- Julian Müller
- ’n Nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd? (13 Okt 2007)
*******
Wat dink Tukkies se kuratorium hiervan? | Beeld
Beeld, 14 Desember 2007
PAUL ZIETSMAN, Erasmusrand
JULIAN MÜLLER, hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria, se artikel (“ ’n Nuwe verstaan van God vir ’n nuwe tyd”, 13 Oktober) het betrekking. Müller meen ons sienings en idees van God berus in belangrike mate op ’n bepaalde wêreldbeeld(e). Met wêreldbeeld bedoel hy “daardie basiese konsep wat ons in ons ronddra oor hoe die wêreld en die heelal lyk en hoe God daarby inpas”. Hy meen die moderne mens het op grond van allerlei werkinge, soos die fisika, prosesfilosowe en Afrika- en Oosterse wêreldbeelde, ’n “integrale wêreldbeeld”.
Müller het al op ’n simposium in Augustus 2002 gepleit vir hervertolking van “teologiese kategorieë” in die lig van dié integrale wêreldbeeld. Ek haal uit sy referaat aan: “Wanneer die moderne mens wat binne hierdie nuwe wêreldbeeld besluit, dink en doen, nou ervaar dat hy in die teologie en die kerk vanuit ’n ‘agterhaalde’ wêreldbeeld, die teologiese en selfs die Antieke, bepraat en bespreek word, ontwikkel daar ’n diepgaande vervreemding.
“Daar is talle voorbeelde, soos wanneer die kerk oor duiwels, engele en magte praat asof dit gepersonifieerde magte is wat uit ’n ander wêreld op ons inwerk, wanneer die kerk op byna letterlike wyse ’n voorstelling maak van ’n God wat uit die hemelse ruimtes neergedaal het en ’n offer op aarde kom bring om homself in sy woede oor die sonde te bevredig, of as die opstanding so gepreek word dat Jesus ’n soort ruimtereisiger na verre ruimtes word.”
Müller tipeer die integrale wêreldbeeld as “panenteïsme” waarvolgens “God in alles en alles in God is.” Die ingewikkeldhede van panenteïsme kan hier nie uitgepluis word nie. Die vader daarvan, die Duitse filosoof Karl Friendrich Krause (1781-1882), het dit as ’n alternatief vir panteïsme bedoel. Kortweg, panteïsme erken geen skeidslyn tussen God en wêreld nie. God word volledig in die kosmos opgelos.
Hierteenoor het Krause betoog die natuur en die menslike bewussyn is wel deel van God of die Absolute Wese, maar God het ook ’n bestaan daarbuite. Krause se panenteïsme was dus bloot ’n afgewaterde panteïsme.
Waar presies staan Müller met sy panenteïsme? Uit sy referaat en artikel is dit nie duidelik nie. Wat beteken sy formulering “God in alles en alles in God?” Is God in die reeksmoordenaar, is God in die reeksverkragter wanneer hy sy afskuwelike daad pleeg? Was God in die Nazi’s wat die Jode in gaskamers uitgedelg het? Is God in goed en kwaad? Müller se integrale wêreldbeeld is ’n metafisiese konstruksie. Dit kan nie wetenskaplik bewys word nie; dit moet geglo word. Op grond waarvan kan dit dan op superioriteit aanspraak maak?
Teenoor Müller se integrale wêreldbeeld wat hy as vertolkingsmeganisme aan Bybelse grondwaarhede opdwing, stel ek die Reformatoriese “Soli Scriptura” (Alleen die Skrif) wat juis op 13 Oktober deur die gebeure om die Evangeliese Inisiatief in Môreletapark se Makrokerk onteenseglik herbevestig is.
Müller se panenteïsme lyk alte veel na ’n aanslag op grondwaarhede van die Skrif. Sy inkleding van voorbeelde oor hoe die moderne mens uit ’n “agterhaalde wêreldbeeld bepraat en bepreek word”, is onsensitief, indien nie afstootlik nie.
Wat dink die kuratorium wat moet waak oor die leersuiwerheid van NG dosente aan UP se teologiese fakulteit hiervan?