Kyk ook: |
Vandag is daar soveel verskillende teologiese sieninge onder predikante dat dit moeilik is om te bepaal wat ’n predikant se teologiese siening is. Gewoonlik is predikante met meer liberale sieninge baie glibberig en nie openlik daaroor nie – hulle sal een oomblik iets sê waarop jy sal sê: “Het ek reg gehoor?” en as jy hulle daarop vra, dan sal hulle jou weer ’n meer behoudende antwoord gee.
Die volgende is moontlike vrae wat aan predikante gevra kan word wat bv beroep word, om te bepaal wat hulle teologiese standpunt is. Die vrae is so opgestel dat antwoorde meestal ’n “ja” of “nee”. Indien iemand dus op hierdie vrae lang, vae of afwykende antwoorde gee, moet gevaarligte ernstig begin flikker.
******************
1. Waar kom die Christelike geloof vandaan?
In die artikel Skepping en ewolusie is dit duidelik dat prof Cornél du Toit glo dat geloof geskep is deur mense self. Prof Wentzel van Huyssteen, vir wie prof Julian Müller (Tukkies) die wêreld se bewondering het, verkondig dieselfde gedagtes.
Vraag 1.1: Stem u saam met prof Cornél du Toit en prof Wentzel van Huyssteen dat ons geloof deur mense self geskep is?
Vraag 1.2: Waarvandaan glo u kom ons geloof in God en waar kom ons Christelike godsdiens vandaan?
Prof Jurie le Roux impliseer baie sterk in sy studienotas oor Abraham dat Abraham nie ’n werklike persoon was nie en dat ons geloof geleen is van heidense gelowe (kyk Kommentaar op Jurie le Roux se studienotas oor Abraham).
Vraag 1.3: Stem u saam met prof Le Roux hieroor? Is ons Godsbegrip van enige heidense gelowe oorgeneem?
2. Redding
Die Bybel is baie duidelik dat slegs Christene gered word van die hel (kyk Die Nuwe Testament oor Redding). In Romeine 2 vra Paulus wat van mense wat die wet in hulle hart het, maar nooit die evangelie hoor nie. In v16 sê hy: “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” Dus is daar geen aanduiding dat mense wat goeie lewens lei noodwendig gered sal word nie en daarom is die sendingopdrag so prominent (kyk Die Bybel oor Sending). Ontluikendes soos Brian Mclaren (kyk Kommentaar op Brian McLaren se “Everything must change”) en Rob Bell (kyk Rob Bell se Noomas) verskil egter duidelik met die Bybel daaroor.
Mense soos Nelus Niemandt en Stephan Joubert het hoë agting vir McLaren, Leonard Sweet en Bell. Bill Hybels van die makrogemeente, Willowcreek in Chicago, se benadering is dat ’n mens van enigiemand kan leer. In ’n mate is dit waar, maar dan moet ’n mens tog duidelik wees waar ’n mens verskil, want anders is daar die gevaar dat mense kan dink dat ’n mens in alle opsigte met daardie persone saamstem of dat dit nie belangrik is nie. Nêrens kritiseer Nelus Niemandt en Stephan Joubert egter McLaren en Bell se geloofsoortuigings nie.
Vraag 2.1: Glo u aan ’n hiernamaals as ’n plek waar mense tasbare liggame gaan hê?
Vraag 2.2: Indien wel, glo u dat alle mense wat doodgaan óf hemel toe gaan, óf hel toe gaan?
Vraag 2.3: Glo u dat die hemel ewige vreugde is en die hel ewige pyn en lyding is?
Vraag 2.4: Is Jesus Christus die enigste Weg tot ewige redding? Kan alle mense slegs deur geloof in Jesus hemel toe gaan?
Vraag 2.5: Wat sê die Bybel en wat glo u gaan met bv Moslems en Hindoes gebeur wanneer hulle sterf?
Vraag 2.6: Aanbid almal dieselfde God?
Vraag 2.7: Wat is u mening oor Louis Jonker na aanleiding van RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?
Vraag 2.8: Wat is u siening dat mense soos Nelus Niemandt en Stephan Joubert groot vriende met ontluikendes soos McLaren en Bell is, maar nooit hulle sieninge kritiseer nie?
Vraag 2.9: Wat is u sentiment rondom sendingwerk: Is sendingwerk nodig?
Vraag 2.10: Wat is belangriker op die sendingveld: om mense die evangelie van redding slegs deur Jesus Christus te verkondig of is dit belangriker om ’n boodskap van vrede en voorspoed te bring?
Vraag 2.11: Wat is u gevoel rondom Christen martelare? Is dit die moeite werd om te ly vir jou geloof, of verstaan martelare vandag die evangelie verkeerd?
3. Die bose
Tydens die Algemene sinode van 2011 is daar nou amptelik ruimte geskep vir mense wat anders dink oor die duiwel (kyk 2011 NGK besluit oor die duiwel), ten spyte daarvan dat die Bybel duidelik is oor hierdie kwessie (kyk Die Bybel oor die duiwel/Satan). Mense soos Nelus Niemandt, James Kirkpatrick, Ben du Toit en Gerrit Brand is openlik daaroor dat hulle nie glo dat die duiwel ’n persoon is nie.
Vraag 3.1: Stem u saam met bogenoemde mense?
Vraag 3.2: Stem u saam met hierdie Sinodebesluit?
Vraag 3.3: Glo u dat daar ’n hel is en wie gaan hel toe?
4. Godsbeskouing
Ds Albert Cruywagen glo nie dit help om te bid nie (kyk Bid werk nie, sê dominee). Prof Sakkie Spangenberg sê oor gebed die volgende: “Ek doen nog ’n tradisionele tafelgebed wanneer ons as gesin saam aan tafel is. Om kos op die tafel te hê en by jou gesin teenwoordig te mag wees, is vir my amper ’n religieuse oomblik. En daardie oomblik wil ek op ’n bepaalde manier vier.” (Uit Hoe slaap dominee dan?) Dus bid hy nie om dankie aan God te sê nie, maar ter wille van die religieuse oomblik met sy gesin.
Vraag 4.1: Stem u saam met ds Cruywagen en prof Spangenberg of glo u dat God gebede hoor en verhoor?
Prof Julian Müller is ’n panenteïs (kyk Kommentaar op Julian Muller se “Panenteïsme: ’n Nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd?”) en het selfs verder gegaan en noem homself ’n postteïs (kyk Dít wat ons nié dink).
Vraag 4.2: Stem u saam met prof Müller of glo u dat God ’n persoonlike Wese is wat werklik bestaan en dat ’n mens ’n verhouding met Hom kan hê?
Vraag 4.3: Indien u nie met prof Müller saamstem nie, is dit vir u ’n probleem dat prof Müller hierdie geloofsoortuiging kan hê en steeds betrokke kan wees by die teologiese fakulteit, waar hy baie teologiese studente se siening beïnvloed?
5. Jesus
Prof Julian Müller en prof Jurie le Roux glo nie dat Jesus werklik die seun van God was nie (kyk bv Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”).
Vraag 5.1: Stem u saam met prof Müller en prof Le Roux dat Jesus nie die Seun van God was nie?
Hulle glo ook nie dat Jesus werklik opgestaan het nie. Dit is die rede hoekom daar konflik tussen hulle en Ferdie Mulder was en wat gelei het tot Mulder se skorsing (kyk Opgestaan).
Vraag 5.2: Wat glo u oor Jesus se opstanding? Het dit slegs metafories plaasgevind, soos prof Müller glo, of glo u aan ’n letterlike, liggaamlike opstanding?
Jesus se opstanding is die hele kruks van die Evangelie wat ons glo volgens die Bybel en belydenisskrifte. Jesus het vir ons sondes kom sterf en die dood oorwin sodat ons die ewige lewe kan kry.
Vraag 5.3: Moet die NG Kerk volgens u ruimte skep vir mense soos prof Julian Müller, prof Sakkie Spangenberg, en prof Le Roux wat anders hieroor glo?
6. Wonderwerke
Vraag 6.1: Wat glo u oor wonderwerke: Het God al ooit wonderwerke gedoen?
Vraag 6.2: Glo u in wonderwerke soos die Rooisee wat oopgekloof is, Bileam se donkie wat gepraat het, dat ’n vis Jona ingesluk en na drie dae lewend uitgespoeg het?
Vraag 6.3: Indien nie, wat is u siening oor wonderwerke soos Jesus se maagdelike geboorte en al Jesus se wonderwerke op aarde?
7. Seks buite die huwelik
Ten spyte dat die Bybel baie duidelik is dat seks buite die huwelik sonde is (kyk Die Bybel oor seks voor die huwelik), is daar baie teoloë vandag, oa James Kirkpatrick, wat openlik die vraag vra of ons dit nog kan glo. Nelus Niemandt impliseer dit self ook in ’n onderhoud op Uitsaaines dat ons moontlik anders moet dink oor die huwelik soos beskryf in die Bybel.
Vraag 7.1: Glo u dat die huwelik deur God ingestel is? Indien nie, waar kom die huwelik vandaan?
Vraag 7.2: Glo u dat seks buite die huwelik sonde is?
Vraag 7.3: Die Kerk sê dat ’n mens saamwoners moet aanmoedig om te trou. Wat as hulle nie wil nie? Hoe betrokke mag saamwoners by die kerk se aksies wees, soos byvoorbeeld die musiekgroep of basaar?
8. Homoseksualiteit
Ten spyte van die feit dat die Bybel baie duidelik is oor homoseks (die beoefening van homoseksualiteit) (kyk Die Bybel oor Homoseksualiteit), het Ben du Toit en Kobus Gerber aan die RSA parlement voorgestel dat homoseksuele huwelike in SA gewettig moet word (kyk NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word (Okt 2006)).
Vraag 8.1: Glo u dat homoseks (die beoefening van homoseksualiteit) sonde is?
Vraag 8.2: Indien wel, wat is ’n opinie dat dr Du Toit en dr Gerber namens die NG Kerk aan die parlement voorgestel het om homoseksuele huwelike te wettig?
Vraag 8.3: In 2019 het die NG Kerk vir gemeentes ruimte gemaak om self te besluit oor homoseksualiteit (kyk 2019 NGK homoseksuele besluit). Hoe voel u daaroor?
9. Genesis 1-11
Daar is baie mense wat dink dat Genesis 1-11 nie belangrik is nie en dat ’n mens maklik toegewings daar kan maak. Een van die hoof redes hoekom Genesis 1-11 nie letterlik geglo word nie, is omdat die sogenaamde “wetenskap” ’n letterlike Genesis 1-11 verkeerd “bewys” het:
Bybel: Volgens ’n letterlike verstaan van die Bybel het God ongeveer 4004 vC alles geskape in 6 dae, 24-uur dae. Hy het alle diere volgens hulle soort geskape en daaruit het verskillende spesies mbt natuurlike seleksie/mikro-evolusie ontwikkel soos ons dit vandag ken (bv God het moontlik slegs 2 katte geskape met genoeg genetiese inligting waaruit leeus, tiere, luiperds, huiskatte ens ontwikkel het).
Evolusie: Volgens evolusie het alles vanself ontstaan uit niks. Die heelal het ongeveer 15 miljard jaar gelede ontstaan, die aarde ongeveer 4.5 miljard jaar, uit die eerste amoeba het alle diere vanself geëvolueer, dinosourusse het 65 miljoen jaar gelede geleef en die eerste mens het sy verskyning ongeveer 1 miljoen jaar gelede gemaak.
Baie Christene glo dat God evolusie gebruik het om te skep en probeer die Bybel “anders te interpreteer” sodat ’n mens die Bybel met evolusie kan versoen, maar dit skep nie net groot teenstrydighede nie – dit skep ook groot teologiese probleme (die artikel Skepping en ewolusie is ’n sprekende voorbeeld van die invloed wat evolusie kan hê):
- As jy Genesis 1-11 nie letterlik wil glo nie, hoekom sal jy die res van die Bybel glo? Om hierdie rede is daar baie mense wat hulle geloof verloor (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed).
- Die sondeval kan nie met evolusie versoen word nie en daarom beteken dit dat toe God gesê het “…en dit was baie goed” (Gen 1:31), ook die dood en wreedhede ingesluit het. Charles Templeton het sy geloof hieroor verloor en gesê: “Why does God’s grand design require creature with teeth designed to crush spines or rend flesh, claws fashioned to seize and tear, venom to paralyze, mouths to suck blood, coils to constrict and smother – even expandable jaws that prey may be swallowed whole and alive?” (kyk The slippery slide to unbelief).
- Geen sondeval maak Jesus se kruisdood verniet, soos Biskop Shelby Spong sê: “And Charles Darwin not only made us Christians face the fact that the literal creation story cannot be quite so literal, but he also destroyed the primary myth by which we had told the Jesus story for centuries. That myth suggested that there was a finished creation from which we human beings had fallen into sin, and therefore needed a rescuing divine presence to lift us back to what God had originally created us to be. … And so the story of Jesus who comes to rescue us from the Fall becomes a nonsensical story. So how can we tell the Jesus story with integrity and with power, against the background of a humanity that is not fallen but is simply unfinished?”.
Vraag 9.1: Verstaan u die verskil tussen historiese wetenskap en operasionele wetenskap (kyk Operasionele vs historiese wetenskap) en erken u dat evolusie onder historiese wetenskap val?
Vraag 9.2: Glo u dat God ongeveer 4004 vC geskep het soos in die Bybel staan?
Vraag 9.3: Indien nie, besef u dat u baie inkonsensekwent is en dat die Bybel dan oop is vir interpretasie om in te pas by die heersende denkpatroon? (kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?)
Vraag 9.4: Wat is u opinie dat die Teologiese fakulteit UP in 2010 vir George Claassen, bekende Suid-Afrikaanse ateïs, gevra het om as hoofspreker op te tree tydens die opening van die teologiese fakuteit, maar dat hulle nie na ’n skeppingsleerder wou luister nie (kyk Seisoen van (eensydig) luister!)?