Waar staan die wêreldraad van kerke?

Kyk ook:

Die volgende artikel het in die Gereformeerde Kerk se tydskrif, Kerkblad, verskyn.

******

Waar staan die wêreldraad van kerke?

Deur CFC Coetzee

Oktober 2016

Die aankondiging dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) op 14 Julie na vyf en vyftig jaar weer toegelaat is as volle lid van die Wêreldraad van Kerke (WRK), plaas hierdie liggaam opnuut op die kerklike toneel, ook wat die kerklike en ekumeniese verhoudinge van die GKSA betref.

Die NG Kerk was sedert die stigting van die WRK in 1948 tot na die Cottesloe beraad van 1961 lid van díe organisasie. By Cottesloe is daar baie skerp besluite geneem teen die apartheidsbeleid wat in Suid-Afrika toegepas is, en het die Kaapse en Transvaalse Sinodes van die NG Kerk hulle lidmaatskap opgesê. Die ander Sinodes van die NG Kerk was nie lid van die WRK nie.

Gaandeweg het die verhoudinge tussen die NGK en die WRK weer verbeter en is die NGK as waarnemers toegelaat. Op die Algemene Sinode van die NGK in 2007 is besluit om weer aansoek te doen vir volle lidmaatskap.

Die Verenigende Gereformeerde Kerke is reeds geruime tyd volle lid van die WRK. Die GKSA was nog nooit lid nie.

“Die verlore seun is tuis”

In ’n verklaring wat deur Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Moderamen van die Algemene Sinode en Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, ná die besluit van 14 Julie uitgereik is, sê hulle die “verlore seun is weer tuis”. Die NGK het volgens hulle duur lesse geleer, onder andere wat die skade en verlies is wanneer ’n mens jou teologie in isolasie bedryf. “Agterstande is opgebou ten aansien van die nuutste denke in die gereformeerde teologie en die Christelike teologie in die algemeen”.

Statistiek

Die WRK het sedert die stigting in 1948 gegroei tot ’n organisasie van nagenoeg 400 lidkerke met meer as vyfhonderd miljoen lidmate. Lidkerke kom uit die Gereformeerde, Anglikaanse, Baptistiese, Lutherse, Metodistiese en Ortodokse wêreld. Die hoofkantoor van die WRK is in Geneve.Sedert die stigting was die saak van wêreldwye kerklike eenheid hoog op die prioriteitslys. ’n Volle ledevergadering van die WRK wat deur duisende afgevaardigdes bygewoon word, vind ongeveer elke agt jaar plaas. In die bestek van hierdie kort artikel, kan vanselfsprekend net aan enkele sake geraak word, waarvan die teologie vir ons die belangrikste is.

Basisformule

Die geloofsgrondslag of “Basisformule” van die WRK lui soos volg: “Die WRK is ’n gemeenskap van kerke wat die Here Jesus Christus as God en Verlosser bely volgens die Skrifte en daarom saam hulle gemeeskaplike roeping vervul tot eer van die een God, Vader, Seun en Heilige Gees” (my vertaling CFCC). Dit is ’n grondslag waarmee ons as sodanig ten volle kan saamstem, alhoewel die vraag gevra kan word of dit genoegsaam is. Daar is verder ook getuienis dat hierdie basisformule nie afdwingbaar is nie en dat kerke wat daarvan afwyk, steeds as lidkerke aanvaar word.

Teologiese tendense

Daar kan moeilik van ’n teologie van ’n kerklike liggaam soos die WRK gepraat word, maar wel van teologiese tendense wat na vore kom in besluite, verklarings, aktiwiteite ens. Prof Koos Vorster het reeds in 1994 ten minste drie sulke tendense onderskei, naamlik, ekumeniese teologie, bevrydingsteologie en teologie van godsdienste. Daar is in die verlede ook al gepraat van die “liberalistiese” en die “rewolusionêre” teologie, ook uit die geledere van die NG Kerk en na aanleiding van die WRK se steun (ook finansieel) aan terroriste – en ander organisasies wat met geweld die politieke bestel in die destydse Rhodesië, Suid-Afrika en op ander plekke omver wou werp.

Ds Nelis Janse van Rensburg bestempel die huidige teologiese rigting as “omvangryke ekumeniese teologie” (Die Kerkbode, 22 Julie). Dit beteken waarskynlik dat uiteenlopende teologieë geakkomodeer word.

Ander sake

  • Die “teologie van godsdienste” waarna hierbo verwys is, saam met die “omvangryke ekumeniese teologie” lê moontlik ten grondslag van die gesprekke wat toenemend deur die WRK met ander godsdienste soos die Islam en die Jode gevoer word. Volgens sommige kritici van die WRK kom die uniekheid van Christus en die Christelike godsdiens in hierdie gesprekke in die gedrang.
  • Die WRK is ten gunste van die toelating van praktiserende homoseksuele tot die kerkdiens.
  • Die WRK is betrokke by ’n groot aantal projekte van noodleniging, beslegting van geskille en konflik, watervoorsiening in Palestina, ens.

Die kerk se ekumeniese roeping en betrokkenheid

Die eenheid van die kerk is aan die een kant ’n Bybelse gegewe (daar is net een kerk, die bruid, die liggaam van Christus). Aan die ander kant is die eenheid ’n opdrag en roeping vanweë die sondige verskeurdheid van die liggaam.

Die deurslaggewende vraag myns insiens is waar die grense van die kerk se ekumeniese roeping lê. Die antwoord kan baie kort geformuleer word as eenheid in die ware geloof (vgl HK 21:54). Dit sluit onder andere die volgende in: Geloof in die Drieënige God as die enige ware God; geloof in Jesus Christus as die enigste Verlosser; geloof in sy liggaamlike opstanding as Oorwinnaar oor die sonde en die dood; die aanvaarding van die Goddelike gesag en onfeilbaarheid van die Bybel as Woord van God.

Anders gestel: By die oorweging van lidmaatskap van ’n ekumeniese kerklike liggaam, behoort leerstellige eenheid die deurslaggewende vraag te wees. Anders word dit ’n eenheid bo geloofsverdeeldheid, wat geen ware eenheid in die Bybelse sin van die woord is nie.

Waar staan die WRK?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui