Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Vrae uit NG geledere oor UV se viering van Voorouerdag | Netwerk24
Marita Herselman
15 Maart 2025
Dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit teologie en religie op 8 Mei ’n konferensie ter viering van Voorouerdag gaan hou, het ontevredenheid by sommige NG leraars in die provinsie ontlok.
Ds. Jan Lubbe, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, sê egter hy het begrip dat daar vrae en kritiek oor die konferensie is, maar dat dit eintlik nie ’n kwessie hoef te wees as al die feite in ag geneem word nie.
Lubbe is ook moderator van die NG Kerk.
Die teologie-fakulteite in die land se openbare universiteite is ekumenies – studente uit verskillende kerklike tradisies word saam opgelei.
Volgens Lubbe kan die fakulteit dus nie een tradisie bo ’n ander voorkeur gee nie.
Hy sê verskillende departemente binne dié fakulteit bied verskillende konferensies aan. Die fakulteit bied ook konferensies met betrekking tot die Gereformeerde leer aan.
Die departement religiestudies, wat ’n multi-godsdienstige kurrikulum bied, bied die spesifieke konferensie met die tema Ancestors, Memory, and Democracy aan.
Lubbe sê voorouerverering is nie deel van NG studente se leerplan nie en die konferensie is nie verpligtend nie.
Volgens hom is die voorouerverering ’n baie aktuele tema in die onafhanklike en inheemse kerke in Afrika en baie van die Pinkster-kerke. Die tema is dus baie relevant vir studente uit dié kerke.
“Ons (NG) studente word eintlik primêr gevorm in ons seminarium. So ons doen in ons seminarium al die goed wat vir behoudendes ook belangrik is,” sê Lubbe.
Behoudende en dolerende leraars en lidmate vra al jare lank dat daar ook na ander instellings as sentra vir gereformeerde opleiding gekyk word omdat hulle ontevrede is met die huidige universiteitsopleiding.
Die UV, Universiteit van Pretoria en die Universiteit Stellenbosch is die enigste instellings waar die teologie-opleiding deur die NG Kerk se algemene sinode (AS) geakkrediteer is.
Die NG Kerk Vrystaat het die seminarium in 2016 gestig en berei voornemende leraars op die bediening voor.
Die seminarium bied onder meer ook klasse aan as deel van die UV se akademiese program.
Lubbe sê navraag oor die konferensie is aan die Vrystaatse moderamen en ook persoonlik aan hom gerig.
Die moderamen het die Vrystaatse kuratorium, wat oor NG studente se opleiding aan die UV toesig hou, gevra om meer inligting hieroor te kry.
Gideon Lamprecht, skriba van die Vrystaatse kuratorium, het toe duidelikheid oor die geleentheid verskaf.
Ds. Fanie le Roux, leraar van die dolerende NG gemeente Parys-Suid, het namens die kerkraad ’n navraag aan die moderamen oor die konferensie gestuur. Hy wou weet wat die Vrystaatse kuratorium se standpunt oor die konferensie is.
Le Roux sê hy weet watter geweldige stryd daar tussen die Bybelse boodskap en voorouerverering op die vasteland is.
“Ons sit hier met twee goed wat teen mekaar bots. As Christene kan ons nie sommer gemaklik sê oukei, dis nou reg, ons val daarby in nie.”
Hy wil weet wat die uitgangspunte van die konferensie is – dit wil vir hom voorkom of die tema nie net religie behels nie, maar ook politiek.
Nog ’n dolerende leraar in die provinsie, wat nie geïdentifiseer wil word nie, sê hy het gemengde gevoelens oor die konferensie. Hy dink dit is effens onvanpas en sê daar is vrae oor die motivering daarvoor.
Volgens hom is dit egter nie nodig vir “massa-histerie” nie.
Netwerk24 verneem daar is nie eenstemmigheid onder Vrystaatse NG leraars oor die konferensie nie.
• Lacea Loader, UV-woordvoerder, sê by navraag die UV meen die konferensie sal bydra tot die debat oor voorgeslagte as ’n vorm van Afrika-spiritualiteit en binne die konteks van inheemse kennis.
“Die fakulteit het in die verlede verskeie inisiatiewe oor verskillende aspekte van godsdiens met groot sukses aangebied en glo dat hierdie konferensie soortgelyke sukses sal behaal.”
– marita.herselman@24.com
Kommentaar
xxx
Ek is ‘n apostel van God na die Xhosa gemeenskap in Robertson. Ons “Abba Vader/Pappa, Jehovah/Yahweh het my self soheentoe gestuur. En ek is nou al 14 jaar deel van hulle lewe deur saam met hulle to bly in hulle huise. En ek is dus deel van hulle familie lewe.
Vir seker vereer hulle hul voorouers. En verseker sien hulle dat ek nie myne vereer nie. Om die waarhied te Maar waar die Krag van God inkom is in die Goddellike Lewe wat ek in die Gees se Krag lewe tussen hulle en wat hulle sien en hoor. En Pappa help my baie deur drome aan hulle te gee wat ooreenstem met my Lewe wat Hy in my geskep het. Dit is al wat saak maak. Die Nuwe Lewe in Jesus. Geen tradisie kan daarmee kersvashou nie.
Om die waarheid te sê Pappa het vir my twee Groot Getuienisse gegee wat hulle totaal dronkslaan. Die eerste een was dat toe my moeder sterwe in Bloemfontein ek nie na my moeder se begrafnis sal gaan nie. Die gemeente waarvan ek deel was en gedien het onder pastoor Julius Gum moes daardie geld vir die weduwees gee wat dit sou gekos het om my te finansier om te gaan. En die tweede is dat my liggaam nie begrawe gaan word nie maar geskenk word aan die mediese fakulteit vir navorsingsdoeleindes.
Met die eerste een het Pappa ‘n wonderwerk laat gebeur. Ek was sterk veroordeel in die betrokke gemeente waar ek gedien het deur die pastoor daar. Maar ek het nie gegaan nie. En die vervolging aanvaar ter wille van gehoorsaamheid aan Pappa. Ek was van nou af ‘n vervloekte deur God.
En toe maak ‘n vrou uit die bloute uit die buiteland kontak met my en deel my mee dat God haar beveel het om vir my R15 000 te gee in die week nadat die begrafnis afgehandel was. Nadat ek ‘n vervloekte was deur God vir ongeveer 5 dae.
En Pappa sê toe ek moet dit vir die weduwees in die pastoor se gemeente gee. En toe sit hy met ‘n probleem. Want toe ek hom toestemming vra om hierdie “vervloekte geld” aan die weduwees daar te gee toe het hy ‘n krisis. Want hulle kyk toe met baie versugtiginge na hom. En hy moet nou besluit op die “vervloekte geld”. En daar buig hy toe en aanvaar dat die situasie nie vervloek is soos hy probeer deurgee het nie. En al die Xhosas hoor toe daarvan toe ek die geld tussen die weduwees verdeel soos hulle besluit het.
En in die laaste saak dra God dit toe op aan ons huidige “Counsillor, Zola Gxowa om self te sorg dat my liggaam Univ. van Stellenbosch to gaan soos wat Pappa vir my gesê het.
Vir seker verstaan almal nou die Woord van Jehovah in Jesus dat die “dooies hul eie dooies moet begrawe en dat ons Hom moet volg” ook in begrafnisse. Waar Hyself ook nie op Lazerus se begrafnis was nie as voorbeeld van die Woord wat Hy gegee het.
So Pappa het Sy eie Kragtige Samewerking in die hele saak. Spesifiek vir hulle wat in die bediening staan. En geen “debat” hieroor kan werklike gebeure verstaan of veroordeel nie. Diegene wat gestuur word moet self in gehoorsaamheid “deurbreek” in wat ookal Pappa gee om wat ookal Hy wil doen in enige situasie. Gehoorsaamheid kan nie vergelyk met “debatering” van die “godsdienstiges” nie. Laasgenoemde is slegs “opgeblase” en het geen Krag nie.