Wat van die Bybelse uiteensetting van sonde?

*******

Wat van die Bybelse uiteensetting van sonde? | Netwerk24

Dr. Bernhard Ficker, Somerset-Wes

05 Junie 2024

Murray la Vita se onderhoud “God vertrou gebroke potte” met emeritus prof. Daniël Louw (27.05) was insiggewend.

Louw sê hy het grootgeword met ’n etiese raamwerk van “wat is sonde en wat is nie sonde nie?”

Watter ongelooflike seën om te kon grootword met so ’n etiese raamwerk.

Die besef van sonde en die onthouding daarvan sal ons immers ’n geweldige klomp hartseer spaar.

Die Wet van God, die Tien Gebooie, is daar om ons tot ’n besef van sonde te bring én dit dien as ’n raamwerk om ons te beskerm.

Jy kan wel oor die raamwerk klim en gaan steel of hoereer of moor, maar dit gaan ’n groot klomp trauma en ongelukkigheid tot gevolg hê.

Hy kla dat hy ook nie op Sondae kon swem nie, maar kan niks in die Bybel vind wat Sondag-swem verbied nie.

Ensovoorts.

Dan uiter hy sy gebrekkige gevolgtrekking.

As gevolg van die sondebesef sê hy: “Ek kon nie my Christenskap geniet nie.”

Dis ’n tragiese wanbegrip van die evangelie.

Dan die veelseggende stelling: “En daarom het ek die boek geskryf om te sê: Maar kom ons skuif weg van die etiese raamwerk en die vrae: Wat is reg en wat is verkeerd?”, en vervang dit met ’n nuwe “estetiese kategorie” van “Wat is waardevol? Wat is betekenisvol?”

Die geliefde ds. Jan Louw van die Vrystaat, opsteller van die bekende webwerf glodiebybel.co.za, wat onlangs oorlede is, is hierdie professor se vangenoot. Ds. Louw, was ’n leidende figuur in die doleringsbeweging in die NG Kerk (NGK).

Hy het geglo in reg en verkeerd en geweet wat is sonde aldan nie.

Is die verskil tussen die reg-sinnige NGK-dolerendes dat hulle in sonde glo, terwyl die vrysinnige NGK-Kweekskool-teoloë dikwels nie erkenning wil gee aan die Bybelse uiteensetting van sonde nie?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui