Kyk ook: |
Die artikel hieronder het in die Kerkbode van 1 Mei 2015 verskyn.
Vir die tweede keer in ’n kort ruk, plaas Kerkbode ’n artikel wat pro-homoseksualiteit is (kyk Op soek na safe spaces…, 23 Januarie 2015). ’n Mens kan nie help om te dink dat hierdie ’n strategie is om sinodegangers voor te berei op wat wag tydens die algemene sinode van 2015 waar homoseksualiteit weereens op die agenda gaan wees. Die artikel van Marietjie van Loggerenberg speel op mense se emosies, maar sy gebruik nooit die Bybel of enige wetenskap om haar punt te beredeneer nie. Dit herinner aan die strategie van progays wat tydens ’n ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch bespreek is.
Hier is die artikel met verdere kommentaar in [rooibruin blokhakies].
************
…want die kerk mag nooit sê: ‘Ons het nie geweet nie’
Dr Marietjie van Loggerenberg het onlangs haar doktorsgraad verwerf oor die effek van die NG Kerk se 2007-besluit oor homoseksualiteit op gay predikante. Neels Jackson het met haar gesels.
Dit was ’n pad wat Marietjie van Loggerenberg nie wou loop nie, dié een met die gays.
Sy het nie daarna gesoek nie. In ’n stadium het sy die Here gevra om dit van haar weg te vat, later het sy by Hom gekla dat Hy haar nie mooi gehoor het nie. Maar vandag is sy dankbaar dat Hy haar daarlangs geneem het.
[Dit is amper ’n onregverdige stelling, want wat kan ’n mens nou daarop sê. Veronderstel egter dit is waar – veronderstel God het haar regtig hierdie opdrag gegee, beteken dit nie noodwendig dat Marietjie se gevolgtrekkings oor haar studie ook van God af kom nie. Onthou, God het ook aan Jona gesê om die Evangelie aan Nineve te gaan verkondig, maar hy het sy eie kop gevolg.]
Aanvanklik het sy haar as onderwyser bekwaam. Later opvoedkundige sielkundige geword en sestien jaar lank by die destydse Vista-universiteit klas gegee.
Daarby was sy deurentyd kerklik betrokke: by die jeug, by die vrouediens, by gemeentekoerante, later by EE3.
Die enigste gay mens met wie sy kontak gehad het, was haar haarkapper, op wie sy toe tydens haar EE3-opleiding haar vrae uittoets: “As jy vanaand doodgaan, is jy seker jy gaan hemel toe?”
Hy het vir haar geantwoord dat hy al tien keer tot bekering gekom het, maar dat haar kerk vir hom sê hy gaan hel toe – en toe bars hy in trane uit.
[Volgens Heidelbergse Kategismus, Sondag 33, vraag 88 bestaan bekering uit twee dele: (1) die afsterwing van die ou mens en (2) die opstanding van die nuwe mens. Volgens vraag 89 is die afsterwing van die ou mens ’n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (Rom 8:13; Joël 2:13; Hos 6:1). As hierdie haarkapper besluit het om steeds voort te gaan met sy sondige lewe, het hy definitief nie besluit om van die sonde weg te vlug nie.]
Kyk my in die oë
Sy het nog gesê sy sal gaan uitvind wat haar kerk se standpunt is, maar toe sê hy vir haar die kerk se standpunt is nie so belangrik nie. “Jy, kyk jy my in die oë en sê ek gaan hel toe.”
Sy kon nie. Daarna het sy al dikwels gewens die kerk kon gay mense in die oë kyk, hulle raaksien vir die mense wat hulle is, en hulle liefhê soos hulle is.
[Net soos mens nie ’n drankverslaafde in die oë kan kyk en vir hom sê dat hy hel toe gaan nie, netso kan ’n mens dit nie aan ’n persoon sê wat sukkel met homoseksualiteit nie. Wat Marietjie eintlik hier impliseer is dat sy nie die moed gehad het om aan hierdie gay-persoon te sê dat hy besig is met ’n sondige leefstyl nie, selfs al is die Bybel duidelik daaroor.]
In 2001 het Marietjie begin met opleiding as narratiewe pastorale terapeut. Die eerste kliënt met wie sy ’n afspraak gehad het, wou weet of daar mikrofone in die vertrek is. Toe sy nee sê, toe fluister hy vir haar: hy dink hy is gay. Sy was die eerste mens vir wie hy dit vertel het.
Marietjie het niks geweet van gays nie, by haar studieleier gaan aanklop om hulp en die boek Aliens in the household of God gekry om te lees. Dit het ’n wêreld vir haar oopgemaak.
Wat sy destyds met daardie eerste kliënt gedoen het, weet sy vandag nie mooi nie, maar hy het geleidelik begin beter word, totdat hy op ’n dag vir haar gesê het hy dink hy is genees. Nie van sy gaywees nie, maar van die depressie, angs en die simptome wat mense laat dink het hy is skisofrenies.
Toe al het sy gewonder in watter soort samelewing ons leef dat iemand, bloot omdat hy nie sy seksuele identiteit kan uitleef nie, in so ’n situasie kan beland dat hy byna in ’n psigiatriese inrigting kan beland.
[Oor sogenaamde “seksuele identiteit” moet ’n mens noem dat daar baie voorbeelde is van mense wat genees is van homoseksualiteit.]
Om homoseksualiteit beter te verstaan, het sy voelers na leiers in die gay gemeenskap uitgesteek. Sy het met God geworstel.
Vrae uit die kerk
Uit die kerk was daar vrae oor waarmee sy besig was. Die kerk se standpunt was duidelik: Haat die sonde, maar wees lief vir die sondaar. Dit was ’n mooi teorie, maar nie een van die dominees wat dit vir haar gesê het, kon vir haar wys wat daardie liefwees vir die sondaar in die praktyk beteken nie.
[Hier is die regte benadering. As almal in die kerk nie hierdie benadering volg nie, spreek die probleem aan, maar dit is onbybels om te sê dat homoseks nie sonde is nie.]
Geleidelik het haar eie paradigma oor gay mense begin skuif.
Sy het al meer gay kliënte gekry, mense wat veilig by haar gevoel het omdat sy hulle nie probeer verander het nie. Binne drie jaar het sy meer as 500 gay kliënte gesien.
Sy het die tipiese stories leer ken: iemand wat ’n losbandige lewe ly, dan by ’n kerk ’n religieuse ervaring het, tot bekering kom en glo hy is genees van sy gaywees – selfs by die kerk daarvan getuig. Later besef hy is steeds gay, in ’n diep depressie verval, van die kerk en van God af wegvlug, dikwels met selfmoordgedagtes.
[Net so is daar baie drank- en dwelmverslaafdes wat dink dat hulle genees is, wat weer terugval. Moet hulle dus ook maar net hulle situasie aanvaar en voortgaan om dwelms en drank te misbruik? Die antwoord is voor die hand liggend.]
Maar dan ook die stories van genesing van mense wat hulle seksuele identiteit aanvaar en dit op verantwoordelike manier uitleef, wat met soveel liefde sorg vir hulle aanneemkinders. Die stories van gay paartjies wat al dekades lank gelukkig en getrou saamleef en nou kan trou.
Nie vir haarself nie
Toe Marietjie drie jaar gelede, op haar sestigste verjaardag, besluit dat sy die doktorale studie gaan doen oor die impak van 2007 se besluit dat gay dominees selibaat moet bly, was dit nie vir haarself nie. Dit was vir die gay mense wat sy die vorige dekade leer ken het en vir wie sy lief is.
[Dus het sy die studie aangepak met die voorveronderstelling dat hierdie mense met hulle sonde aanvaar moet word.]
Sy het bevind die besluit wek gevoelens op van minderwaardigheid.
Dit laat gays voel hulle is nie goed genoeg nie. Nie vir mense nie. Nie vir die kerk nie. Nie vir God nie.
Hulle beleef ’n magteloosheid, ’n stemloosheid – en dit manifesteer as woede, eensaamheid. Dit loop uit op depressie, angs, konstante selfpolisiëring.
Een man het gesê hy beleef God en die kerk as onmenslik, dat dit voel of hy emosioneel en geestelik vermoor word.
Dit is hierdie bevindings uit haar doktorale studie wat sy nou vir die kerk gee.
Want die kerk moenie kan sê: “Ons het nie geweet nie.”
En teen dié agtergrond moet die Algemene Sinode besluit of hy meen die besluit van 2007 is geregverdigde diskriminasie – voor die grondwet, maar veral voor God.
Kommentaar
‘Dis tog baie duidelik’
(Die volgende kommentaar het in Kerkbode, 22 Mei 2015 verskyn.)
Ds Gideon Aggenbag (emeritus) skryf:
Ek het ernstige besware teen u berig in Kerkbode van 1 Mei 2015 met die titel “ … want die kerk mag nooit sê: ‘Ons het nie geweet nie’ ”.
Dr Van Loggerenberg propageer die “uitleef” van homoseksuele identiteit en bevraagteken die regverdigbaarheid (“… veral voor God”), van die sinode se besluit dat gay predikante selibaat moet bly, maw dat gay predikante hulleself van die beoefening van homoseks moet weerhou. Die God van die Bybel verafsku tog homoseks baie duidelik.
Die berig skep die indruk dat die gay persoon se oriëntasie onveranderbaar is. Dít is onwaar. Die feit is dat SGA dikwels vroeg in ’n kind se lewe veroorsaak word en dat dit reggestel kan word. Daardie pad vereis egter onvoorwaardelike liefde, die nodige kennis, navorsing, toewyding en opoffering.
Liefde vir hierdie mens beteken om hom nie vanweë sy oriëntasie te veroordeel nie, maar om hom te help om sy ware identiteit te ontdek en te herwin. As die kerk hierdie pad loop, sal die gay persoon nie ervaar dat hy verwerp word nie. Die “liefde” om hom nie te help om te verander nie, is geen liefde nie.
Homoseks is ’n gruwel in God se oë. Daarom is dit verbasend dat u in die NG Kerk se mondstuk, te wete Kerkbode, juis propageer wat in direkte botsing met die Woord van God is.
Ek gee graag belangrike inligting: Richard Cohen (hy is ’n diep-gelowige psigoterapeut en voormalige homoseksueel, gelukkig getroud en met ’n gesonde gesin) se werke Coming out straight: Understanding and healing homosexuality en Gay children, straight parents – A plan for family healing en lees by http://www.peoplecanchange.com/about/mission.php, sy webblad.
Nog ’n voormalige homoseksueel met ’n gelukkige gesin is André Bekker, met ’n bediening om gay persone en hulle families te help: Kontak Info@LearnToLove.co.za en +27 (0)71 326 8034 vir meer inligting.
Lees https://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/56-homoseksualiteit-kat.html vir meer inligting.