*******
Vrae oor Jesus | Beeld
Jan van der Watt, Stephan Joubert
Beeld, 8 Januarie 2001
Die debat oor die gevolgtrekkings van sommige navorsers oor die sogenaamde “historiese Jesus”, soos dat Jesus nie uit ‘n maagd gebore is soos die Bybel sê nie, ontlok steeds talle vrae by gelowiges. Proff. Jan van der Watt en Stephan Joubert van die departement Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit teologie verduidelik waarom hulle steeds glo dat Jesus wel liggaamiik uit die graf opgestaan het.
Niemand het alleenreg op waarheid
Bybelwetenskaplikes klim deesdae van voor af uit hul ieologiese hangkaste met bewerings dat Jesus nie liggaamlik uit die dood opgestaan het nie.
Sommige sê hulle probeer net om die kerkvolk, wat vir jare in die donker gehou is, met die “korrekte wetenskaplike feite” reghelp.
Ander aan die ander kant kyk mense in die kerk met toenemende verwarring, selfs met skok, na dit wat op die teologiese verhoog gebeur, soos ook deur die media berig word.
Wat gemaak noudat ons eie klein “Aufklärung”, ons “eeu van verligte denke” hier in Afrika, aangebreek het? Kan ons steeds in Christus glo? Het daardie ooms iewers in ’n sinode ons gewone “geestelike boetmanne” (en susters!) weer aan ons naïewe neuse rondgelei? Is Christenskap inderdaad net opium vir die kerkvolk (á la Karl Marx)?
Laat ons eerlik wees. Die kerk was al oor verskeie dinge verkeerd. Jy hoef nie veel verder as die tragiese verhaal van apartheid en die kerk se betrokkenheid hierby te soek nie. Maar wat van Jesus? Is dit wat ons oor Hom sê nou ook onwaar?
Miskien moet ons iets begryp van die tydsgees waarin ons nou leef om te kan sin maak van dit wat tans op sommige teologiese fronte gebeur. Ons leef in ’n tyd van menslike vryheid. Almal kan dink wat hulle wil, sê wat hulle wil, glo wat hulle wil. Niemand het meer alleenreg op die waarheid nie.
Dié era met sy nuwe vryhede spoel oor na die teologie. Dit laat sekere teoloë met groter waagmoed die openbare arena, die markplein van die dagbladpers, betree om ou geloofsekerhede opnuut onder die vergrootglas te plaas. Hul “aanvalswapen” is gewoonlik hul eie wetenskaplike denke, soos bepaal deur die voorveronderstellings wat in sekere akademiese kringe gedeel word.
Wanneer dié geleerdes die “historiese Jesus” begin ondersoek, is hul vertrekpunt uit die staanspoor glashelder: die Bybel is vir hulle ’n stokou boek met antieke mense se geloofsbelewenisse. Dit is beslis nie die unieke, finale stem van God nie.
Sommige dele van die Bybel sou wel normatief, rigtinggewend vir moderne gelowiges kon wees, maar baie ander verhale, voorskrifte en uitsprake in die Bybel is vandag in hul oë oud en uitgedien.
Wanneer dié teoloë dan in alle erns hul soektog na die “historiese” Jesus begin, is slegs daardie feite wat hulle met hul verstand kan verklaar uiteindelik waar. Enigiets daarbuite, soos die maagdelike geboorte van Jesus of Sy opstanding uit die dood, is volgens hulle nie toeganklik vir wetenskaplike ondersoek nie.
En indien die kerk dié bonatuurlike dinge wil glo, is dit sy saak,maar ten minste het bogenoemde kwessies nie die toets van “wetenskaplikheid” (die “waarheid”?) geslaag nie.
John Dominic Crossan, ‘n internasionaal bekende Bybelwetenskaplike, kan daarom vir Jesus iewers in ’n vlak graf of selfs aan die kruis as teiken vir die kraaie en wildehonde agterlaat op grond van sy eie historiese ontledings, terwyl Gerd Litdemann in Duitsland die opstandingverskynings van Jesus kan verklaar as die hallusinasies van ’n klompie bedroefde dissipels.
Wanneer teoloë begin om alles wat ons mag glo en nie mag glo nie, binne die klein, geslote ruimte van ons verstand in te druk, loop dinge skeef. Dan word die kerk inderwaarheid die slagoffer van eenoog akademici wat in pas met bepaalde denkparadigmas in ander historiese en sosiale dissiplines probeer bly.
Geloof werk egter met dinge waaroor sulke vorme van wetenskap nie kan of wil dink nie. Geloof het te doen met ’n metafisiese verstaan van die wêreld. Dit sê daar is ‘n anderkant, God se kant. Hy is groter as ons beperkte denke. God kan nooit in ons denksisteme vasgevang word, ofaan die hand van ons mensgemaakte konstrukte verklaar word nie.
Ons leer God primêr deur die Bybel ken. In dié Geloofsboek van die kerk leer ons dat die hoogtepunt van alles wat God doen en sê kulmineer in die aardse werk van Jesus. Van Hom sê die eerste Christene dat Hy dood was nadat Hy in Jerusalem gekruisig is, maar dat Hy drie dae later die dood gewen het.
Nie as ‘n spook nie, nie as ‘n hallusinasie nie, nee, Hy het die dood liggaamlik getroef.
Die eerste Christene was nie so naïef soos sommige moderne mense beweer nie. Soos diegene om hulle in die wêreld van daardie tyd, het die vroeë gelowiges ook geweet van spoke, van drome, van visioene en van liggame. Maar hulle het die verskil goed geken.
En hulle het oor en oor gesê dat Jesus liggaamlik die dood gewen het. Dié enkele feit vorm trouens die hart van die Christendom.
Jesus se opstanding was nooit vir die Nuwe Testamentiese gelowiges maar net ’n bepaalde aspek van sy optrede nie. Dis nie ’n laaste nagedagte wat jy gerieflikheidshalwe kan weglaat as dit vir jou te moeilik is om daarin te glo nie. Nee, die opstanding van Jesus verskaf die begronding vir alles wat die eerste gelowiges geglo, gedoen en gesê het.
Jesus se woorde en dade, soos swerwoord in die verskillende evangelies, word volgens die Nuwe Testament as normatief, as bindend vir al sy volgelinge voorgehou ómdat Hy uit die dood opgestaan het en nie omdat dit sulke mooi morele lesse inhou nie.
Al bewonder jy vir Jesus oor al die goeie dinge wat Hy vir die sosiaal uitgeworpenes van sy tyd gedoen het en oor sy mooi woorde oor God, maar jy stuit voor die belydenis van sy triomf oor die dood, beteken dit jy stap nie enduit op die pad van die Nuwe Testamentiese Christendom nie.
Dan is Jesus vir jou uiteindelik net een of ander Joodse profetiese figuur wat na sy kruisdood dood gebly het.
Die “reduksionistiese” sienings vari sommige moderne teoloë, wat aan die een kant in Jesus se optrede tog ’n oop venster na God vind, maar aan die ander kant beweer sy graf is steeds vol, help die kerk van die wal af in die sloot.
Hoekom moet mense vandag dan nog in iemand glo wat slegs in ’n paar verwarde dissipels se hallusinasievlugte en subjektiewe ervarings (hul “veranderde staat van bewussyn”) opgestaan het?
Indien Jesus en die vroeë kerk op die kardinale punt van sy eie sterwe en opstanding die waarheid só grof verdraai het, waarom moet ’n mens dan enigiets anders glo wat Hy of sy volgelinge gesê het?
Hoe kan Jesus vir jou iets outentiek oor God leer as Hy self nie eens mooi geweet het wie Hy regtig is nie, soos wat sommige mense vandag meen?
Dan is die Nuwe Testament mos die eindproduk van ’n klompie oneerlike, hallusinerende volgelinge van die dooie Jesus. Sou dit nie die logiese gevolgtrekking wees waartoe die standpunte van sommige teoloë ons lei nie?
Sulke sienings is die begin van ’n eenrigtingstraat wat uit die kerk lei.
Die feit van die liggaamlike opstanding van Jesus is bevestig deur die belydenis van die ganse kerk van Christus die afgelope tweeduisend jaar. Jy stel jouself dus nie bloot aan een of ander onnadenkende aktiwiteit as jy dié belydenis met jou eie lewe vandag nog agternasê nie.