Wat Zuma, Gaum gemeen het

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/09/04/R1/24/06.html

Tim du Plessis

Wat Zuma, Gaum gemeen het

Rapport, 4 September 2005

Albei se instellings worstel met verandering

Wat het die Laurie Gaum-sage en die Zuma/Mbeki-tweegeveg met mekaar gemeen?

Niks en alles. Niks, want Gaum gaan oor kerkmense wat verskil oor wat die Bybel sê oor homoseksualiteit. Mbeki/Zuma gaan oor politieke mense wat verskil oor beleid. Niks gemeenskapliks daar nie.

Tog is daar een groot faktor wat onderliggend is aan albei: verandering en hoe organisasies, instellings en individue daarmee handel.

Daar is ’n verdere stukkie gemeenskaplikheid: NG mense wat aanhoudend sê die kerk gaan skeur oor die Gaum-kwessie en ANC-mense wat sê die ANC/SAKP/Cosatu-alliansie gaan verbrokkel oor Zuma. Hulle is albei verkeerd.

Zuma en Gaum is nie die breekpuntkwessies in hul onderskeie instellings nie. Hulle is net die simptome van ’n politieke party en ’n kerk onderskeidelik wat worstel om aan te pas by ’n omgewing wat onder hulle verander het.

Nou laai die spanning op omdat daar in die NG Kerk en in die ANC ’n beduidende groep is wat die nuwe omgewing probeer verstaan en beheer met reëls en instrumente wat uitgedien is omdat die omgewing waarvoor hulle ontwerp is nie meer bestaan nie.

Emosie is in oormaat betrokke. Jy kry mos oral mense wat dink jy los ’n krisis op deur dit te vererger.

Irrasionaliteit slaan knaend uit. Zwelinzima Vavi se kop het hom duidelik gelos. Net soos daardie kerkmense wat glo homoseksualiteit is ’n geestesiekte wat “genees” kan word.

Toegegee, dis moeilik. In godsdiens én in die politiek werk jy met oortuigings en geloof, nie met data wat empiries geverifieer kan word nie.

Vir baie lank was daar geen diskrepansie tussen die NG Kerk se siening van homoseksualiteit en dié van sy gemeenskap nie. Maar toe begin die gemeenskap verander. Meer word bekend oor die “toestand” van homoseksualiteit, onder meer dat dit ewe min ’n afwyking is as linkshandigheid en dat homoseksuele so gebore word en nie noodwendig verkies om so te wees nie. Die stigma, wat altyd onregverdig was, verflou. Goeie, sout-van-dieaarde- Afrikaanse ouers, NG mense in hart en niere, word gekonfronteer met die homoseksualiteit van hul kinders. En hulle besef: gay ofte nie, dis my kind en ek is vir hom of haar net so lief soos vir die ander.

Buite die kerk word homoseksuele toenemend aanvaar en is daar niks wat hulle belemmer om die hoogste sport te bereik nie. Dit alles lei tot groter verdraagsaamheid in die gemeenskap. Die omgewing het dus verander. Maar die kerk spartel, want dié wil nog die nuwe omgewing aan die hand van die ou “waarhede” verstaan.

Nou’s daar mense wat sê: volgens die kerk se reëls is homoseksualiteit sonde. As jy in die kerk wil bly, aanvaar die reëls of loop. Dis ’n steriele rigorisme.

Dis soos wanneer ANC-heethoofde vir wittes wat die regering kritiseer, sê dis die nuwe Suid-Afrika. Aanvaar dit of skoert. Se voet. Dis my land ook en ek wï l hier bly, ek het ’n reg om geakkommodeer te word. Ek weier om my land te verlaat net omdat ek ontevrede is oor die manier waarop regstellende aksie toegepas word en onbekwaamheid gedy.

Die kerk is duidelik aan die worstel en dit hoort so. Al hoe meer kerkmense sê: ek het albei kante gehoor, ek weet nie eintlik wat om te dink nie.

Dis in die haak, dis duisend maal beter as om te sê ek het klaar gedink.

Die ANC-alliansie se probleem weer is dat hy spartel om die nuwe politieke omgewing te verstaan aan die hand van die reëls van die bevrydingstryd. Kortom: ’n politieke party kan nie ’n moderne, komplekse land in ’n globaliserende wêreld regeer kragtens die waardes en die norme wat gegeld het toe die party uit die buiteland ’n bevrydingstryd gevoer het nie.

Om dit bruut te stel: dis ’n bitter lang pad van die ANC se Quattrokamp in Angola in 1980, waar mense summier doodgeskiet is “in die belang van die beweging”, na Pretoria in 2005, waar ingewikkelde beleidsbesluite geneem word wat die lewe van miljoene mense ingrypend raak. Pres. Thabo Mbeki verstaan dit, mnr. Jacob Zuma en sy kohorte nie. Zuma-hulle wil volgens Quattro se reëls werk. Hulle soek ’n “politieke oplossing” (lees skort Zuma se vervolging op), want dit is hoe die ANC altyd gewerk het.

Mbeki sê nee, die omgewing het verander. Die oplossing is ’n regsproses omdat ons nou ’n moderne politieke party in ’n regstaat is wat funksioneer volgens ’n nuwe stel reëls, naamlik die Grondwet en ander wette.

Almal sien seker in hoe belangrik dit is dat die Mbeki-kamp dié tweestryd wen.

Charles Darwin se groot stelreël van evolusie is onverbiddelik en geld die kerk én die ANC: dis nie die sterkste, of die bekwaamste, van die spesie wat oorleef nie, dis dié wat die beste aanpas by verandering.

Daar is niks op aarde wat ek sal verruil vir die plek waar ek vandag is nie: in ’n taalgemeenskap binnein ’n land wat dinamies aan die verander is. Wat ’n tyd om in te leef.

Foto: s/w

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui