Kyk ook:
- Artikel 37 as oplossing vir uiteenlopende teologiese sieninge (Daniel Louw)
- Namibië se ultimatum aan die NG Kerk (20 Mrt 2022)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Wegbreek gaan nie einde van NGK beteken | Netwerk24
Gerhard Mahne, Kaapstad
26 Maart 2025
Op 20 Maart het die NG Kerk (NGK) in Namibië die Algemene Sinode (AS), waarvan hy sedert 1962 deel was, gegroet. Ons kan dit metafories voorstel as ’n gesin in die familie wat vir oupa sê dat hulle nie langer sy besluite gaan volg nie. En al sê oupa ook dat sy besluite nie afdwingbaar is nie, dra hulle steeds oupa se van, en raak sy besluite dus ook hulle naam. Nou sal oupa sien dat Namibië nie meer elke vierde jaar by hom gaan kuier nie.
Wat Namibië gedoen het, was nie om van die NGK af weg te breek nie, maar om die AS se eie kerkorde (art. 37) toe te pas wat sê dat ’n samestellende kerk (sinode) met behoud van alle regte, wat die naam van die kerk insluit, uit die AS kan tree.
Die AS is nie die NGK nie, dis ’n vergadering van die NG Kerk. Wanneer ander selfstandige, volwasse gemeentes, ringe en sinodes dalk dieselfde pad as Namibië gaan loop, sal dit dus nie die einde van die NG Kerk beteken nie.
Gemeentes, ringe en sinodes kan steeds hul identiteit en onderlinge eenheid behou. Hulle het immers die Drie Formuliere van (Gereformeerde) Eenheid wat hulle saamsnoer. Hulle sal ook steeds saam met die kerk van die eeue die Drie Algemene Geloofsbelydenisse bly onderskryf. En dís wat die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk beteken.
Elke kerk moet aanhou reformeer, maar dit beteken nie om stadig maar seker van die wesenlike Skrifwaarhede in belydenisskrifte en geloofsbelydenisse weg te beweeg nie. Dis nie nou tyd vir tong uitsteek nie, maar Oupa AS, jou era is waarskynlik verby. Jy het oor baie jare ook goeie werk gedoen. Dankie daarvoor.
Kommentaar
Daniel Louw
Gerhard Mahne sê: “Wat Namibië gedoen het, was nie om van die NGK af weg te breek nie”
As hulle nie weggebreek het nie, wat het hulle dan gedoen? Dit is om te sê die PCA (Presbiterian Church in America) het van nie van die PCUSA (Presbiterian Church (USA)) geskeur nie.
Gerhard Mahne sê: “Die AS is nie die NGK nie”
Die AS (Algemene Sinode) bestaan uit afgevaardigdes van regoor die land. Die doel van die AS is om rigting aan te wys. Daarom moet alle gemeentes in die NGK hulle aan die AS se besluite onderwerp. Kyk:
- Dit help nie om algemene sinode te ontbind (Daniel Louw, 18 Mei 2022)
- Dit help nie om die Algemene Sinode te blameer nie (Daniel Louw, 1 Mei 2023)