- Kovsies se teologiese fakulteit vier die voorvaders (1 Mrt 2025)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Vrae uit NG geledere oor UV se viering van Voorouerdag | Netwerk24
Marita Herselman
15 Maart 2025
Dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit teologie en religie op 8 Mei ’n konferensie ter viering van Voorouerdag gaan hou, het ontevredenheid by sommige NG leraars in die provinsie ontlok.
Ds. Jan Lubbe, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, sê egter hy het begrip dat daar vrae en kritiek oor die konferensie is, maar dat dit eintlik nie ’n kwessie hoef te wees as al die feite in ag geneem word nie.
Lubbe is ook moderator van die NG Kerk.
Die teologie-fakulteite in die land se openbare universiteite is ekumenies – studente uit verskillende kerklike tradisies word saam opgelei.
Volgens Lubbe kan die fakulteit dus nie een tradisie bo ’n ander voorkeur gee nie.
Hy sê verskillende departemente binne dié fakulteit bied verskillende konferensies aan. Die fakulteit bied ook konferensies met betrekking tot die Gereformeerde leer aan.
Die departement religiestudies, wat ’n multi-godsdienstige kurrikulum bied, bied die spesifieke konferensie met die tema Ancestors, Memory, and Democracy aan.
Lubbe sê voorouerverering is nie deel van NG studente se leerplan nie en die konferensie is nie verpligtend nie.
Volgens hom is die voorouerverering ’n baie aktuele tema in die onafhanklike en inheemse kerke in Afrika en baie van die Pinkster-kerke. Die tema is dus baie relevant vir studente uit dié kerke.
“Ons (NG) studente word eintlik primêr gevorm in ons seminarium. So ons doen in ons seminarium al die goed wat vir behoudendes ook belangrik is,” sê Lubbe.
Behoudende en dolerende leraars en lidmate vra al jare lank dat daar ook na ander instellings as sentra vir gereformeerde opleiding gekyk word omdat hulle ontevrede is met die huidige universiteitsopleiding.
Die UV, Universiteit van Pretoria en die Universiteit Stellenbosch is die enigste instellings waar die teologie-opleiding deur die NG Kerk se algemene sinode (AS) geakkrediteer is.
Die NG Kerk Vrystaat het die seminarium in 2016 gestig en berei voornemende leraars op die bediening voor.
Die seminarium bied onder meer ook klasse aan as deel van die UV se akademiese program.
Lubbe sê navraag oor die konferensie is aan die Vrystaatse moderamen en ook persoonlik aan hom gerig.
Die moderamen het die Vrystaatse kuratorium, wat oor NG studente se opleiding aan die UV toesig hou, gevra om meer inligting hieroor te kry.
Gideon Lamprecht, skriba van die Vrystaatse kuratorium, het toe duidelikheid oor die geleentheid verskaf.
Ds. Fanie le Roux, leraar van die dolerende NG gemeente Parys-Suid, het namens die kerkraad ’n navraag aan die moderamen oor die konferensie gestuur. Hy wou weet wat die Vrystaatse kuratorium se standpunt oor die konferensie is.
Le Roux sê hy weet watter geweldige stryd daar tussen die Bybelse boodskap en voorouerverering op die vasteland is.
“Ons sit hier met twee goed wat teen mekaar bots. As Christene kan ons nie sommer gemaklik sê oukei, dis nou reg, ons val daarby in nie.”
Hy wil weet wat die uitgangspunte van die konferensie is – dit wil vir hom voorkom of die tema nie net religie behels nie, maar ook politiek.
Nog ’n dolerende leraar in die provinsie, wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê hy het gemengde gevoelens oor die konferensie. Hy dink dit is effens onvanpas en sê daar is vrae oor die motivering daarvoor.
Volgens hom is dit egter nie nodig vir “massa-histerie” nie.
Netwerk24 verneem daar is nie eenstemmigheid onder Vrystaatse NG leraars oor die konferensie nie.
• Lacea Loader, UV-woordvoerder, sê by navraag die UV meen die konferensie sal bydra tot die debat oor voorgeslagte as ’n vorm van Afrika-spiritualiteit en binne die konteks van inheemse kennis.
“Die fakulteit het in die verlede verskeie inisiatiewe oor verskillende aspekte van godsdiens met groot sukses aangebied en glo dat hierdie konferensie soortgelyke sukses sal behaal.”
– marita.herselman@24.com
Kommentaar
xxx