Wanneer olifante baklei…

Wanneer olifante baklei…

Etienne Liversage

22 September 2024

In opvolg van die RSG onderhoud wat op Maandag 9 September 2024 met dr. Anton Knoetze, die voorsitter van die Koinonia Sinode gevoer is, het die moderator van die NG Kerk, ds. Jan Lubbe, bepaalde stellings wat Knoetse gemaak het, as “gewoon nie waar nie,”(vrome Afrikaans vir “lying through his teeth”) afgemaak. Wêreldwyd het Afrikaanssprekendes in verbystering hierna geluister. (Dr Johann Ernst, ‘n voormalige aktuarius van die NG Kerk, het intussen op 13 September in Kerkbode die waarheid van Knoetze se stellings met klinkklare bewys bevestig, dog die skade is reeds gedoen en Lubbe is óf as leuenaar óf as ‘n totaal oningeligte kerkleier uitgewys.)

Tydens sy onderhoud op RSG het Lubbe gesê dat gesprek met die Koinonia groepering nie moontlik is nie, omdat laasgenoemde “nie ‘n goedgekeurde amptelike vergadering” is nie. Teen die einde van die onderhoud, spreek hy homself egter ten gunste van “egte gesprek met opregte bedoelings” uit. “Ek neem dr. Anton ernstig op sy woord as hy sê hy… wil die NG Kerk van binne reformeer. Dan is die uitnodiging, bly dan binne en kom ons doen dit. Kom ons help die NG Kerk … om van binne te reformeer … Ek wil die uitnodiging vanoggend hier herhaal. Kom ons sit weg die swaarde aan beide kante … dit is regtig hartseer dat dit die situasie in die NG Kerk-familie op die oomblik is. Ons moet onsself afvra: Waarmee is ons in hemelsnaam besig?”

Dit is duidelik ‘n opregte broederlike uitnodiging en tog moet dit met ‘n knippie sout geneem word. In ‘n soortgelyke onderhoud op RSG op 5 Maart 2024, het Lubbe gesê “die KS wil van binne reformeer, kom ons doen dit dan van binne.” As moderator van die kerk, is dit dan tog sekerlik Lubbe se volle verantwoordelikheid om só ‘n vergadering te belê, die agenda by wyse van onderhandeling te bepaal en die plek en tyd aan te wys?

Die hooftema van reformasie kan net oor die teologiese dwaallering en “vasgelooptheid” op hoogste vlak in die kerk handel, wat oor  twee dekades heen gegroei het. Die geslote vergadering sal deur erkende teoloë aan beide kante, onder voorsitterskap van ‘n onpartydige ombudsman bygewoon word, terwyl geen tydsbeperking op die duur daarvan geplaas word nie. Ooreengekome reformasie-besluite, wat deur ‘n sinode bekragtig is, is die enigste wyse waarop dolerende gemeentes, wat bande met die AS opgeskort het, dit sal herstel.

Dwaalleer, die gebrek aan kerklike standpuntstelling wanneer dit gebeur en tug daaroor, het die kerk inderdaad oor die afgelope twee dekades gekenmerk. Enkele voorbeelde hiervan is die volgende:

Reeds in 2000 publiseer dr. Ben du Toit sy boek God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, waarin hy onder andere die volgende stellings maak:

Die Bybel is nie die Woord van God nie, maar woorde oor God en deurdrenk met al die gebrekkige en foutiewe sienings wat die mense van die pre-moderne tyd gehad het. Jesus self het ook hierdie gebrekkige en foutiewe verstaan van sekere dinge gehad, omdat hy ook maar net in die pre-moderne tyd op aarde geleef het. Jesus se Godheid word nêrens pertinent gestel nie. Jesus se wonderwerke was nie noodwendig wonderwerke nie. Jesus se geboorte was nie noodwendig maagdelik nie en daar kan ook net ‘n “sogenaamde” wederkoms van Christus wees. Die Bose se oorsprong lê slegs in die mens self en hy (Satan) is nie ’n wese van een of ander aard nie.

Terwyl die moderamen Du Toit namens die kerk vir hierdie evangeliese versnippering na die brandstapel moes gestuur het, is hy egter in 2001 deur mede-kerkleiers met die Andrew Murrayprys vir sy boek vereer! Meer as dit. Hy is tot kroonprins verhef, sy siening van ‘n diverse ruimteskeppende kerk is in ‘n sinodebesluit verewig, terwyl hy oor etlike jare heen in uiters strategiese poste oor Skrifgesag en Skrifinterpretasie in die kerk aangestel is. Volgens sy eie getuienis skryf hy gedurende daardie tyd meer boeke, artikels en verslae as enige ander teoloog van sy tyd.

Toe dit veels te laat was, het Du Toit uiteindelik op 5 Julie 2018, die eerbare weg gevolg en vrywilliglik afstand van sy amp en bevoegdheid as predikant gedoen, homself as ‘n postteïs verklaar en bygevoeg dat God bloot in mense se koppe geskep is, met ander woorde, die oermens het ontstaan vóór God uitgedink is. Terwyl hy binne die kerk as teoloog verhef is, het sy dwaallering die pas vir ander aangegee en die kerk geïnfiltreer. Met die oog op reformasie, sal dit wys wees om sy spoor in die kerk te volg.

Daarom verbaas dit nie dat die sinode van Noord-Transvaal (nou Noordelike Sinode) reeds in September 2003 geen “kategoriese uitspraak wou lewer oor die maagdelike geboorte of Jesus se liggaamlike opstanding nie.”

Toe ‘n Tukkie kweekskoolstudent professor Julian Müller en verskeie ander op voorgeskrewe wyse oor hul leerdwaling verkla, het die verhoortribinaal in November 2006 bevind dat “daar is geen reël in die NG Kerk wat verg dat iemand moet glo in terme dat Jesus Christus histories-letterlik en liggaamlik uit die dood opgestaan het nie.” (Hoekom moet ‘n reël belydenis afdwing?) Uiteindelik is die student geskors en verbied om sy studies aan enige Suid-Afrikaanse universiteit voort te sit.

Met die saad van onsekerheid oor die werklikheid van God gesaai, volg dit logies dat ook die bestaan van Satan hersien sou word, wat die Algemene Sinode (AS hierna) in 2011 inderdaad gedoen het: “Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.” Dwaalleer of nie?

In sy artikel, “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus Is Not θεός (God)” in 2019, bevraagteken dr. Peter Nagel, ‘n dosent by die fakulteit teologie aan die Universiteit van Stellenbosch openlik die godheid van Jesus. Op grond van verskeie klagtes hieroor, het die kuratorium hom uiteindelik verhoor, skuldig bevind en Nagel se ampsbevoegdheid vanaf September 2022, vir ’n jaar opgeskort en hy is verbied om van die kansel af te preek. Dit skyn die eerste suksesvolle tugverhoor in meer as twee dekades, dog hy is weer aangestel en daar is geen bewys dat hy sy siening verander het nie en geld dus steeds in daardie kweekskool.

Enkele sinodebesluite oor selfdegeslagverhoudings verdien vermelding, waarsonder die reformasie-agenda onvolledig sal wees. Die 1986-AS het besluit: “homoseksualiteit is in die lig van die Skrif ’n afwykende vorm van seksualiteit. Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar”. Teen 2007 was kerkleiers daarop uit dat hierdie besluit binne die kerk aangepas word: “Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word”. Daarmee is dus erken dat gay seks wel sonde is, dog gelegitimeerdes wat hulle daarvan weerhou, tog as predikante bevestig kon word. Daar is na geen huwelik tussen gays verwys nie.

Toe kom professor Nelus Niemandt, algemene moderator van die kerk, se 2015-uitspraak: “Dit het tyd geword dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay paartjies se huwelik met die volle seën van die Kerk voltrek word.” Hy het verder bygevoeg: “My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) binne die Kerk genormaliseer sal word”.

Die vraag is wie aan hom die reg gegee het om namens elke lidmaat, asof met ‘n Pouslike “dekreet”, die AS besluit van 1986 te weerlê? Die AS het sy leiding egter in 2015 gevolg, waarna verontwaardiging dit in 2016 omgekeer het, dog ‘n hooggeregshofuitspraak dit nagenoeg in 2019 bevestig het.

In dieselfde jaar het die AS onder andere besluit: “Die Algemene Sinode dra dit aan die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.” ‘n Formulier is ‘n plegtige eedsverklaring wat slegs binne die kerk, voor God en voor ’n gemeente geskied. Die “kerk se seën” op ‘n selfdegeslag-huwelik beteken met “God se seën” en ‘n huweliksformulier word getrou uit sy Woord geneem. Die AS het egter nog nooit ‘n algemeen-erkende teologiese verslag gepubliseer om te verduidelik hoe die Skrif vanaf 1986 tot en met hierdie 2019 formule-besluit, verander het nie.

Dr. Frits Gaum, die voormalige voorsitter van die NG Kerk-kuratorium, het in “Rapport” van 3 Januarie 2021 bevestig, dat daar min huidige teoloë van die drie teologiese fakulteite is “wat nie standpunt ingeneem het ten gunste van selfdegeslagverbintenisse nie”, wat die opleidingsdwaling hieroor juis bevestig wat ook op die agenda van Lubbe se vergadering sal moet verskyn.

Teen hierdie agtergrond en bewus van die honderde beswaarskrifte en gravamina wat oor AS besluite na sittings ingedien is, het die verslag oor die gesamentlike aanbidding van verskillende geloofsgroepe, skokgolwe in 2023 ver en wyd gestuur. Die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (ATLAS) het hierdie voorstel vir goedkeuring op die agenda van die AS geplaas. Die voorstel was dat gemeentes nie sal huiwer nie om gesamentlike geleenthede met ander geloofsgroepe (waarvan Moslems die waarskynlikste is) te reël. Dit sou op “neutrale” plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n “besondere gebaar van gasvryheid teenoor hulle wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou”. Die kwessies wat bespreek is kan dan in gebed opgedra word.

Dit is verstommend dat die AS, nie die voorstel summier verwerp het nie op grond van “Ek is die Here jou God…jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” (Exodus 20:2-3. 1953 vertaling) Volgens die Koran is Allah nie ‘n vader nie en hy het ook nie ‘n seun nie. “He is the one and only creator of heaven and earth.” (Q.25:2). Hy bestuur alle gebeure vanuit die hemel. Ook Jesus word tot ‘n gewone profeet gedegradeer en  Mohammed as die groot profeet voorgestel, alles voorbeelde van valse identiteit-diefstal! Islam is ‘n valse godsdiens, Allah is nie Jahwe nie en gesamentlike aanbidding is om saam afgodsdiens te beoefen, nog meer so binne ‘n NG Kerkgebou! Dit gaan oor die blatante gelykskakeling van godsdienste en nog erger die gelykstelling van God en Satan. (Die vader van die leuen.)

Vir lidmate, wat hiervan bewus is, is hierdie die dwaling van alle dwalings. Die AS van 2023 het egter dank teenoor ATLAS uitgespreek en versoek om ‘n opgedateerde verslag aan die 10 samestellende sinodes te bedien, wat die verskeidenheid van kommentaar wat van die vloer gelewer is, in ag neem. Nêrens is genotuleer dat kerkdeure voortaan vir ander godsdienste gesluit is nie.

Voordat ds. Lubbe die vergadering byeenroep om van binne te reformeer, sal hy homself ‘n guns bewys deur die werklik insiggewende professie te lees, wat  professor Willie Jonker reeds in 1956 oor die gevare van die “ruim huis”-benadering, vrye Skrifverklaring, asook die gebrek aan kerklike tug, uitgespreek het:

“ ‘n Kerk sonder tug kan nooit gesond wees nie, maar moet siek wees en gevolglik minder aan sy doel beantwoord as wat Christus se bedoeling daarmee is, en stuur uiteindelik af op verwording en ontaarding.  Die kerk het `n roeping om die pand wat aan hom toevertrou is, die suiwer leer met nougesetheid te bewaar anders loop hy gevaar om alles te verloor.  `n Kerk wat leervryheid duld speel met die heilige evangelie wat sy lewe is en stuur daarop af om bestaansreg te verloor. `n Kerk wat geen tug toepas nie omdat hy bang is om mense van hom te vervreem, speel met die evangelie, laat mense onder die indruk dat alles maar reg is met hulle, selfs al sien hy dat dit nie so is nie, en is daarin nie alleen ontsettend ongenadig en liefdeloos teenoor hulle nie, maar ook meer bevrees vir hul woede of afskeiding van die Kerk, as vir God, wat tog duidelik in Sy Woord sê dat Hy die kwade haat en dat dit ontvlug moet word.” (Willie Jonker, Gedagtes oor die Kerklike tug: Deel 1. Die Kerkbode, 10 Oktober 1956)

Wanneer NG Olifante baklei word die saad van geloof doodgetrap…

3 thoughts on “Wanneer olifante baklei…”

  1. Baie dankie Etienne. Dit is ‘n uitstekende artikel wat op deeglike navorsing berus. Elke kerkraadslid in die NG Kerk behoort te bestudeer.

  2. Ettienne, baie dankie. Hierdie is sekerlik een van die mees duidelike uiteensetting van die krisis wat in die NG Kerk heers. Die leiers moet oplet hierna en dringend tot bekering kom en die pad terug na God en Sy heilige Woord stap.

  3. Die artikel is a mooi opsomming, gesien van die een kant. Die een kant wat tot bekering moet kom ens ens , met geen besef en erkening dat jy self net so verkeerd kan wees nie. Met so ‘n benadering is versoening maar baie moeilik.
    Kononia wil he die NGK moet terug gaan soos hulle dit wil hê, geen toegewing nie. Dit gaan nie werk nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui