Vryheid, gelykheid en veral broederskap

Zander van der Westhuizen is die man van Maartje van der Westhuizen, assessor (ondervoorsitter) van die NG Kerk se algemene sinode.

*******

Vryheid, gelykheid en veral broederskap | Netwerk24

Zander van der Westhuizen

03 Augustus 2024

Ja, die Franse het ’n fout gemaak met die opening van die Olimpiese Spele. Maar, skryf Zander van der Westhuizen, dit laat Christene ook met ’n paar belangrike punte om oor te dink.

Tydens die Olimpiese Spele se opening in Parys, Frankryk, word ’n massiewe produksie op die oewer van die Seine aangebied. Tussendeur reën, veiligheidsrisiko’s, massiewe logistiek en binne die konteks van ’n Spele wat vir eeue deel is van die wêreld se geskiedenis speel die seremonie af. Die beplanning daarvan het oor twee jaar gestrek.

Die Spele het in Griekeland begin, ’n antieke plek vol gode, simboliek en tradisie. Sedertdien het die wêreld dit as ’n internasionale gebeurtenis aangeneem, elke keer in ’n ander gasheerland met sy eie interpretasie van hierdie geskiedenis.

Verlede Vrydagaand se seremonie was ’n eerste: buite die beperkings van ’n stadion. Dit was anders as vantevore en tipies vol Franse flair. Tonele is uitgebeeld en tussendeur is elke land se Olimpiese span voorgestel. Al die gewone seremoniële verpligtinge is nagekom: die amptelike opening, die toesprake en die aansteek van die Olimpiese vlam.

Al hierdie gebeure is later oorskadu deur ’n ongekende reaksie op sosiale media. Van die tonele – veral die Marié Antoinette-koppe, die banket-ete en die ruiter op die perd – is erg deur sommige Christene gekritiseer. Dit is geïnterpreteer as satanistiese simbole, ’n bespotting van die instelling van die Nagmaal (gegrond op ’n inskrywing op sosiale media wat dit met Leonardo Da Vinci se Laaste Avondmaal vergelyk het) en verwysings na Openbaring se simboliek van die eindtyd.

Aan die een kant is daar persone wat duidelik die tonele gesien het as ’n aanval op die Christendom in geheel. Politici het hul misnoeë uitgespreek, ’n borg het selfs onttrek en kerkgenootskappe het verklarings teen hierdie afskuwelike gebeure gemaak. Dreigemente om die hele Spele te boikot is gemaak en die nuusagentskappe het hou vir hou daaroor berig.

Aan die ander kant het latere verduidelikings gewys dat mense verkeerde afleidings maak. Daar is byvoorbeeld verduidelik dat die banket-toneel die Antieke Griekse “bacchanalie” is. Dit was ’n oordadige fees wat deur Bacchus (ook bekend as Dionisus), die Griekse god van wyn, vrugbaarheid en plesier, aangebied is (nie dat dit per se nou enigsins vir my meer aanskoulik verteerbaar gemaak het nie).

Die hooffiguur is nie Jesus nie, maar iemand wat Zeus uitbeeld. Die figuur op die perd is nie “die dood” nie, maar ’n vrou wat simbolies uit die Franse geskiedenis kom: ’n beskermer van die Seine en selfs simbolies van Johanna van Arkel, ’n Franse heldin. Die regisseur het verduidelik dat alles teen die agtergrond van die hele seremonie se boodskap teen geweld, ongelykheid en ’n pleidooi vir wêreldwye vrede verstaan moet word.

’n Amptelike verskoning is deur die verteenwoordigers van die Olimpiese komitee en organiseerders van die seremonie aangebied. In ’n verklaring het hulle dit duidelik gestel dat dit nooit bedoel was om enige godsdiensgroep te bespot of te ondermyn nie.

Hoe nou gemaak?

Wat maak ’n mens nou met hierdie deurmekaarspul van interpretasies, menings op sosiale media, die wil binne jou om op te staan vir jou geloof en die wêreld waarin ons vandag leef?

My uitnodiging aan mense is om oor die volgende punte na te dink en dan self hieroor te besluit:

  • Sosiale media is goed. Maar ook baie gevaarlik. Wat is waar? Baie mense reageer op foto’s en grepe waaruit dadelik afleidings gemaak word, maar is dit goeie inligting? Genoeg inligting om te veroordeel en te blameer? Ek sou versigtig wees voordat ek reageer. Skryf die brief vandag en pos hom eers môre.
  • Die interpretasie van kuns is baie subjektief. Hoe jy kuns en simbole interpreteer sê dikwels meer oor jou as oor die kunstenaar. Ek vermoed sommige kunstenaars hou van omstredenheid en sal dan juis daarom die interpretasie van ’n werk oorlaat aan die kyker.

Dit is tog ook die punt van kuns. Die implikasie is wel dat alle interpretasie (ten minste op mikrovlak) dan geldig is. Op ’n wêreldverhoog moet aanbieders dus altyd weet dat die rol van openbare interpretasie iets is om in ag te neem.

  • Die wêreld van simboliek is ingewikkeld. Westerlinge heg sekere betekenisse aan simbole. Jou kennis van en blootstelling aan kulture (veral antieke kulture soos die Grieke) bepaal jou interpretasie-vermoë. Ons dink eerste aan wat vir ons bekend is en maak assosiasies, sonder om mooi daaroor te dink. Ons simboliese wêrelde skuif en mense se interpretasie-vermoë verander.
  • Ek dink die Franse het ’n fout gemaak. Hulle neem aan almal ken die amper “Eurosentriese” kultuur en simboliek. Die Olimpiese Spele is waarskynlik meer internasionale besit as wat hulle wil erken. Daarom sou ek as ’n gasheerland waaksaam wees hoe simboliek geïnterpreteer kan word – en bedagsaam reageer wanneer mense (en Christene) ’n interpretasie-uitroep doen. Dit is goed dat hulle met ’n verskoning gereageer het.
  • Die Spele gaan in die eerste plek oor die atlete. Dit dra vir my besonderse simboliese betekenis dat lande wat tuis in oorloë met mekaar vasgevang is, se atlete hier in vrede met mekaar ’n ruimte deel. Daardie simboliek en potensiaal van sport moet nooit geringgeskat word nie.
  • Baie mense is ongemaklik met die woke-kultuur. Ek vermoed as mense werklik eerlik is, is dit waaroor dit eintlik gaan. Da Vinci was nie uitgesproke oor sy godsdiens nie. Sy bekende skildery wat nou ter sprake is, is al in baie ander vorme aangebied sonder hierdie soort reaksie. Die golf van kritiek is veroorsaak deur die uitbeelding van ’n kultuur waarmee baie mense erge ongemak het. In Suid-Afrika is ons nog baie beskermd teen hierdie kultuur, terwyl ander lande meer bekend is daarmee. Of dit so gaan bly weet ons nie, maar elkeen sal hierdie realiteit iewers vorentoe nog meer in die gesig moet staar.
  • Christene is nie goed met goeie genuanseerde uitsprake op sosiale media nie. Christene veroordeel eers, blameer eers en skryf eers aanvallend. En dan vergewe ons (dalk). Ek wonder of Jesus só sou reageer? Goeie gesprek, goeie nadenke en goeie debat behoort selfs opponente in gesprek in te nooi. Dit help almal. Wanneer dit nie gebeur nie, versterk dit net nie-Christene se slegte beeld van Christene nog verder.
  • Dit blyk duidelik hoe inkonsekwent Christene kan wees. Ons is gou om op sekere aspekte amok te maak en “op te staan vir ons geloof”. Maar oor ander sake soos oorlog, armoede en ongeregtigheid (wat veel belangriker vir Jesus was) swyg ons maklik of ondersteun selfs die politici wat dít dryf.
  • Die evangelie wil mense na ’n tafel toe nooi. Soos iemand skryf: “As jy ooit gewonder het hoe belangrik daai tafel is vir mense – hier het jy dit nou.” Ons moet altyd die tafel van liefde vir almal dek. Iewers sal jy jou standpunt vir jouself teenoor “die ander” in jou lewe en in die wêreld moet uitklaar.

’n Nuwe wêreld

Ons kan leer by Paulus. In Handelinge 17 loop Paulus in Atene rond, die geboorteplek van die Olimpiese Spele. Oral is beelde van gode. Daar is poësie, teater en kunsvorme deurtrek van ’n Griekse mitologiese en simboliese wêreld. Paulus word genooi om in die Areopagus te praat. Hy begin deur die Grieke te komplimenteer oor hulle geloofswêreld en dan gebruik hy ’n beeld sonder ’n naam en ’n Aratus-gedig oor Zeus om op ’n mooi en respekvolle wyse die luisteraars van ’n ander tipe God te vertel. Een wat nie versorg hoef te word nie, maar wat jou versorg. Een wat alles geskep het en dus voor al hierdie ander gode en beelde bestaan het. Een wat Homself geoffer het vir “die ander” van hierdie wêreld. Paulus, vol slim wys­heid, gebruik die wêreld van die Grieke as ’n manier om die evangelie te deel. Sonder om aan te val, sleg te sê of te veroordeel (al het hy so gevoel).

Daar lê ’n nuwe wêreld voor. En as ’n Christen sal jy nuwe vaardighede moet aanleer om in hierdie wêreld ’n wonderlike bydrae te kan lewer en jou roeping as ’n getuie uit te leef.

Dit gaan van jou vereis om deeglik te dink, om te interpreteer, om kennis op te bou en om jou gedagtes op platforms beter te formuleer. Jy sal aan die een kant moet vashou aan jou geloofsbeginsels terwyl jy aan die ander kant die liefde altyd bo oordeel sal moet laat wen.

Ek vermoed ons sal almal nog baie hieroor moet dink.

  • Van der Westhuizen is ’n predikant van die NG gemeente Tygerpoort in Pretoria.

1 thought on “Vryheid, gelykheid en veral broederskap”

  1. As Luther so gewyfel en getwyfel het, was ons wat in Jesus as enigste Middelaar glo, waarskynlik nog vasgevang in Roomse Katolisisme. Dankie Here vir die Jan Husse, Luthers en John Knox’e wat onverskrokke geweier het om draadsitters te wees

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui