“Wat sê die Bybel” volgens Kerkbode-aanlyn

‘Wat sê die Bybel?’

01/08/2012 | Filed under: Aktueel,Gesprek | Geskryf deur: Jean Oosthuizen

Hoe behoort Christene in 2012 die Bybel te lees? Soos ’n geskiedenisboek? ’n Bloudruk vir die heelal se ontstaan? ’n Handleiding vir my lewe? Vir watter slaggate moet Bybellesers in hulle pasoppens wees? Watter rol speel die kerk en ons tradisie by die lees van die Bybel? En wat van die wetenskap, die nuwe kennis wat in ’n oorweldigende stroom op ons bly afkom? Kerkbode het twee teoloë hieroor genader en eenvoudig gevra: “Hoe lees ons die Bybel in 2012?” Hier volg die onderskeie menings:

Braam Hanekom:

Die verstommende prestasies van die wetenskap die afgelope klompie eeue het gelowiges noodwendig met ’n hele paar vrae gekonfronteer. “Waarhede” waaraan vir lank vasgehou is, is op empiriese en feitelike wyse bevraagteken en dikwels verkeerd bewys. Dit op sigself hoef nie ’n probleem te wees nie. Die groot probleem is dat daar in die proses ’n denkrigting ontstaan het wat kortweg soos volg lui: Gee net kans. Op die ou end sal die wetenskap alles verklaar. Dit is net ’n kwessie van tyd, en dan sal God en die Bybel heeltemal oorbodig wees.

Laat ek dit onomwonde stel: Ek is ’n groot bewonderaar van die wetenskap en ek dink dit sal ’n hartseer dag wees wanneer die kerk nie die bevindinge van die wetenskap met die grootste moontlike erns benader nie. Dit lê egter in die wese van die kerk opgesluit dat ons nie sonder die Skrif kan funksioneer nie. Vir eeue glo ons dat die Bybel die geopenbaarde Woord van God is, een van die besondere maniere waarop God met die mens praat. Die vraag is wel hoe dit reg en toepaslik in 2012 gebruik kan word.

Eers net die volgende: Die Bybel is nie die een of ander uitgebreide SMS wat direk uit die hemel aan die mens gestuur is nie. Ek glo dat dit, geïnspireer deur die Heilige Gees, ’n baie besondere kanaal is wat God geskep het om Homself en sy wil aan ons bekend te maak. Dit is egter nie ’n statiese teks nie, maar ’n heilige teks wat in dinamiese interaksie tussen God, Gees, hoorder en konteks elke keer weer lewend word en vars betekenis kry. Soos met die gebruik van enige instrument is daar ’n klompie unieke reëls wat toegepas moet word om dit na behore te gebruik. Wat die Skrif betref, het hierdie reëls oor tyd, dit wil sê in ons tradisie, gegroei. Onthou tog: Waar die wetenskap ons toegang probeer gee tot die diepste geheime van die natuurlike werklikheid, wil die Woord ons toegang gee tot die denke en wil van God self – ’n Bo-natuurlike werklikheid, dus. Dit maak dat die onderskeie spelreëls van mekaar verskil. Graag deel ek enkele reëls by die lees van die Bybel:

Erkende teoloë is dit met mekaar eens dat jy nie haastig met die Bybel kan omgaan nie. En dit is reeds hier waar ons oor die eerste hekkie struikel. Ons ken die Bybel nie meer behoorlik nie. Ek reken dat daar te veel mense is wat maklik oor die Bybel praat, sonder dat hulle nog weet wat werklik in die Bybel staan. Voorts het ons haastige mense geword. Ons “tweet” met net 140 karakters. Mediamense sal jou vertel dat berigte en artikels in koerante al hoe korter word omdat mense se aandagspan krimp. Die Bybel is egter in ’n ander (literêre) konteks geskryf en vra daarom meerdere aandag, asook die vermoë om ruimer tekste te interpreteer. Na veertig jaar se omgang met die Bybel ontdek ek steeds “nuwe” tekste, dimensies en boodskappe in die Bybel. Daar is insigte waarvoor ons blind geword het, maar wat tog helder en duidelik in die Skrif staan.

Tweedens moet jy die Bybel in konteks lees. Elke teks is in ’n bepaalde literêre genre verpak, dit het ’n sosiale en historiese agtergrond, maar staan ook in verband met ander tekste en moet so gelees word. Op hierdie wyse ontsluit die Bybel homself.

Derdens is daar die beginsel van kontinuïteit en diskontinuïteit. Sommige tekste en temas kom slegs een maal in die Bybel voor. Ander temas kom slegs in die Ou óf die Nuwe Testament voor. En nóg ander kom herhaaldelik en deurlopend voor. Wanneer jy iets slegs een maal lees – soos die uitspraak oor die eet van volstruisvleis of die opdrag dat vroue ’n hoed in die samekoms van gelowiges moet dra – moet jy nóg fyner na die konteks kyk voor jy dit as absoluut normatief hanteer. Wanneer daar opdragte en temas voorkom wat meermale herhaal word, vra dit waarskynlik groter erns en aandag.

Vierdens kan jy die Skrif net ten volle verstaan wanneer jou denke en God se denke in ’n intieme verhouding en onder leiding van die Gees in harmonie met mekaar is. Dit bly immers God se Woord (1 Kor 2:14-15). Ek gebruik graag die tipering pneumatologiese hermeneutiek. Mense wat uitsluitlik op die influistering van die Gees staatmaak om die Skrif te verstaan, verval maklik in ’n individualistiese geesdrywery. Dié wat slegs tegnies en klinies met die Skrif omgaan, mis maklik die insigte van die Een wat die Woord aan ons gegee het. Ons het albei nodig.

In die vyfde plek: Gelowiges behoort na mekaar te luister. Dit was die probleem met die Skriftuurlike regverdiging van apartheid. Daar is nie na die stemme van medegelowiges regoor die wêreld geluister nie. Wysheid word in die breë gemeenskap van gelowiges gevind. Nie in jou eie klein hoekie of gemeenskappie nie.

Ten slotte: In die Skrif is daar ’n skopus of ’n sentrale fokus. Dit kulmineer in die kruisiging en opstanding van Jesus Christus. Dit bring hoop in ’n verwarrende en deurmekaar tyd, waar mense soekend is. Dit is die finale lens en dalk die heel belangrikste een waardeur ons na die Skrif behoort te kyk.

▶ Dr Braam Hanekom was assessor van die jongste Algemene Sinode.

Ben A du Toit:

Die verskillende verhale en tekste in die Bybel moet liefs nie in die eerste plek gelees word as “woorde van God” nie, maar as woorde van mense.

Seker een van die belangrikste kwessies vandag is mense se Skrifbeskouing, omdat dit juis teen dié agtergrond is dat die meeste strydgesprekke gevoer word, ook dié in die media.

Enkele opmerkings hieroor:

» Die Bybel moenie in isolasie gelees word nie. Daar is ander geskrifte uit dieselfde tyd as die Bybel, en selfs vroeër, wat dieselfde soort verhale en inligting bevat. Hoe wyer ’n mens die antieke literatuur begin lees, hoe meer kom jy agter dat baie Bybelse verhale nie heeltemal so uniek is nie. Jy kan uiteindelik nie anders as om tog te wonder of alles in die Bybel werklik so Goddellik geïnspireer is, en of baie nie maar ’n Joodse of Christelike weergawe van die destydse denke is nie.

» Selfs al lees jy nie baie sulke (buite-Bybelse) geskrifte nie, is dit nogtans van die uiterste belang om so goed moontlik vertroud te probeer raak met die sosio-kulturele agtergrond en simboliese universum van die mense uit die Bybelse tyd. Elke Bybelse geskrif moet binne ’n bepaalde konteks (beide dié van die skrywer en sy lesers) gelees en verstaan word. Dit is veral die wyd verspreide denkwyses en geloofsieninge van die antieke tyd waarvan ’n mens iets te wete behoort te kom, want soveel daarvan het in die Bybel neerslag gevind.

» Die verskillende geskrifte in die Bybel behoort egter elkeen afsonderlik gelees te word en só ’n kans gegun word om in eie reg sy boodskap aan die leser deur te gee. Sonder om dit by voorbaat met behulp van ander geskrifte te probeer verklaar. As jy mooi daaroor dink, moet jy tog weer vra presies hóé die ou gereformeerde beginsel dat jy een Skrifgedeelte met ’n ander moet verklaar, gebruik moet word. Want elkeen van die Bybelse geskrifte (op enkele uitsonderings na) het onafhanklik van die ander, as aparte geskrif, die lig gesien. Nie een is in elk geval geskryf met die oog daarop dat dit deel van die Bybel sal word nie. Dit het eers later, in die loop van ’n paar honderd jaar, só gebeur.

» Elke geskrif behoort so ver moontlik in een sitting deurgelees te word, want só is dit oorspronklik bedoel. ’n Bybelskrywer veronderstel dikwels dat ’n leser nog onthou wat hy (die skrywer) enkele hoofstukke vroeër reeds gesê het. Dit is tog vandag nog alle skrywers se uitgangspunt.

» Deur die verskillende geskrifte van die kanon (Bybel) te lees, en verskillende aksente by verskillende outeurs raak te sien, word die leser bewus van ’n verskeidenheid stemme wat in die Bybel gehoor word. Die outeurs van die Bybelse geskrifte het self ook ander bronne by die skryf van die teks gebruik – wat ook as interteks meespreek. Deur na meer en meer van hierdie stemme te luister, word die leser as ’t ware ingetrek by ’n sogenaamde binne-kanoniese gesprek. En begin jy besef dat jy self ook oor die verskillende sake behoort na te dink, en via hierdie teks self ook oor God moet besin.

» Die Bybel moenie gelees word as ’n geskiedenishandboek wat histories-eksakte en korrekte feite weergee nie; dit wil wel ’n bepaalde boodskap bring. Natuurlik is die meeste Bybelse verhale op werklike gebeure gegrond, maar elke verhaal word vertel om ’n bepaalde punt te maak, om ’n boodskap oor te dra. Dit bevat ’n sogenaamde punchline. Wat van belang is, is nie om die historiese gebeure agter die verhaal te probeer rekonstrueer nie, maar om die betekenis van die verhaal of vertelling te snap.

» Hierdie betekenis vind jy dikwels in die dinamika van die vertelling self. En daarom is dit nodig om jou ook te vergewis van die antieke retorika en narratologie. ’n Dieper studie van veral die Nuwe Testament toon dat van die Bybelskrywers beter hierin geskool was as wat ons dalk sou dink.

Ek reken dit is vandag uiters noodsaaklik dat Bybellesers bereid moet wees om hulle eie voorkeur-perspektiewe, religieuse voorveronderstellings, etiese kriteria, sosiopolitiese plasing, teoretiese denkraamwerk en interpretasiestyl, dit wil sê alles wat uit hulle eie tradisie kom, weer eerlik in oënskou te neem en ook met ander s’n te vergelyk. Hiersonder is geen objektiewe gesprek werklik moontlik nie.

» Die verskillende verhale en tekste in die Bybel moet liefs nie in die eerste plek gelees word as “woorde van God” nie, maar as woorde van mense. Die Bybel self moet nie tot god verhef word nie – dít is bibliolatrie. Dit is net nie moontlik om elke ander aksent of die verskille wat tussen verskillende Bybelboeke opduik te verklaar deur dit aan Goddelike inspirasie toe te skryf nie. Indien jy van die Bybel wil praat as Woord van God, dan moet dit op ’n ander manier geskied. Dit kan nie geld van elke woord en elke teks nie, en sal myns insiens eerder na die geheel as na die afsonderlike dele moet verwys. En dan moet daar in elk geval goed gekwalifiseer word presies wat met so ’n tipering bedoel word.

» Ons benadering tot en lees van die Bybel word tot ’n groot mate bepaal deur ons belydenisskrifte, sinodebesluite en tradisie. Ek wil dit tog waag om te vra of ons bereid is om ook hierdie dinge binne hulle eie konteks te verstaan en dit weer in oënskou te neem. Daar is tog elemente hierin wat vandag moeilik is om te aanvaar en waarna werklik weer gekyk moet word – sáám gekyk moet word. En daar ís ’n ordelike weg om juis dit te doen.

▶ Dr Ben A du Toit is oud-dosent in Nuwe Testament aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch.

 

Kommentare:

 

Nugter en uiters realistiese opmerkings deur Dr Ben du Toit. Hierdie belangrike insette gee baie mense weer hoop. Dit gee mens weer hoop na jare se veroordeling deur sekere mense wat Die Bybel net gebruik het om mense te vertrap – want dis mos “Die woord van God”.

Hannes Cloete
01/08/2012 at 21:04
 
 
Iemand wat beweer dat Bybelse waarhede deur die wetenskap “op empiriese en feitelike wyse bevraagteken en dikwels verkeerd bewys” het duidelik min insig in wetenskapfilosofie en die beperkte gesag van emiriese wetenskap, asook die beperkte gesag van induktiewe logika waarop empiriese wetenskap gebasseer is. Moderne teoloe het die gewoonte om alles wat die wetenskap opdis vir waar te aanvaar, en dan hulle interpretasie van Goddelike openbaring daarby aan te pas.

Sulke teoloe se uitgangspunt is : “Indien die wetenskap en die Bybel mekaar weerspreek, dan moet die wetenskap korrek wees.” Gegee dat die wetenskaplike toerie altyd voorlopig is en altyd verander, is hierdie uitgangspunt irrasioneel.

Die uitgangspunt : “Indien die wetenskap en die Bybel mekaar weerspreek, dan moet die Bybel korrek wees.” is die enigste rasionele alternatief, gegee dat die Bybel nie verander nie.

Bouwe Van Der Eems
02/08/2012 at 09:36
 
 
Beide artikels is in die kol en die grondslag vir ’n goeie debat. Die skrywers redeneer logies en baie redelik. Die belangrikste element en goue draad deur beide artikels is die waarskuwings teen biblisisme.

Tydens die reformasie van die 16de eeu het daar ’n baie bekende spreuk ontstaan. In Latyn lui dit: Sola sancta Scriptura. In Afrikaans beteken dit: (Deur) Die heilige Skrif alleen. Daar lê die grond van die tradisionele gereformeerde biblisisme. Die afgelope 200 jaar het ontwikkelinge op natuurwetenskaplike gebied die grond geword vir baie vrae oor die gesag en korrektheid van die Bybel. (Die ewolusie debat is miskien die beste voorbeeld.) Dit is eers nou dat in relatief konserwatiewe gereformeerde kerke nuut na die probleme wat al meer as 200 jaar onder ons lewe, begin kyk word SONDER OM PER SE ANTWOORDE IN DIE BYBEL TE SOEK maar om te kyk waar die Skrif dit in feite oor het. Dit werk bevrydend maar haal ook verwaande teoloë wat meen dat hulle insigte korrek is omdat dit uit die Bybel (God se Woord wat hulle kan en mag uitlë) kom, van hulle troontjie. Daarmee word die laaste bolwerk van Rome (die gesag van die kerk) plat gevee.

Dit is meer as hoognodig dat ’n nuwe reformatoriese hermeunetiek en inspirasieleer sistematies geformuleer word, maar dan so dat almal wat in die kerk sit dit verstaan en ook kan hanteer.

By dit alles: Ons geloof is gebou op ’n persoon, Jesus Christus, wat homself en ons aan sy woorde herinner deur die werk van die Heilige Gees in ons harte. Die Gees het mense blykbaar aangespoor om dit op te teken. Christus staan sentraal en die belofte van Sy Gees bly van krag tot aan die einde van die tye. Dat die Skrifte ’n baie sentrale plek het weet ons, maar daardie selfde Skrifte is NIE verhewe bo die werk van die Gees in die harte van gelowiges nie (om die bybelse beeld te gebruik). Op hierdie vaste fondament mag ons gelowig bou.

Marinus Wijnbeek m.wijnbeek5@upcmail.nl
NEDERLAND
Marinus J. Wijnbeek
02/08/2012 at 17:01
 
 
Ek sou sê niemand lees die Bybel sonder ’n stel voorveronderstellings nie. Elkeen lees dit met ’n bepaalde “bril.” Geen “bril” kan egter kritiekloos aanvaar word nie (Deist). Net soos wat diegene wat die Bybel biblisisties lees, gekritiseer kan word dat hulle die Bybel lees op grond van die gesag wat hulle aan die woorde van die Bybel toeken (bv. dat dit as “Woord van God” verstaan word en as bonatuurlik geïnspireer gesien word), kan ’n leesbril wat by voorbaat skepties is oor die interne eenheid of die goddelike gesag van die Bybel, gekritiseer word. Enige “bril” heg bepaalde gesag aan stemme / invalshoeke / benaderings tot die Bybel. Sommige kritiese lesers van die Bybel ken onwrikbare gesag toe aan die sekulêre wetenskap en sal geneig wees om die waarheidsaanspraak van die Bybel te relativeer aan die hand van die sekulêre wetenskap. Ander kritiese lesers lees bv. die Bybel met ’n naturalistiese bril, waarin die leser bv. by voorbaat skepties is oor die bonatuurlike. Ander kan dalk die Bybel lees vanuit akademiese groepsdruk en probeer om ten alle koste die status quo te behou en in die proses hoofstroom benaderings na te volg. Baie van die “verskille” of “kontradiksies” is nie so seer inherent aan die boeke in die Bybel self nie, maar juis die gevolg van ’n skeptiese benadering waarin alreeds bepaalde gesags- en waarde-oordele vooraf oor die inhoud gemaak is. “Verhale” wat bv. “te goed is om waar te wees” kan byvoorbeeld maklik gesien word as “mites” of slegs “pakkies” waarin ’n boodskappie verpak is.

Ten diepste hang die manier waarop mens die Bybel lees dus af van aan wie jy watter gesag toeken. Dit is onvermydelik. Dit is interessant dat die hoofstroom teologiese landskap in Suid Afrika baie meer neig na die skeptiese kant toe as bv. in Amerika, en selfs in Engeland! Waarom dit so is, weet ek nie. Dit is asof alle hoofstroomkerke en Teologiese Fakulteite in SA druk ervaar om te konformeer tot ’n meer liberale, postmoderne benadering tot die Bybel. Dit is asof daar ’n bepaalde aantrekkingskrag daartoe in Suid Afrika. Miskien is die Afrikaner steeds in ’n identiteitskrisis, en sit steeds met ’n selfbeeldprobleem om aanvaarbaar te wees in die oë van die wêreld? Ek weet nie. My vraag is: Waar is die vrug? Bring ’n naturalistiese benadering tot die Bybel ons nader aan die Here? Kan ons beter sy stem hoor vir ons lewens of vir ons land? Maak dit ons opgewonde oor die evangelie, oor Gods Woord en oor Gods koninkryk? Verander dit mense se lewens radikaal om hulle uit te haal uit die koninkryk van die duisternis, om hulle oor te bring na die koninkryk van die lig? Watter boodskap stuur naturalisme bv. uit na ons jongmense en ons kinders? Waarom verloor soveel jong predikante hulle geloof aan die Universiteite vandag? Behoort die egte produk nie eerder ’n positiewe vrug te bring nie? Ek vra maar net.

Sommige sal sê dat ’n naturalistiese benadering juis nodig is, om die skeiding tussen die natuurlike en bonatuurlike nader aan mekaar te bring, dat mens God juis in die natuurlike moet vind, en dit moet omhels – dat ons versigtig moet wees is om te “Grieks” of “dualisties” te dink. Met ander woorde, dat ons meer oosters moet dink oor ons geloof, meer holisties, meer monisties, dat ons dinge soos panenteïsme en selfs panteïsme moet omhels: dat ons nie sulke sterk grense moet trek tussen waar en onwaar, tussen heilig en sondig, tussen God en mens nie; dat alle grense uiteindelik moet val: tussen Bybels en buite-Bybels, tussen geïnspireer en nie-geïnspireer, tussen gered en ongered, tussen Christenskap en ander gelowe.

Om dus konsekwent naturalisties / postmodernisties met die Bybel om te gaan, gaan uiteindelik eindig in óf ateïsme, óf panteïsme, om die uiterstes te noem. ’n Middeweg? Is dit regtig waar ons wil wees: lou en grys in die middel, om mense en sekulêre instansies tevrede te hou? Want wat nou as die wêreld dink Christene is onnosel, dat hulle akademies inkompetent is? Ons kan tog nie “face” verloor in die oë van die wêreld nie! Maar… Is louheid nie juis wat uitgespoeg moet word nie? Is “fear of man” nie juis een van die dieper probleme in die kerk nie? Wat het dan van die profetiese stem van die kerk geword?

Wanneer ons die gesag van die Bybel so oneindig relativeer of kwalifiseer om te konformeer tot die hoofstroom, het die Bybel nog vir ons iets te sê? Is die volgende stap nie maar om maar te dink wat ons wil en te glo wat ons wil nie? En as dit die geval is, gaan dit ons regtig vervul en gelukkig maak en mense maak wat iets kan beteken in God se koninkryk? Myns insiens het Christenskap dan haar sin en betekenis verloor.

Philip du Toit
03/08/2012 at 13:15
 
 
Baie interessante en relevante debat. As gelowige natuurwetenskaplike staan ek soms stom verbaas oor die naiwiteit van mense aan beide kante van ’n baie bree spektrum. Wetenskap is beslis nie net teoriee nie, die aarde is ’n bol en selfs nie eers volmaak rond nie. Die skepping is ’n gegewe en iemand wat glo dat lewe en spesifiek die mens toevallig uit “iets” ontwikkel het, moet ’n menigte toevallighede vir my verklaar. Die Bybel is nie net ’n bundel verhale nie. Daar is ’n sentrale tema wat aan die een kant die bemoeienis van God met die mensdom beklemtoon en aan die ander kant die verwagting van ’n ewige lewe in ’n ander dimensie. Verder spel dit uit wat ons verhouding met mekaar moet wees en waarsku dit teen gedrag wat onbetaamlik is. Dit inspireer, vertroos, gee leiding en bly altyd relevant en aktueel. Wat my soms uit my klere wil laat klim is mense en selfs predikers wat ’n deel van ’n vers beetkry en dan so daarop borduur dat hulle heelwat later hulle eie mening gee asof dit vasstaan in die bybel, eerder as om nederig te erken dat ons tog maar nie regtig alles weet nie. Die belangrikste bly GELOOF en LIEFDE en hoe ons daagliks lewe sodat Christus sigbaar wordin elkeen van ons.
 
Carel A van der Merwe, Carelsburgh, Stellenbosch
04/08/2012 at 21:27
 
 
Ek wil graag ’n opmerking maak oor die literêre genre in die Bybel, waarvan Braam Hanekom praat.

Die botsing tussen Bybel en “wetenskap”, het hoofsaaklik ontstaan oor dit wat in Gen 1-11 vir ons opgeteken is. Die literêre genre van Gen 1-11 word deur die skrywers van die Bybel aangebied as geskiedenis. Dit is nie bedoel as ’n metafoor of ’n lied of ’n profesie nie. Die skrywers pretendeer dat hulle vir ons die geskiedenis van die mense van die begin van die wêreld af opgeskryf het en is terloops ’n werk van onvergelyklike historiese betekenis. Die Bybel het in Israel onstaan en is geskryf deur mense wat hulle geroepe gevoel het om die groot dade van God in die geskiedenis op te teken. Teen hierdie agtergrond die volgende harde werklikhede:

1. Die Bybelskrywers sê dat God die wêreld/heelal in ses dae gemaak het. Dit is onteenseglik hulle bedoeling. Selfs in die Tien Gebooie reflekteer dit as deel van die lering van God aan sy volk. (Ses dae moet jy werk, want in ses dae het God die hemel en die aarde gemaak – Eks 20:9-11).

2. Die skepping word gesien as ’n afgehandelde taak van God (Gen 2:1; Eks 20:11).

3. Die sondeval word gesien as ’n historiese gebeurtenis, wat dood en elende in die wêreld ingebring het. (Nie net in Genesis nie maar ook in bv Rom 8:20)

4. Die sondvloed in Gen 6,7,8 word beskryf as ’n katastrofale historiese gebeurtenis, wat volgens Petrus ’n nuwe era op aarde ingelui het (2 Petr 2:5; 3:6,7). Die profete het van Noag gepraat as ’n historiese persoon (Jes 54:9; Eseg 14:14). Jesus word aangehaal dat hy Noag as ’n historiese figuur gesien het toe Hy gewaarsku het dat dit in die eindtyd sal wees soos in die tyd van Noag (Mat 24:37).

5. Die nageslag van Adam is noukeurig nagevors en in Gen 5 aangeteken. In die res van die Bybel word hierdie geslagsregister gerespekteer as die basis vir die gelowige geslag van Adam af. (1Kron 1; Luk3:23). Dit is hierdie geslagsregisters wat ons tot die gevolgtrekking bring dat Jesus 4000 jaar na Adam gebore is en dat die skepping 6000 jaar gelede plaasgevind het.

Ons Christelike lewens en wêreld beskouing is gebaseer op die historiese werklikhede wat vir ons beskryf is in Gen 1-11. Dit bots met die evolusionistiese wêreldbeskouing in ons tyd, wat nie weet van ’n afgehandelde skepping, of van die mens wat na die beeld van God geskape is of van ’n sondeval nie. Ons het eenvoudig te doen met twee onversoenbare uitkyke op die werklikheid. Elke gelowige in ons tyd word dus verplig om ’n keuse te maak of jy in die Bybel of in die ” sg wetenskap” wil glo. Dit is nie moontlik om altwee in jou gemoed te akkomodeer nie.

Ek wil dus ’n beroep doen op die teoloë van die NG Kerk dat ons, die Bybelskrywers sal respekteer vir wie hulle is. Hulle is “ons” mense. Dieselfde Gees wat in ons werk is ook die Gees wat in hulle gewerk het. Ons moet hulle nie afmaak as “pre-modern”, asof ons moet agteroor buig om hulle werk in ons moderne tyd te akkomodeer nie. Hulle is ons in baie opsigte voor, in integriteit, betroubaarheid en diensbaarheid aan God. Ons kan hulle sien as deel van die skare geloofsgetuies waarvan ons lees in Hebr 12:1.

Ten slotte: Nie alles wat vir ons as wetenskaplik opgedis word is wetenskap nie. Die wetenskaplikes van die “God-deeltjie”, het miljoene/miljarde (?) Euro’s bestee om die Oerknal na te vors. Nou het ’n hoogs gerespekteerde fisikus van Suid-Afrika, prof Jan Boeyens, pas gesê die Oerknal is as ’n April grap begin en dat dit steeds as ’n wetenskaplike teorie totaal en al onaanvaarbaar is. Sien meer hieroor by https://www.glodiebybel.co.za/index.php/skepping-evolusie-ateisme-m/94-kosmologie-sterrekunde-kat/652-oerknalteorie-is-aprilgek-grap-se-prof-jan-boeyens.html

Dit is maar net die spits van die leuens van die duiwel in die naam van die wetenskap.

Jan Louw
07/08/2012 at 18:59

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui