Waarheid seker as band sterk is

Waarheid seker as band sterk is
2012-03-18 21:16

(Van Beeld gekopieer.)

Isak Burger

 

Twee eienskappe wat duidelik aanwesig moet wees wanneer mens oor die Bybel en God praat, is ootmoed en verdraagsaamheid – veral deesdae.

Wat my pla, is die heel onverdraagsame standpunt van sommige dat daar nie meer absolute waarhede is nie; veral nie in die geloofs- of teologiese wêrelde nie.

Ek luister vroeër vandeesmaand na die gesprek op die Stellenbosse Woordfees oor die uitwerking van die postmoderne lewensbeskouing op kerke; veral in die lig van die verlies van lidmate by sommige tradisionele kerke.

Een van die sprekers maak toe die ondubbelsinnige stelling: “Die tyd van vaste sekerhede is verby.”

Enigiemand wat deesdae met oortuiging ’n waarheid as absoluut bely, word haastig en genadeloos as ’n “fundamentalis” gebrandmerk; veral waar dit oor die Bybel en geloof gaan. Terloops, was ’n fundamentalis nie vroeër iemand wat fundamentele waarhede onderskryf nie?

Hoe het die konsep van “fundamentalis” nie in ons geslag verander nie!

Deesdae blyk dit die voortreflikste eienskap van “denkende” Christene is om nié te weet nie; nié seker te wees nie; om te twyfel. Om oortuig en seker te wees word as arrogant beskou.

Daar is ’n gemeente vir twyfelaars in Pretoria en ’n boek deur twyfelende predikante. Teenoor ewige en absolute waarhede word ’n “teologie van twyfel” gepromoveer.

Terwyl dit onder talle die in-ding geword het om die Bybel en geloof met ’n waas van twyfel en agterdog te bejeën, word die wetenskap aan die ander kant deur dieselfde mense tot byna onaantasbare, absolute en goddelike status verhef.

“Die tyd van vaste sekerhede is verby,” het die spreker hierbo gesê. As dit so is, kan ek die sin voltooi deur te sê: “En die tyd van die Groot Verdwaal en verwarring het gekom.”

Wel, dit was die wetenskaplike bevinding van die Duitse navorser Jan L. Souman.

Ná empiriese navorsing in Duitsland en die Sahara-woestyn met onder andere geblinddoekte mense was sy bevinding oor die redes waarom mense verdwaal: “Mense kan nie in ’n reguit lyn loop as hulle nie absolute verwysingspunte het soos ’n toring of ’n berg in die verte of die son en die maan nie en loop dan uiteindelik in sirkels.”

In kort gestel: Mense wat sonder vaste bakens en sekerhede deur die lewe reis, neig om te verdwaal.

Inderdaad is dit ’n kenmerk van ons dag: mense is onseker, verward, verdwaald, vertwyfeld. Sommige sê eerlik dat hulle soekende is.

Die Bybel moedig ons ook aan om te soek. Maar hy sê ook: “As jy soek, sal jy vind.” ’n Mens is mos net verdwaald en soekende totdat jy ’n vaste baken en waarheid gevind het; totdat jy die Lig gevind het.

Paulus, die groot interpreteerder van die Evangelie en die man wat die fondasie van die kerk in talle plekke gelê en ’n groot deel van die Nuwe Testament geskryf het, was onomwonde oor waar die soektog eindig en waar sekerheid begin – by Jesus Christus, die Seun van God wat gekruisig is en opgestaan het uit die dood! Om Hom te ken, sê Paulus, “oortref alles in waarde” (Fil. 3:8). Hy is die fondament waarop jy met sekerheid kan bou, want Hy is dié Waarheid.

Paulus se persoonlike ondervinding met die verrese Christus het blykbaar ’n klomp onsekerhede by hom uitgewis.

Gaan kyk gerus hoe dikwels Paulus en die ander Nuwetestamentiese skrywers uitdrukkings gebruik soos “Ek is versekerd…”, “Ons weet…” en “Ek is oortuig…”

My eie ondervinding is dat wanneer jy die opgestane en verheerlikte Christus deur die werking van Sy Heilige Gees ontmoet het en in ’n egte verhouding met Hom staan; wanneer jy die Absolute Waarheid eerstehands leer ken het, verdwyn onsekerhede sover dit jou verhouding met die Here aangaan grootliks.

Kyk ook

 

 

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui