Waarom dominees bly of gly

Let daarop dat Jean Oosthuizen, die skrywer van hierdie artikel, uiters liberaal is. En die persone waarmee hy ’n onderhoud gevoer het is net so liberaal:

‘n Mens wonder of die vyf anonieme bydraers in die boek Hier staan ek … nie uit hierdie lys van mense kom nie…

*************

Waarom dominees bly of gly

Jean Oosthuizen

2015-02-04

Die predikantsberoep is baie riskant. Meer as 90% van die tokkelokke wat predikante word, stap elke jaar blinkoog en vol verwagting by kweekskole in om hulle lewe in diens van die “Koninkryk” te wy. Byna ewe veel beleef vroeg in hulle loopbaan een of ander vorm van ontnugtering in hulle beroepskeuse. Sommige bly en ander gly.

’n Paar jaar nadat hulle die bediening betree, is byna die helfte van alle dominees so ontnugter of uitgebrand dat hulle naarstig na nuwe weivelde begin soek. Die beroepskeuses daar buite is beperk. Vir iemand wat sewe jaar se duur en harde studies agter die blad het om die Woord te verkondig, is dit nie so maklik om ’n nuwe heenkome te vind nie.

Sommige van die dominees wat nie meer kans sien vir ’n lewe op die kansel nie, gee nie net hulle beroep prys nie. Hulle verloor ook hulle geloof in die proses. Ander stap ontnugter van die kerk af weg, maar behou hulle geloof en leef dit op ander maniere uit en nie meer in formele kerklike strukture nie.

’n Derde groep bly aktiewe lidmate van hulle kerk, maar sien nie meer kans vir die eise en verwagtings wat die predikantsamp aan hulle stel nie, terwyl ander besluit om vas te byt in die amp.

’n Navorsingstudie in Amerika wat deur die Barna-navorsingsentrum (https://www.barna.org) onderneem is, het bevind dat 50% van die VSA se dominees so ontnugter is dat hulle die bediening dadelik sou verlaat as hulle ’n ander bron van inkomste kon vind, en dat 80% van diegene wat hulle teologiese studies voltooi, die bediening binne die eerste vyf jaar van hulle loopbaan verlaat.

Volgens die meeste statistiek wat op die internet beskikbaar is, verlaat 60 tot 80% van predikante in die VSA na tien jaar die bediening. Slegs ’n klein persentasie sal as dominees aftree.

Wat gebeur dan so kort na hulle studies dat soveel predikante ontnugter raak en twyfel in hulle beroepskeuse of nie langer kans sien om dominees te wees nie?

In Suid-Afrika is die navorsing oor ontnugterde dominees minder geredelik beskikbaar. Maar uit gesprekke met mense wat die bediening verlaat – en selfs dié wat steeds dominees is – blyk dit dat baie van die frustrasies wat predikante elders in Westerse lande ervaar, ook in Suid-Afrika van toepassing is.

Izak du Plessis

Izak du Plessis, wie se stem vroeër jare Sondae van die kansel gehoor kon word, is vandag ’n bekende stem oor die radio, waar hy as radiojoernalis by RSG se aktualiteitsprogramme Monitor en Spektrum werksaam is. Hy sê hy is vandag gelukkiger as ooit tevore. Hy is een van diegene wat nie meer glo nie. “My bedanking as predikant is die somtotaal van verskeie goed wat gebeur het, soos die feit dat ek nie meer in ’n god kon glo nie en toenemend ontuis in die kerk begin voel het.” Hy sê die spanning tussen verwagtings en sy aanbod het eenvoudig te groot begin raak. “Maar wesenlik kom dit daarop neer dat ek besef het die wêreld is oneindig groter as ’n god en die binnekring van die kerk en ek wou dit nie langer misloop nie.”

Rudolph Scharneck

Rudolph Scharneck is ’n jong plattelandse dominee in KwaZulu-Natal wat sy beroep geniet en steeds hoop om ’n verskil te maak. Maar ook hy is nie sonder frustrasies nie. “Ek is ’n voltydse dominee in ’n plattelandse gemeente en daar is vir my vele vreugdes aan die bediening, maar ook vele frustrasies. Dis vir my, as iemand wat werklik vir mense met probleme op ’n dieper vlak omgee, lekker om die geleentheid te hê om vir mense daar te kan wees. Ek geniet dit baie om keer op keer die besef te kry dat ek werklik vir mense iets beteken, al is dit net deur na hulle te luister.”

Rudolph sê hy hou daarvan om mense te help om die Bybel se oorspronklike konteks binne daardie raamwerk te lees en te verstaan. “My werk as predikant bied ook aan my die geleentheid om met ’n verskeidenheid van dinge besig te wees en ook my eie tyd te bestuur.”

Wat hom frustreer, is dat daar in die kerk min ruimte is vir mense wat nie saam met die “hoofstroom” stem nie. “Predikante wat in die grootste eerlikheid sommige tekste anders verstaan as wat algemeen aanvaar word die regte manier is, loop die risiko om hulle werk te verloor. As predikant moet ’n mens voortdurend jou woorde tel. Verder beleef ek ook dat baie kerkleiers dit nie duld as iemand hulle teëgaan nie.”

Sy ideaal is om steeds in ’n gemeente as predikant betrokke te wees, maar nie van die kerk finansieel afhanklik te wees nie. “Dis egter nie so maklik nie, omdat ek vir niks anders opgelei is nie.”

Gerhard Bothma

Gerhard Bothma is ’n progressiewe denker wat baie lief is vir die kerk en tot onlangs nog voltydse predikant van ’n gemeente in Polokwane was. Vir hom is die NG Kerk steeds sy naaste geloofsfamilie, en sy beste vriende is ook nog in die kerk.

Sy paaie met sy gemeente het egter verlede jaar geskei. Sedertdien dink hy dikwels diep na oor sy beroepskeuse van destyds. “Al voel ek soms ek is ’n gek, glo ek die NG Kerk beskik nog oor die mensekapitaal en netwerke om ’n reuseverskil in gemeenskappe en die land te maak.

“Toe ek ja gesê het vir wat ek in 1985 geglo het om met dominees en kerkleiers te werk, het ek ’n verbintenis gemaak wat ek dink nog nie uitgeloop het nie. So ook my eie roeping en verbintenis daaraan. Dit voel asof ek nou meer los is om dit wel te kan doen.”

“Ek wil graag daaraan deel hê en deel wees van die sisteem. Dis vir my persoonlik baie sleg om nie by ons sinodesitting oor artikel 1 te kan wees wanneer daar die jaar weer ’n besluit oor die Belhar-belydenis geneem word nie.”

Gerhard sê daar is baie persone in die NG Kerk wat behoorlike teologie nastreef en dit hou hom aangetrokke.

Maar selfs hý oorweeg dit soms om te loop. “Waarom ek dit oorweeg om te waai? Ek’s net anderkant 50. En ek gaan nie my tyd mors op mense wat net op hulleself en húlle standpunte fokus nie. Ons leef ná 2001. Daar’s géén rede waarom mense aan agtergehaalde geloofsinhoude hoef vas te klou nie. En dan, die koue skouer wat ’n mens voortdurend kry as jy hulp aanbied of vra waar jy betrokke kan raak kan net soveel maal gevat word.”

Renier Lourens

Renier Lourens is ’n plattelandse dominee in die Noord-Kaap. Van vroeg af het hy die verkeerde kant van die kerk gesien. Sy my ma was oorspronklik ’n Rooms-Katoliek, sy pa sy lewe lank ’n NG Kerk-lidmaat. Om as kinders by die Afrikanergemeenskap in te pas, sou dinge moes verander. Rooms was uit en uiteindelik het hy as Metodis grootgeword. Dit was darem gesien as die Engelse NG Kerk in die oë van die volk. Later sou nog skuiwe genoodsaak wees. “Metodis was goed, maar nie goed genoeg nie.

“Ek moes belydenis aflê in die NG Kerk. Ek moes verander, ek moes goed genoeg wees. Outsiders was nie welkom nie.”

Tydens sy tweede jaar op universiteit verloor sy pa sy werk. “Ek moes my studies betaal én my ouers help onderhou. Voltydse studies en twee werke, sewe dae ’n week.” Bepaalde geloofsvrae en twyfel het by hom opgekom. “Ek het my voogstudent genader en ook my voogpredikant in die stad.”

Vir die jong Renier was hulle antwoorde vol clichés, sonder diepte en met baie waarskuwings. “Niemand het my worsteling gehoor nie. Ek was as twyfelaar gemerk, ’n moeilikheidmaker en daar was nie regtig plek vir so een nie. Ek het heel dikwels in die aande uitgegaan vir ’n dop en ’n dans.” Dáár het hulle hom onvoorwaardelik aanvaar, sê hy. “Dit is waar ek ongelooflike diep gesprekke gehad het oor God en geloof, waar my vrae beantwoord is en ek God gevind het.”

Uiteindelik het die kuratorium geweier om hom te legitimeer. “Ek het uitgehang saam met die sogenaamde slegtes en dit was ’n klad op die fakulteit en die kerk se naam. Ek moes nie met hierdie soort mense meng nie, maar slegs vir hulle die boodskap bring. Uiteindelik was die boodskap aan mý gebring: Jy is nie goed genoeg nie. Jy moet verander, want hier is nie plek vir outsiders nie.”

Hy het egter vasgebyt en wel ’n dominee geword. Vandag is hy steeds op die kansel, waar hy sy paradoksale lewensbeskouing uitleef. “Ek is ’n rassis, daarom kies ek teen rassisme. Ek is ’n leuenaar, daarom kies ek om die waarheid te praat. Ek is ’n klassis, daarom kies ek gelykheid. Ek is ryk, daarom kies ek armoede. Ek vergewe nie, daarom kies ek vergifnis. Ek is hier vir myself, daarom leef ek vir ander. Ek wil graag leef, daarom kies ek om te sterf. Ek wil graag alles behou, daarom kies ek om dit weg te gee. Ek is ongelowig, daarom kies ek geloof. Ek is Godloos, daarom kies ek God. Ek kies om in hierdie paradoks te leef. Ek kan nie anders nie. Dit is die lewe.”

En as jy hom vra waarom hy die vreemde paradoks kies, sê hy: “Die kerk wil oorleef, daarom kies ek dat sy sal sterf. Ek wil haar graag aan die lewe hou, daarom kies ek om die laksman te wees.

“Ek wil nie alles prysgee nie. Ek wil nie eens lewe soos Hy gelewe het nie. Sonder huis of haard, afhanklik van ander vir kos en versorging, dikwels alleen, byna familieloos, uitgelag en bespot, weggejaag en verstoot. Nie ek nie.”

Ander ook nie. Almal soek ’n huis en ’n werk, kos en klere, om selfversorgend te wees, trots en menswaardig. ’n Plek om te hoort, om tuis en welkom te voel, deel van ’n groep, aanvaar en nie verstote nie. Niemand wil sterf nie. Niemand wil alles opgee nie.

“Die kerk is nie vir outsiders nie, daarom kies sy outsiders soos ek,” sê Renier.

Carin van Schalkwyk

Op Philippolis in die Vrystaat sak Carin van Schalkwyk se moed as dominee dikwels in haar skoene as sy sien wat soms om haar in die kerk gebeur, maar sy byt vol moed vas.

Die afgelope jaar het sy baie gewonder wat sy nog in die kerk maak. Veral toe dit duidelik begin word het hoe die Vrystaatse NG Kerk-gemeentes oor artikel 1 van die Kerkorde gestem het om te besluit of die Belydenis van Belhar deel moet wees van die NG Kerk se geloofsbelydenis. “Ek was nog altyd oortuig daarvan dat ons in die kerk ruimte moet maak vir mekaar en mekaar se standpunte. Die uitslag van die gemeentes se stemming het ’n diepe geloofstryd oor my plek en die pad vorentoe in die kerk ontketen.”

Carin, wat ook skriba is van die Vrystaatse sinode se moderamen, was een van Willie Jonker se studente. By hom het sy geleer mens kan nie ’n siek sisteem van buite regmaak nie, want die sisteem stoot jou net uit en gaan sy eie gang.

“Sy raad was dat ’n mens in die sisteem bly en dit van binne aanpak, want dan moet die sisteem jou ten minste aanhoor.”

Die Gereformeerde Kerke (GKSA) se debat tydens hulle afgelope sinode oor die vrou in die amp het haar opnuut herinner aan wat die kerk maak met vroue wat graag in die bediening staan. “Ek het onthou hoe seer en moeilik dit was om verwerp te word en nie predikant te mag wees nie.” Hierdie twee sake het gemaak dat sy besluit het om maar net te bly waar sy is en profeties te praat oor sake wat aandag nodig het, of dit nou die gewilde standpunt is of nie.

Michelle Boonzaaier

Michelle Boonzaaier is ’n dominee in die Wes-Kaap wat op die oomblik met haar een voet binne en een voet buite die kerk staan. Sy was ook die eerste, en waarskynlike enigste, bruin vrouepredikant in die NG Kerk. Sy is geruime tyd nie meer voltydse predikant nie. Deesdae preek sy so af en toe in ’n middelklas NG Kerk-gemeente in Brackenfell, wat haar aanvaar net soos sy is. “Warts and all. Hierdie warts and all-aanvaarding is nogal vir my belangrik, want ek het dit nie altyd in die kerk – dis nou die NG Kerk – ervaar nie.”

Haar reis in die NG Kerk was pynlik. “Ek het nie ingepas nie, want ek lyk anders, my stem is anders en baie krities en ek is maar ver van die perfekte idee van hoe ’n dominee in sekere gemeentes moet wees en lyk.”

Haar betrokkenheid by landelike gemeenskapsontwikkeling het begin nog lank voordat sy dominee geword het. “Ek lei mense in landelike gebiede op om tuine te verbou. Voedselsekerheid lê my baie na aan die hart en ek sal seker vir die res van my lewe opleiding doen. Deur hierdie tipe opleiding vind ek dat ek in mense se lewens ’n verskil kan maak.”

Haar ervaring van dominee wees met een voet binne en een voet buite die kerk is dat sy iets baie ryker na die preekstoel bring wanneer sy wel die dag preek. “Ek vind dat ek breër en wyer dink oor God en wie God is; ook waar om God te vind. Dis iets wat my huidige gemeente baie goed verstaan en aanmoedig. ’n Ervaring wat vorige gemeentes nie altyd verstaan het nie. Ek het die ervaring binne die kerk gehad dat perfeksionisme belangrik is en dat kritiese denke nie aangemoedig word nie.”

Bertus van Niekerk

Bertus van Niekerk was vir twee dekades ’n suksesvolle dominee in ’n groeiende Wes-Transvaalse gemeente van die Hervormde Kerk voordat hy sy toga opgehang het. Vandag is hy ’n wynmaker in die Kaap.

“Ons het wat getalle, betrokkenheid en finansies betref gegroei en my gemeenskapsbetrokkenheid was hoog: ek het ook buite die kerk in verskeie forums gedien en ek was veral in die omliggende dorpe in die streek betrokke by welsynswerk. Ek het my werk geniet, hoewel ek dikwels van ‘social gospel’ beskinder is: ek wou hê kerk en gelowige-wees moes ’n konkrete verskil in mense se lewens maak.”

Toenemende frustrasie met die kerk se onvermoë om aan te pas by samelewingsnorme en eietydse kwessies het egter sy tol geëis. “In plaas daarvan dat die kerk gesprekke lei oor vigs, geslagsgelykheid, diskriminasie op grond van kleur of geslag en homoseksualiteit in gemeenskappe, het ek beleef die kerk verwys die gesprekke na kommissies wat dit ‘bestudeer’ oor tydperke van jare (soms dekades) en dat die verslae telkens in sinodevergaderings herverwys word.”

Die gesprekke binne die kerk eindig volgens hom dikwels op niks nie, en wanneer die kerk byvoorbeeld verskoning vra vir byvoorbeeld sy rol in die regverdiging van apartheid, is dit mosterd na die maal.

Dieselfde gebeur met gesprekke oor leerkwessies soos skrifbeskouing, God, gebed, die maagdelike geboorte, die historiese Jesus, die opstanding en die hemel en die hel. Die kerk deins terug daarvan om kaalvuis intern te gesels oor onderwerpe wat gemakliker in koerante of publieke forums bespreek word.

Dit het hom grensloos gefrustreer dat grondige internasionale teologiese resultate binne die kerk met agterdog bejeën word. “Dis juis die ruimte waar dit tuis moes wees. Die kerk rangeer die relevansie van teologiese besinning na die periferie van haar bestaan.

“Nadat ek as predikant bedank het agt jaar gelede, het daar elke jaar predikante van verskillende kerke, ook die kerke wat deur die ‘susterskerke’ as ‘sektes’ beskou word, oor my stoep gestap. Dominees en pastore gesels gemaklik met my oor die goed in hulle beroep wat hulle disillusioneer. By die redes wat ek hier bo genoem het, kan jy byvoeg dat baie predikante ’n vorm van vervreemding beleef, as ek ’n Marxistiese term mag gebruik.”

Die beroep skaaf en skuur dikwels só aan die individu wat dit beoefen dat dit hulle in ’n tipe rymdwang forseer, met die gevolg dat predikante beleef dat hulle hulle identiteit ter wille van die behoud van die beeld van die kerk en reggeaarde evangeliedienaar verloor.

Die gevolge daarvan is dikwels uitbranding en ander sielkundige toestande, en ontstellend reëlmatig eindig dit in verbrokkeling van huwelike in pastorieë, omdat die kerklike druk op gesinne onhoudbaar word. Wanneer huwelikspanning in die pastorie bespreek word, word dit dikwels gestigmatiseer (net soos die kerk met byna alle etiese sake omgaan), wat tot gevolg het dat predikante nie die vrymoedigheid het om persoonlike sake informeel en vertroulik met selfs kollegas te bespreek nie.

Agterdog blyk een van die selfoorlewingsinstinkte binne die kerk te wees. Baie predikante beleef hulle onmiddellike omgewing as ’n toksiese en bedompige kunsmatigheid in plaas van ’n gees van openlikheid en vertroue. Van ’n “veilige ruimte” binne die kerk is daar geen sprake nie, sê Bertus. “Wees veral op jou hoede as gesprekke só begin word. Daar’s altyd iemand in die geselskap wat die loop daarvan in ortodokse rigtings gaan manipuleer.”

Soos baie ander ontnugterde dominees sê Bertus hy sal nooit ophou praat oor die rol van geloof in gemeenskappe nie. “Ek sal altyd in gesprekke betrokke wees waar individue oor die waarde van spiritualiteit besin. Maar die gesprekke buite die kader van geforseerde belydenisonderskrywing is baie meer spontaan en stimulerend.

“Oordeel bestaan nie buite die kerk nie en daarom is respek vir verskille, vrymoedigheid en openlikheid kenmerke van die gesprek buite die kerk. Oop gesprekke is juis moontlik waar niemand bedreig voel nie.”

Statistiek oor die groot aantal predikante in Amerika wat die beroep verlaat, kan hier gesien word: http://www.pastoralcareinc.com/statistics.

Kommentaar

Nico

2015-02-04 at 16:20

Wanneer gaan van Niekerk eerlik wees oor die werklike redes waarom hy sy kerk verlaat het?

Stefaan de Jager

2015-02-04 at 17:11

Jare gelede was ek deel van ‘n steekproef waar iemand in ‘n studie probeer vasstel het hoeveel dominees weer sal doen wat hulle doen as hulle kan oorbegin. Slegs 37% van hierdie leraars het gesê dat hulle weer predikante sou word. Dit wil sê dat ongeveer 63% van die leraars ongelukkig in die bediening is en eerder graag sou wou uit. Nou is die bediening hul brood en botter en hulle bly maar. Die feit dat hulle wil uit maak hulle nie noodwendig minder kind van die Here nie, maar hulle is in die verkeerde werk. Ek is dankbaar dat ek een van die 37% kon wees. As ek kon oorbegin sal ek weer presies doen wat ek gedoen het. Myns insiens is daar een groot rede wat maak dat leraars kan aangaan, tsv van baie frustrasies in die bediening, en dit is die roeping wat hulle van die Here ontvang het. Prof Nico Smit het eendag in die klas gesê: “Menere, nie almal van julle wat hier sit, is deur die Here vir die bediening geroep nie.” Dit was baie stil in die klas en na die tyd was dit interessant om te sien wie daaraan aanstoot geneem het.

Ek het destyds Bourekenkunde aan Kovsies geswot. Vir ‘n paar maande het ek die stryd in my gehad om predikant te word, maar daar was te veel twyfel. Een nag het die Here my tot die bediening geroep. Daar waar ek voor die Callie Human saal gestaan het, het ek beleef hoe die twyfel uit my uitloop toe ‘n helder wete in my kom dat ek ‘n predikant moet word. Ek het ‘n Stem gehoor wat vir my sê: “Laat staan jou besware en argumente, Ek wil hê jy dat ‘n predikant moet word en Ek sal by jou wees.” Dis nie ‘n stem wat iemand langs my nie sou kon hoor nie, dis ‘n helder wete wat in my kom inval het. Daar is diegene wat hieroor sinies sou kon wees en dit in twyfel trek, maar laat dit dan vir hulle maar so wees. Van daardie aand af tot waar ek nou hier sit en skryf, het daardie sekerheid en oortuiging nog nooit weer weggegaan nie. Deur die jare het dit net sterker geword. Sonder hierdie innerlike oortuiging sou ek dit nie in die bediening gemaak het nie. Die teendeel is eerder waar dat die bediening na 33 jaar vir my steeds ‘n voorreg is. Sonder roeping kan dit nie.

Dit moet louter hel wees om Sondag na Sondag te preek en jy weet dat jou hart nie daarin is nie. Dit moet aaklig wees om oor die Evangelie te preek en nie regtig meer te glo dat dit God se Woord is wat jy verkondig nie, maar slegs die woorde van mense oor God. Dit moet ‘n riller in die bediening wees as Jesus nie meer jou Here en jou God is nie.

Magdaleen Kruger

2015-02-04 at 22:51

Ek het nog altyd ’n broertjie dood daaraan dat die teologie/kerk/prediker as beroep anders gesien en hanteer word. Dis soos enige ander beroep … frustrasies, lekkertes, stagnasie, verveling, opwinding, uitdagings ens. Wat in hierdie artikel geskryf is, is van toepassing op alle beroepe. Dis nie uniek of “anders” nie. Ek neem aan dis maar toevallig dat die skrywer gekies het om op die prediking-beroep te fokus.

Johannes

2015-02-05 at 09:35

‘n Mens wonder waarom Oosthuizen kies om net oor die “ongelukkige” predikante te skryf? En dan oor ongelukkige liberale predikante wat duidelik nie meer wil vashou aan die Skrif nie …? Lyk my party van hierdie ouens is bloot kwaad omdat hulle oor losbandige gedrag op die vingers getik is … selfgemaakte martelare wat simpatie soek!

CM

2015-02-05 at 16:45

Dit bly vreemd dat intelligente mense na jare se studie nie bereid is om te erken dat hulle weet wat hulle lees nie.

CM

2015-02-06 at 05:06

Manna.

Daar is ’n menigte wat steeds oortuig is dat ’n afgryslike moord ’n heilige verlossingsdaad is, en dat die verheerliking van kannibalisme ’n nagmaal is.

Met akademiese steun, word daar geskep terwyl die pap loop.

Monica Hammes

2015-02-07 at 07:46

Magdaleen Kruger se kommentaar is besonder sinvol. Voeg daarby nog dat baie dominees, jonk en oud, hulle toenemend aanpas by die moderne lewe en werksplek deur intrapreneurskap (binne hulle gemeentes) en entrepreneurskap (sommer oral). Sulke mense vind gou daar is soveel wat ’n mens/die kerk kan/behoort te doen dat jy nie tyd het om te veel aan jouself te dink nie. Vra gerus Jaco Strydom van Echo hoe hy hieroor voel.

Rietha

2015-02-13 at 11:58

Magdaleen, dit KAN tog nie as net nog ’n beroep gesien word nie? Jy MOET tog in die Bybel glo om dit te kan doen. Dis moes nie net nog ’n tipe sielkunde beroep nie? Mens kan ook nie net uit die Bybel haal wat, soos my ouma gese het, “gloofbaar” is nie. Maar nou ja, daar’s min wat daai pad wil loop.

Het Paulus en kie nie net sommer gepreek waar hulle gestop het nie dan’t mense maar aangeloop gekom? Maar hier soos nou, het die tentpredikers baie gou die geld sien instroom en na ’n paar jaar ’n heel ander boodskap begin preek. Daar kan absoluut nie ’n middeweg wees nie. Afgewaterde bybelpredikant is vir my persoonlik so verskriklik pynlik. Dis wanneer my ma huistoe kom en sê Die Dominee het mooi gepreek. Vra ek dan waaroor dan is dit maar oor die liefde of wat ookal en mooi het niks te doen met enige iets nie. Ek glo in die Bybel soos hy daar staan tot die walvis en die maagdelike geboorte – maar ek sukkel om die bybel uit te leef, en daarom vra ek maar net. Ek wil nooit weer ook hoor van “jy moet binne konteks lees nie” no WAY!!! As die bybel so ’n waarheid is, kan hy op ’n enkele sinnetjie staan. Dis hoe hulle jou bykom, met konteks, of gebrek daaraan. Gee nie om vir konteks nie. Sorry.

Gerrit vd Walt

2015-02-18 at 15:41

Dit is interesant dat die Predikante praat van ’n beroep, dit is ’n roeping waar die Here sy hand op jou lê as sy spreekbuis. Die probleem is die hoofstroom kerke dink dat daar nie lewe buite hulle strukture is nie,en dan word hulle ontnugter. Ek is die CEO van ’n onafhanklike kerk wat baie predikante en ander kerke help om hulle status te behou en hulle help om hulle eie onafhanklike kerke te begin. Meeste van hulle is baie suksesvol en gelukkig. Die koninkryk gaan nie om ’n kerk nie maar oor sy wil. Ek wil al die ontnugterde Predikante aanmoedig om met my kontak te maak sodat ons hulle eerder kan help as om te sien dat hulle verlore gaan vir die koninkryk.

mettie

2015-03-10 at 21:37

Isak du Plessis. Oud-dominee wat eens met sy sogenaamde verligte standpunte die kerk in ’n bepaalde rigting wou stuur. Sy rigting. Toe loop hy hom vas omdat die kerk nie ’n plek is vir weerbarstiges wat kan maak en breek soos jy wil nie. Daar is disipline. Toe hy onvergenoegd raak met die kerk, skryf hy sommer vir God ook af. Gelukkig het Oom Beyers Naude, Moeder Theresa, Martin Luther King, Desmond Tutu en vele ander nie vir God afgeskryf nie. As ek moet kies: liewers die weg van oom Bey en sy sielsgenote as ’n wannabe soos broer Isak. Ook nie die enigste ligsoekende Isak in die kerklike lewe nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui