Ons het die beswaar van sommige gekry dat hulle saamstem met die petisie, maar nie met die verwysing na ’n moontlike vermindering van finansiële bydraes wat hulle as ’n tipe dreigement en daarom as onchristelik beskou nie.
Ja mens kan dit sien as ’n tipe dreigement, maar om die dreigement te versag, het ons spesifiek geskryf dat dit “oorweeg” sal word.
Niemand is dus verplig om na ondertekening sy bydraes te verminder nie, selfs al neem sy kerkraad nie behoorlike standpunt in nie.
Veral die bydraes te verminder, moet ’n saak van gebed vir elke individu wees.
Maar hoekom het ons dit nodig geag om enigsins van vermindering van finansiële bydraes te praat?
Om verskeie redes:
1. Bydraes word ook gebruik om sinodale strukture te befonds, en as die NG-leierskap onbybelse besluite neem (soos ons aangetoon het hulle beslis doen), ateïste uitnooi om teologiese studente “in te lig” sonder behoorlike weerlegging van die “inligting”, onbybelse denkrigtings tydens teologiese opleiding bevorder ensovoorts, werk hulle nie vir God nie, maar teen Hom. ’n Christen kan nie so-iets befonds nie.
2. Ons het verskeie ander metodes tot dusver probeer — gesprekke, letterlik 1000de e-posse, 1000de skrywes op NG-webwerwe, en selfs boeke geskryf, maar met bitter min positiewe reaksie of selfs enige reaksie in sommige gevalle. Die hoop en gebed is dus dat finansiële druk die NG-leierskap se aandag ten minste sal trek. Ja dis aan die een kant ’n wêreldse middel, maar ons is bevrees dat baie van die NG-leierskap se besluite reeds maar net uit dieselfde wêreldse hoek geneem word, naamlik om lidmaatgetalle te probeer behou, wat maar neerkom op finansiële oorwegings. Ongelukkig mag hierdie dus al wees wat hulle werklik laat aandag gee aan hierdie saak. Hulle verstaan in elk geval die beginsel van finansies, want in baie opsigte opereer baie van hulle presies daarvolgens.
3. Ons hoofdoel is beslis nie om te dreig nie, maar om ’n hartsverandering te weeg te bring, en daarvoor is die sogenaamde dreigement maar een van die middele. Luk. 16:9 mag op ’n manier ook toepaslik wees op hierdie saak.
Een van ons medewerkers het dit soos volg gestel:
Wat betref die lidmate se dankoffers net die volgende.
- Die eerste rondte waarop ons die boodskap versprei in die kerk maak nie melding van geld nie. Ons verwys die mense na GlodieBybel om meer inligting te kry.
- As ’n persoon by GlodieBybel uitkom word eers in die laaste stukkie bewoording melding gemaak van aanwending van dankoffers. Ek verstaan dit so dat mense tot die stap kan oorgaan om dankoffers elders aan te wend, as hulle nie regkom met hulle eie kerkrade nie. Ons dilemma is dat daar leraars in gemeentes is wat die teologie van die leiers in die kerk voorstaan. Hierdie soort teologie kom uit in die prediking. Ons wil graag hê dat lidmate in hulle eie gemeentes begin om met mekaar te praat. Dwaalleraars het dikwels ’n arrogansie aan hulle om hulle eie ding te doen. Wat is ’n Bybelgetroue en toegewyde lidmaat se opsies in so ’n geval? Moet hy die kerk verlaat, soos so baie ander? Moet hy wegbly van die kerk af? Hy kan ook by ’n ander gemeente inskakel. Die ideaal is egter dat leraars wat dwaalleringe voorstaan onder allerande vorme van druk geplaas moet word. Dit moet van die gemeentelede af kom. As gemeentes finansieel begin swaarkry, raak dit ook die topstruktuur en so neem die leiers en die Kerkbode, wat hulle eie koers wil inslaan kennis van die lidmate se ontevredenheid. Ek weet nie van enige ander maniere op hierdie stadium nie.