‘Vrystaatse sinodebesluit hou minderheid gevange’

Kyk ook:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Vrystaatse sinodebesluit hou minderheid gevange’ | Netwerk24

Marita Herselman

05 Oktober 2024

Die meerderheidsbesluit van die NG Kerk Vrystaat om nie van die algemene sinode (AS) weg te breek nie en steeds as een streeksinode te groepeer, hou die minderheid teen hul sin in dié strukture gevange.

So sê ds. Pieter Prinsloo van die NG kerk Sasolburg-Tuinedal nadat sy gemeente se pleidooi vir die stigting van ’n tweede Vrystaatse sinode, wat uit verband met die AS kan tree, nie geslaag het nie.

Die Vrystaatse sinode het Donderdag ’n buitengewone vergadering by Kopano Nokeng, buite Bloemfontein, gehou om oor haar verband met die algemene sinode te besluit.

Sou die sinode beslis het om in twee te verdeel, sou die AS eers die stigting van die nuwe sinode moes goedkeur.

Ingevolge die kerkorde is dit slegs moontlik vir sinodes om uit verband met die AS te tree en nie gemeentes nie.

Van die behoudende gemeentes wil hulself nie met van die AS se standpunte vereenselwig nie, onder meer oor gay-verhoudings en teologiese opleiding.

Prinsloo sê die kwessie van selfdegeslagverhoudings is ’n getuienis van hoe die gemeentes van mekaar oor die Skrif verskil en net die oortjies van die seekoei.

Hoewel die Vrystaatse moderamen opsies voorgestel het vir die minderheid wat die besluit oor die verband met die AS betreur, sê Prinsloo daar is nie ’n wesenlike oplossing oor hoe individuele gemeentes uit verband met die AS kan tree nie.

Die NG kerk Pellissier in Bloemfontein se voorstel dat die Vrystaatse sinode nie uit verband met die AS tree nie en een streeksinode bly, het geslaag. Dit is met 181 stemme ondersteun, terwyl 129 afgevaardigdes daarteen gestem het.

In die besluit is die Vrystaat se teologiese standpunte ook duidelik gestel.

Die rol van die AS is ook herdefinieer en die Vrystaatse sinode gaan die algemene sinode versoek om haar magte af te baken om slegs bindende besluite te kan neem oor sake wat vir die kerkverband in geheel van belang is. Die sinode gaan versoek dat omstrede kwessies eers deeglik met sinodes en mindere kerkvergaderings hanteer word, voordat besluite geneem word.

Die Vrystaatse sinode het Donderdag ter wille van eenheid in sy geledere ’n kompromis-besluit oor selfdegeslagverbintenisse aangegaan.

Netwerk24 het berig die sinode erken nou daar is verskillende sieninge oor dié verbintenisse as ’n alternatiewe vorm van ’n permanente verbintenis tussen twee persone.

Die kerk versoek Vrystaatse leraars wel “ter wille van die eenheid van die NG Kerk Vrystaat” om nie self hierdie verbintenisse te bevestig nie.

Die NG kerk Sasolburg-Tuinedal se voorstel was een van drie opsies oor die kerkverband waaruit die afgevaardigdes moes kies.

Dié voorstel is deur 102 afgevaardigdes ondersteun, teenoor 206 stemme wat daarteen uitgebring is.

127 stemme was ten gunste van die NG kerk Vrede se voorstel dat die NG Kerk Vrystaat uit verband met die AS tree, met 182 daarteen.

“Dit is oorsimplisties om te sê dat die Vrystaat gestem het vir die eenheid van die AS, asook die eenheid van die (NG Kerk) Vrystaat.

“Die werklikheid is dat 127 afgevaardigdes gestem het vir uittrede uit die verband met die AS. Dit beteken dat ongeveer 60 Vrystaatse gemeentes nie meer deel van die AS wil wees nie,” voer Prinsloo aan.

Hy beweer die 102 stemme ten gunste van sy gemeente se voorstel beteken sowat 50 gemeentes wil ook nie meer deel van die Vrystaatse sinode wees nie.

“Die meerderheid hou dus ’n onwillige minderheid gevange teen hul geloofsoortuigings.

“Hierdie minderheid is gevangenes omdat hulle, weens die universitasbeginsel, hul eiendomme en besittings kan verloor as hulle as individuele gemeentes uit die verband wil tree.”

Die moderamen ondersoek onder meer die moontlikheid om ’n teologies-kategoriale ring of ringe te vestig, sodat gemeentes met dieselfde teologiese standpunt saam in ringe gegroepeer kan word. Die ringe word tans geografies saamgestel.

Prinsloo sê die opsie help nie gemeentes wat van die Vrystaatse sinode en AS wil wegbreek nie.

’n Ander opsie is om met ’n ander sinode in verband te tree. Volgens hom is daar nie tans ’n sinode in die land wat uit algemene sinodale verband wil tree nie, so die stap sal nie sy gemeente baat nie.

Ds. Charles James van die NG kerk Pellissier sê die gemeente is dankbaar dat die kerk een kan bly – “dis belangrik vir ons (NG Kerk Vrystaat) getuienis na buite”.

Die waarde van die besluit dat die Vrystaatse gemeentes aan die streeksinode en die AS verbind bly, lê vir hom in die verskillende stemme in die strukture.

“ ’n Mens het verskillende stemme nodig om saam na die waarheid te soek.”

Hy sê dis altyd sleg as die stemming vir of teen ’n besluit naby mekaar is.

Die Vrystaatse moderamen het op die buitengewone vergadering onderneem om die gemeentes wat die besluit betreur in hul opsies by te staan.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui