Kyk ook:
Tydens die 2015-besluit was daar sprake van vuil spel om ‘n gunstige besluit oor homoseksualiteit af te dwing:
- Daar was sprake van emosionele manipulasie (kyk Emosionele manipulasie by die sinode).
- Tydens die 2013-sinode is daar besluit om opnuut ’n studie oor homoseksualiteit te doen. Na bewering was hierdie studie nie voltooi voor die aanvang van die 2015-sinode nie en sou die homoseksuele kwessie nooit tydens die sinode gedien het nie. Die besluit het toe wel gedien met die gevolg dat dit redelik onverwags was en dat sinodegangers onkant betrap is. Voor hulle hul oë kon uitvee is daar gestem.
‘n Mens kan egter nie dieselfde van die 2019-sinode sê nie. Indien mens na die video van die 2019-sinode kyk, dan lyk dit op die oog af of die proses bo verdenking was: Daar was oorgenoeg tyd gegee vir verskillende opinies en geen sinodeganger kan beweer dat hy nie geweet het waaroor gestem is nie. Trouens, daar is geen rede dat een enkele sinodeganger nie reeds lank voor die sinode geweet het dat hulle oor die saak sou stem nie, dus was daar baie tyd om voor te berei vir die sinode.
Dit wás egter baie vreemd dat die stemgetalle nooit aan die einde bekend gemaak is nie. Die tydelike voorsitter, Nioma Venter, het die resultate bloot aangekondig met die volgende woorde: “Ons het met ‘n volstrekte meerderheid die voorstel aanvaar soos wat hy gedien is.” (Dit beteken bloot ‘n meerderheid van 50% plus 1.)
Daar is sommiges wat sê dat die 74 gravamina (waarvan twee [André Bartlett en James Kirkpatrick] ten gunste van homoseksuele verhoudings was) nooit tydens die sinode behandel is nie.
- Eerstens: Die vraag is of dit ‘n verskil sou maak as mens in ag neem hoeveel bespreking toegelaat is?
- Tweedens: Wanneer ‘n beswaarskrif of gravamen by ‘n sinode ter tafel was, en die sinode besluit het om slegs daarvan kennis te neem of om watter rede ookal daarvan af te stap, dan is dit afgehandel.
Dus het hierdie kritiek nie meriete nie.
Nog kritiek is dat die Bybel nooit of bitter min gebruik is om ‘n rol te speel in die besluit.
Eerstens: enige spreker was vry om na dele in die Bybel te verwys en daar was sprekers wat dit wel gedoen het.
Tweedens: daar het ‘n sogenaamde “vasgelooptheid” in die NG Kerk ontstaan (kyk Vasgelooptheid). Dit help nie meer om die Bybel te gebruik nie, want die liberales in die NG Kerk heg bloot nuwe interpretasies aan die ou waarhede in die Bybel. Hier is ‘n paar voorbeelde:
- Immanuel Van Tonder sê byvoorbeeld dat die tekste in die Bybel oor homoseksualiteit niks te doen het met liefdevolle, gay verhoudings nie.
- Julian Müller ontken openlik die bestaan van die duiwel en Jesus se liggaamlike opstanding en tog bly hy net sê: “Ek bevestig nógeens dat ek staan by die legitimasie verklaring en daarom ook die Belydenisskrifte van die NG Kerk.” Dit is natuurlik ‘n leuen, maar hy kom daarmee weg.
- Ben du Toit is aangekla dat hy nie aan die duiwel glo nie en daarom sy legitimasie-eed verbreek. Tog het hy losgekom omdat die 2011 sinode ruimte daarvoor gemaak het.
- Kyk ook die tipe argumente wat gebruik word in die ASM se “Gids” oor homoseksualiteit.
Baie behoudendes glo dat die meerderheid lidmate in die NG Kerk glo dat homoseksuele verhoudings sonde is. Dit mag dalk wees, maar hoe verklaar ‘n mens dan dat die homoseksuele besluit in 2019 goedgekeur is? Daar is drie opsies:
- Daar was ‘n knoeiery met die stemtellery.
- Daar was ‘n knoeiery met die verkiesing van die afgevaardigdes.
- Behoudendes in die NG Kerk is net bloot nie ernstig genoeg oor die geloofskwessies in die kerk nie en voel dat vrede en kerkeenheid belangriker is as om standpunt in te neem teen teologiese kwessies.
Dit is baie onwaarskynlik dat daar (weer) emosionele manipulasie was. Die feit dat ‘n groot deel van die NG Kerk leierskap liberaal is, het natuurlik ook ‘n rol gespeel.
As daar nie ‘n geknoeiery was nie of as dit onmoontlik is om te bewys, dan kom die volgende woorde by mens op:
THE TRIBE HAS SPOKEN!