Weereens die DVD: Jurie le Roux

Kyk ook:

Die volgende is van HIER gekopieer.

************

Weereens die DVD: Jurie le Roux

9- 2007 – 21: 1

September 2007

TEO.co.za – http://www.teo.co.za – Artikels

Jurie le Roux

’n DVD [Kommentaar: Waarskynlik Sarel van der Merwe se “Nuwe Strominge in die Teologie“] het verskyn en het klaarblyklik ’n beroering veroorsaak. Vanaf die eerste oomblikke skep die donker musiek spanning en word vir die duur van die DVD volgehou. Aan die einde is die kyker uitgeput van al die name, mense en donker woorde oor die opstanding. Dit is ook een van die grootste swakhede van die DVD dat die vervaardiger mense aan hulle eie woorde probeer ophang sonder diepgaande ontleding. Daar is nie ’n enkele poging om die karakters in die DVD se eie besondere opstandingsteologie te verstaan en te verwoord nie. Almal word oor dieselfde kam geskeer en daar is geen plek vir fynere teologiese nuanses nie. Dit lyk of almal dieselfde ding sê en tog is dit nie so nie. Gevolglik het die DVD wel propaganda waarde, maar is van geen wetenskaplike betekenis nie want dit sê nie hoe die opstanding binne elke DVD-karakter se besondere teologie inpas nie.

Ten spyte hiervan het die DVD nogtans die gemoedere geroer. Lank voor die DVD was daar al plek-plek ongelukkigheid en die afgelope twee drie jaar het ek my oor en oor gevra waar dinge dan verkeerd geloop het. Soms is daar van ’n onsekerheid en ’n onrus gepraat, van beswaarde gemeentelede wat die kerk wil verlaat en studente wat hulle studie wil staak. Waarom dan al dié ongelukkigheid? ‘Is dit dalk die opstanding’, het ek dikwels gewonder. Dit kan tog nie. Ons al drie is predikante van die N G Kerk en professore deur die kerk aangestel en hoekom sou ons nou skielik die opstanding ontken? Ek persoonlik is reeds vyf en dertig jaar deeltyds in die N G Kerk Pretoria (vroeër Harmonie) en het so iets nog nooit eers in ’n preek of ’n biduur of by ’n huisbesoek gesuggereer nie. En ek sal dit ook nooit doen nie.

’Lees maar, er staat niet wat er staat’

Vanwaar dan hierdie skielike aanvalle met die opstanding as die speerpunt? Vanwaar dan hierdie skielike ongeduld met ons en hierdie belangstelling in ’n DVD? ’n DVD met talle gebreke! Mettertyd het ek ontdek dat dit nie eintlik om die opstanding gaan nie, maar oor twee teologiese style. Die een kan ons Styl A noem en die ander Styl Z (die posisie van waaruit onderstaande geskryf is).

Dit is egter veral Styl A wat ons hier interesseer want dit voed waarskynlik die ongeduld, die skerpheid van die aanvalle op individue. Dit is waarskynlik ook hierdie teologiese styl wat bewustelik of onbewustelik agter al hierdie spanninge en ook die DVD lê. En hoe sal ’n mens dit beskryf? Een van die beginpunte is altyd die vermeendekrisisin die kerk (gemeentelede en studente is verward). Vervolgens word die klem op die regte woorde en uitdrukkinge gelê; alle verstaan is eenduidig(dinge is so en net so); alles draai om die feitelike, die letterlike van gebeure; ander verstaansmoontlikhede word uitgesluit; alles is in ’n magsnetwerk ingebind; daar is ’n skerp onderskeid tussen ons en julle; daar is ongeduld met die ‘buitestaander’ wat nie die woorde en begrippe vinnig en presies wil nasê nie; kritiese gesprekkeword onmoontlik.

’n Voorbeeld van Styl A is Adrio König. Op die DVD is hy skaars ’n byspeler. ’n Mens sien hom net, maar hy sê niks nie. In die weke, maande na die DVD se verskyning het hy in die gees van DVD egter ’n hoofspeler geword. Hy lei ’n evangeliese inisiatief en tree klaarblyklik by baie plekke op. Volgens hom is daar ’n krisis in die kerk en by die fakulteit. In ’n radio-onderhoud sê hy ‘daar is werklik groot verwarring in die NG Kerk’; die NG Kerk het werklik in ’n krisis beland; daar is ‘’n situasie waarin die dwaalleer in ons kerk hand oor hand toeneem’; ’n tyd waarin veral ‘’n stroom van leidende figure’ vreemde goed sê; dit word selfs aan ‘studente … aan fakulteite’ geleer en ‘daai goed gaan net verder’, sê hy. Die ‘leidende figure’ het al volgens hom só afgedwaal dat hulle met ’n eie inisiatief (die EI) begin het. In ’n ‘Kerkbode’-artikel wat sopas verskyn het, begin hy ook met die krisis: ‘Daar is al vir ’n paar jaar onsekerheid en onrus in die kerk oor die oortuigings van sekere leidende persone’ (‘Kerkbode’, 14 September 2007).

Die DVD reflekteer ook dié gevoel van onrus, maar wat is die inhoud van hierdie kommer? König sou waarskynlik sê die letterlike opstanding van Christus. Maar gaan dit ten diepste oor die opstanding of oor König (en per implikasie ook die DVD) se siening daarvan? Die groot probleem hiermee is egter die skokkende positiwistiese aard daarvan. Hiervolgens word na feite, ongetwyfelde feite gesoek wat vasstaan en waarop ’n mens se geloof gebou moet word; uitsprake oor God en die wêreld is slegs geldig indien dit op ’n versameling getoetste feite kan staan; uitsprake oor die opstanding is slegs dan waardevol wanneer dit bewys en geverifieer kan word. Dit gaan dus in die opstanding om die bruta facta, die feite van die saak. Hy vra Julian Müller dan ook: ‘Wat glo Muller regtig oor die feitelikheid van Jesus se opstanding en die leë graf?’ (my kursivering). ’n Paar keer vra hy ook die oënskynlik maklike vraag: ‘Het Jesus liggaamlik opgestaan, dit beteken dat die graf leeg was?’ (my kursivering). Tereg kan ’n mens dan vra: Is dit waaragtig al wat jy ‘nodig’ het om in die opstanding te glo? Net die bruta facta, die feite van die saak, die feitelikheid van die gebeure?

Hierdie sug na die empiriese word deur König se klaarblyklike onderskeid tussen feit en interpretasie vererger. ’n Mens kry die indruk dat dit vir hom twee aparte sake is: eers die feit van die opstanding en dan die betekenis. So sê hy klaarblyklik dat die verskyningsverhale direk ná die opstanding vertel is om die feit van die opstanding veilig te stel en dat die verduideliking (die eintlike betekenis?) later gevolg het. Indien König wel so dink, pas dit by sy positiwistiese aanslag en sy keuse (al is dit met reserwe) vir die fundamentalisme (‘Kerkbode’, 8 Desember 2006). So ’n siening is egter wetenskapsteoreties (of dan hermeneuties) onhaalbaar. Feit en interpretasie is nooit los van mekaar nie. ’n Feit bestaan nie opsigself nie. ’n Feit is nie soos ’n klip of rots wat jy kan optel en mooi bekyk nie want dit word gemaak. ’n Feit is daar omdat dit deur interpretasie ’n feit geword het. Opstandingsfeite is nooit los van die interpretasie daarvan nie.

Hoe ongelooflik koud en kil is König se leë graf darem nie. Is dít al waarop geloof gebou moet word? In hierdie yskoue leë graf lê die tragiese van König (en ook die DVD) se teologie. En wat is hierdie tragiese: hy wou sou graag (soos Thomas) na iets tasbaars, iets feitelik gryp, maar hy kon nie; hy wou so graag ’n histories-fisies-letterlike greep op die opstanding kry, maar uiteindelik kon hy dit nie regkry nie; hy sou so graag in ’n modernistiese sin ’n greep op die vergange werklikheid wou kry, maar tevergeefs. Dít is net so tragies soos al die ander positiwistiese projekte in die wetenskap van die afgelope twee honderd jaar wat die werklikheid wou gryp, maar gefaal het.

Op die DVD hoor ek wat König ook wil sê: Oor die opstanding kan en moet net in fisiese terme gepraat word. En dié bril kleur die manier waarop na die fakulteit en sommige van sy lede gekyk word. Die DVD se vervaardiger en König sien goed wat nie bestaan nie en lees wat nie daar staan nie. Verset teen König en die DVD maak my (en my kollegas) nie ketters of afwykendes nie, maar is bloot my eie verwerping van ’n twyfelagtige teologie, eksegese en geskiedsbegrip. In 1993 het my UNISA-kollega Pieter Botha ’n uitstekende artikel oor König en die Nuwe Testament geskryf en tereg merk hy op: ‘König het ’n komplekse en omvattende teologie uitgewerk … Wat my opval’, sê Botha, is die gebrek aan kritiese diskussie met König, wat al soveel jare hierdie stelsel uitbou … Bybelwetenskaplikes (het) König se konstruk met rus gelaat’. En dan voeg Botha by: ‘Dit is jammer’. Ek sou dit ook wou sê want die gebrek aan die Bybelwetenskaplike insigte in hierdie tyd is opmerklik (Vgl ‘Bondgenoot en Beeld, Krities Nagedink: Gesprek Tussen Bybelwetenskap en Sistematiese Teologie’.ThEv, 26 (1), 48–68).

Van Aarde se vaderlose Jesus

Vervolgens antwoord ek op enkele spesifieke sake op die DVD. Die eerste het te make met Andries van Aarde se boek, ‘Fatherless in Galilee’, en my positiewe opmerkings daaroor. [Kommentaar: Kyk Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”] König beskryf hierdie artikel van my as ‘’n groot heerlike verslag’ en hy noem dat dit volgens my ‘’n hoogtepunt in die historiese Jesusnavorsing’ is. Sowel die DVD as König mis twee belangrike sinne. Een staan aan die begin en die ander amper aan die einde. In laasgenoemde staan daar Van Aarde se boek is ’n hoogtepunt in die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap. En aan die begin verwys ek na Schweitzer wat sê dat die historiese Jesus navorsing in Duitsland kon gebeur het vanweë vier faktore: filosofiese onderlegdheid, kritiese ingesteldheid, ’n historiese bewussyn en ’n religieuse gevoel. Ons (die Afrikaanse of Suid-Afrikaanse) se gebrek aan hierdie vier faktore beskryf ek as ’n lakune, ’n leemte binne die Afrikaanse teologie en sê: ‘So iets was in Suid-Afrika nie moontlik nie. Die vier voorwaardes het nie net in die geheel of gedeeltelik ontbreek nie, maar die teologiese klimaat was ook nie vir so iets bevorderlik nie’. Ek sê weer dít is ’n tekortkoming in die Afrikaanse teologie en König is iemand wat vir my hierdie lakune simboliseer en die DVD bevestig oor en oor hierdie gebrek in die Afrikaanse teologie.

En hoekom noem ek dit ’n hoogtepunt? Dit lê in die geskiedenis van die Ou en Nuwe Testamentiese navorsing die afgelope amper veertig jaar. Of ons dit nou wil weet of nie, maar ons teologie het sy hoogtepunt in die studie van die Ou en Nuwe Testament gevind. Ek ontken nie dat daar uitskieters soos Johan Heyns in die ander vakke was nie, maar die Ou en Nuwe Testamentici en die onderskeie werkgemeenskappe het die gesig van die Suid-Afrikaanse teologie verander. ’n Integrale deel van dié debat was die manier waarop eksegese gedoen moes word. Was taal en strukture genoeg of moes ons tekste eerder histories gelees het? Ek meen histories en daarom was en is Andries van Aarde se boek vir my nou nog opwindend. My Jesus lyk anders, maar Andries van Aarde se boek bly vir my binne die Suid-Afrikaanse konteks ’n hoogtepunt.

In my byna veertig jaar as dosent in die teologie (eers by UNISA en nou by UP) het ek mettertyd vir myself twee merkers vir ’n goeie teologie uitgesonder. Een is die verinnerliking van die Pentateugkritiek en die ander die studie van die historiese Jesus. Nodeloos om te sê dat (volgens my) die Afrikaanse teologie in vele opsigte hierin gefaal het en dat ’n mens dit in die prediking kan hoor en in talle teologiese werke kan lees.

Bogenoemde is maar my eie klein merkertjies wat ek oor die jare vir myself gevorm het, maar dit verklaar tog waarom ek so opgewonde oor die boek van Van Aarde was. Dit was die heel eerste vollengte historiese Jesus boek wat (alhoewel in Engels) vanuit die Afrikaanse gemeenskap van Bybelwetenskaplikes gekom het. Oor en oor het ek al verklaar dat my Jesus anders as dié van Van Aarde is, maar vergelyk ’n mens ‘Fatherless’ met die talle geskiedenisse van Jesus sedert die negentiende eeu bly dit vir my iets besonders in die Afrikaanse gemeenskap.

Woorde wat ek reeds gesê het

Op die DVD sê ek ’n paar keer dat ek die dinge wat Sakkie Spangenberg en ander sê reeds voor hulle gesê het. Ek sê ook dat Sakkie-hulle ’n vertraagde reaksie op die negentiende eeu is – ek is jammer oor dié woorde want dit was nie ’n mooi ding om te sê nie en ek moes dit heeltemal anders geformuleer het. Maar wat is dit wat ek lank voor hulle reeds gesê het?

Die kern is die negentiende eeu en die historiese verstaan van tekste. In die lang geskiedenis van eksegese was die negentiende eeu ’n beslissende era vir die verstaan van die Ou Testament (en ook die Nuwe Testament). Vir die eerste keer in die geskiedenis van die kerk is begin om die Ou Testament radikaal histories te lees. Vir die heel eerste keer is ingesien dat die Ou Testament (en veral die Pentateug) ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad het en dat hierdie wordingsgeskiedenis belangrik vir die verstaan van die teks (of die Pentateug of die Ou Testament) is. Dié benadering (ook historiese kritiek genoem) het alles verander en dit het deel van die eksegetiese pakket van die twintigste eeu geword.

Uiteraard was daar verskillende reaksies op die historiese kritiek. Vir sommige was dit simbool van boosheid en is dit vermy. Vir andere was dit weer ’n goeie rede om Bybel en kerk te ondermyn of te los. Ek het dit egter verinnerlik en veertig jaar lank al ken ek egter geen ander manier van eksegese nie en het ek ’n leeftyd gewy aan die historiese verstaan van die Ou Testament.

In die prediking probeer ek nog altyd om tekste binne Israel se leefwêreld te verstaan en die inhoud daarvan binne dié konteks oor te vertel. Kortom: nie vroom en stigtelike praatjies oor die teks se betekenis vir nou nie, maar die verstaan van die Ou Testament in die groot en ryk wêreld waarin die teks ontstaan en gegroei het. En die krag van die prediking (so meen ek) lê in hierdie oorvertel, hierdie navertel van Israel se spreke oor God en elke dag se lewe.

Al my lesings is ook in hierdie histories-kritiese insigte ingebed. Vanaf die openingsgebed tot die einde van die klas, al die aantekeninge, eposse en dagstukkies is een lang historiese verstaan van die Ou Testament. Ek noem ’n paar voorbeelde. Die OTW-153-studente weet hoe die hele module gerig is op die noue band tussen literatuur en konteks, die Ou Testament en Israel se leefwêreld, die ontstaan van die Ou Testament en die teologiese verstaan daarvan. Een van OTW 153 se onderrigdoelwitte is dan ook dat elke student aan die einde van die kursus goed toegerus sal wees om die Ou Testament binne Israel se geloofswêreld of histories-teologiese konteks te verstaan. OTW-452-studente sal weet hoe die noue band tussen die Reformasie en die Pentateugkritiek (sedert die negentiende eeu!) beklemtoon is; hoe gesê is dat die kerklike gemeenskap oor die negentiende eeu gespring het en dit tot verarming van die prediking en die teologie gelei het; dat ons die rykdom van die Pentateugteologie juis in die redaksiefases van dié korpus ontdek en verstaan; dat die navorsingsgeskiedenis en kennis van Julius Wellhausen en Gerhard von Rad ons baie kan help om iets van die Pentateug se grootse teologie te verstaan.

Kortom: ek het die Ou-Testamentiese wetenskap sedert die negentiende eeu my eie gemaak en dit ook op vandag se konteks van toepassing gemaak. Hopelik werp bogenoemde lig op my uitspraak aan kollegas Sakkie Spangenberg en Pieter Craffert dat ek dié historiese dinge al lank voor hulle gesê het en dat ’n mens dit maar in die kerk kán sê. Dit is nie nodig om die kerk te verlaat as jy histories krities wil werk nie. Miskien moet ek verklaar dat ek nie lid van die Nuwe Hervorming Netwerk is nie, maar dat ek groot agting vir dié broeders en susters koester. Ek sal dit altyd betreur dat hulle die kerk verlaat het want hulle kon vir die N G Kerk nog veel beteken het.

Alles is ’n kompromis

Dan is daar ook ’n opmerking oor die kompromie. ‘Alles is ’n kompromis’, het ek gesê. Ja, dit is inderdaad hoe ek dink. Vanaf die vroeë kerk tot by die onlangse sinode van die N G Kerk se besluit oor gays is kompromieë gemaak. Dit is ’n baie belangrike teologiese strategie want daardeur kan jy meerdere sieninge akkommodeer en die eenheid behou. Dit is ook van die Ou Testament waar. Ten opsigte van die Pentateug kan OTW-452-studente die tweede stel aantekeninge (wit stuk wat aan die linkerkant bo vasgekram is) weer raadpleeg. Dit kom daarop neer dat die Priestergeskrif en Deuteronomium twee verskillende teologiese standpunte verteenwoordig wat wel saamgevoeg is en mettertyd deel van Israel se ‘geestelike literatuur’ geword het.

Verklaring oor opstanding

Dit is ook waar dat ek nie’n verklaring van die dosente oor die opstanding wou onderteken nie. Ek hou nie van verklarings aan die media nie en allermins nog oor die opstanding. Die opstanding is iets wat jy in die geloof bely en waaruit jy leef, maar nie in ’n verklaring aan die media verduidelik nie. Dít was waarom ek in 2002 diep ongelukkig was met die uitreiking van so ’n verklaring want die pers is nie die regte plek vir so iets nie. Boonop is ek persoonlik oor die bewoording (wat ek nie opgestel het nie) gekritiseer. Sulke verklarings is nodeloos en bereik niks nie. Die kerk is immers die ruimte waar ’n mens jou geloof bely, daaroor sing en met andere deel.

Ongelukkig kan ’n mens vandag moeilik oor die opstanding praat. Enersyds word jy gebombardeer met ander se woorde en begrippe oor die opstanding wat jy dan netso moet gebruik om jou eie geloof te bely. Dikwels is daar ook die aandrang op vinnige, snelle nasê van ander se woorde en gebeur dit nie, word jy gewantrou. Daar is ook geen moontlikheid om die vraag of die vraagsteller eers krities te ondervra nie. Alles moet nóú en in die woorde van die ander gesê word.

Ek sal dit nie doen nie. Ek wil allermins ander se woorde gebruik om my eie geloof te verwoord nie. Veral nie die woorde van hulle waaroor ek groot vrae het nie. Vrae het of hulle al ooit die dieptes van die Ou Testament histories ontdek het of hulle teologies-histories kan dink en of hulle die vermoë het om die outentieke geloof van alle eeue aan die hand van oorspronklike bronne te kan ontsluit.

Broeders en suster ek hoop bogenoemde klaar enkele dinge op. [WM]

Kommentaar:

Daniel Louw
Hierdie lyk vir my maar net na ’n lang relaas van verskonings hoekom ’n mens nie noodwendig Jesus se opstanding letterlik hoef te interpreteer nie. Al wat Le Roux kon gesê het is dat hy verkeerd geïnterpreteer is en dat hy glo dat Jesus letterlik en liggaamlik opgestaan het. Maar dit doen hy nie.

Die volgende dinge is vir my ’n sterk aanduiding dat prof le Roux nie aan ’n letterlike opstanding glo nie:

  • Die naaste wat hy daaraan kom om sy opinie oor hierdie kwessie uit te spreek is deur sy stelling: “Oor en oor het ek al verklaar dat my Jesus anders as dié van Van Aarde is”. Die vraag is: in watter opsig is Le Roux se Jesus anders as Van Aarde s’n? Hy sê nie.
  • Die feit dat hy Adrio König kritiseer spreek boekdele (kyk Teoloë kap König oor sy nuwe boek).
  • Sy stelling: “Miskien moet ek verklaar dat ek nie lid van die Nuwe Hervorming Netwerk is nie, maar dat ek groot agting vir dié broeders en susters koester.” sê baie.
  • Hy het ’n geleentheid gehad om aan die publiek te sê wat sy siening is, maar daarteen besluit. Ek koop nie sy rede vir sy besluit nie. Die kerk het juis geloofsbelydenisse (soos die Nederlandse geloofsbelydenis, wat ons elke Sondag opsê) omdat dit so belangrik is dat ons saamstem oor wat ons glo en wat niks anders as ’n “mediaverklaring” is nie. Prof Le Roux se reaksie herinner my aan die priesterhoofde en die familiehoofde se reaksie in Matt 21:25-26 waar hulle te bang was om te verklaar wat hulle van Jesus glo.
  • Hy skaar hom by Julian Müller, wat duidelik nie aan Jesus se letterlike opstanding glo nie.

Ek wonder wat sou Jesus sê oor sy stelling: “Dit is ’n baie belangrike teologiese strategie want daardeur kan jy meerdere sieninge akkommodeer en die eenheid behou.” As ek Jesus reg verstaan was “akkomodering” en “eenheid” nie deel van Sy woordeskat nie:
Matt 10:34 “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.
Matt 10:35 Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder;

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui