Vrystaatse sinode kies eenheid

*******

Vrystaatse sinode kies eenheid | Netwerk24

Marita Herselman

04 Oktober 2024

Die NG Kerk Vrystaat gaan nie uit sinodale verband met die algemene sinode (AS) tree nie en sal steeds as een streeksinode groepeer.

Hierdie reëling is gister op die streek se buitengewone sinodesitting by Kopano Nokeng, buite Bloemfontein, met ’n meerderheidstem beslis. Altesaam 181 afgevaardigdes was ten gunste van die aangepaste voorstel van die NG kerk Pellissier in Bloemfontein, terwyl 129 stemme daarteen uitgebring is.

Die voorstel was een van drie opsies ter tafel om oor die streeksinode se verhouding met die AS te besluit. As deel daarvan is die rol van die AS ook herdefinieer.

Die ander opsies was dat die Vrystaatse sinode uit algemene sinodale verband tree, ’n aangepaste voorstel van die NG kerk Vrede; of dat die NG Kerk Vrystaat in twee sinodes verdeel en een dan uit verband met die AS kan tree, ’n voorstel deur die NG kerk Sasolburg-Tuinedal.

Daar bestaan opsies vir gemeentes wat nie met die meerderheidsbesluit saamstem nie. Hulle kan teen die besluit appèl aanteken, ’n beswaarskrif rig of om hersiening vra. Nog ’n opsie is om met ’n ander sinode van die NG Kerk in verband te tree wat reeds deur die AS goedgekeur is.

Die sinode het ook die Vrystaatse moderamen opdrag gegee om die moontlikheid van teologies-kategoriale ringe te ondersoek sodat gemeentes met dieselfde teologiese standpunt saam in ringe gegroepeer kan word, pleks van geografies.

Met dié dat die besluit oor die verbintenis tussen die sinode en die AS afgehandel is, kan die NG Kerk Vrystaat weer op sy eintlike roeping fokus, sê ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk en voorsitter van die AS se moderamen. “Ons het ’n eenheidsbesluit geneem. Ons kies vir die eenheid van die NG Kerk Vrystaat as verband en doen dit met sekere standpunte.”

Hy glo die gesprek oor art. 37 van die kerkorde – wat toelaat dat sinodes van die AS kan wegbreek met behoud van alle regte, voorregte, besittings en naam – is vir eers afgehandel.

“Ons stel ons verhouding met die AS nou baie duidelik en gaan haar ook op die volgende sinodesitting vra om nuut oor die algemene sinodale verband te dink.”

Deel van gister se besluit was om die AS te versoek om by sy mandaat en taak te hou en omstrede sake eers na sinodes terug te verwys sodat daar geen oorhaastige besluite geneem word nie, sê Lubbe.

“Ons wil die AS ook vra om ’n meer federale kerkverband te oorweeg wat die selfstandigheid van plaaslike sinodes sterker sal erken en dat die AS ’n losser verband sou kon vorm.”

Die NG kerk Vrystaat het op verlede jaar se algemene sinodesitting met die AS in gesprek getree en gister se vergadering is byeengeroep om die pad vorentoe te bepaal. Die sinode se verband met die AS was ter sprake omdat van die gemeentes in die Vrystaat se standpunte, onder meer oor selfdegeslagverhoudings, wesenlik van dié van die AS verskil. Die AS het verlede jaar herbevestig dat daar ruimte is vir leraars en kerkrade om self te besluit oor die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse.

Die NG Kerk Vrystaat het gister ter wille van eenheid in sy geledere ’n kompromis-besluit oor selfdegeslagverbintenisse geneem. Die sinode erken nou daar is verskillende sieninge oor dié verbintenisse as ’n alternatiewe vorm van ’n permanente verbintenis tussen twee persone.

Die kerk versoek Vrystaatse leraars “ter wille van die eenheid van die NG Kerk Vrystaat” om nie self hierdie verbintenisse te bevestig nie.

Die kerk het ook standpunt oor seksuele identiteite ingeneem. Die Vrystaatse sinode getuig dat daar slegs twee geslagte, manlik en vroulik, in die Bybel beskryf word, maar ook dat “daar wel ook blyke is van uitsonderings op hierdie reël” en dat seksuele identiteit met “groot omsigtigheid, sensitiwiteit en ’n pastorale bewoëndheid” gehanteer moet word.

Lubbe sê die vergadering het volwasse en kalm verloop en afgevaardigdes het met deernis en begrip na mekaar geluister.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui