Wat van kerklike tug?

Daar is mense wat nie gemaklik is met die feit dat kerke tug toepas nie. Dat mense uit die gemeente uitgeskuif word vir watter rede ookal nie.

Willie Jonker kerklike tug (Ferdie Mulder, 29 Julie 2021)

Waar kom kerklike tug vandaan?

Jesus self het dit ingestel in Matteus 18:15-17:

(15)”As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. (16)Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. (17)En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

Wat Jesus hier sê, maak logies gesproke baie sin: ’n mens gaan praat eers met die persoon self voor jy dit verder neem. Dit is wat ’n mens in enige konfliksituasie doen, nie waar nie.

Let wel dat vers 17 nie soos volg lui nie: “As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom aanvaar vir wie hy is en moet jy die oordeel aan God oorlaat.” Nee, dit sê: “moet jy hom as ’n heiden en tollenaar behandel.” Wat beteken dit prakties?

Jy hanteer so ’n persoon asof hy ’n ongelowige (ateïs, Moslem, Hindoe, ens) is en tot bekering moet kom:

  • Hy kan nie ’n lidmaat van die kerk word nie, want hy sal nie belydenis van geloof kan aflê nie.
  • Hy kan nie enige leiersposisie in die kerk beklee nie, byvoorbeeld:
    • Kerkraad
    • Sanggroep
    • Help by die basaar
  • Hy kan nie nagmaal gebruik nie (indien jy dit op ’n manier kan keer) – 1 Korintiërs 11:27-34
  • Jy kan nie sy kinders doop nie (kinders van gelowige ouers word gedoop).
  • Jy verbied hom egter nie om eredienste by te woon nie.

In kort beteken dit, glo ek, dat die persoon die sendingveld word.

Paulus sluit in 1 Korintiërs 5:11 ook by hierdie tema aan:

(11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie.

Titus 1:6

(6)’n Ouderling moet onberispelik van gedrag wees; hy moet aan sy vrou getrou wees, en sy kinders moet gelowig wees en nie die naam hê dat hulle losbandig lewe en teen gesag in opstand kom nie.

‘n Ouderling word verantwoordelik gehou vir sy vrou en kinders se optrede. Daarom moet daar tug in die gesin wees.

Titus 3:10-11

(10)Met iemand wat na twee vermanings nog skeuring veroorsaak, moet jy niks te doen hê nie, (11)omdat jy weet dat so ’n man op die verkeerde pad is. Deur sy sonde bring hy die oordeel oor homself.

Volgens Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 29 is kerklike tug een van die drie merktekens van die ware kerk (kyk Merktekens van die Kerk).

Op die oog af lyk dit om te hard te wees en teenstrydig met Jesus se karakter. Mense vergeet egter maklik van sommige van Jesus se baie ferm uitsprake – kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade.

In Homoseksueles en bankrowers het ek ’n scenario geskep wat ook van toepassing op hierdie onderwerp is.

Praktiese voorbeelde

Eli se seuns

In 1 Samuel 2:15-17 lees ons van Eli se twee seuns, Hofni and Pinehas, wat nie die offers met respek hanteer het nie. Vers 17 sê: Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor.

In 1 Samuel 2:22-26 lees ons verder van Hofni en Pinehas se goddeloosheid. ‘n Mens lees dat Eli hulle wel berispe het, maar hy was nie ernstig genoeg daaroor nie. In vers 29 sê God vir Eli: Waarom verag julle my diereoffer en my graanoffer waarvoor Ek voorskrifte in my woonplek gegee het? En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My, deurdat julle julle vet maak met die beste uit al die offers van my volk Israel?

Dus het God vir Eli aanspreeklik gehou vir sy seuns se optrede.

Veiligheidsreëls

Die doel van veiligheidsreëls is om jouself en ander mense te help beskerm. As veiligheidsreëls nie toegepas word nie, steur mense hulle nie meer aan die reëls nie en dan gaan die waarde van die reëls tot niet.

As jy die persoon is wat die reëls moet afdwing in ‘n vervaardigingsaanleg en jy doen dit nie, dan kan jy selfs aanspreeklik gehou word vir enige skade, beserings of lewensverlies. Kyk Reëls help niks as jy dit nie toepas.

Nederlandse geloofsbelydenis en Heidelberge kategismus

Nederlandse geloofsbelydenis

Heidelberge kategismus, Sondag 31

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui