Kyk ook: |
Waarom opstanding steeds vir Christene geld
2007-04-05, deur Johann Symington
REGOOR oor die wêreld vier Christene dié week hul belangrikste fees, breedweg omskryf as die Paasfees. Sentraal in die fees staan die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.
Oor die kruisiging word wel gedebatteer, maar daar is bitter min twyfel oor die realiteit daarvan. Die teologiese belang van sy dood, en veral die plaasvervangende rol van Christus, word beredeneer, maar dat hy fisiek “gekruisig, gesterf het en begrawe is”, is vir die meeste mense ’n feit soos ’n koei.
Oor die opstanding was daar van die begin af twyfel, en tot vandag bly dit vir die rasionele “Grieke” onder ons ’n “struikelblok”. Dit was nie die Verligtes van die 18de eeu, die Darwiniste van die 19de of die Moderniste van die 20ste eeu wat eerste aan die historisiteit van die opstanding begin torring het nie. Daar is al skimpe van belaglikheid gegooi na die eerste groepie Christene wat omstreeks 33 ná Christus so goedgelowig was om nie te weet ’n mens kan nie uit die dood opstaan nie. Die vroue wat Jesus se liggaam wou gaan salf, het sy opstanding uit die dood nie ’n oomblik oorweeg nie. Daarna was die dissipels vol ongeloof en wou Tomas sy vingers eers in die spykerwonde druk. Maar êrens langs die pad het die wydlopende twyfel plek gemaak vir ’n diepgesetelde oortuiging wat nog nooit weer verander het nie en op grond waarvan die Christendom sy beslag gekry het.
In ons land het die debat oor die fisieke opstanding van Jesus verlede jaar ’n prominente rol in die dagblaaie en veral in kerklike debatte gespeel en weer ’n keer net bewys hoe moeilik diversiteit in ’n geloofsgemeenskap wat op ’n belydenisgrondslag bestaan, bestuur kan word.
Baie, heel waarskynlik die meeste gelowiges (wat deur sommige as behoudend en konserwatief beskryf sal word), glo op die voetspoor van die Bybel en die kerklike tradisie deur die eeue dat die Evangelie staan of val by die konkrete en fisieke opstanding van Jesus. Volgens iemand soos N.T. Wright vereis die diepste betekenis van die Opstanding ’n liggaamlike en dus historiese opstanding van Jesus.
Dan is daar die gelowiges (wat deur sommige as liberaal en afwykend beskryf sal word) vir wie die historiese opstanding van Jesus nie noodwendig die deurslaggewende faktor vir geloof in die Christus hoef te wees nie. Marcus Borg redeneer in sy The Meaning of Jesus dat die historiese rede van die opstanding eenvoudig is: Jesus se volgelinge, van toe en nou, twyfel nie ’n oomblik dat Hy leef nie. Jesus is ’n lewende realiteit, al was hy begrawe. Hy aanvaar ook dat sommige vroeë Christene die opgestane Jesus kon gesien het, maar dat die opstandingsteologie nie gegrond is op hul ervarings en dus objektiewe meetbare feite nie. Jesus is wel Here, die opstandingsuitspraak, maar dan nie op grond van die ontdekking van ’n leë graf nie, maar vanuit die vroeë bewussyn van die kerk wat Jesus werklik as die Here van hul lewe ervaar het. Vir hierdie teologiese groep is die letterlike opstanding nie die saak waaroor dit gaan nie, maar eerder dat Jesus leef en dat ’n verhouding met hom as die Lewende reëel is in die historiese werklikheid.
Ongeag en dikwels onbewus van mekaar se teologiese opvattings oor die opstanding, gaan miljoene Christene die naweek die Pase vier en mekaar groet in die ou tradisie van “Jesus het opgestaan” met die antwoord “Ja, Hy het werklik opgestaan”. Die opstanding van Jesus Christus bly die sleutelgebeure van die Christelike geloof , soos Paulus dit al vroeg ingesien het toe hy gesê het: “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (1 Kor. 15:19).
Die opstanding beteken vir Christene onder meer dat Jesus deur God hiermee herbevestig word as Here. As Jesus se dood die wêreld se verwerping was van wat God in Jesus hier wou vestig, was die opstanding ’n baie duidelike “nee” van God se kant vir die wêreld se planne. “Die Here wat julle deur die heidene aan die kruis laat spyker het en Hom doodgemaak het,” sê Petrus in sy toespraak op Pinksterdag, “het God uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou” (Hand 2:23 en 24 geparafraseer).
Hier vind ons die klimaks van die stryd van die farao’s teenoor God. Die survival of the fittest , die sterkste moondheid het nooit die laaste woord nie. Maar juis hy wat in die magstryd tussen die imperialisme en die nasionalisme opgeoffer word, is die uiteindelike triomfeerder – en dít vanweë die aflê van die mag. Die kruisiging was nie ’n nederlaag nie, maar ’n oorwinning. Paulus sê dit duidelik: “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos.”
Jesus leef en ons met Hom. Christene staan in ’n lewende verhouding met Hom. Hy is meer as ’n idee, ’n ideologiese definisie of ’n metafoor. Hy leef as oorwinnaar oor die dood, wat nou nie meer die laaste woord het nie; en dit word gevier.
’n Oorwinning is oor die geeste en magte in die lug behaal – die dinge waarteen Christene elke dag veg. Hierdie stryd is nie net ’n aardse stryd nie, maar het kosmiese betekenis. Hier sou ’n mens baie gemaklik na die populêre romans vanuit die meer fundamentalistiese kant van die Christendom kan verwys, maar waaroor C.S. Lewis ook in sy scifi-boeke soos Out of the Silent Planet en Perelandra geskryf het. Die bose se doppie is geklink, die oorwinning behaal. Dit maak gelowiges vry om Christus waarlik na te lewe, lewe in al sy vorms ekologies in stand te hou en in verwondering te leef oor wie God is.
’n Nuwe lewe in Christus daag uit tot ’n pad van liefde. Volgens Paulus leef hy nie eintlik meer nie en hoef hy dus nie pal sy ego te versterk nie, maar kan hy Jesus se kruis opneem en sy lewe gee vir ’n lewe voor God waarin almal Hom die liefste het en hul naaste soos hulself en die natuur nie tevergeefs sug nie, maar almal uitsien na die dag wanneer God alles in almal sal wees.
– Ds. Johann Symington is die NG Kerk se direkteur van kommunikasie.