Waardeer die gewone dinge van die lewe

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in Maart 2005 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Dit was die afgelope tyd mangotyd. Toe ek onlangs weer ’n lekker ryp mango skil en my verkneukel in die heerlike geel sap van hierdie besondere vrug uit die laeveld, het ek ver teruggedink. Ek het gedink aan ons eerste gemeente in Shabani, Rhodesië wat nou Zimbabwe is. Baie mense daar het veselperskes (mangos) in hulle tuine gehad en so was daar ook ’n paar veselperskebome, wat een van ons voorgangers in die pastorie se tuin geplant het. Dit was nog die soort met die baie vesels om die pit. Jy het die sap so van die pit af gesuig en dan het daar van die vesels in jou tande bly sit. As jy klaar was met die mango het sy vesels na die kante van die pit af weggestaan. Die kinders het dikwels die pitte laat droog word en het dan ’n mens se gesig daarop geverf. Die vesels wat so weggelê het, het dan ’n man se hare en baard voorgestel.

Dit was 30 jaar gelede. Watter wonderlike herinneringe van die verlede kan ’n veselperske by ’n mens oproep! Jy herleef jou die ervaringe van vroeër tye. Die sappige vrug in jou hande word ’n simbool van goeie dae, van ’n wonderlike lewe wat jy uit die hand van God ontvang het. Ek het besef ons moet leer om die gewone dinge van die lewe soos vrugtetyd, te waardeer. Ons dae gaan dikwels in onvergenoegdheid en bekommernis verby. Ons raak ongelukkig oor die politiek van die dag en ons is besorg oor wat die toekoms vir ons inhou. Sien ons die wonder raak van ’n mandjie vrugte in die kombuis? Heerlike vrugte uit die sonnige laeveld, wat mense met sorg gekweek het en beskerm het teen die peste en die plae van die wêreld. Toe hulle ryp geword het is die oes met blydskap gepluk. Ander mense het dit versprei en vir ons aangery tot in ons dorp, sodat dit vir ons hier beskikbaar kan wees om te kan geniet. Dit is God se geskenk aan my, om my gelukkig te maak en te bemoedig in die stryd van die lewe. God het vir my ’n stukkie van die paradys behoue laat bly. Ons moet dit raaksien en ons daaroor verbly.

Die skildery hierbo van die twee seuns wat druiwe en waatlemoen eet, is van Esteban Murillo. Wat sien mens daarin? Ek sien twee baie armoedige seuns. As mens kyk na hulle kaal voete en stukkende klere, wonder jy of hulle ooit die geleentheid gehad het om skool te te gaan. Watter toekoms is daar vir hulle? Sal hulle ooit die geleentheid kry om ’n behoorlike beroep te beklee? As hulle trou, met wie sal hulle trou en hoe sal hulle ooit ’n vrou en kinders kan onderhou? Ek dink egter dat hulle op daardie oomblik terwyl hulle die heerlike vrugte eet, nie vir ’n oomblik bekommerd is oor al die probleme van die lewe nie. Hulle gedagtes en sintuie is totaal opgeneem in die vreugde van die vrugte wat hulle eet. Hulle sit daar in hulle vuil klere op ’n trappie, maar die vrugte wat hulle eet is onbesmet. Hulle is vir daardie oomblikke in God se paradys.

Ons moet geluk nie ver gaan soek nie. God se sorg, sy liefde is oral rondom ons. Mag die Here ons oë oopmaak dat ons die wonder van sy skepping, oral om ons kan raaksien. Laat ons dankbare kinders voor ons Vader wees. Kom ons eer Hom vir die wonderlike vrugte wat Hy vir ons geskep het en dat dit ten spyte van die sondeval nog vir ons beskikbaar is om daarvan te eet.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui