Kyk ook: |
Wat is aan die gang met die NG Kerk?
12 Mei 2020
Inderdaad ’n geldige vraag! Waarom lyk die NG Kerk deesdae vir baie mense so onseker, so verward, so verdeeld? ’n Moontlike antwoord op hierdie vraag kan uit die geskiedenis afgelei word. Van die begin af was daar ten minste drie trekkragte aan die werk in die NG Kerk. Dit is nie drie duidelik gedefinieerde groepe of partye nie, maar drie denkrigtings, drie vroomheidstipes, drie kerklike ideale. Waar dié drie vroeër middelpuntsoekend was, het hulle nou meer middelpuntvlietend geword.
Eerste denkrigting: gereformeerde rigting
Die eerste denkrigting is die gereformeerde rigting. Die NG Kerk se naam sê dit al. Ons kom uit die Nederduitse of Hollandse kerk van die groot 16de eeuse kerkhervorming. Daarom het ons van die begin af die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls) as ons belydenisgrondslag gehad. Dit stempel ons gereformeerde identiteit. Gereformeerdes is Christene wat die reformatoriese solismes nastreef:
- Sola Scriptura, wat beteken dat geen menslike besluite nie, maar die Skrif alleen die hoogste norm vir leer en lewe is.
- Sola gratia, wat ons verlossing aan God se genade alleen toeskryf, sonder enige verdienste aan ons kant, en dus uitverkiesing en verbond beklemtoon.
- Sola fide, wat sê dat ons deur geloof alleen gered word en geloof dan definieer as ’n vashou aan en rus op God se beloftes in sy Woord alleen.
- Solus Christus, wat beklemtoon dat Christus die enigste Hoof van sy kerk is.
- Soli Deo Gloria, wat ’n al omvattende Calvinistiese lewens-en-wêreldbeskouing voorstaan, waardeur God alleen geëer word in kerk en staat, gesin en skool , kerklike ampte en daaglikse beroepe.
In die NG Kerk was dié gereformeerde trekkrag vroeër sterker as vandag. Een van die redes daarvoor was die al te noue koppeling tussen Calvinisme en apartheid, rofweg 1935 tot 1975. Toe apartheid verwerp word, het baie kerkmense daarmee ook die gereformeerde geloof in diskrediet gebring. Maar dit was ’n fout. Leidende teoloë soos Johan Heyns en Willie Jonker was bv teen apartheid, maar tog uitgesproke gereformeerd.
Hierdie rigting het sy eie beklemtonings. ’n Gereformeerde Christen het, afgesien van sy politieke oortuigings, groot respek vir die hoë en soewereine God. Daarom is ’n gereformeerde erediens in sy sang en musiek “plegtig, statig en gewyd” (Calvyn). Die prediking is streng eksegeties, uitleg en toepassing van die Skrifteks in sy openbaringshistoriese verbande. Dink maar aan baie van ons gereformeerde voormalige leermeesters soos Proff FJM Potgieter, TN Hanekom, GM Pellissier, EP Groenewald, JJ de Klerk, EPJ Kleynhans ea.
Tweede denkrigting: evangelikale rigting
‘n Tweede denkrigting wat ook van die begin af in die NG Kerk sy krag uitgeoefen het, is die evangelikale rigting. (Ek verkies dié vertaling vir “evangelical” bo “evangelies”). Dié rigting het sy agtergrond beide in die 17de eeuse Nederlandse piëtisme en die 18de eeuse Engelse metodisme. In die 19de eeu word dit gevoed deur die Amerikaanse revivalisme (herlewingsideaal) en word dit in die NG Kerk deur leiers soos dr Andrew Murray en sy geesgenote ondersteun. Deesdae neig sommige evangelikales sterk na die charismatiese beweging.
Die evangelikale rigting word gekenmerk deur die beklemtoning van persoonlike bekering, dikwels met die eis van ’n spesifieke dag en datum. Die bekeerde moet dan ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus hê en ander onbekeerdes na Hom toe lei. Dikwels word spesiale veldtogte (soos dié van Angus Buchan) sterk ondersteun. Evangelikale Christene slaan die Bybel en sy gesag hoog aan. Maar hulle vra nie allerlei wetenskaplike vrae nie; hulle aanvaar die Bybel “letterlik”. Dit lei weer daartoe dat hulle van fundamentalisme beskuldig word. Die evangelikales is gewoonlik informeel in die erediens. Hulle hou van ligte, opgewekte liedere en musiek (bv Hallelujaliedere). Hulle hou nie van formuliere en ander formele dinge nie. Ons is vry, sê hulle, soos die Gees ons lei. In die prediking sal evangelikale leraars graag stories vertel, van hulle eie en andere se ervaring van bonatuurlike wonderwerke en die Here se besondere leiding in hul lewe. By ander Christene wek dit weer die indruk van ’n lewensvreemde vroomheid.
Derde denkrigting: moderne rigting
Daar is ook ’n derde denkrigting wat veral sedert die 19de eeu sy invloed in die NG Kerk laat geld het, nl die moderne rigting. Soos in ander kerke het ook die NG Kerk sy kwota van vrydenkers, liberale teoloë, gehad. Vroeër was dit onder invloed van die modernisme – daardie ideologie dat die moderne mens mondig geword het, dat hy self kan besluit wat reg is en wat verkeerd. Bybelse wonderwerke is tot mites verklaar; hulle het nie regtig plaasgevind nie. Deesdae is die moderne rigting veral onder die invloed van die sogenaamde postmodernisme. Alles het relatief geword; elkeen het die reg op sy eie mening, en jou opinie is net so geldig soos myne. In die teologie mond dié rigting uit in die kontekstualisme. Jou politieke opvattings en sosiale agtergrond bepaal hoe jy die Bybel sal verstaan. En die Bybel is slegs mense-woorde oor die woord van God. Wat destyds in ’n Bybelse konteks gegeld het, is nie noodwendig in ons konteks vandag ook waar nie (situasie – etiek). In die gees van die ekumenisme van ons tyd word gesê dat die een kerk (denominasie) net soveel reg op die waarheid as die ander het. Om nog tussen ware en valse kerk te onderskei het taboe geword.
By die moderne rigting in die NG Kerk lyk die prediking al te veel na motiveringspraatjies. En pastoraat (herderlike sorg) word vervlak tot sielkundige berading. Oor God mag ons nie meer “teïsties” dink nie, dit moet nou “panenteisties” wees (God is in alles wat ons beleef en bedink). Die opstanding van Christus uit die dood is ook nie “histories” ( ’n geskiedkundige werklikheid) nie, maar “metafories” ( simbolies). Die uiterste konsekwensie van hierdie denkrigting het by ons in die sg Nuwe Hervorming gestalte gekry.
Ten slotte
Dit is dan kortliks my antwoord op die vraag waarom die NG Kerk vandag lyk soos wat hy lyk. Wat aan die gang is in die NG Kerk is drie uiteenlopende denkrigtings, trekkragte, ideale, wat middelpuntvlietend op ons inwerk. Kan ons iets daaraan doen? En indien wel, wat moet ons dan doen?
Wat my betref moet ons die gereformeerde rigting sterker nastreef en opnuut die waarde van ons gereformeerde belydenis ontdek en uitleef. Ja, ek weet die gereformeerde benadering versand dikwels in dooie ortodoksie (koue regsinnigheid). Maar dit hoef nie so te wees nie! Egte gereformeerdheid raak die diepste snare van ons hart. As die Woord van God, die evangelie van Jesus Christus, weer helder en duidelik in die kerk gepreek en gehoor word, word die geestelike lewe vol bruisende geesdrif. Dan kan ons die positiewe punte in enige ander rigting waardeer, maar ook die negatiewe aspekte afwys. Om waarlik gereformeerd te wees, is om gebalanseerd te wees! Ons vroomheid mag bv geen duim vir die evangelikales s’n terugstaan nie, en ons besorgdheid om die Bybelse waarheid in die hedendaagse konteks tuis te bring, mag niks minder as die van die modernes wees nie.
So, glo ek, sal die NG Kerk weer word wat hy bedoel is om te wees: ’n geestelike tuiste vir al sy lede. So sal die NG Kerk, tot eer van God, ’n waardevolle bydrae tot die koninkryk van God in Suid-Afrika kan lewer.
Baie dankie vir jou artikel. Ek wil graag byvoeg deur die vraag, wat behoort in die NG kerk te gebeur? Ek dink ons moet naas die 3 belydenisskrifte ’n “teologiese beleid” opstel wat elke lidmaat, predikant en dosent verstaan. Dit moet bindend wees en dieselfde waarde en gesag dra as die 3 belydenisskrifte. Dit moet nie ’n herhaling wees van die 3 belydenisskrifte wees nie maar gefokus op dwaalleer wat die afgelope klomp dekades die NG kerk getref het en nooit werklik aangespreek is nie. Enkelle voorbeelde van teologiese aspekte wat ins so ’n “teologiese beleid” kortliks beskryf te word is dat Satan werklik bestaan soos in die Bybelse tyd, dat LGBT ideologie dwaalleer is, lidmate en predikante wat ’n diens saam met Moslems en ander godsdienste hou se lidmaatskap beeindig sal word, predikante wat LGBT ideologie onderskryf, nie beroep kan word na enige NG kerk gemeente nie, dissipelskap, transhumansme en post-humanisme teen die leer van die Bybel en die NG kerk is, lidmate en predikante wat God aanbid as “moeder” se lidmaatskap beeindig sal word, Bybelse eenheid, versoening en geregtigheid reg omskryf word want Belhar se beskrywing daarvan is vol leemtes en polities gemotiveer, duideliker vereistes vir lidmaatskap, dissipelskap, ensovoorts. Indien so ’n “teologies beleid” of iets dergliks in plek kom nie, gaan teologiese dosente en dominees ideologie bly verkondig wat teen die leer van die Bybel is.
Dankie Sybrand vir hierdie kosbare artikel.
Ek het bewondering vir huisgesinne wat in ons tyd steeds sterk staan in die gereformeerde leer en lewe. Hulle is steunpilare in die kerk en hulle hulle is standvastig in al die onsekerhede wat ons in kerk en samelewing belewe.
Ek wil ook baie dankie sê vir hierdie baie insiggewende artikel. My vraag is ook wat nou in die NG Kerk moet gebeur om as eenheid te funksioneer? Dit wil voorkom asof die moderne rigting steun by ’n groot aantal teoloë, predikante en lidmate geniet. Hoe gemaak indien ek en ander voorstanders van die gereformeerde rigting in die minderheid is en nie ons weg oopsien om met hierdie groep te assimileer nie? Hoe gaan dit hanteer word?
Goed uiteengesit Sybrand. Anda, lees hier hoe dit hanteer kan word: https://www.glodiebybel.co.za/moreletaberaad-riglyne-vir-behoudende-lidmate-en-kerkvergaderinge-van-die-ng-kerk/
Lees ook gerus Toward Denominational Unity.
Daar is heelwat dolerende gemeentes in die Ring van Heilbron, maar volgens u lys is daar nie een in die Ring van Vredefort nie. Ek wil amper sê dit is onmoontlik.
Wat my betref: as jy nie doleer nie, stem jy saam met die sot besluite van die sinode.
B. Wentink, Vredefort