Kyk ook:
- Geloftedag of Versoeningsdag? (Ditsem.net) (Spesifiek kommentaar op hierdie artikel)
- Geloftedag: om te vier of nie (Daniel Louw)
- Geloftedag… En Die Slag van Bloedrivier (Peter Hammond)
Hierdie artikels word geplaas bloot ter inligting. Dit is ’n moeilike artikel om te peil. Daar is baie dinge wat waar is, maar dan is daar ander dinge wat my bekommerd maak oor Leopold Scholtz se Godsbeskouing.
Dit is so dat geloftedag al baie gekaap is deur regses en dat dit gebruik was om eerder Afrikaner nasionalisme te bevorder as om God die eer te gee vir die wonderwerk wat Hy bewerkstellig het. Dit is egter geen rede om nie geloftedag op die regte manier te vier nie.
Op sommige plekke is kommentaar in [blokhakies].
********
Waarom nog Geloftedag? | Kerkbode
Deur Leopold Scholtz
4 Desember 2012
Het die viering van Geloftedag in die nuwe Suid-Afrika nog sin? LEOPOLD SCHOLTZ het dié vraag gestel en ’n onvolkome antwoord gevind.
Toe ek ’n skoolkind was – in die laat jare vyftig en vroeë sestig – was Dingaansdag, soos ons Geloftedag toe genoem het, ’n heilige dag. Toe Sarel Cilliers die gelofte op 9 Desember 1838 afgelê het, het hy onderneem dat indien God die oorwinning aan die Voortrekkers skenk, “wij die dag en datum elk jaar als een verjaardag en een dankdag zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen”.
Volgens die historikus, wyle prof Floors van Jaarsveld, het dié dag in die eerste dekades hierna in die vergetelheid weggesink, en het dit pas in die tagtigerjare van die 19de eeu as ’n besondere dag herleef. Van toe af – soos ek dit ook as kind meegemaak het – was Geloftedag veel meer ’n Sondag as alle ander: dit was ook ’n heilige dag, waarop die verbond tussen God en die Afrikanervolk herbevestig is.
As kind het ek dit onkrities meegemaak, al wou ek liewer gaan swem of albasters speel as om kerk toe te gaan. Dit was eers later, as volwassene, dat ek meer diepgaande oor die saak begin nadink het. Uiteindelik het dit min of meer tot die volgende uitgekristalliseer (en die soektog, moet ek erken, duur steeds voort):
Soos die ou volk, Juda
Die teologiese beskouing wat uit die gelofte en die intense viering daarvan tot min of meer in die sewentigerjare van die vorige eeu blyk, vertoon nogal ooreenkomste met dié van Juda in die antieke tyd, soos dit in die Bybel beskryf word.
Ek is geen Bybelgeleerde of argeoloog nie, en wat hier volg, is die neerslag van ander se navorsing. In die Bybel self, aangevul deur argeologiese opgrawings, is daar getuienis dat die Judeërs se Godsbeskouing deur verskeie fases gegaan het. Van dié fases volg nie noodwendig op mekaar nie, en oorvleuel mekaar eerder.
Aanvanklik was Jahwe bloot “’n” God – nie “die” God nie. Uit verskeie vroeë psalms, wat waarskynlik van ver voor die ballingskap dateer (byvoorbeeld Psalms 29, 82, 89 en andere) blyk dit dat daar ’n “raad van gode” was waarin Jahwe sitting gehad het (die Afrikaanse 1983-vertaling steun dit weliswaar nie, maar volgens die geleerdes is dit wel wat in die oorspronklike Hebreeus te kenne gegee word).
In argeologiese opgrawings waarna prof William Dever in sy boek Did God have a wife? verwys, is verskeie inskripsies van voor die ballingskap ontdek wat gewag maak van “Jahwe en sy Asjera”. Asjera was die vrou van die Kanaänitiese god El (wat in die Noord-Israelitiese geskrifte trouens die alternatiewe naam vir Jahwe is). Dit wys dat baie Judeërs op voetsoolvlak ’n taamlik primitiewe idee van God gehad het. [Wat op dees aarde beteken ’n “primitiewe idee van God”?]
Maar in die amptelike tempel in Jerusalem was Jahwe nie sommer net ’n god nie. Hy was die Judeërs – en in ’n mindere mate ook die Noord-Israeliete – se eie god. Die bestaan van ander volke se gode is blykbaar aanvaar, maar Jahwe was die god wat spesiaal na die Judeërs en die Israeliete omgesien het, wat gesorg het dat hulle hul oorloë wen. Hy was magtiger as die ander gode.
Dit was eers met die ballingskap dat dié idee finaal verdwyn het. Die nederlaag teen die Assiriërs en die ontvoering van die volk se elite was ’n skok van só ’n enorme omvang dat dit die religieuse leiers se hele godsbeskouing dramaties beïnvloed het.
Te midde van hulle trane op Babilon se rivieroewers, het hulle ingesien dat Jahwe soewerein was, die énigste God. Dat Hy nie slegs na die Judeërs omgesien het nie, maar na die ganse skepping en al die mense daarin. Dit was in sekere opsigte die begin van ons eie Christelike godsbeskouing. [Wil hy impliseer dat die Christelike godsdiens deur mense daargestel is? Nee, dit is deur Jesus Christus, die Seun van God, daargestel, nie deur mense nie.]
Tot vandag toe glo die ortodokse Jode natuurlik – soos ons en die Moslems – dat húlle godsbeskouing die enigste korrekte is. Maar eersgenoemde het wel ontdek dat Jahwe die énigste god is, en in beginsel die hele mensdom se god.
As ’n mens nou die gelofte lees wat Sarel Cilliers voor die Slag van Bloedrivier afgelê het, val dit jou op dat die godsbeskouing daarin nogal ooreenkomste vertoon met dié van die Ou-Testamentiese Judeërs. God word gesien as die Opperwese wat aan sy volk die militêre oorwinning sal skenk.
Daar is uiteraard geen sprake daarvan dat die Voortrekkers die bestaan van die Zoeloes se hoër wesens erken het nie. [Natuurlik nie. Dit is ook wat die Bybel ons beveel om te doen. Daar is net een God en Hy is ’n jaloerse God.] Maar die band tussen God en die Afrikanervolk is gesien as soortgelyk aan dié tussen Jahwe en die Judeërs.
Dingaansdag
Iets in dieselfde trant het ’n mens ervaar by die Dingaansdagbyeenkomste in die 20ste eeu. Eers het ’n predikant van een van die drie Afrikaanse susterskerke ’n kort diens gehou; dan het die een of ander volksleier (verkieslik ’n minister, maar ’n parlementslid – uiteraard van die Nasionale Party – sou ook deug) ’n toespraak gehou waarin godsdiens en nasionalisme dikwels skaamteloos vermeng is.
Sonder om te veralgemeen – want natuurlik was daar ook uitsonderings – was die algemene gees wat dikwels uit sulke byeenkomste gestraal het, dié dat daar ’n besondere band tussen God en die Afrikaners was; dat die Afrikaners ’n spesiale plek in God se breë plan vir die wêreld beklee het.
Om kortpad te vat: God was dalk nie net die Afrikaner se God nie, maar hy was tog ’n iets méér “óns” God as wat hy “húlle” God was.
Natuurlik was dit nie tot die Afrikaners beperk nie. In feitlik elke oorlog waarby Christene betrokke was, is daar op God se steun aanspraak gemaak – ook deur opponerende partye. In die Tweede Wêreldoorlog het Duitse soldate selfs die teks “Gott mit uns” op hulle gordel se gespe gedra.
Só heilig oortuig was baie Afrikaners van dié band – soos versinnebeeld deur Geloftedag – dat prof Floors van Jaarsveld in Maart 1979 geteer-en-veer is omdat hy dit durf waag het om die tradisionele beeld van die dag op akademiese gronde te bevraagteken. Dit was weliswaar ’n tyd toe die Afrikaners se tradisionele etniese gom reeds begin verbrokkel het, en die daad is taamlik wyd as onaanvaarbare ekstremisme veroordeel. Maar as Van Jaarsveld dit ’n dekade of twee vroeër kwytgeraak het, is die kans goed dat die teer-en-veerdery op aansienlik groter steun sou kon reken.
Gevra: Nuwe denke
In ’n sekere sin het die Afrikaners ná 1994 ’n fase in hulle geskiedenis betree wat in bepaalde opsigte met die Judeërs se ballingskap vergelyk kan word. (Ofskoon daar geen waarborg is dat die beloofde land weer bereik sal kan word nie!) Ons “spesiale band” met God is verbreek. Hy het ons nie die oorwinning oor die “Zoeloes” geskenk nie. [Daar is altyd ’n spesiale band tussen God en Sy kinders. Die feit dat die ANC na 1994 die regerende mag gekry het, beteken glad nie dat God ons nie die oorwinning oor die Zoeloes geskenk het nie.]
En net soos die Judese geestelike leiers langs die Tigris en Eufraat opnuut moes nadink oor hulle mense se band met God en hulle plek in die wêreld, sal ook die Afrikaners dit moet doen.
Wat beteken dit prakties?
Allereers sal ons moet leer om te luister na wat God vir ons in die Bybel sê – en ook wat ons mede-Suid-Afrikaners rondom ons sê. Dit maak ’n mens seer om dit te sê, maar ons langdurige, byna ongebreidelde magsuitoefening voor 1994 het ons siende blind en horende doof gemaak. Ons het van God se Woord gehoor wat ons wóú hoor. Ons het gereken ons band met Hom is só spesiaal dat Hy agter apartheid staan. Ons wou nie na ons mede-Suid-Afrikaners luister nie. [Dit is moontlik waar.]
Tweedens: Hieruit vloei voort dat ons opnuut ’n Christelike nederigheid en diensbaarheid aan ons naaste sal moet kweek. Dit beteken nie dat ons maar lydsaam moet aanvaar wat alles op ons afkom nie; daar is niks daarmee verkeerd as jy jou eie regte kragtig verdedig nie. Dit beteken wel dat ons nie meer ons velkleur kan beskou as paspoort vir méér regte as ander nie. Dit beteken ook dat ons nie onderskeid kan tref in opheffing en hulpverlening nie. Help jou eie mense met oorgawe, ja. Maar sien ook die nood by ander raak en doen iets daaraan.
Ten laaste: Daar is hoegenaamd niks daarmee verkeerd om trotse Afrikaners te wees, vir Afrikaans te veg en jou volksidentiteit uit te leef nie. Maar moenie ’n fetisj daarvan maak nie. [“fetisj” is die geloof dat ’n voorwerp bonatuurlike krag het of meer spesifiek, dat ’n mensgemaakte voorwerp krag oor ander het.] Onthou dat jou identiteit as Afrikaner altyd ondergeskik is aan jou identiteit as Christen en jou gehoorsaamheid aan God. Onthou dat ons God méér gehoorsaamheid verskuldig is as mense. [Baie waar!]
Versoeningsdag
Dus, wat Geloftedag betref: As ons die dag sien as ’n viering van die Voortrekkers se militêre oorwinning oor die heidense en barbaarse Zoeloes, het dit geen plek meer nie. As dit gevier word as ’n dag van verootmoediging voor God, as ’n versoeningsdag, soos elke Sondag – dít maak sin.
En sê nou …?
’n Laaste gedagte: Wat maak ons as die “ander” (lees: die ANC) nie wíl versoen nie? As hulle, soos alte dikwels tans gebeur, ons uitgestrekte hand wegklap, en weier om ons regte wat in die Grondwet vervat is, na te kom?
Verskillende mense sal verskillende antwoorde hierop gee. Daar is myns insiens slegs een Christelike antwoord: Bly vriendelik, moet nooit ophou praat en jou standpunt stel nie, maar staan ferm.
Voorlopig …
Toegegee, bogenoemde is ’n onvolkome antwoord. Ek sal verder nadink en soek.
Dr Leopold Scholtz is Media24 se verteenwoordiger in Europa.
Kommentaar op “Waarom nog Geloftedag?”
Catherina Hayden
16/12/2012
As kind het die Geloftedag-belofte van die Voortrekkers groot gewig by my gedra en n groot gevoel van verantwoordelikheid, want mens maak nie sommer net aan God ’n belofte en kom dit nie na nie. Dat die Voortrekkers op God vertrou het en Sy hulp nodig gehad het, is waar. Hulle het hulle-self in ’n situasie bevind waar hulle hulle self moes verdedig. Ek glo dat hulle in vrede langs die Zoeloes wou leef en het dan ook met hulle ’n onderneming aangegaan. Wat vir my vandag duidelik is, is dat dit onBybels is om as mens ’n Sabbatdag te wil instel. Die Sabbatdag behoort aan God en dit is ’n dag tussen Hom en Israel en wel soos dit altys vir hulle op die sewende dag was. Ons as Christene kom op die eerste dag van die week bymekaar omdat dit die gewoonte van die eerste Christene was. Ek sien geen fout daarmee dat nageslagte van die Voortrekkers God eer op so ’n dag nie, en ek wil glo dit is nie ten koste van Zoeloes nie, want die Voortrekkers wou in vrede langs hul woon. Dis jammer dat die konfrontasie gebeur het. Net so weet ek dat enige Christen vandag in vrede en God se liefde langs Zoeloes sou wou woon. ’n Christen is immers iemand wat weet dat God nie wil hê dat een moet verlore gaan en Jesus het vir ons herinner aan die 2 gebooie waaraan die Wet en die Profete hang en elke Christen leef so omdat hy/sy Jesus Christus lief het.
*********
Geloftedag en versoening: lesers praat saam
16/01/2013 | Geliasieer onder: Briewe | Geskryf deur: Jean
http://kerkbode.co.za/geloftedag-en-versoening-lesers-praat-saam/
Charles H Biggs, Rant-en-Dal, skryf:
Ek het die artikel “Waarom nog Geloftedag?” deur dr Leopold Scholtz (Kerkbode, 7 Desember 2012) met groot belangstelling gelees. Die skrywer sluit die artikel af met die volgende opmerking: “Toegegee, bogenoemde is ’n onvolkome antwoord. Ek sal verder nadink en soek.”
Hierdie artikel het my ver laat terugdink. Vir baie jare reeds het ek ’n baie groot probleem met Geloftedag. My pa was predikant in die Oos-Vrystaat en ons het dié dag by ’n Geloftefeesterrein gevier. My pa het gewoonlik die Geloftediens gelei, waarna die res van die dag ’n politieke kleur gekry het. Daar was die een opruiende toespraak na die ander – gevolg deur ’n heerlike vleisbraai en saamkuier. Van ’n “Sondag” was daar absoluut geen sprake nie. Soos Scholtz tereg opmerk, is godsdiens en nasionalisme skaamteloos vermeng.
As volwassene het ek my in Krugersdorp gevestig, waar die Paardekraal-feesterrein jaar na jaar gebruik word vir ’n Geloftefees en waar mense etlike dae voor 16 Desember reeds begin uitkamp. Behalwe vir ’n (kort) Geloftediens, was daar ook hier van ’n “Sondagstemming” geen sprake nie. Daar was gewoonlik politieke toesprake. Ná 1994 is dié toesprake gewoonlik deur verregse politici of leiers van verregse organisasies gelewer. Nou was dit nie meer godsdiens en nasionalisme wat skaamteloos vermeng is nie, maar godsdiens en ’n verregse ideologie.
Ek het gevoel dat ons 1838 se gelofte moet eerbiedig en nakom, maar ek kon my, reeds as kind en veral as volwassene, nie versoen met die politieke kleur wat die dag gehad het nie. As gesin het ons – ek, my vrou en twee kinders – nooit hierdie feeste bygewoon nie, bloot omdat ons ons nie met die vermenging van godsdiens en politiek kon vereenselwig nie.
Die 16de Desember het in Suid-Afrika ook ’n ander betekenis. Ofskoon Scholtz nie daarvan melding maak nie, is Umkhonto we Sizwe (MK), die ANC se militêre vleuel, op 16 Desember 1961 gestig – ’n gebeurtenis wat vir ander groepe in ons land ook ’n besondere betekenis gekry het en hierdie dag myns insiens verder verpolitiseer en dus verdeeldheid bevorder.
Nou praat ons van “Versoeningsdag” – en ek vertrou dat ons in Suid-Afrika werklik versoening sal kan bewerkstellig. Ons kan dit egter net doen indien ons onsself verootmoedig en bereid is om werklik met ander groepe saam te werk. Ons kan dit ook net doen as ons dit in geloof in God Drie-enig doen. In Efesiërs 2:14 sê Paulus: “Deur sy liggaam te gee, het Hy (Jesus Christus) vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het.” Hy voeg dan ook by (Ef 2:15-16) dat “Hy in Homself dié twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.”
As alle groepe in Suid-Afrika in hierdie gees na 16 Desember kyk, sal ons werklik een nuwe mensheid in hierdie land kan vorm, omdat Christus reeds alle vyandskap wat soos ’n muur skeiding gemaak het, afgebreek het.
Anna Engelbrecht, Bellville, skryf:
Ek skryf na aanleiding van die artikel, “Waarom nog Geloftedag?” in Kerkbode, 7 Desember 2012.
Dit het gebruik onder “denkende” mense geword om hulleself te bejammer oor hoe die arme kindertjies moes ly onder hulle ouers se herdenking van die Geloftefees. Foeitog! Die arme kindertjies wat nóg ’n Sondag moes verduur – daar is alreeds 52 …
As die rusdag vir jou so ’n las is, is daar fout met jou viering daarvan. Die rusdag is ’n genade van God waarsonder ons nie kan funksioneer nie. Hy moes rus nadat Hy ses dae gewerk het; hoe sal ons, nietige, swak mense, dit regkry om sonder daardie een rusdag per week te werk?
Wat vra die Gelofte van ons?
Dat ons een dag per jaar ’n rusdag hou waarop ons God dank en eer vir die beskerming en behoud van ons volk.
Dat ons vir Hom ’n kerk sal bou waar dit Hom behaag (nie ’n kerkgebou sal oprig nie).
Dat Geloftedag in die verlede deur politici uitgebuit en gekaap is – daaroor sal ons nie stry nie, maar om te weier om ons geloftes te betaal, is geen oplossing nie. Ons moet die saak regstel. Dit is ’n gelukkige volk wie se God die Here is.
Om die dag te reduseer tot ’n dag van versoening met die Zoeloes, is maar net nog ’n politieke skuif.
Mense wat steeds dink ons verlustig ons in ’n oorwinning oor die Zoeloes, het nog nooit die Gelofte verstaan nie. Duisende Zoeloe-lyke is aaklig, net so aaklig soos die babas en kinders wat by Blaauwkrantz teen die ossewawiele doodgeslaan is. Die soort geweld wat nog elke dag voorkom in ons land.
Die Gelofte gaan om ’n desperate volk wat in ootmoed by God gaan hulp soek het om hulle van uitwissing te red – en ’n genadige God wat in sy grootheid hierdie nietige volkie raakgesien het en hulle deur ’n wonderwerk gered het en ’n oorwinning moontlik gemaak het.
En dié God is die drie-enige God, wat die versoening bewerk het op Kersdag en Goeie Vrydag. Nie sommer enige God wat in die “raad van die gode” sit nie.
Om in die naam van “geloofsverdraagsaamheid” saam te aanbid, is nie liefde teenoor mense van ander gelowe nie. Dan gee ons nie om dat hulle verlore gaan nie en stel ons God langs ander gode.
As jy ’n gelowige Christen-Afrikaner is – hetsy blank, Xhosa, Zoeloe of Engelssprekend – geld die Gelofte vir jou en het jy nie die opsie om dit nie te eerbiedig nie. Dié wat uit die heidendom tot die Christendom gekom het, is immers met God versoen en het iets om te vier en is welkom by die Geloftefees. En dit is nie uit politieke welwillendheid of kulturele oorwegings nie.