Kyk ook:
**********
Wat beteken Hervormingsdag vir NG Kerk vandag? | Kerkbode
Deur Johan Janse van Rensburg
14 Oktober 2021
Die laaste dag van Oktober sal net sommige gelowiges daaraan herinner dat die geloofsdaad van Martin Luther in 1517 die begin van ’n hervorming van die geloof en kerk beteken het. Is daar vandag nog iemand wat die moed het om soos Luther radikaal aan die deur van die wêreldwye algemene kerk te klop?
Het dit nog enigsins sin dat ons geliefde NG Kerk Hervormingsdag vier? Wat kan so ’n viering beteken? Word daar nie elke jaar mooi en belangrike geskrifte oor die Hervorming gepubliseer nie? Tóg beweeg die kerk ongestoord voort en verdedig ’n koers wat in soveel opsigte van die gees en bedoeling van die Reformasie afwyk.
Hoeveel geskrifte is die afgelope dekades met die tema Quo Vadis aan die deur van die kerk gespyker? Bedoel ons dit werklik as ons sê dat ’n gereformeerde kerk altyd weer moet reformeer?
Hoewel die bekende “Solas” steeds met die bedoeling van die Reformasie vereenselwig word, gaan die kerk voort om ’n soort Skrifbeskouing te akkommodeer wat hierdie beginsels relativeer. “Sola Scriptura” is byvoorbeeld nie meer die enigste norm nie omdat ’n openbaringsteologie met ’n natuurlike teologie vervang is. Vir baie is die Bybel nie eens meer God se Woord nie maar slegs mensewoorde oor God. Sommige teoloë wat ons studente onderrig, verklaar selfs openlik dat hulle nie aan die twee nature van Christus of die opstanding van Christus glo nie. Sodoende word die “Solus Christus” tot mooi woorde sonder betekenis gereduseer.
Nee, nie almal maak hulle aan hierdie growwe afwykings van die Reformasie skuldig nie. Die NG Kerk se besluit om die beginsel van diversiteit te aanvaar akkommodeer egter hierdie en ’n verskeidenheid ander afwykende standpunte oor die Bybel. Selfs die persoon, bestaan en werk van God (teïsme) is al deur teoloë ter wille van ’n post-teïstiese oortuiging afgesweer sonder dat enige kerklike tug gevolg het.
Die dringende vraag is dus of die NG Kerk werklik in staat is om te reformeer, terug na die Skrif en die belydenis? Tagtig gemeentes (en daar kan selfs meer wees) wat doleer om aan hulle rou oor die kerk se ontrou aan die Reformasie uitdrukking te gee, word eerder met venyn en kritiek begroet.
Daar is ’n al groter wordende onrustigheid oor teologiese opleiding wat lank nie meer die gees en waardes van die Reformasie verwoord nie. Tog is die “magte” in beheer vasberade om hulle nie aan kritiek te steur nie. Vir meer as twintig jaar hoor ons al van teologiese studente wat verwar word deur wat hulle in die klas hoor; studente wat hulle geloof verloor en besluit om nie meer predikante te word nie. Steeds word dit alles as verdagmakery afgemaak. Vir baie wat nog waarde aan die Reformasie heg, is dit moeilik om te glo dat die kerk nog kan reformeer, terug na die Skrif en die belydenis. Kan die hamerhoue teen die deur van die Wittenberg-kerk nog deur die eeue tot ons vandag spreek om te sê: Hier staan ons; ons kan nie anders nie?