vrystaat nie die kerk nie want Art 37 is die voorwaarde van hul skriftelike ooreenkoms. Gemeente x en y is deel van Vrystaat sinode, maar het geen direkte verband met AS nie. As Vrystaat Art 37 toepas volgens kerkordelike ooreenkoms en gemeente x besluit hulle wil nie Vrystaat se besluit aanvaar nie maar gemeente y aanvaar Vrystaat se besluit, dan is dit gemeente x wat die kerk skeur deur hul eie sinode se besluite te verwerp. Gemeente x kan dan uit Vrystaat sinode bedank en weer deel word van ’n ander sinode wat nog onder die AS funksioneer. Solank as wat gemeente x egter deel is van Vrystaat Sinode kan hulle nie sgv aanvaar nie.]

[Daniel: Weereens word die vraag nie beantwoord nie: Hoe onderskei ’n mens op sinvolle manier tussen gemeentes x en y? Die naam ís relevant, want dit is die enigste manier om sinvol te onderskei. Kairos Netwerk se probleem is: indien jy los is van die Algemene Sinode en jy noem jouself nie meer NG Kerk nie, dan het jy vir alle praktiese doeleindes geskeur. Daarvan word weggeskram.

En as Tafelberg en/of Strand-gemeente in die Kaap besluit dat hulle die besluite van die Wes-Kaaplandse sinode verwerp en hulle sluit by Vrystaat aan, dan is Tafelberg skuldig aan kerkskeuring, reg?]

  1. Nie net hou dit praktiese implikasies in nie. Ons het reeds gesê dat behoudendes en liberales nie dieselfde verhoog sal kan deel nie. Indien Vrystaat steeds as NG Kerk bekend wil staan (soos Goudland) is dit om dieselfde verhoog te deel as liberales, nie waar nie?

[KN: Nee. Die naam is irrelevant. Daar sal heel waarskynlik weer gekyk word na ’n naam wat duideliker onderskeiding moontlik maak, maar die vraag is nie wat jou naam is nie. Die vraag is wat jy glo en doen en bely. In bykans al die Nuwe Testamentiese gemeentes was daar ware gelowiges en hipokriete of gelowiges en ongelowiges of ware en vale profete, of behoudendes en liberales gewees. Die Here roep daarom aanhoudend die gemeentes op om met kerklike tug die valse leraars en ou suurdeeg uit te suiwer en mekaar aan te spoor en te vermaan om aan die suiwer Evangelie vas te hou by volle leer van die Skrif, maar nie om weg te hardloop en die res van die gemeente in die hande van die vals leraars te laat nie. Al was Judas ook deel van Jesus se dissipelkring, het Jesus nie die ander apostels beveel om weg te breek en eie kerk te stig nie.]

[Daniel: Dit is ’n baie dubbelsinnige antwoord: aan die eenkant is die naam irrelevant, maar aan die ander kant sal daar waarskynlik na ’n ander naam gekyk word. As jy jouself iets anders noem, dan het jy geskeur, punt.

En Jesus het ook nie vir die dissipels gesê om in die tempel aan te bly nie. Op die ou einde het die Christene hulle eie kerk gestig, wat heeltemal sin maak, want die Christene en die Jode het ’n totaal verskillende geloof beoefen (‘n verskillende God aanbid).

Ek is ook oortuig dat indien mens na voorbeelde hiervan gaan kyk, was die Matteus 18-pad die eerste ding wat gedoen is. As dit nie gewerk het nie, dan is die bande met daardie persoon(e) gebreek. Verder is daar geen voorbeeld in die Bybel van ’n kerk waar die dwaalleraars in die meerderheid was om vir ons as voorbeeld in hierdie situasie te dien nie.]

  1. Tans beskou die KN artikel 37 as ’n baie goeie opsie. Hoe is artikel 37 anders as kerkskeuring? Gaan, of moet, artikel 37 nie maar op die ou einde tot kerkskeuring lei nie?

[KN: Artikel 37 is ’n herstrukturering volgens ons kerkordelike ooreenkoms en voorskrifte. Dit bly waarskynlik die mees eerbare pad om verskille te bestuur. Dit skeur dalk wel die sinodale struktuur, maar die sinode is nie die kerk nie. Dit skeur nog nie die NG Kerk nie. Enige verskil in leer kan tot kerkskeuring lei. Artikel 37 verander egter nie jou identiteit nie, dit is meer net ’n onttrekking uit ’n samewerkingsooreenkoms wat nie meer so lekker werk nie.]

[Daniel: En weereens sê ek, as jy jouself losmaak van die AS, gaan jy ook jou naam moet verander en dan is dit so goed soos skeuring. Kyk Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge.]

  1. Indien geen streeksinode artikel 37 goedkeur nie, wat staan behoudendes te doen?

[KN: Elke gemeente is volledig kerk en moet self besluit wat in hulle spesifieke omstandighede die beste sal wees vir die eer van God, die geestelike welsyn van die lidmate en die getuienis van die kerk na buite.]

[Daniel: Hoekom is dit so moeilik om te erken dat skeuring wel ’n opsie is wat oorweeg sal moet word?

Daar is ’n verskil tussen jou geestelike tuiste en die sendingveld: As jy geroep word om onder Sataniste te werk, sluit jy tog nie by die Satanistiese kerk aan om hulle “van binne te hervorm” nie. Jy werk van buite. Net so kan ’n mens nie in ’n vals kerk aanbly met die vroom gedagte dat jy die kerk van binne gaan hervorm nie. En as jy van binne wil hervorm, moet jy juis deel bly van die algemene sinode, streeksinodes en ringsittings om soveel as moontlik kontaktyd te hê met andere wat “tot bekering” moet kom. Dan vra jy nie dat die AS moet ontbind nie en dan is artikel 37 ’n swak opsie. Baie behoudende gemeentes het hulleself egter reeds onttrek aan ringsittings en selfs streeksinodes.

Daar is ook ‘n verskil om byvoorbeeld in ‘n land te bly waar korrupsie en wetteloosheid hoogty vier en om in ‘n kerkdenominasie aan te bly waar God se voorskrifte verontagsaam word. Jy kan jou nie van die wêreld verwyder nie. Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. (1 Korintiërs 5:9-10; Johannes 17:14-15). Dieselfde beginsel geld egter nie vir die kerk nie. In die 12 artikels bely ons: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk…” Wanneer byvoorbeeld die sonde van homoseksualiteit in die kerk toegelaat word, is die kerk beswaarlik nog heilig. En dan moet jou jouself daarvan onttrek.]

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui