Kyk ook: |
Die volgende artikel het in die De Kat-tydskrif verskyn in Maart 1993. Die volgende teoloë se name word hierin genoem:
- Prof. Johan Heyns
- Prof. Erasmus Van Niekerk
- Prof. Jimmie Loader
- Dr. Cornel du Toit
- Prof. Adrio König
- Dr. Willem Nicol
- Prof. Riempies Prinsloo
Op 5 November 1994, ’n jaar en ’n half na hierdie artikel is prof. Johan Heyns vermoor.
Op sommige plekke is kommentaar in [bruin blokhakies] bygevoeg.
**********
Wat lidmate nie hoor nie
Westerse kultuurontwikkelinge en nuwe opvattings oor die Bybel het tradisionele beskouinge oor die Christelike godsdiens dramaties verander. Hierdie idees syfer egter selde deur na die gemeentelid op die kerkbank, skryf JOAN VAN ZYL
Ek sit in die studeerkamer van prof. Johan Heyns, oud-moderator van die NG Kerk, en ek is verbysterd. Ek het hom pas gevra of die godsdienste van die wêreld nie maar almal verskillende paadjies na dieselfde Lig is nie. Sy stem dreun deur die enorme vertrek, sy arms kap deur die lug om sy woorde te benadruk, en die antwoord kom, soos op my ander vrae, onverbiddelik: “Sulke filosofieë is mooi, maar hulle is eenvoudig nie waar nie. Daar is maar een godsdiens wat die verlossingswaarheid het en dit is die Christendom.”
Soos baie burgers van die laat twintigste eeu is ek verstom – en miskien ook ’n bietjie jaloers – dat iemand so seker kan wees. Dit lyk of daar in sy gemoed nie ’n greintjie twyfel is oor die groot teologiese vrae van die eeue wat ons hier sit en bespreek nie. Hy weet sy waarheid is onvoorwaardelik die regte een, en hy begryp hoe dit inmekaarsteek.
Eintlik behoort ek nie verbaas te wees nie: wat prof. Heyns vir my vertel, is immers presies wat ek byna ’n kwarteeu gelede in die Sondagskool geleer het. Dis trouens die boodskap wat vandag nog van verreweg die meeste Suid-Afrikaanse preekstoele af verkondig word.
Nie alle Afrikaanse teoloë is egter meer so oortuig soos prof. Heyns nie. Die laaste dekades word die absolute gesag van die Bybel hewiger as ooit bevraagteken, en dit het gelei tot verrassende beskouinge oor die godsdiens. Hierdie nuwe idees syfer egter selde deur na die gemeentelid op die
kerkbank, wat dan geskok en heftig reageer as hulle in die massamedia moet verneem wat in party teoloë se studeerkamers aangaan.
‘n Tipiese voorbeeld is die herrie wat einde verlede jaar losgebars het rondom dr. Willem Nicol, NG studenteleraar van die Pretoriase Universiteit, en prof. Adrio König van Unisa se fakulteit teologie. Die twee here het hardop gewonder of God inderdaad in volle beheer van die wêreld staan, en briewe en artikels vol woedende verontwaardiging het koerante en Die Kerkbode vir weke van sentimeters voorsien. (Dr. Nicol het uiteindelik onder kerklike druk sy standpunt aangepas, maar prof. König is, soos sy kollega prof. Jimmie Loader dit onlangs in Beeld gestel het, “nog op vrye voete”.)
Sulke uitdagings van ons tradisionele godsdienstige opvattings is natuurlik nie nuut nie. Hulle maak al meer as twee eeue gereeld van tyd tot tyd hul verskyning in die teologiese en filosofiese geskrifte. Die afgelope dekade of wat wel onortodokse idees oor die godsdiens egter sterker as ooit tevore op, en nou is hulle besig om die hoofstroom binne te sypel. En dit wil lyk of hulle dié keer hier is om te bly, want hulle spruit regstreeks uit die hedendaagse kulturele gees.
WAT DIE BYBEL DEESDAE SÊ
“Aan die grondslag van al die ‘nuwe’ idees lê ’n nuwe benadering tot die Bybel,” verduidelik prof. Adrio König, hoof van Unisa se departement sistematiese teologie. “Die Bybel word al meer as ’n historiese boek beskou wat van begin tot einde gelees moet word in die tyd waarin dit geskryf is.”
Dit beteken dat ou Bybelse waarhede waarby ons vroeër gestaan of geval het (die maagdelike geboorte byvoorbeeld, of die letterlike opstanding van Christus) nou van voor af bevraagteken word. Daar is nie meer een absolute interpretasie van die Bybel nie, maar ’n verskeidenheid beskouinge wat “ons moet leer akkommodeer”, sê prof König.
Hedendaagse beskouinge plaas ’n vraagteken oor die Bybel as die Woord van God (is dit suiwer deur mense geskryf of deur God geïnspireer?), maar verskaf nie ’n absolute antwoord nie.
Die tekswetenskap is ’n ander belangrike kontemporêre invloed wat op die Bybel toegepas word. Dit kom daarop neer dat die Bybel in verskeie literêre genres verdeel word. Die meeste Bybelwetenskaplikes stem byvoorbeeld lankal saam dat sekere Ou Testamentiese hoofstukke uit en uit geskiedskrywing is, en dat die skeppingsverhaal as poësie (dus nie letterlik nie) verstaan moet word. [Kyk Die verskillende genres van die Bybel.] Sommige hedendaagse teoloë beskou egter die maagdelike geboorte en die opstanding van Christus ook as metafories. [Kyk Jesus se maagdelike geboorte bevraagteken.] Vir sommiges is die Bybel een groot metafoor.
Die punt is dat geen mens ooit daarop kan aanspraak maak dat sy of haar interpretasie van die Bybel absoluut reg is nie, se prof. Jimmy Loader, Ou-Testamentikus van Unisa. “Daar is altyd die een of ander vooronderstelling of maatstaf buite die Bybel waarmee jy dit gaan lees en interpreteer.”
Prof. Johan Heyns stem nie heeltemal saam nie. “Die Bybel is die onfeilbare, betroubare Goddelike woord. Almal moet onvoorwaardelik daaraan vashou,” sê hy.
Sy kollega prof. Riempies Prinsloo, dekaan van Tukkies se teologiese fakulteit (NG Kerk) en vooraanstaande Bybelwetenskaplike, is versigtiger. Hy glo ook die Bybel is God se Woord en as sodanig gesaghebbend, maar gee toe dat ’n mens se belydenisgrondslag, kerklike bril en sosio-politieke agtergrond help bepaal hoe jy die Bybel lees.
“Die lees van ’n teks is ’n kreatiewe aksie, ’n dialoog tussen leser en teks. ’n Mens moet oppas om jou persoonlike mening daarin te lees. In die verlede was ons kerk dalk te seker, te onverdraagsaam. Mens moet verdraagsaam teenoor ander beskouinge wees.”
Verskillende Suid-Afrikaanse kerke het natuurlik verskillende beskouinge oor die Bybel, en dus uiteindelik oor die godsdiens. Die Afrikaanse susterkerke is minder ontvanklik vir kontemporêre beskouinge as tradisionele Engelse kerke, maar baie minder fundamentalisties as die charismatiese (bv. Rhema) en Pinksterkerke (“Ons staan of val by die Bybel, al weet ons ons is uit pas met die wêreld”, sê dr. Francois Möller van die RAU se AGS Teologieses Kollege.)
[Goed vir hulle. Dit is hoe dit behoort te wees:
- 1 Kor 3:19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.
- Luk 9:26 Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom, beklee met sy heerlikheid en die heerlikheid van die Vader en van die heilige engele.]
‘N PLEK VIR ALLE GELOWE
Nou wat maak ’n mens as jy nie langer die Bybel as absolute waarheid aanvaar nie en jy haal nog boonop jou kerklike of dogmatiese bril af?
Dis dan dat ’n swelterjoel interessant moontlikhede hulle voordoen wat jou tradisionele geloofslewe óf aansienlik kan verryk en selfs kan herstel, óf tot in sy fondamente kan skud. Dis hierdie moontlikhede waarmee baie kontemporêre teoloë hule tans besig hou.
Hier is ’n paar van die belangrikste van die strominge (waarvan die meeste nie op sigself nuut is nie, maar nou nuwe lewe gekry het):
- GOD:
Vir tradisionele teoloë soos prof. Heyns is daar geen twyfel nie: God is ’n Wese met wie hy ’n direkte persoonlike verhouding kan hê. Kontemporêre beskouings laat egter meer opsies toe. ” ’n Belangrike tendens sê God is die sin wat ons aan ons lewe gee,” sê prof. Erasmus van Niekerk van Unisa se departement sistematiese teologie. ’n Ander beskouing wil dit hê dat God ’n simbool is eerder as ’n persoon.
[Net soos Dr. Cornel du Toit in Skepping en evolusie, glo Prof. Van Niekerk dat God uitgedink is deur mense om sin in die lewe te gee. Dit is baie dieselfde as wat Karen Armstrong ook glo.]
Prof. Loader meen die verskeidenheid kontemporêre en tradisionele opvattings van God is nie noodwendig onversoenbaar nie. “Omdat God alles te bowe gaan, is alle spreke oor Hom poëties of metafories. As ons dus sekere eienskappe (bv. almag of alomteenwoordigheid) aan Hom toedig, probéér ons net om iets oor Hom te sê. Daar is nie ’n waarheid waarin ons God kan vasvat nie en daarom moet ons nie so tekere gaan oor waarhede oor Hom nie.
- DIE ABSOLUTE WAARHEID:
As ’n mens God eers as simbool of metafoor beskryf, is die volgende stap dat alle godsdienstige mense regoor die wêreld – Christene, Jode, Moslems, Boeddhisle, Hindoes ens. – dieselfde God binne verskillende stelsels aanbid. Met ander woorde: namate jy agterkom God is ondefinieerbaar en dus groter as mensgemaakte stelsels, kan jy enigiets gebruik – of dit nou ’n persoon of filosofiese stelsel is – om tot Hom (of Haar) te kom.
Hierdie beskouing beduiwel die Christendom se opvatting dat hy alleen die waarheid in pag het. Dit beteken egter nie jy moet nou enigeen van die beskikbare stelsels gaan kies nie. “As jy as ’n Christen gebore word, het jy nie ’n opsie om iets anders te word nie. Jy’s klaar een, dis as Westerling in jou vasgelê,” sê dr. Cornel du Toit, deeltydse Tukkie-dosent en Pretoriase NG predikant. [Hierdie is ’n panteïstiese stelling: Panteïste erken God, maar glo ook dat daar niks is behalwe God nie. Dit behels dat daar nie ’n Satan is nie en dat jy nie God lief kan hê of haat nie, wat impliseer dat jy geen vrye wil het nie. Dit is ook ’n stelling wat baie ver verwyder is van Jesus wat gesê het dat jy wedergebore moet wees.]
Prof. Loader meen ook dis nie wys om “religieus te migreer” nie. Uit ’n godsdienswetenskaplike oogpunt sê hy die Christendom is “die enigste stelsel wat daarin slaag om goddelike liefde (die verlossing) en goddelike geregtigheid (wat die bose straf) in die Kruissimbool te integreer”.
- CHRISTUS:
Kontemporêre teologiese beskouinge bring Christus se goddelike natuur in die gedrang en wissel van die idee dat Jesus bloot ’n baie goeie mens was tot dat hy ’n soort profeet was. Hierdie idees is in dramatiese teenstelling met die tradisionele beskouing dat Jesus as deel van die Drie-Eenheid terselfdertyd God en mens was en steeds is. [Kyk Die Bybel oor Jesus se godheid.]
“Baie teoloe meen Jesus was ’n baie besonderse mens in wie se bestaan God teenwoordig was,” verduidelik prof. Van Niekerk. God het Hom in Jesus geopenbaar om vir ons te wys hoe om werklik mens te wees. ln hom het menslike eienskappe soos liefde, versoening, hoop en geregtigheid meer tot uiting gekom as in ander mense. En vandag nog is die Christendom gerig op sy leringe en optrede.
Prof. Loader meen egter die beskouing kan steeds met tradisionele formules uitgedruk word: “God het hom deur Jesus met die mensdom geïdentifiseer sodat Hy kon voel hoe dit is om mens te wees: te huil, bang te wees, gemartel en doodgemaak te word.” [Dus het Jesus aarde toe gekom om ’n beter God te word – om mense te leer sodat God meer empatie met hulle kan hê. Wat ’n belaglike en Godslasterlike siening.]
Dr. Du Toit wonder of die vraag eksklusief op Christus se goddelikheid moet fokus. “Vra liewer wat hy vir ons in ons eeu sê. Jesus het ons ware menslikheid kom leer – hoe ons kan lewe, wat die lewe vir ons kan beteken, liefde, dat ons onsself in ander mense kan verloor, dat ons ons vyande kan liefhê – en dit is so wonderlik dat ons hom God noem.”
- SENDING:
As ’n mens glo jy en Hindoes aanbid dieselfde God, wat dan van die Bybelse opdrag om sendingwerk te doen?
Prof. Loader voel oor sending soos oor Mozart. “Ek wil graag die wonder daarvan met ander mense deel, maar nie omdat ek meen hulle gaan hel toe as hulle liewer na popmusiek luister nie!” Die idee met sendingwerk is nie meer om siele uit die hel te red nie, maar om te getuig wat Christus vir jou beteken.
Sendingwerk gaan ook daarom om ander mense met jou beskouings te verryk sonder om hulle vir jou godsdiens te kaap, maar prof. Van Niekerk.
[Kyk Die Nuwe Testament oor redding en Die Bybel oor sending en Dink jy dat jy ’n goeie mens is?]
- ANDER IDEES:
Kontemporêre beskouinge oor redding is interessant en kom vereenvoudig gestel daarop neer dat almal hemel toe gaan.
“Dit gaan om universele redding,” sê prof. Loader. “Die hele skepping – tot die diere – word verlos. [Waar staan dit in die Bybel? Loader het baie duidelik sy eie geloof geskep.] Dit reflekteer sleg op kerke as die geloof alleen die moeite werd is omdat ’n mens daarsonder in die hel beland – as jy glo net om gered te word, en nie omdat God vir jou belangrik is en jy Hom graag in liefde wil dien nie. Dis dalk nie ‘regverdig’ nie, maar dit gaan hier om genade en nie regverdigheid nie.”
Ook Christus se letterlike opstanding word deur sommige teoloë bevraagteken. Die idee (glad nie ’n nuwe een nie) is dat die opstanding op Christus se opstanding in die harte van sy volgelinge dui. Dit spruit uit Bybelontledings wat sê sy fisieke opstanding is ’n metafoor wat destydse Bybelskrywers gebruik het vir ’n begrip wat hulle nie anders kon verklaar nie. Dieselfde geld die maagdelike geboorte: ’n metafoor, sê sommiges, om God se inisiatief in die lewe van Jesus uit te druk, terwyl Josef eintlik Jesus se biologiese pa was. [Kyk weer Jesus se maagdelike geboorte bevraagteken.]
NUWE TEOLOGIE VIR ‘N NUWE KULTUUR
Of ’n mens nou met van hierdie hedendaagse beskouinge saamstem of nie, kan jy vandag skaars anders as om hul grondslag te erken: ’n Westerse kultuur wat vloeibaarder en oper geword het, wat wegskram van absolute, onvoorwaardelike waarhede.
Hierdie is die postmodernistiese era, en dit word gekenmerk deur veelheid. “Daar is vandag soveel subkulture met verskillende waardes en behoeftes. Kerke moet sover moontlik alles kan akkommodeer en dus nie een antwoord nie, maar baie gee,” sê dr. Du Toit.
Ons moet dus ophou om binêr te dink, suiwer in terme van teenoorgesteldes (reg en verkeerd, God en die duiwel, ens.), en meer nuanses begin raaksien, anders vereng ons die toelogie, meen dr. Du Toit.
Die ironie is dat hierdie idees in professore en filosowe se ivoortorings vashaak, terwyl baie kerkgangers deel voel van die tydgees en antwoorde van hul kerke eis. Kry hulle dit nie, gee hulle pad. Suid-Afrika is nog nie naastenby so gesekulariseerd soos Wes-Europa nie, maar daar is reeds ’n geweldige toename in agnostisisme (jy weet nie of daar ’n God is nie, en gee ook nie eintlik om nie) onder Afrikaanse jappies, sê prof. Van Niekerk. Mense vir wie die absolutes nie bevredig nie en wat dan moed opgee in die afwesigheid van ander antwoorde.
[Dit is juis die gebrek aan absolute waarhede wat mense agnoste maak, nie anders om nie.]
VERSIGTIGE DOMINEES
Daar is wel Afrikaanse predikante wat bewus is van wyer moontlikhede en dit graag aan hul gemeentelede wil deurgee, maar hulle voel dikwels dat hulle geblokkeer word.
Die Afrikaanse kerke is geneig om net so vas in menslike formulerings oor God te glo soos in God self, meen prof. Jimmie Loader. As iemand dus buite die Belydenisskrifte beweeg, kan hy in die moeilikheid kom. ’n Paar groot sake in die verlede waar predikante van kettery beskuldig is en bedroë daarvan afgekom het, het heelwat hedendaagse dominees afgeskrik.
“Die aard van Afrikaanse teologie is oor die algemeen baie skolasties. Die waarheid staan vas, en alle navorsing en teologie is slegs daar om hierdie vaste waarhede verder te voer,” meen prof. Loader.
Teoloë en dus predikante se ontvanklikheid vir kontemporêre beskouinge het dikwels te doen met die fakulteit waaraan hulle verbind is of was. Dis opvallend dat die Afrikaanse kerklike teoloë – dus die teoloë aan fakulteite wat onder gesag van ’n bepaalde kerk staan (bv. Stellenbosch, Pretoria of Bloemfontein) – meer behoudend is as teoloë aan bv. Unisa, wat interkerklik en onafhanklik is. Die universiteit van Wes-Kaapland se teologie-fakulteit is ook minder behoudend.
Maar terwyl ’n fakulteit soos Unisa “vryer” is omdat geen kerk oor sy skouer loer nie, staan sy teoloë nie so vas aan die bediening nie en het hulle nie so ’n wye invloed oor gemeentelede soos hul kerklike kollegas nie.
“Mense wat aan die bediening gekoppel is, is meer behoudend as suiwer vakwetenskaplikes wat in hul studeerkamers eksperimenteer,” sê prof. Piet Meiring van Tukkies se departement godsdiens- en sendingwetenskap.
Tog gee prof. Johan Heyns toe dat die NG Kerk in die verlede meer alternatiewe voorstelle aan sy gemeentelede kon deurgegee het, maar hy beklemtoon dat dit gedoen moet word sonder om “mense se kinderlike geloof te ondermyn”.
’n Belangrike rede waarom nuwe beskouinge nie na die gemeentes deursyfer nie, is die huidige oorlewingstryd van kerke, meen dr. Cornel du Toit. Daar’s finansiële druk, en die kerke verloor jong mense en regses.
“Dit het baie te doen met die tye waarin ons leef. Verandering kom makliker in ’n veilige omgewing, en in die NG Kerk spesifiek was daar die laaste tyd soveel veranderinge dat predikante voel hulle kan nie nog teologies ook onsekerheid saai nie.”
Prof. König stem saam: “Daar loop ’n sterk gevoel dat gemeentes nie te veel geskud en geskok moet word nie.”
Die oorsaak lê ook by die gemeentelede self. “Sommiges voel hulle betaal die dominee vir ’n bepaalde diens en dit sluit nie die ‘hogere goed’ in nie. Dan sien die dominee moeilik die rede in om teologies naastenby op hoogte te wees en nuwe idees deur te gee,” sê dr. Du Toit.
WAAR PAS KERKE IN?
Eerder as om nuwe ontwikkelinge te ignoreer of van die gemeentelede weg te hou, behoort kerke ernstig te begin dink aan maniere om dit te hanteer, om te sê wat in die lig van hierdie beskouinge vir die geloof oorbly, meen dr. Du Toit.
“Ons kan nie ontken wat in die tydgees en die kultuurontwikkeling aan die gang is nie, en ons (hy bedoel hier sy kerk, die NG Kerk) moet dit met lidmate deurpraat en hulle help om dit te begryp en te verwerk.”
Dr. Du Toit is nie bang dat wat na vore sal kom, die einde van godsdienstigheid sal beteken nie. “Die groot konstantes sal daar altyd wees: die mens se soeke na God, sy gewetenswroeginge en verwerking van sy skuld, die vraag na die lewe en die dood. Dit is gegewens van menswees.”
En dit, meen dr. Du Toit, is waarom die teologie en godsdienstigheid uiteindelik behoort te gaan: menswees. “Wat ons oor God sê, het te doen met wat in Jesus geopenbaar is: versoening, verdraagsaamheid, liefde en nuwe hoop, dinge wat met die mens te doen het.”
[Hierdie is nonsens. Kyk weer Matteus 6 en Die NT oor redding.]
Die teologie moet mensliker word. “Godsdiens werk op die basis dat liefde die wêreld kan oorwin. Ons ontdek ons godsdienstigheid hier, in die wêreld. Dis juis die wêreld wat uitsien soos hy uitsien wat van ons godsdienstige wesens maak.
“En Jesus is die proof of the pudding. Hy staan daarvoor dat ons van buite vergewe word en dus ’n bietjie kan ontspan en ophou om ons oor die dood te bekommer. By hom leer ons hoe om te lewe, hoe om met ander mense om te gaan. Die lekkerte van die Christendom is dat ons ons sentrum buite onsself kan vind, dat ons ons in ander kan verloor, hul nood, blydskap, gemeenskap en menslikheid kan deel. As die teologie mensliker word, kom ons uit by dinge wat vir my gevoel eie kan wees aan die Christendom.”
Nie-tradisionele teoloë en predikante is nie optimisties dat Afrikaanse kerke in die nabye toekoms oper vir nuwe teologiese idees sal raak nie. “Ek vrees hulle gaan laer trek en teruggryp na tradisie,” sê prof. König.
Ek vra prof. Heyns of dit waar is van die NG Kerk. “ln die geskiedenis van die NG Kerk was daar nog net een geval waar ’n professor van die Kerk verskil het en afgesit is. Die Kerk kan egter nooit standpunte wat klaarblyklik in stryd is met die Skrif of die Belydenisskrifte akkommodeer nie. ’n Predikant wat nie met die Belydenisskrifte saamstem nie, kan ’n beswaarskrif opstel en die Sinode vra om sy opvattings te toets. As die Sinode dit verwerp en die dominee sien nie kans om sy standpunt te verander nie, moet hy die eerbare uitweg volg en die bediening of selfs die Kerk verlaat.”
Prof. Loader meen hoewel die susterkerke se aanvanklike reaksie is om kragdadiger op andersdenkendes neer te kom, dit kan verander namate hulle hul sosiale status verloor.
“Al meer mense aanvaar nie oorvereenvoudigde verduidelikings nie en die kerke moet daarom meer bevredigende antwoorde vir dogmas en situasies vind.
“Ons is op die oomblik in ’n oorgangstydperk, ’n maalstroom van verwarring, en die antwoorde het nog nie uitgekristalliseer nie. Soos aan die begin van die Renaissance staan ons op die drumpel van kulturele verandering in die hele Westerse wêreld, en dit het ten seerste implikasies vir die godsdiens. Dis egter ’n lang gistingsproses wat twee of drie geslagte kan duur, met ongevalle na alle kante toe.”